’n Lang soektog is beloon
“JEHOVAH? Wie is Jehovah?” Die agtjarige Silvia het die naam gesien in ’n Armeense Bybel, ’n familieskat wat ’n ander dogtertjie vir haar gewys het. Sy het rondgevra, maar niemand in Jerewan, Armenië, waar sy gewoon het, kon vir haar sê wie Jehovah is nie—nie haar ouers nie, nie haar onderwysers nie, selfs nie die predikante by die plaaslike kerk nie.
Silvia het grootgeword, haar skoolopleiding voltooi en begin werk, maar sy het nog steeds nie geweet wie Jehovah is nie. As ’n jong volwassene moes sy uit Armenië vlug, en na ’n rukkie het sy haar in Pole bevind, waar sy saam met ander vlugtelinge in ’n klein vertrekkie gewoon het. Een van haar kamermaats het gereelde besoekers ontvang. “Wie is jou gaste?” het Silvia gevra. “Hulle is Jehovah se Getuies, wat my die Bybel kom leer”, was die antwoord.
Silvia se hart het van vreugde gespring toe sy die naam Jehovah hoor. Uiteindelik het sy begin leer wie Jehovah is en wat ’n liefdevolle God hy is. Maar sy moes Pole kort daarna verlaat. Sy het in Denemarke, aan die oorkant van die Baltiese See, asiel gesoek. Sy het net ’n paar besittings by haar gehad, maar daaronder was Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Op die agterblad van een publikasie het Silvia ’n lys adresse van die Wagtoringgenootskap se takkantore gevind. Dit was een van haar belangrikste besittings—vir haar ’n onontbeerlike skakel met Jehovah!
In Denemarke is Silvia na ’n vlugtelingkamp geneem, en sy het onmiddellik na Jehovah se Getuies begin soek. Met behulp van haar lys adresse het sy geweet dat die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Denemarke in die dorp Holbæk was. Maar waar was dit? Silvia is per trein na ’n ander kamp oorgeplaas, en op pad daarheen het die trein deur Holbæk gegaan! Haar hart het weer eens van vreugde gespring.
Op ’n sonnige dag kort daarna het Silvia met die trein na Holbæk toe teruggegaan en van die stasie af na die takkantoor toe geloop. Sy vertel: “Toe ek by die tuin ingestap het, het ek op ’n bankie gaan sit en vir myself gesê: ‘Dit is ’n paradys!’” Sy is hartlik verwelkom by die takkantoor en kon uiteindelik haar eie Bybelstudie hê.
Maar sy is verskeie kere na ander kampe oorgeplaas. By elke verskillende vlugtelingsentrum moes Silvia Jehovah se Getuies opspoor en elke keer weer haar Bybelstudie begin. Tog het sy ná twee jaar genoeg geleer om haar lewe aan Jehovah toe te wy. Sy is gedoop en het kort daarna die voltydse bediening betree. In 1998 het die Deense owerheid haar asiel verleen.
Silvia is nou 26 jaar oud en dien by die plek wat haar aan ’n paradys laat dink het, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Denemarke. “Wat kan ek sê?” vra sy nou. “Ek soek al van kleins af na Jehovah. Nou het ek hom gevind. Ek het daarvan gedroom dat ek my lewe in sy diens deurbring, en hier is ek in Bethel. Ek bid dat dit nog baie jare lank my tuiste sal wees!”