Jy kán sedelik rein bly
“Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 JOHANNES 5:3.
1. Watter verskil is daar vandag in mense se gedrag?
LANK gelede is die profeet Maleagi geïnspireer om ’n tyd te voorspel wanneer die gedrag van God se volk ’n skrille teenstelling sou vorm met dié van mense wat God nie dien nie. Die profeet het geskryf: “Julle [sal] weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie” (Maleagi 3:18). Hierdie profesie word vandag vervul. Om God se gebooie te onderhou, onder andere dié wat sedelike reinheid vereis, is die verstandige en regte weg om te volg. Maar dit is nie altyd ’n maklike weg nie. Jesus het tereg gesê dat Christene hulle kragtig moet inspan om redding te verkry.—Lukas 13:23, 24.
2. Watter druk van buite maak dit vir sommige moeilik om sedelik kuis te bly?
2 Waarom is dit moeilik om sedelik kuis te bly? Een rede is dat daar baie druk van buite is. Die vermaaklikheidsbedryf beeld ongeoorloofde seks uit as wonderlik, aangenaam en volwasse, terwyl dit die negatiewe gevolge feitlik heeltemal ignoreer (Efesiërs 4:17-19). Die meeste van die intieme verhoudings wat uitgebeeld word, is tussen ongetroude paartjies. Rolprente en televisieprogramme beeld dikwels seksuele verhoudings uit in ’n konteks van terloopse verhoudings sonder enige verpligtinge. Warmte en wedersydse respek ontbreek gewoonlik. Baie mense word al van kleins af aan hierdie soort boodskappe blootgestel. Dan is daar ook die hewige portuurdwang om by vandag se liberale sedelike klimaat aan te pas, en dié wat nie wil nie, word soms bespot of selfs beledig.—1 Petrus 4:4.
3. Wat is party redes waarom baie in die wêreld by onsedelikheid betrokke raak?
3 Ons eie begeertes kan dit ook moeilik maak om sedelik kuis te bly. Jehovah het die mens met seksuele begeertes geskep, en daardie begeertes kan sterk wees. Begeertes het baie te doen met wat ons dink, en onsedelikheid word verbind met denke wat nie in ooreenstemming met Jehovah s’n is nie (Jakobus 1:14, 15). Byvoorbeeld, volgens ’n onlangse opname wat in die British Medical Journal gepubliseer is, het baie wat vir die eerste keer geslagsomgang gehad het dit bloot gedoen om uit te vind wat seks behels. Ander het gevoel dat die meeste van hulle ouderdomsgroep al seksueel aktief was, en daarom wou hulle ook nie meer maagde wees nie. Nog ander het gesê dat hulle emosies hulle meegevoer het of dat hulle “op daardie oomblik ’n bietjie dronk was”. As ons God wil behaag, moet ons anders redeneer. Watter soort denke sal ons help om sedelik rein te bly?
Ontwikkel sterk oortuigings
4. Wat moet ons doen om sedelik kuis te bly?
4 Om sedelik kuis te bly, moet ons erken dat dit die moeite werd is om so ’n lewenswyse te volg. Dit is in ooreenstemming met wat die apostel Paulus aan Christene in Rome geskryf het: ‘Vergewis julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God’ (Romeine 12:2). Om te erken dat sedelike kuisheid die moeite werd is, behels meer as om net te weet dat onsedelikheid in God se Woord veroordeel word. Dit behels dat ons die redes verstaan waarom onsedelikheid veroordeel word en hoe ons daarby baat vind as ons dit vermy. ’n Paar van hierdie redes is in die vorige artikel bespreek.
5. Wat is hoofsaaklik die rede waarom Christene sedelik kuis wil bly?
5 Maar vir ons as Christene spruit die kragtigste redes waarom ons geslagsonsedelikheid vermy in werklikheid uit ons verhouding met God. Ons het geleer dat hy weet wat die beste vir ons is. Ons liefde vir hom sal ons help om die kwaad te haat (Psalm 97:10). God is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Hy het ons lief. Deur gehoorsaam aan hom te wees, toon ons dat ons hom liefhet en alles waardeer wat hy vir ons doen (1 Johannes 5:3). Ons wil Jehovah nooit teleurstel en krenk deur sy regverdige gebooie te skend nie (Psalm 78:41). Ons wil nie dinge doen wat sal veroorsaak dat daar smadend gepraat word van sy heilige en regverdige manier van aanbidding nie (Titus 2:5; 2 Petrus 2:2). Deur sedelik kuis te bly, verbly ons die Allerhoogste se hart.—Spreuke 27:11.
6. Hoe help dit ons as ons ons sedelike standaarde aan ander bekend maak?
6 Nadat ons ons voorgeneem het om sedelik kuis te bly, is dit ’n verdere beskerming as ons daardie oortuiging aan ander bekend maak. Sê vir mense dat jy ’n kneg van Jehovah God is en dat jy vasbeslote is om sy hoë standaarde te handhaaf. Dit is jou lewe, jou liggaam, jou keuse. Wat is op die spel? Jou kosbare verhouding met jou hemelse Vader. Stel dit dus duidelik dat jou sedelike onkreukbaarheid nie onderhandelbaar is nie. Wees trots daarop om God te verteenwoordig deur sy beginsels te handhaaf (Psalm 64:11 NW). Moet nooit skaam wees om jou sedelike oortuiging met ander te bespreek nie. As jy jou standpunt bekend maak, kan dit jou versterk, jou beskerm en ander aanspoor om jou voorbeeld te volg.—1 Timoteus 4:12.
7. Hoe kan ons by ons voorneme bly om sedelik kuis te bly?
7 Wanneer ons ons voorgeneem het om ’n hoë sedelike standaard te handhaaf en ons ons standpunt bekend gemaak het, moet ons vervolgens stappe neem om by ons voorneme te bly. Een manier waarop ons dit kan doen, is deur ons vriende versigtig te kies. “Gaan met die wyse om, dan word jy wys”, sê die Bybel. Assosieer met mense wat dieselfde sedelike waardes as jy het; hulle sal jou versterk. Hierdie teks sê ook: “Maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Sover dit moontlik is, moet jy mense vermy wat jou vasbeslotenheid kan verswak.—1 Korintiërs 15:33.
8. (a) Waarom moet ons ons verstand met heilsame dinge vul? (b) Wat moet ons vermy?
8 Verder moet ons ons verstand vul met dinge wat waar, ernstig, regverdig, kuis en lieflik is, asook dinge waarvan goed gepraat word, wat vol deug is en wat lofwaardig is (Filippense 4:8). Ons doen dit deur selektief te wees in dit waarna ons kyk en wat ons lees en in die musiek waarna ons luister. Om te sê dat onsedelike lektuur nie ’n verderflike invloed het nie, is soos om te sê dat sedelike lektuur nie ’n positiewe invloed het nie. Onthou dat onvolmaakte mense maklik voor onsedelikheid kan swig. Boeke, tydskrifte, rolprente en musiek wat seksuele gevoelens aanwakker, sal dus tot verkeerde begeertes lei, en dit kan uiteindelik tot sonde lei. Om sedelik rein te bly, moet ons ons verstand met Goddelike wysheid vul.—Jakobus 3:17.
Dinge wat tot onsedelikheid lei
9-11. Watter dinge het ’n sekere jong man gedoen wat geleidelik tot onsedelikheid gelei het, soos Salomo vertel?
9 Daar is dikwels identifiseerbare dinge wat tot onsedelikheid lei. Elke tree wat gegee word, maak dit al hoe moeiliker om terug te draai. Let op hoe dit in Spreuke 7:6-23 (NW) beskryf word. Salomo bemerk “’n jong man . . . wat nie ’n verstandige hart het nie”, of nie goeie beweegredes het nie. Die jong man “[gaan verby] op die straat naby haar [’n prostituut se] hoek . . . , en in die rigting van haar huis stap hy, in die skemering, in die aand van die dag”. Dit is die eerste fout wat hy begaan. In die skemerure het sy “hart” hom nie na sommer net enige straat gelei nie, maar na die een waar hy weet ’n prostituut gewoonlik gevind kan word.
10 Ons lees vervolgens: “Kyk! ’n vrou het hom tegemoetgekom, met die kleed van ’n prostituut en listig van hart.” Nou sien hy haar! Hy kan omdraai en huis toe gaan, maar dit is nou moeiliker as vroeër, veral omdat hy sedelik swak is. Sy gryp hom en soen hom. Noudat hy toegelaat het dat sy hom soen, luister hy na haar verleidelike oorreding: “Ek was verplig om gemeenskapsoffers te bring”, sê sy. “Vandag het ek my geloftes betaal.” Gemeenskapsoffers, oftewel dankoffers, het vleis, meel, olie en wyn ingesluit (Levitikus 19:5, 6; 22:21; Numeri 15:8-10). Deur dit te noem, wil sy dalk te kenne gee dat sy nie sonder geestelikheid is nie en wil sy dalk terselfdertyd vir hom laat verstaan dat daar genoeg goeie dinge in haar huis is om te eet en te drink. “Kom tog,” versoek sy hom, “laat ons tot die oggend tot versadiging toe van die liefde drink; laat ons tog met liefkosings genot hê van mekaar.”
11 Dit is nie moeilik om te voorspel wat gebeur het nie. “Deur haar gladde lippe verlei sy hom.” Hy volg haar huis toe “soos ’n bul wat gaan om geslag te word” en “net soos ’n voël vinnig in die valstrik in vlieg”. Salomo sluit af met hierdie gedagteprikkelende woorde: “Hy het nie geweet dat dit sy siel raak nie.” Sy siel, of lewe, is betrokke, want “God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Wat ’n kragtige les is dit tog vir mans sowel as vroue! Ons moet selfs nie eens die eerste tree gee op ’n weg wat tot God se onguns sal lei nie.
12. (a) Wat word bedoel met die uitdrukking dat iemand “nie ’n verstandige hart het nie”? (b) Hoe kan ons sedelike krag opbou?
12 Let op dat die jong man in die verslag “nie ’n verstandige hart [gehad] het nie”. Hierdie uitdrukking sê vir ons dat sy denke, begeertes, neigings, emosies en doelwitte in die lewe nie in ooreenstemming was met wat God goedkeur nie. Sy sedelike swakheid het tragiese gevolge meegebring. In hierdie kritieke “laaste dae” verg dit inspanning om sedelike krag op te bou (2 Timoteus 3:1). God help ons deur middel van sekere voorsienings. Hy voorsien vergaderinge van die Christengemeente om ons op die regte weg te lei en ons in aanraking te bring met ander wat dieselfde doelwit as ons het (Hebreërs 10:24, 25). Daar is gemeentelike ouer manne wat as herders toesig oor ons hou en ons onderrig op die weg van regverdigheid (Efesiërs 4:11, 12). Ons het God se Woord, die Bybel, om ons te rig en te lei (2 Timoteus 3:16). En ons het te alle tye die geleentheid om te bid vir God se gees om ons te help.—Matteus 26:41.
Wat ons uit Dawid se sondes leer
13, 14. Hoe het koning Dawid by ernstige sonde betrokke geraak?
13 Maar ongelukkig het selfs besonder goeie knegte van God hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak. Een van hulle was koning Dawid, wat Jehovah dekades lank getrou gedien het. Daar bestaan geen twyfel dat hy God innig liefgehad het nie. En tog het hy in sonde verval. Soos die geval was met die jong man wat deur Salomo beskryf is, was daar dinge wat tot Dawid se sonde aanleiding gegee en dit toe vererger het.
14 Dawid was op dié stadium middeljarig, moontlik in sy vroeë vyftigerjare. Van sy dak af het hy gesien hoe die pragtige Batseba bad. Hy het oor haar navraag gedoen en uitgevind wie sy is. Hy het verneem dat haar man, Uria, deelneem aan die beleëring van Rabba, ’n Ammonitiese stad. Dawid het haar na sy paleis laat bring en gemeenskap met haar gehad. Later het sake ingewikkeld geraak—sy het uitgevind dat Dawid haar swanger gemaak het. Dawid het Uria laat terugroep van die oorlog, in die hoop dat hy die nag saam met sy vrou sou deurbring. Sodoende sou dit lyk of Uria die vader van Batseba se kind is. Maar Uria het nie na sy huis toe gegaan nie. Desperaat om sy sonde te bedek, het Dawid toe vir Uria na Rabba toe teruggestuur met ’n brief aan die leërowerste wat gesê het dat hy Uria in ’n posisie moes plaas waar hy doodgemaak sou word. Uria het dus sy lewe verloor, en Dawid het met die weduwee getrou voordat dit algemeen bekend geword het dat sy swanger is.—2 Samuel 11:1-27.
15. (a) Hoe is Dawid se sonde blootgelê? (b) Hoe het Dawid gereageer op die teregwysing wat Natan hom op bedrewe wyse gegee het?
15 Dawid se komplot om sy sonde te bedek, het skynbaar gewerk. Maande het verbygegaan. Die kind—’n seun—is gebore. As Dawid hierdie gebeurtenis in gedagte gehad het toe hy Psalm 32 gekomponeer het, het sy gewete hom ongetwyfeld gekwel (Psalm 32:3-5). Maar die sonde was nie ’n geheim vir God nie. Die Bybel sê: “Die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE” (2 Samuel 11:27). Jehovah het die profeet Natan na Dawid gestuur, wat hom op bedrewe wyse gekonfronteer het met wat hy gedoen het. Dawid het onmiddellik sy sonde bely en Jehovah om vergifnis gesmeek. Sy opregte berou het versoening met God meegebring (2 Samuel 12:1-13). Dawid het nie gegrief gevoel oor die teregwysing nie. Hy het eerder die gesindheid geopenbaar wat in Psalm 141:5 (NW) beskryf word: “As die regverdige my sou slaan, sou dit ’n liefderyke goedhartigheid wees; en as hy my sou teregwys, sou dit olie op die kop wees, wat my kop nie sou wou weier nie.”
16. Watter waarskuwing en raad het Salomo omtrent oortredinge gegee?
16 Salomo, wat die tweede seun van Dawid en Batseba was, het moontlik oor hierdie donker gebeurtenis in sy vader se lewe nagedink. Hy het later geskryf: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13). As ons ernstig gesondig het, moet ons hierdie geïnspireerde raad volg, wat ook ’n waarskuwing is. Ons moet ons sonde voor Jehovah bely en die gemeentelike ouer manne om hulp nader. ’n Belangrike verantwoordelikheid van die ouer manne is om diegene reg te help wat gesondig het.—Jakobus 5:14, 15.
Die gevolge van sonde
17. Waarteen beskerm Jehovah ons nie, al vergewe hy ons sondes?
17 Jehovah het Dawid vergewe. Waarom? Omdat Dawid ’n man van onkreukbaarheid was, omdat hy barmhartig teenoor ander was en omdat hy opregte berou getoon het. Dawid is nietemin nie beskerm teen die rampspoedige gevolge van sy dade nie (2 Samuel 12:9-14). Dieselfde is vandag waar. Hoewel Jehovah nie onheil oor berouvolle persone laat kom nie, bewaar hy hulle nie van die natuurlike gevolge van hulle verkeerde dade nie (Galasiërs 6:7). Egskeiding, ongewenste swangerskap, seksueel oordraagbare siektes en die verlies van vertroue en respek kan van die gevolge van geslagsonsedelikheid wees.
18. (a) Hoe het Paulus vir die Korintiese gemeente gesê om ’n geval van growwe seksuele gedrag te hanteer? (b) Hoe betoon Jehovah liefde en barmhartigheid teenoor sondaars?
18 As ons self ernstig gesondig het, is dit maklik om mismoedig te voel terwyl ons die gevolge van ons sondes verduur. Ons moet egter nie toelaat dat enigiets ons daarvan verhinder om berou te toon en met God versoen te raak nie. In die eerste eeu het Paulus aan die Korintiërs geskryf dat hulle ’n man uit die gemeente moet sit wat bloedskendige hoerery gepleeg het (1 Korintiërs 5:1, 13). Nadat die man opreg berou getoon het, het Paulus die gemeente hierdie opdrag gegee: ‘Vergewe en vertroos hom goedgunstig en bevestig julle liefde vir hom’ (2 Korintiërs 2:5-8). Ons sien Jehovah se liefde en barmhartigheid teenoor berouvolle sondaars in hierdie geïnspireerde raad. Engele in die hemel is verheug wanneer ’n sondaar berou toon.—Lukas 15:10.
19. Watter voordele kan dit inhou as ons opreg bedroef voel oor ’n oortreding?
19 Hoewel ons bedroef voel oor ’n oortreding, kan ons berou ons help om ‘op ons hoede te wees dat ons ons nie weer wend tot wat skadelik is nie’ (Job 36:21, NW). Trouens, die bittere gevolge van sonde moet ons daarvan weerhou om weer dieselfde oortreding te begaan. Daarbenewens het Dawid die droewige les wat hy uit sy sondige dade geleer het, gebruik om aan ander raad te gee. Hy het gesê: “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.”—Psalm 51:15.
Dit maak ons gelukkig om Jehovah te dien
20. Watter voordele bring gehoorsaamheid aan God se regverdige vereistes mee?
20 “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” het Jesus gesê (Lukas 11:28). Gehoorsaamheid aan God se regverdige vereistes bring nou en tot in die oneindige toekoms geluk mee. Mag ons, as ons sedelik rein gebly het, op hierdie weg voortgaan deur al die voorsienings te benut wat Jehovah gemaak het om ons te help. As ons ons aan onsedelikheid skuldig gemaak het, laat die wete dat Jehovah gereed is om diegene te vergewe wat werklik berouvol is, ons moed gee, en laat ons vasbeslote wees om nooit weer die sonde te pleeg nie.—Jesaja 55:7.
21. Watter raad van die apostel Petrus moet ons toepas om ons te help om sedelik rein te bly?
21 Hierdie onregverdige wêreld sal binnekort verbygaan, tesame met al sy onsedelike gesindhede en gebruike. Deur sedelik kuis te bly, sal ons nou en tot in alle ewigheid die voordele geniet. Die apostel Petrus het geskryf: “Daarom moet julle, . . . aangesien julle hierdie dinge verwag, julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word. . . . Aangesien julle hierdie voorkennis het, [moet julle] op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie.”—2 Petrus 3:14, 17.
Kan jy verduidelik?
• Waarom kan dit moeilik wees om sedelik rein te bly?
• Wat is ’n paar maniere waarop ons ons voorneme kan versterk om hoë sedelike standaarde te volg?
• Watter lesse kan ons leer uit die sondes van die jong man waarvan Salomo gepraat het?
• Wat leer ons omtrent berou uit Dawid se voorbeeld?
[Prent op bladsy 13]
Dit is ’n beskerming om jou standpunt ten opsigte van sedelikheid aan ander bekend te maak
[Prente op bladsy 16, 17]
Omdat Dawid opreg berou getoon het, het Jehovah hom vergewe