Weerspieël die geestesgesindheid van Christus
“Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het.”—ROMEINE 15:5.
1. Hoe kan ’n mens se lewe deur jou gesindheid beïnvloed word?
’N MENS se gesindheid maak ’n groot verskil in die lewe. ’n Onverskillige of ’n ywerige gesindheid, ’n positiewe of ’n negatiewe gesindheid, ’n aggressiewe of ’n gewillige gesindheid, ’n klaerige of ’n dankbare gesindheid kan ’n baie groot invloed hê op die manier waarop iemand situasies hanteer en hoe ander mense teenoor hom optree. Met ’n goeie gesindheid kan ’n mens selfs in taamlik moeilike situasies gelukkig wees. Vir iemand met ’n slegte gesindheid lyk niks reg nie, selfs nie wanneer die lewe—uit ’n objektiewe oogpunt beskou—goed is nie.
2. Hoe leer ’n mens gesindhede aan?
2 ’n Gesindheid—hetsy goed of sleg—kan aangeleer word. Trouens, dit moet aangeleer word. Collier’s Encyclopedia sê van ’n pasgebore baba: “Die gesindhede wat hy uiteindelik sal hê, moet hy aanleer, amper soos hy ’n taal of enige ander vaardigheid moet aanleer.” Hoe leer ons gesindhede aan? Hoewel baie dinge ’n rol speel, het ’n mens se milieu en assosiasie ’n baie groot invloed. Die ensiklopedie wat so pas aangehaal is, sê: “Ons leer of absorbeer, asof deur osmose, die gesindhede van diegene met wie ons intiem omgaan.” Duisende jare gelede het die Bybel iets soortgelyks gesê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33.
’n Voorbeeld van die regte gesindheid
3. Wie stel vir ons ’n goeie voorbeeld wat sy gesindheid betref, en hoe kan ons hom navolg?
3 Soos in alle ander dinge het Jesus Christus ook die beste voorbeeld gestel wat die regte gesindheid betref. Hy het gesê: “Ek het die voorbeeld vir julle gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Johannes 13:15). Om soos Jesus te wees, moet ons hom eers leer ken.a Ons bestudeer Jesus se lewe sodat ons kan doen wat die apostel Petrus aanbeveel het: “Tot hierdie weg is julle geroep, omdat ook Christus vir julle gely het en vir julle ’n voorbeeld gelaat het sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Ons doelwit is om Jesus so goed moontlik na te volg. Dit sluit in dat ons sy geestesgesindheid aankweek.
4, 5. Watter aspek van Jesus se geestesgesindheid kom na vore in Romeine 15:1-3, en hoe kan Christene hom navolg?
4 Wat behels dit om die geestesgesindheid van Christus Jesus te hê? Hoofstuk 15 van Paulus se brief aan die Romeine help ons om hierdie vraag te beantwoord. In die eerste paar verse van hierdie hoofstuk verwys Paulus na ’n uitsonderlike eienskap van Jesus waar hy sê: “Ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing. Want selfs die Christus het homself nie behaag nie; maar net soos daar geskrywe staan: ‘Die smaadhede van dié wat u gesmaad het, het op my geval.’”—Romeine 15:1-3.
5 Christene word aangespoor om, in navolging van Jesus se gesindheid, bereid te wees om eerder nederig in die behoeftes van ander te voorsien as om net hulleself te behaag. Trouens, sulke nederige gewilligheid om ander te dien, is ’n kenmerk van diegene “wat sterk is”. Jesus, wat geestelik sterker was as enige mens wat nog gelewe het, het van homself gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). As Christene wil ons eweneens ons bes doen om ander te dien, insluitende “dié wat nie sterk is nie”.
6. Hoe kan ons Jesus se reaksie op teenstand en smaad navolg?
6 Nog ’n goeie karaktertrek wat Jesus geopenbaar het, was ’n patroon van denke en dade wat altyd positief was. Hy het nooit toegelaat dat die negatiewe gesindheid van ander sy positiewe gesindheid teenoor sy diens aan God beïnvloed nie; en ons moet ook nie. Toe Jesus gesmaad en vervolg is omdat hy God getrou aanbid het, het hy dit geduldig verduur sonder om te kla. Hy het geweet dat diegene wat hulle naaste probeer behaag “in wat goed is vir sy opbouing” teenstand kan verwag van ’n wêreld wat ongelowig en sonder enige begrip is.
7. Hoe het Jesus geduld geopenbaar, en waarom moet ons dieselfde doen?
7 Jesus het ook op ander maniere die regte gesindheid aan die dag gelê. Hy het nooit ongeduld teenoor Jehovah geopenbaar nie, maar het geduldig gewag op die vervulling van Sy voornemens (Psalm 110:1; Matteus 24:36; Handelinge 2:32-36; Hebreërs 10:12, 13). Daarbenewens het Jesus nie ongeduldig met sy volgelinge geraak nie. Hy het vir hulle gesê: “Leer by my”; omdat hy “saggeaard” is, was sy onderrigting opbouend en verkwikkend. En omdat hy “nederig van hart” is, was hy nooit bombasties of verwaand nie (Matteus 11:29). Paulus moedig ons aan om hierdie aspekte van Jesus se gesindheid na te volg wanneer hy sê: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en die gelykenis van mense verkry.”—Filippense 2:5-7.
8, 9. (a) Waarom moet ons ons inspan om ’n onselfsugtige gesindheid aan te kweek? (b) Waarom moet ons nie mismoedig voel as ons nie die voorbeeld wat Jesus gestel het volmaak kan navolg nie, en hoe was Paulus ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig?
8 Dit is maklik om te sê dat ons ander graag wil dien en hulle belange voor ons eie wil stel. Maar ’n eerlike ondersoek van ons geestesgesindheid toon dalk dat ons hart nie heeltemal daartoe geneig is nie. Waarom nie? Eerstens, omdat ons selfsugtige karaktertrekke van Adam en Eva geërf het; tweedens, omdat ons in ’n wêreld lewe wat selfsug aanmoedig (Efesiërs 4:17, 18). Om ’n onselfsugtige gesindheid aan te kweek, beteken dikwels dat ons ’n denkpatroon moet ontwikkel wat met ons aangebore onvolmaakte natuur bots. Dit vereis vasbeslotenheid en inspanning.
9 Ons onmiskenbare onvolmaaktheid, wat ’n skerp teenstelling vorm met die volmaakte voorbeeld wat Jesus gestel het, kan ons soms mismoedig laat voel. Ons kan twyfel of dit selfs moontlik is om dieselfde geestesgesindheid as dié van Jesus te hê. Maar kyk na Paulus se bemoedigende woorde: “Ek weet dat daar in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want die vermoë om te wil, is by my aanwesig, maar die vermoë om te bewerk wat voortreflik is, is nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek. Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Romeine 7:18, 19, 22, 23). Paulus se onvolmaaktheid het hom weliswaar herhaaldelik verhinder om God se wil uit te voer soos hy graag wou, maar sy gesindheid—hoe hy oor Jehovah en Sy wet gevoel het—was voorbeeldig. Ons s’n kan ook wees.
Stel verkeerde gesindhede reg
10. Watter geestesgesindheid het Paulus die Filippense aangemoedig om te ontwikkel?
10 Kan dit wees dat party ’n verkeerde gesindheid moet regstel? Ja. Dit was klaarblyklik die geval met sommige Christene in die eerste eeu. Paulus het in sy brief aan die Filippense gepraat van die belangrikheid om die regte gesindheid te hê. Hy het geskryf: “Nie dat ek dit [hemelse lewe deur middel van die vroeër opstanding] reeds ontvang het of reeds vervolmaak is nie, maar ek streef daarna om te sien of ek ook dit kan vasgryp waarvoor ek ook deur Christus Jesus vasgegryp is. Broers, ek meen nog nie dat ek dit vasgegryp het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus. Laat ons almal wat volwasse is dan hierdie geestesgesindheid hê.”—Filippense 3:12-15.
11, 12. Op watter maniere openbaar Jehovah aan ons wat die regte gesindheid is?
11 Paulus se woorde toon dat enigiemand wat dink dat hy nie vooruitgang hoef te maak nadat hy ’n Christen geword het nie, ’n verkeerde gesindheid het. Hy het nie Christus se geestesgesindheid aangeneem nie (Hebreërs 4:11; 2 Petrus 1:10; 3:14). Is die situasie van so iemand hopeloos? Glad nie. God kan ons help om ons gesindheid te verander as ons werklik wil. Paulus sê verder: “As julle in enige opsig ’n ander geestesneiging het, sal God die bogenoemde gesindheid aan julle openbaar.”—Filippense 3:15.
12 Ons moet egter ons deel doen as ons wil hê dat Jehovah die regte gesindheid aan ons moet openbaar. As diegene wat “’n ander geestesneiging het” God se Woord biddend bestudeer met behulp van Christelike publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word, sal dit hulle help om die regte gesindheid te ontwikkel (Matteus 24:45). Christen- ouer manne, wat deur die heilige gees aangestel is “om as herders toesig te hou oor die gemeente van God”, sal ons met graagte help (Handelinge 20:28). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons onvolmaakthede in ag neem en ons liefdevol sy hulp aanbied! Laat ons dit aanvaar.
Leer by ander
13. Wat leer ons omtrent die regte gesindheid uit die Bybelverslag van Job?
13 In Romeine hoofstuk 15 toon Paulus dat dit ons kan help om ons gesindheid reg te stel as ons oor voorbeelde uit die geskiedenis peins. Hy skryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Party van Jehovah se getroue knegte van vroeër tye moes sekere aspekte van hulle gesindheid regstel. Job het byvoorbeeld oor die algemeen ’n goeie gesindheid gehad. Hy het nooit iets slegs aan Jehovah toegeskryf nie, en hy het nooit toegelaat dat lyding sy vertroue in God skok nie (Job 1:8, 21, 22). Maar hy was geneig om homself te regverdig. Jehovah het Elihu gerig om Job te help om hierdie neiging reg te stel. Job het nie gevoel dat hy beledig word nie, maar hy het nederig aanvaar dat hy sy gesindheid moes verander en het geredelik daaraan begin werk.—Job 42:1-6.
14. Hoe kan ons soos Job wees as ons raad oor ons gesindheid kry?
14 Sal ons soos Job reageer as ’n mede-Christen vriendelik vir ons daarop wys dat ons ’n verkeerde gesindheid openbaar? Mag ons, soos Job, te alle tye ‘aan God niks ongerymds toeskryf nie’ (Job 1:22). Mag ons nooit kla of Jehovah verantwoordelik hou vir ons probleme as ons ten onregte ly nie. Mag ons dit vermy om onsself te probeer regverdig en altyd in gedagte hou dat ons steeds net “nikswerd slawe” is, ongeag watter voorregte ons dalk in Jehovah se diens geniet.—Lukas 17:10.
15. (a) Watter verkeerde gesindheid het party van Jesus se volgelinge geopenbaar? (b) Hoe het Petrus ’n goeie gesindheid aan die dag gelê?
15 Gedurende die eerste eeu het party wat na Jesus geluister het ’n verkeerde gesindheid geopenbaar. By een geleentheid het Jesus iets gesê wat moeilik was om te verstaan. In reaksie hierop het “baie van sy dissipels, toe hulle dit hoor, gesê: ‘Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?’” Diegene wat dít gesê het, het ongetwyfeld ’n verkeerde gesindheid gehad. En hulle verkeerde gesindheid het daartoe gelei dat hulle nie meer na Jesus geluister het nie. Die verslag sê: “As gevolg hiervan het baie van sy dissipels teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie.” Het almal ’n verkeerde gesindheid geopenbaar? Nee. Die verslag sê verder: “Daarom het Jesus vir die twaalf gesê: ‘Julle wil nie miskien ook gaan nie?’ Simon Petrus het hom geantwoord: ‘Here, na wie toe sal ons weggaan?’” Petrus het toe as ’t ware sy eie vraag beantwoord deur te sê: “U het woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:60, 66-68). Wat ’n goeie gesindheid! Sal dit nie goed wees as ons die gesindheid openbaar wat Petrus gehad het wanneer daar verduidelikings en aanpassings in ons begrip van die Skrif is wat ons dalk aan die begin moeilik vind om te aanvaar nie? Hoe dwaas sou dit tog wees om op te hou om Jehovah te dien of om dinge te sê wat nie volgens “die patroon van gesonde woorde” is nie bloot omdat sekere dinge aanvanklik moeilik is om te verstaan!—2 Timoteus 1:13.
16. Watter skokkende gesindheid het die Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag geopenbaar?
16 Die Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu het nie die geestesgesindheid geopenbaar wat Jesus gehad het nie. Hulle vasbeslotenheid om nie na Jesus te luister nie, is duidelik getoon toe hy Lasarus uit die dood opgewek het. Vir enigiemand met die regte gesindheid sou daardie wonderwerk ’n onweerlegbare bewys gewees het dat Jesus deur God gestuur is. Ons lees egter: “Gevolglik het die hoofpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin bymekaargeroep en begin sê: ‘Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem.’” Wat was hulle oplossing? “Hulle [het] van daardie dag af beraadslaag om hom dood te maak.” Hulle het nie net planne beraam om Jesus dood te maak nie, maar selfs beplan om die lewende bewys dat hy wonderwerke verrig te vernietig. “Die hoofpriesters het nou beraadslaag om ook Lasarus dood te maak” (Johannes 11:47, 48, 53; 12:9-11). Hoe laakbaar sou dit tog wees as ons ’n soortgelyke gesindheid koester en geïrriteerd of ontsteld raak oor dinge waaroor ons ons in werklikheid moet verheug! Ja, en hoe gevaarlik is dit tog!
Volg Christus se positiewe gesindheid na
17. (a) Onder watter omstandighede het Daniël ’n onverskrokke gesindheid geopenbaar? (b) Hoe het Jesus moedig opgetree?
17 Jehovah se knegte handhaaf ’n positiewe gesindheid. Toe Daniël se vyande saamgesweer het om ’n wet te laat uitvaardig wat dit verbied het dat iemand gedurende ’n tydperk van 30 dae ’n versoek aan enige god of mens behalwe die koning rig, het Daniël geweet dat dit inbreuk maak op sy verhouding met Jehovah God. Sou hy 30 dae lank nie tot God bid nie? Nee, hy het onverskrokke voortgegaan om drie maal per dag tot Jehovah te bid, soos dit sy gewoonte was (Daniël 6:6-17). Jesus het hom eweneens nie deur sy vyande laat intimideer nie. Een Sabbatdag het hy ’n man met ’n verdorde hand teëgekom. Jesus het geweet dat baie Jode wat daar teenwoordig was nie daarvan sou hou dat hy iemand op die Sabbat genees nie. Hy het hulle prontuit gevra om hulle mening oor die saak te gee. Toe hulle weier, het Jesus voortgegaan en die man genees (Markus 3:1-6). Jesus het nooit daarvan teruggedeins om sy opdrag te vervul soos hy gevoel het reg was nie.
18. Waarom staan sommige ons teë, maar hoe moet ons op hulle negatiewe gesindheid reageer?
18 Vandag besef Jehovah se Getuies dat hulle ook nooit geïntimideer moet word deur teenstanders wat moontlik negatief reageer nie. Anders sal hulle nie Jesus se geestesgesindheid openbaar nie. Baie mense staan Jehovah se Getuies teë, party omdat hulle nie die feite ken nie en ander omdat hulle die Getuies of hulle boodskap haat. Maar ons moet nooit toelaat dat hulle onvriendelike gesindheid ons positiewe gesindheid beïnvloed nie. Ons moet nooit toelaat dat ander vir ons voorskryf hoe ons God moet aanbid nie.
19. Hoe kan ons ’n geestesgesindheid soos dié van Jesus Christus openbaar?
19 Jesus het altyd ’n positiewe geestesgesindheid teenoor sy volgelinge en teenoor God se reëlings geopenbaar, al was dit ook hoe moeilik om dit te doen (Matteus 23:2, 3). Ons moet sy voorbeeld navolg. Ons broers is weliswaar onvolmaak, maar ons is ook. En waar anders kan ons beter metgeselle en waarlik lojale vriende vind as in ons wêreldwye broederskap? Jehovah het ons nog nie ’n volkome begrip van sy geskrewe Woord gegee nie, maar watter godsdiensgroep verstaan meer? Laat ons altyd die regte geestesgesindheid behou, die geestesgesindheid wat Jesus Christus gehad het. Dit sluit onder andere in dat ons weet hoe om op Jehovah te wag, soos ons in die volgende artikel sal bespreek.
[Voetnoot]
a Die publikasie Die grootste mens wat nog geleef het, wat uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bespreek die lewe en bediening van Jesus.
Kan jy verduidelik?
• Hoe word ons lewe deur ons gesindheid beïnvloed?
• Beskryf die geestesgesindheid van Jesus Christus.
• Wat kan ons uit Job se gesindheid leer?
• Wat is die regte gesindheid wat ons moet hê wanneer ons teenstand ondervind?
[Prente op bladsy 7]
’n Christen met die regte gesindheid doen sy bes om ander te help
[Prent op bladsy 9]
As ons God se Woord biddend bestudeer, help dit ons om Christus se geestesgesindheid aan te neem