Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 12/15 bl. 19-24
  • Staan in volkomenheid met vaste oortuiging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Staan in volkomenheid met vaste oortuiging
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Strewe daarna om ‘in volkomenheid te staan’
  • Bid vir vaste oortuiging
  • Epafras—“’n Getroue bedienaar van die Christus”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Help ander om te wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 12/15 bl. 19-24

Staan in volkomenheid met vaste oortuiging

“[Hy] span hom altyd in ten behoewe van julle in sy gebede, sodat julle uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan.”—KOLOSSENSE 4:12.

1, 2. (a) Wat het buitestanders omtrent die vroeë Christene opgemerk? (b) Hoe weerspieël die boek Kolossense liefdevolle belangstelling?

JESUS se volgelinge het opreg belanggestel in hulle medeaanbidders. Tertullianus (’n skrywer van die tweede en derde eeu G.J.) het vertel van die goedhartigheid wat hulle teenoor wese, die armes en die bejaardes betoon het. Sulke bewyse van liefde in aksie het ongelowiges so beïndruk dat party die volgende oor Christene gesê het: ‘Kyk hoe lief het hulle mekaar.’

2 Die boek Kolossense weerspieël sulke liefdevolle belangstelling aan die kant van die apostel Paulus en sy metgesel Epafras in die broers en susters in Kolosse. Paulus het aan hulle geskryf: Epafras “span hom altyd in ten behoewe van julle in sy gebede, sodat julle uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan”. Gedurende 2001 sal Jehovah se Getuies hierdie woorde van Kolossense 4:12 as hulle jaarteks hê: ‘Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God.’

3. Watter twee dinge het Epafras in gebed gevra?

3 ’n Mens kan sien dat Epafras se gebede vir sy geliefdes twee aspekte gehad het: (1) dat hulle ‘uiteindelik in volkomenheid staan’ en (2) dat hulle “met vaste oortuiging in die hele wil van God” staan. Hierdie inligting is tot ons voordeel in die Skrif ingesluit. Vra jou dus af: ‘Wat moet ek persoonlik doen om uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God te staan? En watter uitwerking sal dit hê as ek dit doen?’ Kom ons kyk.

Strewe daarna om ‘in volkomenheid te staan’

4. In watter sin moes die Kolossense ‘volkome’ wees?

4 Epafras se opregte begeerte was dat sy geestelike broers en susters in Kolosse ‘uiteindelik in volkomenheid staan’. Die uitdrukking wat Paulus gebruik het, wat hier met “in volkomenheid” vertaal word, kan volmaak, volgroeid of volwasse beteken (Matteus 19:21; Hebreërs 5:14; Jakobus 1:4, 25). Jy weet waarskynlik dat die feit dat iemand ’n gedoopte Getuie van Jehovah is, nie op sigself beteken dat hy ’n volwasse Christen is nie. Paulus het aan die Efesiërs, wat wes van Kolosse gewoon het, geskryf dat herders en onderrigters almal moet probeer help om “tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God [te kom], tot ’n volgroeide man, tot die mate van wasdom wat tot die volheid van die Christus behoort”. Op ’n ander plek het Paulus Christene aangespoor om “volgroeid in begripsvermoëns” te word.—Efesiërs 4:8-13; 1 Korintiërs 14:20.

5. Hoe kan ons dit ’n vername doelwit maak om volkome te wees?

5 As sommige in Kolosse nog nie geestelik volgroeid, of volwasse, was nie, moes dit hulle doelwit wees. Geld dieselfde nie vandag nie? Hetsy ons dekades gelede of onlangs gedoop is, die vraag is: Kan ons sien dat ons werklik vooruitgang gemaak het wat ons redeneervermoë en beskouings betref? Dink ons eers na oor Bybelbeginsels voordat ons besluite maak? Kry sake wat met God en gemeentelike belange verband hou, al hoe meer die voorkeur in ons lewe, eerder as om net ’n bysaak te wees? Ons kan nie hier al die maniere toelig waarop ons sulke groei tot volkomenheid kan weerspieël nie, maar beskou twee voorbeelde.

6. Op watter gebied kan ons dalk vooruitgang maak om volmaak te word, soos Jehovah is?

6 Die eerste voorbeeld: Gestel ons het grootgeword in ’n milieu wat gekenmerk is deur vooroordeel of vyandigheid teenoor mense van ’n ander ras, nasionaliteit of streek. Ons weet nou dat God nie partydig is nie en dat ons ook nie moet wees nie (Handelinge 10:14, 15, 34, 35). In ons gemeente of kring is daar persone van daardie ander agtergrond, en ons kom dus met hulle in aanraking. Maar in watter mate koester ons nog sekere negatiewe gevoelens of wantroue teen mense van daardie agtergrond? Is ons bevooroordeeld en gou om iets negatiefs te dink as iemand uit daardie agtergrond iets verkeerds doen of ons aanstoot gegee het? Vra jou af: ‘Moet ek meer vooruitgang maak sodat ek God se onpartydige beskouing van sake kan hê?’

7. Watter beskouing moet ons dalk van ander verkry as ons volkome wil word as ’n Christen?

7 Die tweede voorbeeld: Volgens Filippense 2:3 moet ons “niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër . . . ag”. Hoe vorder ons in hierdie opsig? Almal het swak en sterk punte. As ons in die verlede maklik ander se swak punte opgemerk het, kan ons ons afvra: Het ons vooruitgang gemaak sodat ons nie langer van hulle verwag om byna ‘volmaak’ te wees nie? (Jakobus 3:2). Kan ons nou, meer as voorheen, maniere sien—selfs soek—waarop ons ander hoër, of beter, as onsself kan ag? ‘Ek moet erken dat hierdie suster geduldiger as ek is.’ ‘Daardie een het sterker geloof.’ ‘Om die waarheid te sê, hy is ’n beter onderrigter as ek.’ ‘Sy beteuel haar humeur beter.’ Dalk moes party Kolossense vooruitgang maak in hierdie verband. Moet ons?

8, 9. (a) In watter sin het Epafras gebid dat die Kolossense in volkomenheid “staan”? (b) Wat het die woorde ‘in volkomenheid staan’ met betrekking tot die toekoms te kenne gegee?

8 Epafras het gebid dat die Kolossense ‘in volkomenheid staan’. Dit is duidelik dat Epafras God gevra het dat die Kolossense in die mate waarin hulle volkome, volwasse, volgroeide Christene was, sou “staan”, of so sou bly.

9 Ons kan nie aanneem dat elke persoon wat ’n Christen, selfs ’n volwasse Christen, word een sal bly nie. Jesus het gesê dat ’n engeleseun van God “nie in die waarheid vasgestaan [het] nie” (Johannes 8:44). En Paulus het die Korintiërs herinner aan sommige in die verlede wat Jehovah ’n tyd lank gedien het, maar toe opgehou het. Hy het geesgesalfde broers gewaarsku: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Dit gee groter krag aan die gebed dat die Kolossense ‘uiteindelik in volkomenheid staan’. Wanneer hulle volkome, volgroeid, geword het, moes hulle volhard en nie terugdeins, moeg word, of wegdryf nie (Hebreërs 2:1; 3:12; 6:6; 10:39; 12:25). Sodoende sou hulle ‘volkome’ wees in die dag van hulle inspeksie en finale goedkeuring.—2 Korintiërs 5:10; 1 Petrus 2:12.

10, 11. (a) Watter voorbeeld het Epafras vir ons gestel wat gebed betref? (b) Wat sal jy jou graag wil voorneem om te doen in ooreenstemming met wat Epafras gedoen het?

10 Ons het reeds die belangrikheid daarvan bespreek om vir ander by name te bid, om Jehovah spesifiek te vra om hulle te help, te vertroos, te seën en heilige gees te gee. Epafras se gebede vir die Kolossense was van so ’n aard. En ons kan—trouens, ons moet—in daardie woorde ’n nuttige wenk sien in verband met dinge wat ons oor onsself vir Jehovah in gebed moet noem. Ons moet ongetwyfeld Jehovah se hulp vra sodat ons as individue ‘uiteindelik in volkomenheid sal staan’. Doen jy dit?

11 Waarom noem jy nie jou situasie in gebed nie? Praat met God oor die mate waarin jy gevorder het om ‘volkome’, volgroeid, volwasse te wees. Smeek hom om jou te help besef op watter gebiede jy nog geestelik moet groei (Psalm 17:3; 139:23, 24). Jy weet beslis van sulke gebiede in jou geval. Moet dan nie mismoedig hieroor wees nie, maar vra God duidelik en spesifiek om jou te help om vooruitgang te maak. Doen dit meer as een keer. Trouens, waarom neem jy jou nie voor om hierdie komende week ernstig daaroor te bid dat jy ‘uiteindelik in volkomenheid sal staan’ nie. En beplan om dit meer te doen namate jy aan die jaarteks dink. Noem in jou gebede neigings wat jy dalk het om terug te deins, moeg te raak of weg te dryf van God se diens en hoe jy dit kan vermy.—Efesiërs 6:11, 13, 14, 18.

Bid vir vaste oortuiging

12. Waarom het die Kolossense veral “vaste oortuiging” nodig gehad?

12 Epafras het ook vir iets anders gebid wat noodsaaklik was as die Kolossense uiteindelik in ’n aanneemlike posisie voor God bevind wou word. Dit is net so belangrik vir ons. Wat was dit? Hy het gebid dat hulle “met vaste oortuiging in die hele wil van God” sou staan. Hulle is deur dwaalleringe en ondermynende filosofieë omring, en party daarvan het ’n misleidende voorkoms van ware aanbidding gehad. Druk is byvoorbeeld op hulle uitgeoefen om spesiale dae met vaste of feeste te vier, soos voorheen in Joodse aanbidding vereis is. Valse onderrigters het die aandag gevestig op engele, daardie magtige geeste wat gebruik is om die Wet van Moses oor te dra. Stel jou voor hoe dit moes gewees het om aan sulke druk onderwerp te word! Daar was ’n magdom teenstrydige idees wat baie verwarrend was.—Galasiërs 3:19; Kolossense 2:8, 16-18.

13. Watter faktor moes die Kolossense in ag neem wat hulle sou help, en hoe kan dit ons help?

13 Paulus het dit teëgewerk deur die rol van Jesus Christus te beklemtoon. “Aangesien julle Christus Jesus, die Here, dan aangeneem het, moet julle voortgaan om in eenheid met hom te wandel, gewortel in hom en terwyl julle opgebou word in hom en standvastig gemaak word in die geloof, net soos julle geleer is.” Ja, dit was noodsaaklik (vir die Kolossense en dit is vir ons) om ten volle oortuig te wees van Christus se rol in God se voorneme en in ons lewe. Paulus het verduidelik: “In hom woon die hele volheid van die goddelike hoedanigheid liggaamlik. Daarom besit julle ’n volheid deur middel van hom, wat die hoof van alle regering en gesag is.”—Kolossense 2:6-10.

14. Waarom was hoop van groot belang vir diegene in Kolosse?

14 Die Kolossense was geesgesalfde Christene. Hulle het ’n besliste hoop gehad, lewe in die hemel, en hulle het alle rede gehad om daardie hoop helder voor oë te hou (Kolossense 1:5). Dit was ‘die wil van God’ dat hulle vas oortuig moes wees van die sekerheid van hulle hoop. Kon enigeen van hulle aan daardie hoop getwyfel het? Hoegenaamd nie! Moet dit vandag enigsins anders wees vir almal wat die godgegewe vooruitsig op lewe in ’n aardse paradys het? Beslis nie! Hierdie gegronde hoop is gewis deel van ‘die wil van God’. Dink nou na oor hierdie vrae: Hoe werklik is jou hoop as jy daarna streef om een van die “groot skare” te wees wat “die groot verdrukking” sal oorleef? (Openbaring 7:9, 14). Vorm dit deel van jou “vaste oortuiging in die hele wil van God”?

15. Watter reeks wat hoop ingesluit het, het Paulus uiteengesit?

15 Met “hoop” bedoel ons nie ’n vae wens of dagdroom nie. Ons kan dit sien uit die reeks punte wat Paulus vroeër aan die Romeine voorgelê het. In daardie reeks word elke punt wat genoem word, met die volgende punt verbind of dit lei na die volgende punt. Let op waar Paulus “hoop” in sy redenasie inbring: “Laat ons ons verbly terwyl ons in verdrukkinge is, aangesien ons weet dat verdrukking volharding voortbring; volharding weer ’n goedgekeurde toestand; die goedgekeurde toestand weer hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie; omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur middel van die heilige gees.”—Romeine 5:3-5.

16. Watter hoop het jy verkry namate jy Bybelwaarheid leer ken het?

16 Toe Jehovah se Getuies die eerste keer die Bybelboodskap aan jou oorgedra het, het ’n sekere waarheid dalk jou aandag getrek, soos die toestand van die dooies of die opstanding. Vir baie was die grootste nuwe waarheid wat hulle geleer het, die Bybelse moontlikheid van lewe in ’n aardse paradys. Dink terug aan die eerste keer toe jy daardie lering gehoor het. Wat ’n wonderlike hoop—siekte en bejaardheid sal iets van die verlede wees, jy kan aanhou lewe om die vrugte van jou arbeid te geniet en daar sal vrede met die diere wees! (Prediker 9:5, 10; Jesaja 65:17-25; Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4). Jy het ’n wonderlike hoop verkry!

17, 18. (a) Hoe het die reeks wat Paulus aan die Romeine voorgelê het, by hoop uitgekom? (b) Van watter soort hoop praat Romeine 5:4, 5, en het jy hierdie soort hoop?

17 Jy het heel waarskynlik mettertyd voor die een of ander vorm van teenstand of vervolging te staan gekom (Matteus 10:34-39; 24:9). Selfs in onlangse tye is die huise van Getuies in verskillende lande geplunder of hulle moes noodgedwonge vlugtelinge word. Party is fisies aangerand, daar is beslag gelê op hulle Bybellektuur of hulle was die skyf van leuenagtige berigte in die media. Ongeag watter vorm van vervolging jy dalk verduur het, jy kon jou in die verdrukking verbly, soos Romeine 5:3 sê, en dit het goeie resultate opgelewer. Soos Paulus geskryf het, het die verdrukking volharding in jou voortgebring. Daarna het volharding tot ’n goedgekeurde toestand gelei. Jy het geweet dat jy doen wat reg is, dat jy God se wil doen, en daarom het jy seker gevoel dat jy sy goedkeuring wegdra. In Paulus se woorde het jy die gevoel gehad dat jy in “’n goedgekeurde toestand” is. Paulus het verder geskryf dat “die goedgekeurde toestand weer hoop [voortbring]”. Dit klink dalk ’n bietjie vreemd. Waarom het Paulus “hoop” so laat in die reeks genoem? Het jy nie al lank voor die tyd hoop gehad nie, toe jy die eerste keer die goeie nuus gehoor het nie?

18 Dit is duidelik dat Paulus nie hier verwys na ons oorspronklike gevoel van hoop op volmaakte lewe nie. Hy verwys na iets wat dieper gaan; dit is intenser, meer motiverend. Wanneer ons getrou volhard en dit ons laat besef dat ons God se goedkeuring geniet, het dit ’n diepgaande uitwerking—ons aanvanklike hoop word verruim en versterk. Die hoop wat ons gehad het, word nou baie meer werklik, sterker, meer persoonlik. Hierdie versterkte hoop straal helderder uit. Dit oorstraal ons hele wese, elke deeltjie van ons. “En die hoop lei nie tot teleurstelling nie; omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur middel van die heilige gees.”

19. Hoe behoort jou hoop deel van jou gereelde gebede te vorm?

19 Dit was Epafras se opregte bede dat sy broers en susters in Kolosse se harte voortdurend geraak sou word deur dit wat vir hulle voorgelê het en dat hulle oortuig daarvan sou bly, dat hulle “vaste oortuiging in die hele wil van God” sou hê. Laat elkeen van ons God ook gereeld nader oor ons hoop. Sluit jou hoop in verband met die nuwe wêreld in jou persoonlike gebede in. Sê vir Jehovah hoeveel jy daarna smag, terwyl jy ten volle oortuig is dat dit sal kom. Smeek hom om jou te help om jou oortuiging dieper en sterker te maak. Soos Epafras gebid het dat die Kolossense “vaste oortuiging in die hele wil van God” mag hê, kan jy dieselfde doen. Doen dit dikwels.

20. Waarom moet dit ons nie ontmoedig as ’n betreklike klein groepie van die Christelike weg afwyk nie?

20 Moenie toelaat dat dit jou aandag aftrek of jou ontmoedig as nie almal in volkomenheid en met vaste oortuiging staan nie. Party sal moontlik faal, afwyk of eenvoudig tou opgooi. Dit het gebeur onder diegene wat die naaste aan Jesus was, sy apostels. Maar het die ander apostels minder begin doen of tou opgegooi toe Judas ’n verraaier geword het? Glad nie! Petrus het Psalm 109:8 toegepas om te toon dat iemand anders Judas se plek sou inneem. Iemand is gekies om hom te vervang, en God se lojale knegte het ywerig voortgegaan met hulle predikingstoewysing (Handelinge 1:15-26). Hulle was vasbeslote om in volkomenheid te staan met vaste oortuiging.

21, 22. Hoe sal die feit dat jy in volkomenheid en met vaste oortuiging staan, opgemerk word?

21 Jy kan heeltemal seker daarvan wees dat dit nie ongesiens sal verbygaan as jy in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God staan nie. Dit sal opgemerk en waardeer word. Deur wie?

22 Wel, jou broers en susters, wat jou ken en liefhet, sal dit opmerk. Al sê baie dit nie in soveel woorde nie, sal die uitwerking soortgelyk wees aan wat ons in 1 Tessalonisense 1:2-6 lees: “Ons dank God altyd wanneer ons van julle almal melding maak in ons gebede, want ons dink onophoudelik aan julle getroue werk en julle liefdevolle arbeid en julle volharding weens julle hoop op ons Here Jesus Christus voor ons God en Vader. Want . . . die goeie nuus wat ons verkondig[, het] nie met woorde alleen tot julle gekom . . . nie, maar ook met krag en met heilige gees en sterk oortuiging . . . ; en julle het navolgers van ons en van die Here geword.” Die lojale Christene om jou sal dieselfde voel as hulle sien dat jy “in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God . . . staan”.—Kolossense 4:12.

23. Wat behoort jy gedurende hierdie komende jaar vasbeslote te wees om te doen?

23 Net so seker sal jou hemelse Vader dit opmerk en sal dit hom behaag. Wees oortuig hiervan. Waarom? Omdat jy in volkomenheid en met vaste oortuiging “in die hele wil van God” staan. Paulus het op aanmoedigende wyse aan die Kolossense geskryf dat hulle wandel “op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:10). Ja, dit is moontlik vir onvolmaakte mense om hom ten volle te behaag. Jou broers en susters in Kolosse het dit gedoen. Christene om jou doen dit op die oomblik. Jy kan dit ook doen! Laat jou daaglikse gebede en jou dade gedurende hierdie komende jaar dus bewys dat jy vasbeslote is om “uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God [te] staan”.

Kan jy onthou?

• Wat behels dit vir jou om ‘in volkomenheid te staan’?

• Watter dinge omtrent jouself moet jy in jou gebede insluit?

• Watter soort hoop wil jy volgens Romeine 5:4, 5 hê?

• Watter doelwit het ons studie jou beweeg om gedurende die komende jaar te hê?

[Prent op bladsy 20]

Epafras het gebid dat sy broers in volkomenheid staan, met vaste oortuiging wat Christus en hulle hoop betref

[Prente op bladsy 23]

Miljoene ander deel jou gewisse hoop en vaste oortuiging

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel