‘Die uur het gekom!’
“Sy uur [het] gekom . . . om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan.”—JOHANNES 13:1.
1. Waaroor bespiegel mense in Jerusalem namate die Pasga van 33 G.J. nader kom, en waarom?
MET sy doop in 29 G.J. het Jesus die weg begin volg wat tot die “uur” van sy dood, opstanding en verheerliking sou lei. Dit is nou die lente van 33 G.J. Dit is net ’n paar weke sedert die Joodse hoër hof, die Sanhedrin, beraadslaag het om Jesus dood te maak. Toe Jesus van hulle planne te hore kom, moontlik by Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin wat hom vriendelik gesind is, het hy Jerusalem verlaat en na die landstreek oorkant die Jordaanrivier gegaan. Namate die Fees van die Pasga nader kom, kom baie mense van die buitedistrikte na Jerusalem, en oral in die stad word daar oor Jesus bespiegel. “Wat is julle mening?” vra mense mekaar. “Dat hy glad nie na die fees sal kom nie?” Die hoofpriesters en Fariseërs het tot die opgewondenheid bygedra deur te beveel dat enigiemand wat Jesus sien hulle moet kom vertel waar hy is.—Johannes 11:47-57.
2. Watter daad van Maria lei tot ’n geskilpunt, en wat toon Jesus se antwoord ter verdediging van haar oor sy bewustheid van “sy uur”?
2 Op 8 Nisan, ses dae voor die Pasga, is Jesus terug in die omgewing van Jerusalem. Hy kom na Betanië—die tuisdorp van sy geliefde vriende Marta, Maria en Lasarus—’n dorp wat omtrent drie kilometer van Jerusalem geleë is. Dit is Vrydagaand en Jesus bring die Sabbat daar deur. Die volgende aand toe Maria hom bedien en kosbare welriekende olie gebruik, maak die dissipels beswaar. Jesus antwoord: “Laat staan haar, sodat sy hierdie gebruik kan onderhou met die oog op die dag van my begrafnis. Want julle het die armes altyd by julle, maar vir my sal julle nie altyd hê nie” (Johannes 12:1-8; Matteus 26:6-13). Jesus weet dat “sy uur gekom het om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan” (Johannes 13:1). Oor vyf dae sal hy “sy siel . . . gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Markus 10:45). Van nou af openbaar Jesus ’n gevoel van dringendheid in alles wat hy doen en mense leer. Wat ’n wonderlike voorbeeld is dit tog vir ons terwyl ons gretig wag op die einde van hierdie stelsel van dinge! Kyk wat net die volgende dag in Jesus se geval gebeur.
Die dag van Jesus se triomfantlike intog
3. (a) Hoe gaan Jesus Jerusalem op Sondag, 9 Nisan, binne, en hoe reageer die meeste mense wat om hom vergader? (b) Watter antwoord gee Jesus die Fariseërs wat oor die skare kla?
3 Op Sondag, 9 Nisan, kom Jesus Jerusalem triomfantlik binne. Wanneer hy die stad nader—terwyl hy op die vul van ’n esel ry ter vervulling van Sagaria 9:9—sprei die meeste mense wat om hom vergader het hulle boklere op die pad uit, terwyl ander takke van die bome afkap en dit uitsprei. “Geseënd is Hy wat in Jehovah se naam as die Koning kom!” roep hulle uit. Party Fariseërs in die skare wil hê dat Jesus sy dissipels moet bestraf. Maar Jesus antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”—Lukas 19:38-40; Matteus 21:6-9.
4. Waarom kom Jerusalem in beroering toe Jesus die stad ingaan?
4 Net ’n paar weke vroeër het baie in die skare gesien hoe Jesus Lasarus opwek. Nou gaan hulle voort om vir ander van hierdie wonderwerk te vertel. Wanneer Jesus dus Jerusalem ingaan, kom die hele stad in beroering. “Wie is dit?” vra die mense. En die skare bly sê: “Dit is die profeet Jesus, van Nasaret in Galilea!” Toe die Fariseërs sien wat gebeur, kla hulle: “Die wêreld het agter hom aan geloop.”—Matteus 21:10, 11; Johannes 12:17-19.
5. Wat gebeur toe Jesus na die tempel gaan?
5 Wanneer hy Jerusalem besoek, gaan Jesus, die Groot Onderwyser, volgens sy gewoonte na die tempel om te onderrig. Daar kom die blindes en kreupeles na hom, en hy maak hulle gesond. Toe die hoofpriesters en die skrifgeleerdes dit sien en hulle hoor hoe die seuns in die tempel uitroep: “Red tog die Seun van Dawid!” word hulle baie kwaad. “Hoor jy wat sê hulle?” protesteer hulle. “Ja”, antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: ‘Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei’?” Terwyl Jesus voortgaan om mense te leer, kyk hy goed na wat in die tempel aangaan.—Matteus 21:15, 16; Markus 11:11.
6. Hoe verskil Jesus se benadering nou van hoe dit vroeër was, en waarom?
6 Hoe verskil Jesus se benadering tog nou van hoe dit ses maande tevore was! Hy het toe na Jerusalem gekom vir die Loofhuttefees, “nie openlik nie maar asof in die geheim” (Johannes 7:10). En hy het altyd veilig probeer wegkom wanneer sy lewe bedreig was. Nou gaan hy die stad openlik binne waar mense beveel is om hom gevange te neem! Dit was ook nie Jesus se gewoonte om te verkondig dat hy die Messias is nie (Jesaja 42:2; Markus 1:40-44). Hy wou nie hê dat groot publisiteit aan hom gegee moet word of dat verdraaide berigte mondelings oor hom versprei moet word nie. Nou verklaar die skares openlik dat hy die Koning en Verlosser is—die Messias—en hy verwerp die godsdiensleiers se versoeke om hulle stil te maak! Waarom die verandering? Omdat ‘die uur gekom het dat die Seun van die mens verheerlik moet word’, soos Jesus die volgende dag bekend maak.—Johannes 12:23.
Moedige optrede—daarna lewensreddende onderrigting
7, 8. Hoe weerspieël Jesus se optrede op 10 Nisan 33 G.J. wat hy tydens die Pasga van 30 G.J. in die tempel gedoen het?
7 Toe Jesus op Maandag, 10 Nisan, by die tempel aankom, reageer hy op wat hy die vorige middag gesien het. Hy begin ‘dié wat in die tempel verkoop en koop, uitdryf, en hy keer die tafels van die geldwisselaars en die banke van die duiweverkopers om; en hy laat niemand toe om ’n voorwerp deur die tempel te dra nie’. Hy veroordeel die oortreders en verklaar: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.”—Markus 11:15-17.
8 Jesus se optrede weerspieël wat hy drie jaar vroeër gedoen het toe hy die tempel tydens die Pasga van 30 G.J. besoek het. Maar dié keer is die veroordeling skerper. Die handelaars in die tempel word nou ‘rowers’ genoem (Lukas 19:45, 46; Johannes 2:13-16). Hulle is rowers omdat hulle diegene wat diere vir offerandes moet koop buitensporige pryse vra. Die hoofpriesters, skrifgeleerdes en vernaamstes van die volk hoor wat Jesus doen en soek weer na maniere om hom dood te maak. Maar hulle weet nie hoe om Jesus dood te maak nie, aangesien al die mense, wat verstom is oor sy leer, hom bly aanhang om na hom te luister.—Markus 11:18; Lukas 19:47, 48.
9. Watter les leer Jesus die mense, en watter uitnodiging rig hy aan sy luisteraars by die tempel?
9 Terwyl Jesus voortgaan om mense in die tempel te leer, sê hy: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Ja, hy weet dat hy nog net ’n paar dae van sy lewe as ’n mens oorhet. Nadat hy vertel hoe ’n koringkorrel moet sterf sodat hy vrug kan dra—soos hy moet sterf om die ewige lewe aan ander oor te dra—rig Jesus ’n uitnodiging aan sy luisteraars deur te sê: “As iemand my wil dien, moet hy my volg, en waar ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand my wil dien, sal die Vader hom eer.”—Johannes 12:23-26.
10. Hoe voel Jesus oor die pynlike dood wat op hom wag?
10 Jesus dink aan die pynlike dood wat hy oor net vier dae sal sterf en sê verder: “Nou is my siel verontrus, en wat sal ek sê? Vader, red my uit hierdie uur.” Maar wat op Jesus wag, kan nie vermy word nie. “Nietemin”, sê hy, “is dit waarom ek tot in hierdie uur gekom het.” Jesus stem inderdaad saam met die hele reëling van God. Hy is vasbeslote om reg tot sy offerdood toe volgens God se wil te handel (Johannes 12:27). Wat ’n uitstekende voorbeeld het hy tog vir ons gestel—een van algehele onderworpenheid aan God se wil!
11. Wat leer Jesus die skare wat so pas ’n stem uit die hemel gehoor het?
11 Omdat Jesus diep besorg is oor hoe sy Vader se naam deur sy dood geraak sal word, bid hy: “Vader, verheerlik u naam.” Die skare wat by die tempel vergader het, is verbaas toe ’n stem uit die hemel kom wat verklaar: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.” Die Groot Onderwyser gebruik hierdie geleentheid om vir die skare te sê waarom hulle die stem gehoor het, wat die gevolge van sy dood sal wees en waarom hulle geloof moet beoefen (Johannes 12:28-36). Die laaste twee dae was beslis vol aksie vir Jesus. Maar ’n kritieke dag lê nog voor.
Die dag vir veroordelings
12. Hoe probeer die godsdiensleiers Jesus op Dinsdag, 11 Nisan, verstrik, en met watter gevolg?
12 Op Dinsdag, 11 Nisan, gaan Jesus weer eens in die tempel om mense te leer. ’n Vyandiggesinde gehoor is aanwesig. Die hoofpriesters en ouer manne van die volk verwys na Jesus se optrede die vorige dag en vra hom: “Deur watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het jou hierdie gesag gegee?” Die Meesteronderrigter bring hulle heeltemal van stryk deur sy antwoord, en hy vertel drie treffende illustrasies—twee oor ’n wingerd en een oor ’n huweliksfees—wat sy teenstanders se goddeloosheid duidelik aan die kaak stel. Woedend oor wat hulle hoor, wil die godsdiensleiers hom gevange neem. Maar hulle vrees die skares, wat Jesus as ’n profeet beskou. Hulle probeer hom dus verstrik sodat hy iets kan sê waarvoor hulle hom in hegtenis kan neem. Die antwoorde wat Jesus gee, bring hulle tot swye.—Matteus 21:23–22:46.
13. Watter raad gee Jesus sy luisteraars omtrent die skrifgeleerdes en die Fariseërs?
13 Aangesien die skrifgeleerdes en die Fariseërs beweer dat hulle die mense God se Wet leer, spoor Jesus nou sy luisteraars aan: “Alles wat hulle dan vir julle sê, doen en onderhou dit, maar volgens hulle dade moet julle nie doen nie, want hulle sê maar doen nie” (Matteus 23:1-3). Wat ’n kragtige openbare veroordeling! Maar Jesus is nog nie klaar met hulle nie. Dit is sy laaste dag by die tempel, en hy gee moedig ’n reeks veroordelings—die een na die ander, soos opeenvolgende donderslae.
14, 15. Watter skerp veroordelings spreek Jesus teen die skrifgeleerdes en Fariseërs uit?
14 “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!” sê Jesus ses keer. Hy noem hulle dit omdat hulle, soos hy verduidelik, die koninkryk van die hemele voor die mense toesluit, en dié wat op pad in is, nie toelaat om in te gaan nie. Hierdie huigelaars trek rond oor see en droë land om een proseliet te maak, net om hom ’n voorwerp vir ewige vernietiging te maak. Hulle verontagsaam “die gewigtiger sake van die Wet . . . , naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid”, maar lê groot klem op die tiende wat gegee moet word. Hulle maak as ’t ware “die buitekant van die beker en van die skottel skoon, maar binne-in is hulle vol roof en onmatigheid”, omdat hulle innerlik verrot en verdorwe is en dit agter ’n uiterlike vertoon van vroomheid probeer verberg. Hulle is ook gewillig om grafte vir die profete te bou en dit te versier om die aandag op hulle eie liefdediens te vestig, hoewel hulle “seuns is van dié wat die profete vermoor het”.—Matteus 23:13-15, 23-31.
15 Jesus veroordeel sy teenstanders se gebrek aan geestelike waardes en sê: “Wee julle, blinde gidse.” Hulle is sedelik blind omdat hulle meer klem lê op die goud van die tempel as op die geestelike waarde van daardie plek van aanbidding. Jesus gaan voort en spreek sy sterkste woorde van veroordeling uit. “Slange, addergebroedsel”, sê hy, “hoe sal julle die oordeel van Gehenna ontvlug?” Ja, Jesus sê vir hulle dat hulle ewige vernietiging sal ondergaan omdat hulle voortgaan in hulle goddelose weg (Matteus 23:16-22, 33). Mag ons ook moed toon terwyl ons die Koninkryksboodskap verkondig, selfs wanneer dit beteken dat ons valse godsdiens aan die kaak moet stel.
16. Watter belangrike profesie gee Jesus sy dissipels terwyl hulle op die Olyfberg sit?
16 Jesus verlaat nou die tempel. Terwyl die middagson stadig verdwyn, klim hy en sy apostels teen die Olyfberg op. Terwyl hulle daar sit, gee Jesus die profesie oor die vernietiging van die tempel en die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge. Die betekenis van hierdie profetiese woorde strek tot in ons tyd. Daardie aand sê Jesus ook vir sy dissipels: “Julle weet dat die pasga oor twee dae plaasvind, en die Seun van die mens gaan oorgelewer word om aan die paal gehang te word.”—Matteus 24:1-14; 26:1, 2.
Jesus ‘is tot die einde toe lief vir dié wat syne is’
17. (a) Watter les leer Jesus die 12 gedurende die Pasga op 14 Nisan? (b) Watter viering stel Jesus in nadat hy Judas Iskariot uitgestuur het?
17 Die daaropvolgende twee dae—12 en 13 Nisan—verskyn Jesus nie openlik in die tempel nie. Die godsdiensleiers wil hom doodmaak, en hy wil nie hê dat enigiets moet verhinder dat hy die Pasga saam met sy apostels vier nie. Wanneer die son op Donderdag sak, begin 14 Nisan—die laaste dag van Jesus se lewe as ’n mens op aarde. Daardie aand is Jesus en sy apostels saam in ’n huis in Jerusalem waar voorbereidings vir hulle getref is om die Pasga te vier. Terwyl hulle die Pasga saam vier, leer hy die 12 ’n pragtige les in nederigheid deur hulle voete te was. Nadat hy Judas Iskariot uitgestuur het, wat ingestem het om sy Meester vir 30 silwerstukke te verraai—die prys vir ’n blote slaaf volgens die Mosaïese Wet—stel Jesus die herdenking van sy dood in.—Exodus 21:32; Matteus 26:14, 15, 26-29; Johannes 13:2-30.
18. Watter verdere dinge leer Jesus liefdevol vir sy 11 getroue apostels, en hoe berei hy hulle voor op sy naderende dood?
18 Ná die instelling van die Gedenkmaal raak die apostels gewikkel in ’n hewige stryery oor wie van hulle die grootste is. Jesus berispe hulle nie, maar leer hulle geduldig hoe belangrik dit is om ander te dien. Hy waardeer dat hulle by hom gebly het gedurende sy beproewinge en sluit ’n persoonlike verbond met hulle vir ’n koninkryk (Lukas 22:24-30). Jesus gee hulle ook die opdrag om mekaar lief te hê net soos hy hulle liefgehad het (Johannes 13:34). Terwyl hy nog ’n rukkie in daardie vertrek vertoef, berei Jesus hulle liefdevol voor op sy naderende dood. Hy verseker hulle van sy vriendskap, moedig hulle aan om geloof te beoefen en belowe hulle dat die heilige gees hulle sal help (Johannes 14:1-17; 15:15). Voor hulle die huis verlaat, smeek Jesus sy Vader: “Die uur het gekom; verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik.” Jesus het inderdaad die apostels vir sy dood voorberei, en hy ‘het beslis dié wat syne is lief tot die einde toe’.—Johannes 13:1; 17:1.
19. Waarom verkeer Jesus in sielsangs in die tuin van Getsemane?
19 Dit is moontlik ’n geruime tyd ná middernag wanneer Jesus en sy 11 getroue apostels die tuin van Getsemane bereik. Hy het dikwels daarheen gegaan saam met sy apostels (Johannes 18:1, 2). Oor ’n paar uur sal Jesus sterf asof hy ’n veragtelike misdadiger is. Die sielsangs van hierdie verwagte ondervinding en hoe dit smaad op sy Vader se naam kan bring, is so intens dat Jesus se sweet soos bloeddruppels word wat op die grond val terwyl hy bid (Lukas 22:41-44). “Die uur het gekom!” sê Jesus vir die apostels. “Kyk! My verraaier het naby gekom.” Terwyl hy nog praat, kom Judas Iskariot daar aan saam met ’n groot skare wat fakkels en lampe en wapens dra. Hulle het gekom om Jesus in hegtenis te neem. Hy verset hom nie. “Hoe sou die Skrif in daardie geval vervul word dat dit so moet plaasvind?”—Markus 14:41-43; Matteus 26:48-54.
Die Seun van die mens word verheerlik!
20. (a) Watter wreedhede het Jesus ná sy inhegtenisname verduur? (b) Waarom roep Jesus kort voor sy dood uit: “Dit is volbring”?
20 Ná Jesus se inhegtenisname word hy deur valse getuies beskuldig, deur bevooroordeelde regters skuldig verklaar, deur Pontius Pilatus gevonnis, deur priesters en oproerige skares gesmaad en deur soldate bespot en gemartel (Markus 14:53-65; 15:1, 15; Johannes 19:1-3). Teen Vrydagmiddag word Jesus aan ’n folterpaal genael en verduur hy verskriklike pyn wanneer sy liggaam se gewig aan die spykerwonde in sy hande en voete skeur (Johannes 19:17, 18). Om en by drie-uur die middag roep Jesus uit: “Dit is volbring!” Ja, hy het alles volbring wat hy op die aarde kom doen het. Hy vertrou sy gees aan God toe, buig sy kop en sterf (Johannes 19:28, 30; Matteus 27:45, 46; Lukas 23:46). Op die derde dag daarna wek Jehovah sy Seun op (Markus 16:1-6). Veertig dae ná sy opstanding vaar Jesus op na die hemel en word hy verheerlik.—Johannes 17:5; Handelinge 1:3, 9-12; Filippense 2:8-11.
21. Hoe kan ons Jesus navolg?
21 Hoe kan ons ‘Jesus se voetstappe noukeurig volg’? (1 Petrus 2:21). Laat ons ons kragtig inspan in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk en moedig die woord van God verkondig, soos hy gedoen het (Matteus 24:14; 28:19, 20; Handelinge 4:29-31; Filippense 1:14). Laat ons nooit uit die oog verloor waar ons ons in die tydstroom bevind of nalaat om mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor nie (Markus 13:28-33; Hebreërs 10:24, 25). Mag ons ons hele lewenswandel laat rig deur Jehovah God se wil en die bewustheid dat ons in “die tyd van die einde” lewe.—Daniël 12:4.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter uitwerking het Jesus se kennis dat sy dood op hande was op sy finale bediening by die tempel in Jerusalem gehad?
• Wat toon dat Jesus ‘dié wat syne was tot die einde toe liefgehad het’?
• Wat toon die gebeure van die laaste paar uur van Jesus se lewe omtrent hom?
• Hoe kan ons Christus Jesus in ons bediening navolg?
[Prent op bladsy 18]
Jesus het “hulle tot die einde toe liefgehad”