Hoe jy vriende kan maak
“EEN VRIEND IN ’N LEEFTYD IS IETS BESONDERS; TWEE IS BAIE; DRIE IS BYNA ONMOONTLIK.”—Henry Brooks Adams.
HIERDIE stelling dui daarop dat ware vriende skaars is. ’n Mens hoor alte veel kommentare soos: “Ek het niemand tot wie ek my kan wend nie”, “Ek kan niemand vertrou nie” of “My hond is my beste vriend” van baie eensame mense wat naarstig na vriendskap soek.
Dit is ’n uitdaging om blywende vriendskappe op te bou en te behou. ’n Markopname het getoon dat “25 persent van volwassenes in die Verenigde State aan ‘chroniese eensaamheid’ ly en dat die helfte van die mense in Frankryk al akute afsondering ondervind het”. Die groot toename in maatsoekklubs en rekenaar-kletskamers, asook die oorvloed koerantadvertensies deur mense wat ’n maat soek, toon dat mense na kontak met ander mense hunker.
Eensaamheid het nie net ’n uitwerking op ’n persoon se geestestoestand nie, maar ook op sy fisiese gesondheid, beweer dr. David Weeks, ’n neurosielkundige. “’n Baie groot deel van my pasiënte wat as eensaam beskryf kan word, het angsfobies en depressie. Daar is ’n verband tussen hoe ernstig die depressie is en hoe eensaam iemand is.”
Al hoe meer mense word deur egskeiding en gesinsverbrokkeling daartoe gedoem om alleen te lewe. In ’n opname wat in Brittanje gedoen is, is daar tot die slotsom gekom dat tot 30 persent van daardie land se bevolking teen die begin van die 21ste eeu in ’n huisgesin sou wees wat uit net een persoon bestaan.
Die geïnspireerde Skrif het voorspel dat ’n gees van selfsugtigheid in “die laaste dae” algemeen sou wees (2 Timoteus 3:1-5). Dit wil voorkom asof baie mense meer belangstel in materiële besittings, soos ’n huis of ’n motor, of in hulle werk as in die ontwikkeling van verhoudings met ander mense. Die skrywer Anthony Storr sê: “Pleks van hulle lewe te laat draai om hulle huweliksmaat en kinders, draai dit om die kantoor.”
WARE VRIENDE IS VAN ONSKATBARE WAARDE
Die gehalte van jou lewe hang baie af van die gehalte van jou vriendskappe. Dikwels is diegene wat vir hulleself lewe, nie gelukkig nie omdat hulle geen vriend het met wie hulle hulle besittings of hulle gedagtes kan deel nie. Die woorde van Jesus Christus is baie waar: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). In ooreenstemming met hierdie waarheid het die Engelse digter George Byron geskryf: “Almal wat vreugde wil verkry, moet dit deel.”
Wat is ’n vriend? ’n Woordeboek definieer ’n vriend as “iemand wat geheg is aan iemand anders weens liefde en agting”. ’n Ware vriend kan jou help om jou gedagtes op goeie dinge te vestig. Hy kan jou in tye van nood aanmoedig en opbou. Hy kan selfs in jou droefheid deel. Koning Salomo het gesê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Terwyl materiële dinge dikwels mettertyd hulle waarde verloor, ontwikkel en floreer ware vriendskap met verloop van tyd.
Die Skrif vermaan Christene om “verruim [te] word” in hulle liefde (2 Korintiërs 6:13). Dit is verstandig om belangstelling in ander te toon. In Prediker 11:1, 2 lees ons: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind. Gee ’n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie.” Hoe is hierdie beginsel op vriendskap van toepassing? As jy vriendskappe met baie mense opgebou het, sal party van hulle jou moontlik help wanneer probleme ontstaan.
Ware vriende is ook op ’n ander manier vir jou ’n beskerming. “Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel”, sê Spreuke 27:6. Hoewel enigiemand jou dalk sal prys, sal net ware vriende genoeg vir jou omgee om ’n ernstige fout uit te wys en jou op ’n liefdevolle manier opbouende raad te gee.—Spreuke 28:23.
Goeie, intieme vriende is van daardie seldsame gawes wat ’n positiewe uitwerking op jou kan hê. In Handelinge hoofstuk 10 lees ons van ’n gebeurtenis in die lewe van die Romeinse leëroffisier Kornelius, wat deur ’n engel in kennis gestel is dat sy gebede verhoor is. In afwagting van die apostel Petrus se besoek het Kornelius “sy familielede en intieme vriende bymekaargeroep”. Daardie goeie vriende van Kornelius was onder die eerste onbesnede nie-Jode wat die goeie nuus aangeneem het en deur die heilige gees gesalf is, met die vooruitsig om saam met Christus in God se Koninkryk te regeer. Wat ’n seën tog vir Kornelius se intieme vriende!—Handelinge 10:24, 44.
Maar hoe kan jy te werk gaan om vriende te maak? Die Bybel, wat baie sê oor vriendskap, gee ons praktiese raad. (Sien venster hieronder.)
WAAR JY WARE VRIENDE KAN VIND
Die Christengemeente voorsien die beste beginpunt vir ware vriendskap. Eerstens kan jy die geleentheid benut om vriende te maak met Jehovah, jou Skepper en hemelse Vader, en met Jesus Christus, jou Redder. “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen”, het Jesus gesê, en hy nooi jou om sy vriend te wees (Johannes 15:13, 15). Deur vriende te maak met Jehovah en Jesus Christus, kan jy verseker wees dat hulle jou “in die ewige woonplekke sal ontvang”. Ja, vriendskap met Jehovah en Jesus beteken die ewige lewe.—Lukas 16:9; Johannes 17:3.
Hoe kan jy hulle hartlike vriendskap verkry? Die vereistes om ’n gas in Jehovah se tent as een van sy vriende te wees, word in Psalm 15 uiteengesit. Soek dit gerus in jou Bybel op en lees die vyf verse van hierdie psalm. Jesus Christus het ook gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.”—Johannes 15:14.
Ja, deur die riglyne in God se Woord, die Bybel, pligsgetrou te bestudeer en toe te pas, toon jy dat jy ’n vriend van Jehovah en Jesus wil wees. Met dié doel moet jy ook gereeld Christelike vergaderinge bywoon, waar jy kennis van Jehovah God kan opdoen. Lê jou getrou daarop toe om na Jehovah te luister, en jy sal nader aan hom en aan sy Seun kom.
By die vergaderinge kan jy ook mense leer ken wat Jehovah liefhet en wat die vrugte van die gees—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing—in hulle lewe openbaar (Galasiërs 5:22, 23). As jy baie graag vriende wil maak en eensaamheid wil verdryf, moet jy elke week Christelike vergaderinge bywoon. Sodoende sal jy op die regte tyd op die regte plek wees om ’n blywende vriendskap met God se geseënde volk op te bou.
VIR EWIG VRIENDE
Ware vriendskap is ’n wonderlike gawe van Jehovah God. Dit spruit voort uit sy eie persoonlikheid. Weens sy liefdevolle en vrygewige gees het hy die aarde gevul met intelligente wesens met wie jy ’n vriendskap kan opbou. Gaan met mede-Christene om. Moedig hulle aan. Werk saam met hulle in die bediening. Bid gereeld saam met hulle en vir hulle. Dan sal jy Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, navolg.
Vriendskap is ’n gawe wat almal kan gee en ontvang. In die nabye toekoms sal jy die geleentheid hê om jou vriendekring uit te brei. Jy kan vriende maak met miljoene wat nou lewe, sowel as met diegene uit vorige geslagte wat nou in die dood slaap en op die opstanding wag wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’ (Openbaring 21:4; Johannes 5:28, 29). Span jou nou in om vriendelik te wees, en maak vriende met diegene wat Jehovah liefhet. Streef vriendskap met Jehovah God en Jesus Christus na deur na God se geïnspireerde Woord te luister. Dan sal jy tot in alle ewigheid nooit weer eensaam wees nie.
[Venster/Prent op bladsy 22, 23]
SES STAPPE TOT ’N BLYWENDE VRIENDSKAP
1. WEES ’N VRIEND. Abraham is “Jehovah se vriend” genoem weens sy onwrikbare geloof (Jakobus 2:23). Maar daar was nog ’n rede hiervoor. Die Bybel sê dat Abraham bewys gelewer het van sy liefde vir God (2 Kronieke 20:7, NW). Hy het die inisiatief geneem en sy gevoelens aan Jehovah bekend gemaak (Genesis 18:20-33). Ja, ’n mens moet inisiatief aan die dag lê om te bewys dat jy ’n vriend is. Jesus het gesê: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee” (Lukas 6:38). ’n Bietjie aanmoediging of ’n helpende hand is dalk die saadjie waaruit ’n wonderlike vriendskap sal ontkiem. Die Amerikaanse essayis Ralph Waldo Emerson het eenkeer gesê: “Die enigste manier om ’n vriend te hê, is om een te wees.”
2. MAAK TYD OM ’N VRIENDSKAP OP TE BOU. Die meeste mense wil graag die voordele van vriendskap geniet. Maar hulle is te besig om die nodige tyd daarvoor af te staan. Romeine 12:15, 16 moedig ons aan om in die geluk en sukses, die droefheid en teleurstellings van ander te deel. Dit sê: “Verheug julle saam met mense wat hulle verheug; huil saam met mense wat huil. Wees net so gesind teenoor ander as teenoor julleself.” Hoewel Jesus Christus ’n besige man was, het hy altyd tyd gemaak vir sy vriende (Markus 6:31-34). Onthou, soos ’n plant wat groei, moet vriendskap gevoed en vertroetel word sodat dit kan blom—en dit neem tyd.
3. SKENK AANDAG WANNEER ANDER PRAAT. Mense wat altyd met volle aandag na ander luister, vind dit dikwels makliker om vriende te hê. “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat”, sê die dissipel Jakobus (Jakobus 1:19). Wanneer jy met ander gesels, moet jy persoonlike belangstelling in hulle gevoelens toon. Moedig hulle aan om oor hulleself te praat. Neem die leiding in eerbetoning aan hulle (Romeine 12:10). Dan sal hulle graag saam met jou wil wees. Maar as jy elke gesprek oorheers, of jouself voortdurend op die voorgrond stel, sal dit vir jou moeilik wees om iemand te vind wat bereid is om te luister of wat oor jou gevoelens en behoeftes besorg sal wees.
4. WEES VERGEWENSGESIND. Jesus het eenkeer vir Petrus gesê om bereid te wees om “tot sewe-en-sewentig keer” te vergewe (Matteus 18:21, 22). ’n Ware vriend sal maklik klein foute oor die hoof sien. Ter toeligting: Party hou nie daarvan om frambose te eet weens hulle klein pitjies nie. Diegene wat van hierdie vrug hou, merk egter nie die pitjies op nie. Ons het ware vriende lief vir hulle goeie eienskappe; hulle klein foute sien ons oor die hoof. Paulus het ons vermaan: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kolossense 3:13). Diegene wat leer om vergewensgesind te wees, behou hulle vriende.
5. RESPEKTEER ANDER SE PRIVAATHEID. Almal het ’n bietjie privaatheid nodig, insluitende jou vriende. Spreuke 25:17 sê wyslik: “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.” Wees dus redelik wanneer dit kom by hoe gereeld en hoe lank jy by jou vriende kuier. Vermy besitlikheid, wat tot jaloesie kan lei. Lê goeie oordeel aan die dag wanneer jy sê wat jou persoonlike smaak is en jou menings oor sake uitspreek. Dit dra by tot ’n verkwikkende en welkome vriendskap.
6. WEES VRYGEWIG. Vriendskappe word deur vrygewigheid opgebou. Die apostel Paulus se raad is om “vrygewig te wees, mededeelsaam” (1 Timoteus 6:18). Bespreek byvoorbeeld iets aanmoedigends met ander (Spreuke 11:25, NW). Wees vrygewig wat opregte lof en opbouende spraak betref. Wanneer jy opregte belangstelling in die welsyn van ander toon, sal hulle tot jou aangetrokke voel. Dink aan wat jy vir hulle kan doen pleks van te konsentreer op wat hulle vir jou kan doen.