“Die woord van Jehovah het bly groei”
“Hy stuur sy bevel na die aarde; met spoed beweeg sy woord voort.”—PSALM 147:15, NW.
1, 2. Watter toewysing het Jesus sy dissipels gegee, en wat het dit behels?
EEN van die uitsonderlikste profesieë in die Bybel word in Handelinge 1:8 gevind. Kort voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy getroue volgelinge gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” Wat ’n ontsaglike taak sou dit tog wees!
2 Die toewysing om God se woord oor die hele aarde te verkondig, moes vir daardie handjie vol dissipels wat dit ontvang het, oorweldigend gelyk het. Dink net wat dit behels het. Hulle moes die mense help om die goeie nuus van God se Koninkryk te verstaan (Matteus 24:14). Om van Jesus te getuig, het ook beteken dat hulle sy kragtige leringe aan ander moes verkondig en sy rol in Jehovah se voorneme moes verduidelik. Verder het die werk ingesluit dat hulle dissipels van mense moes maak en hulle dan moes doop. En dit moes wêreldwyd gedoen word!—Matteus 28:19, 20.
3. Waarvan het Jesus sy volgelinge verseker, en hoe het hulle die werk uitgevoer wat hy hulle gegee het?
3 Jesus het egter sy volgelinge verseker dat die heilige gees hulle sou help om die werk te doen wat hy hulle gegee het. Al was dit ’n baie groot toewysing en al het teenstanders hulle sonder ophou en op gewelddadige wyse die swye probeer oplê, het die vroeë dissipels van Jesus wel die taak wat hy hulle gegee het, met welslae uitgevoer. Dit is ’n geskiedkundige feit wat niemand kan ontken nie.
4. Hoe is God se liefde duidelik bewys deur die opdrag om te preek en te onderrig?
4 Die wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk was ’n blyk van God se liefde vir diegene wat hom nie geken het nie. Dit het hulle die geleentheid gegee om nader aan Jehovah te kom en vergifnis van sondes te ontvang (Handelinge 26:18). Die opdrag om te preek en te onderrig, het ook God se liefde geopenbaar vir diegene wat die boodskap verkondig, aangesien dit hulle die geleentheid gegee het om hulle toegewydheid aan Jehovah te bewys en hulle liefde vir hulle medemens te toon (Matteus 22:37-39). Die apostel Paulus het die Christelike bediening so kosbaar geag dat hy daarna verwys het as ’n “skat”.—2 Korintiërs 4:7.
5. (a) Waar vind ons die betroubaarste verslag van die vroeë Christene, en watter groei word daarin beskryf? (b) Waarom is die boek Handelinge betekenisvol vir God se knegte wat vandag lewe?
5 Die betroubaarste verslag van die vroeë Christene se predikingswerk kan in die geïnspireerde boek Handelinge gevind word, wat deur die dissipel Lukas geskryf is. Dit is ’n verslag van verbasende en vinnige groei. Hierdie toename in die kennis van God se Woord laat ons dink aan Psalm 147:15 (NW) wat sê: “[Jehovah] stuur sy bevel na die aarde; met spoed beweeg sy woord voort.” Die verslag van die vroeë Christene wat deur die heilige gees versterk is, is opwindend sowel as baie betekenisvol vir ons wat vandag lewe. Jehovah se Getuies neem aan dieselfde predikings- en dissipelmaakwerk deel, net op ’n baie groter skaal. Ons het ook te kampe met dieselfde soort probleme as dié waarvoor Christene in die eerste eeu te staan gekom het. Terwyl ons nou kyk hoe Jehovah die vroeë Christene geseën en versterk het, word ons geloof in sy ondersteuning sterker.
Die aantal dissipels groei
6. Watter frase in verband met groei kom drie keer in die boek Handelinge voor, en waarna verwys dit?
6 Een manier om die vervulling van Handelinge 1:8 te ondersoek, is om te kyk na die uitdrukking “die woord van Jehovah het bly groei”, ’n frase wat, met geringe verskille, net drie keer in die Bybel voorkom en al drie keer in die boek Handelinge (Handelinge 6:7; 12:24; 19:20). “Die woord van Jehovah”, of “die woord van God”, in hierdie tekste verwys na die goeie nuus—die treffende boodskap van Goddelike waarheid, ’n lewende, kragtige boodskap wat die lewe verander het van diegene wat dit aangeneem het.—Hebreërs 4:12.
7. Waarmee word die groei van God se woord in Handelinge 6:7 verbind, en wat het op Pinksterdag 33 G.J. plaasgevind?
7 Die eerste verwysing na die groei van God se woord kom in Handelinge 6:7 voor. Daar lees ons: “Gevolglik het die woord van God aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem; en ’n groot skare priesters het aan die geloof gehoorsaam begin word.” Hier word groei verbind met ’n toename in die aantal dissipels. Vroeër, op Pinksterdag 33 G.J., is God se heilige gees uitgestort op ongeveer 120 dissipels wat in ’n bovertrek vergader het. Die apostel Petrus het daarna ’n treffende toespraak gehou, en van diegene wat geluister het, het sowat 3 000 op daardie selfde dag nog gelowiges geword. Hoeveel opgewondenheid moes daar tog gewees het toe duisende mense na die poel of poele in en om Jerusalem gestroom het om gedoop te word in die naam van Jesus, die man wat sowat 50 dae vroeër as ’n misdadiger aan die paal gehang is!—Handelinge 2:41.
8. Hoe het die aantal dissipels in die jare ná Pinkster 33 G.J. toegeneem?
8 Dit was natuurlik net die begin. Die volgehoue pogings van Joodse godsdiensleiers om die predikingswerk stop te sit, was tevergeefs. Tot die frustrasie van daardie leiers “het Jehovah voortgegaan om daagliks dié wat gered word by [die dissipels] te voeg” (Handelinge 2:47). Kort voor lank het “die getal van die manne . . . omtrent vyfduisend geword”. Daarna is “gelowiges in die Here . . . voortdurend bygevoeg, menigtes manne sowel as vroue” (Handelinge 4:4; 5:14). Ons lees aangaande ’n latere tydperk: “Toe het die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria inderdaad ’n tydperk van vrede ingegaan en is dit opgebou; en terwyl dit in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit bly vermeerder” (Handelinge 9:31). Jare later, moontlik omstreeks 58 G.J., is daar van “duisende gelowiges” gepraat (Handelinge 21:20). Teen daardie tyd was daar ook baie nie-Joodse gelowiges.
9. Hoe sal jy die vroeë Christene beskryf?
9 Hierdie vermeerdering in getalle was hoofsaaklik die gevolg van mense wat hulle bekeer het. Die godsdiens was nuut—maar dit was dinamies. Die dissipels was nie net passiewe kerklidmate nie, maar hulle was ten volle aan Jehovah en sy Woord toegewy, en hulle het die waarheid dikwels geleer by persone wat wreed vervolg is (Handelinge 16:23, 26-33). Diegene wat die Christelike geloof aangeneem het, het dit gedoen nadat hulle daaroor geredeneer en ooreenkomstig hulle gewete besluit het (Romeine 12:1). Hulle is in God se weë onderrig; die waarheid was in hulle verstand en hart (Hebreërs 8:10, 11). Hulle was bereid om te sterf vir wat hulle geglo het.—Handelinge 7:51-60.
10. Watter verantwoordelikheid het die vroeë Christene aanvaar, en watter parallel vind ons vandag?
10 Dié wat die Christelike leer aangeneem het, het besef dat hulle die verantwoordelikheid het om die waarheid aan ander te verkondig. Dit het regstreeks bygedra tot verdere groei in getalle. Een Bybelgeleerde het gesê: “Die verkondiging van die geloof is nie beskou as die uitsluitlike reg van die heel yweriges of van die amptelik aangestelde evangelis nie. Evangelisasie was die voorreg en die plig van elke kerklid. . . . Die spontane pogings van die hele Christengemeenskap het van die begin af geweldige stukrag aan die beweging gegee.” Hy het verder geskryf: “Evangelisasie was die lewensbloed van die vroeë Christene.” Dieselfde is waar van hedendaagse ware Christene.
Geografiese groei
11. Watter soort groei word in Handelinge 12:24 beskryf, en hoe het dit plaasgevind?
11 ’n Tweede verwysing na die groei van God se woord word in Handelinge 12:24 gevind: “Die woord van Jehovah het bly groei en versprei.” Hier word die frase met geografiese groei verbind. Ten spyte van regeringsteenstand het die werk aanhou floreer. Die heilige gees is eers in Jerusalem uitgestort, en van daar het die woord vinnig versprei. Vervolging in Jerusalem het die dissipels verstrooi na gebiede deur die hele Judea en Samaria. Wat was die gevolg? “Dié wat verstrooi is, het . . . deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak” (Handelinge 8:1, 4). Filippus is gestuur om vir ’n man te gaan getuig wat, nadat hy gedoop is, die boodskap na Etiopië geneem het (Handelinge 8:26-28, 38, 39). Die waarheid is spoedig in Lidda, die vlakte van Saron en Joppe gevestig (Handelinge 9:35, 42). Later het die apostel Paulus duisende kilometers oor see en land gereis om gemeentes in baie lande om die Middellandse See te stig. Die apostel Petrus het na Babilon gegaan (1 Petrus 5:13). Binne 30 jaar nadat die heilige gees tydens Pinkster uitgestort is, het Paulus geskryf dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is”, moontlik met verwysing na die wêreld wat destyds bekend was.—Kolossense 1:23.
12. Hoe het teenstanders van die Christelike geloof erken dat God se woord geografies gegroei het?
12 Selfs teenstanders van die Christelike geloof het erken dat die woord van God deur die hele Romeinse Ryk gevestig geraak het. Handelinge 17:6 sê byvoorbeeld dat teenstanders in Tessalonika, noordelike Griekeland, uitgeroep het: “Hierdie mense wat die bewoonde aarde omgekeer het, is ook hier teenwoordig.” Aan die begin van die tweede eeu het Plinius die Jongere ook uit Bitinië aan die Romeinse keiser Trajanus geskryf aangaande die Christelike geloof. Hy het gekla: “[Dit] is nie net tot die stede beperk nie, maar het ook die naburige dorpe en platteland besmet.”
13. Hoe het die geografiese groei God se liefde vir die mensdom weerspieël?
13 Hierdie geografiese groei was ’n blyk van Jehovah se innige liefde vir loskoopbare mense. Toe Petrus gesien het dat die heilige gees in die nie-Jood Kornelius werksaam was, het hy gesê: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Ja, die goeie nuus was en is ’n boodskap vir alle mense, en die geografiese groei van die woord van God het oral aan mense ’n geleentheid gegee om op God se liefde te reageer. In hierdie 21ste eeu het die woord van God letterlik tot in alle dele van die aarde versprei.
Die groei seëvier
14. Watter soort groei word in Handelinge 19:20 beskryf, en waaroor het God se woord geseëvier?
14 Die derde verwysing na die groei van God se woord kom in Handelinge 19:20 voor: “Die woord van Jehovah [het] op ’n magtige wyse bly groei en seëvier.” Die oorspronklike Griekse woord wat met “seëvier” vertaal word, dra die gedagte oor van “krag uitoefen”. Die vorige verse praat van baie in Efese wat gelowiges geword het en toon dat baie wat die towerkuns beoefen het, hulle boeke voor almal verbrand het. God se woord het dus oor valse godsdiensleringe geseëvier. Die goeie nuus het ook oor ander struikelblokke, soos vervolging, geseëvier. Niks kon dit keer nie. Hierin vind ons weer eens ’n treffende parallel met die ware Christelike geloof in ons tyd.
15. (a) Wat het een Bybelgeskiedskrywer oor die vroeë Christene geskryf? (b) Aan wie het die dissipels die eer vir hulle sukses gegee?
15 Die apostels en ander vroeë Christene het God se woord ywerig verkondig. Een Bybelgeskiedskrywer het van hulle gesê: “Wanneer mense graag oor hulle Here wil praat, vind hulle allerhande maniere om dit te doen. Trouens, dit is die dryfkrag van hierdie mans en vroue wat ons meer beïndruk as hulle metodes.” Tog het daardie vroeë Christene besef dat die sukses van hulle bediening nie alleenlik van húlle pogings afgehang het nie. Hulle het ’n Goddelike opdrag gehad om hulle werk te doen, en hulle het God se ondersteuning gehad om dit uit te voer. Geestelike groei kom van God. Die apostel Paulus het dit in sy brief aan die gemeente in Korinte erken. Hy het geskryf: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei. Want ons is God se medewerkers.”—1 Korintiërs 3:6, 9.
Die heilige gees is werksaam
16. Wat toon dat die heilige gees die dissipels die krag gegee het om met vrymoedigheid te spreek?
16 Onthou dat Jesus sy dissipels verseker het dat die heilige gees ’n rol sou speel in die groei van God se woord en dat die heilige gees die dissipels krag sou gee in hulle predikingswerk (Handelinge 1:8). Hoe het dit gebeur? Nie lank nadat die gees tydens Pinkster op die dissipels uitgestort is nie, is Petrus en Johannes ontbied om voor die Joodse Sanhedrin te verskyn, die hoogste hof in die land, wie se regters vir die teregstelling van Jesus Christus verantwoordelik was. Sou die apostels bewe van vrees voor so ’n indrukwekkende en vyandiggesinde vergadering? Hoegenaamd nie! Die heilige gees het Petrus en Johannes die krag gegee om met sulke vrymoedigheid te praat dat hulle teenstanders met verwondering vervul is, en “hulle het hulle begin herken as persone wat saam met Jesus was” (Handelinge 4:8, 13). Die heilige gees het Stefanus ook in staat gestel om ’n moedige getuienis voor die Sanhedrin te gee (Handelinge 6:12; 7:55, 56). Vroeër het die heilige gees die dissipels beweeg om met vrymoedigheid te getuig. Lukas vertel: “Nadat hulle ’n smeekbede gedoen het, is die plek waarin hulle bymekaar was, geskud; en hulle is almal sonder uitsondering met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—Handelinge 4:31.
17. Op watter ander maniere het die heilige gees die dissipels in hulle bediening gehelp?
17 Deur sy kragtige heilige gees, het Jehovah, tesame met die verrese Jesus, die predikingswerk gerig (Johannes 14:28; 15:26). Toe die gees op Kornelius, sy familielede en sy intieme vriende uitgestort is, het die apostel Petrus besef dat onbesnede nie-Jode kwalifiseer om in die naam van Jesus Christus gedoop te word (Handelinge 10:24, 44-48). Later het die gees ’n belangrike rol daarin gespeel om Barnabas en Saulus (die apostel Paulus) in die sendingwerk aan te stel en hulle te lei waar hulle moes en nie moes gaan nie (Handelinge 13:2, 4; 16:6, 7). Dit het die apostels en ouer manne in Jerusalem gelei om besluite te neem (Handelinge 15:23, 28, 29). Heilige gees het ook die aanstelling van opsieners in die Christengemeente gerig.—Handelinge 20:28.
18. Hoe het die vroeë Christene liefde betoon?
18 Daarbenewens was heilige gees werksaam in Christene self en het dit godvrugtige eienskappe, soos liefde, in hulle voortgebring (Galasiërs 5:22, 23). Liefde het die dissipels beweeg om mededeelsaam te wees. Ná Pinkster 33 G.J. is ’n gemeenskaplike fonds byvoorbeeld gestig om in die fisiese behoeftes van die dissipels in Jerusalem te voorsien. Die Bybelverslag sê: “Daar was nie een onder hulle wat gebrek gely het nie; want almal wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs gebring van wat verkoop is en dit by die voete van die apostels neergelê. Daarop is aan elkeen uitgedeel volgens sy behoefte” (Handelinge 4:34, 35). Hierdie liefde is nie net aan medegelowiges betoon nie, maar ook aan ander, deur aan hulle die goeie nuus te verkondig sowel as deur ander dade van goedhartigheid (Handelinge 28:8, 9). Jesus het gesê dat selfopofferende liefde sy volgelinge sou identifiseer (Johannes 13:34, 35). Die belangrike eienskap liefde het ongetwyfeld mense na God aangetrek en bygedra tot die groei in die eerste eeu, soos dit vandag ook die geval is.—Matteus 5:14, 16.
19. (a) Op watter drie maniere het die woord van Jehovah in die eerste eeu gegroei? (b) Waarna sal ons in die volgende artikel kyk?
19 Die uitdrukking “heilige gees” kom altesaam 41 keer in die boek Handelinge voor. Dit is duidelik dat ware Christelike groei in die eerste eeu ten nouste verbind was met die krag en leiding van die heilige gees. Die aantal dissipels het vermeerder, die woord van God het oor ’n groot gebied versprei en dit het oor godsdienste en filosofieë van daardie tyd geseëvier. Hierdie eerste-eeuse groei het ’n parallel in die werk van Jehovah se Getuies vandag. In die volgende artikel sal ons kyk na die soortgelyke dramatiese groei van God se woord in hedendaagse tye.
Onthou jy?
• Hoe het die vroeë dissipels in getalle gegroei?
• In watter opsig het die woord van God geografies versprei?
• Hoe het die woord van God in die eerste eeu geseëvier?
• Watter rol het die heilige gees in die groei van God se woord gespeel?
[Prent op bladsy 12]
Filippus het vir die Etiopiër getuig, en sodoende die goeie nuus geografies laat versprei
[Prent op bladsy 13]
Heilige gees het die apostels en ouer manne in Jerusalem gelei
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Regs bo: Reproduksie van die stad Jerusalem ten tye van die Tweede Tempel, wat geleë is op die terrein van die Holyland-hotel, Jerusalem