’n Geval van: Wie swyg, stem toe
DIE boek Betrayal—German Churches and the Holocaust bespreek openlik die rol van godsdiens in Nazisme. “Steun aan die regime was algemeen onder Christene”, sê die boek, “en die oorgrote meerderheid het nie beswaar gemaak teen Joodse vervolging nie. Die goedkeuring van dié wat geswyg het, was in dié geval duidelik hoorbaar.”
Wat het verklaarde Christene na Nazisme gelok? Die boek verduidelik dat baie meegesleep is deur Hitler se “wet-en-orde-benadering tot die Duitse samelewing”. Dit sê: “Hy het pornografie, prostitusie, aborsie, homoseksualiteit en die ‘onwelvoeglikheid’ van moderne kuns teëgestaan, en hy het brons-, silwer- en goue medaljes aan vroue toegeken wat aan vier, ses en agt kinders geboorte gegee het, en hulle sodoende aangemoedig om in hulle tradisionele rol by die huis te bly. Hierdie beroep op tradisionele waardes tesame met die militaristiese nasionalisme wat Hitler in antwoord op die nasionale vernedering van die Verdrag van Versailles aangebied het, het Nasionaal-Sosialisme vir baie, selfs vir die meeste Christene in Duitsland, ’n aanloklike opsie gemaak.”
Een groep het ’n skerp teenstelling gevorm. “Jehovah se Getuies”, sê Betrayal, “het geweier om deel te neem aan geweld of aan die gebruik van militêre mag.” Dit het uiteraard gelei tot ’n wrede aanval op hierdie klein groepie, en baie van die lede daarvan is in konsentrasiekampe gegooi. En tog het ander wat beweer het dat hulle volgelinge van Christus is niks hieromtrent gedoen nie. Die boek sê verder: “Oor die algemeen was Katolieke en Protestante meer vyandiggesind as simpatiek teenoor Jehovah se Getuies, en hulle het eerder Hitler se wrede waardes aangehang as die Getuies se pasifistiese waardes.” Hulle stilswye het ongetwyfeld bygedra tot die slegte behandeling van die Getuies onder die Nazi-regime.
Terwyl die kerke se betrokkenheid by Nazi-politiek nog steeds ’n hewige twispunt is, noem Betrayal Jehovah se Getuies “’n godsdiensgroep wat geweier het om die regime goed te keur of daarmee saam te werk”.