Broers wat verskillende gesindhede ontwikkel het
DIT is onvermydelik dat ouers se besluite ’n uitwerking op hulle kinders sal hê. Dit is vandag net so waar as wat dit destyds in die tuin van Eden was. Adam en Eva se opstandigheid het ’n groot uitwerking op die hele mensdom gehad (Genesis 2:15, 16; 3:1-6; Romeine 5:12). Nogtans het elkeen van ons die geleentheid om ’n goeie verhouding met ons Skepper op te bou as ons graag wil. Dit word toegelig deur die verslag van Kain en Abel, die eerste broers in die mensegeskiedenis.
Daar is geen skriftuurlike verslag dat God met Adam en Eva gepraat het nadat hulle uit Eden gesit is nie. Nogtans het Jehovah hom nie vir hulle seuns verberg nie. Kain en Abel het ongetwyfeld by hulle ouers gehoor wat gebeur het. Hulle kon die “gerubs . . . met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak”, sien (Genesis 3:24). Hierdie manne het ook aanskou hoe God se woorde bewaarheid word dat sweet en pyn deel van die lewe sou wees.—Genesis 3:16, 19.
Kain en Abel moes bewus gewees het van Jehovah se woorde aan die slang: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Wat Kain en Abel aangaande Jehovah geweet het, het hulle in staat gestel om ’n goedgekeurde verhouding met hom op te bou.
Wanneer Kain en Abel nagedink het oor die profesie wat Jehovah uitgespreek het en oor sy eienskappe as ’n liefdevolle Weldoener, moes dit die begeerte by hulle gewek het om God se goedkeuring weg te dra. Maar in watter mate sou hulle hierdie begeerte ontwikkel? Sou hulle reageer op hulle ingebore begeerte om God te aanbid en geestelik vorder totdat hulle geloof in hom beoefen?—Matteus 5:3.
Die broers bring offerandes
Na verloop van tyd het Kain en Abel offerandes aan God gebring. Kain het die vrugte van die land aangebied, en Abel het die eerstelinge van sy kleinvee geoffer (Genesis 4:3, 4). Hierdie manne was toe moontlik omtrent 100 jaar oud, want Adam was 130 toe hy die vader geword het van sy seun, Set.—Genesis 4:25; 5:3.
Kain en Abel se offerandes het getoon dat hulle hulle sondige toestand erken en God se guns begeer. Hulle moes ten minste soms gedink het aan Jehovah se belofte aangaande die slang en die Saad van die vrou. Presies hoeveel tyd en moeite Kain en Abel daaraan gewy het om ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah te verkry, word nie gemeld nie. Maar God se reaksie op hulle offerandes werp lig op elkeen se diepste gedagtes.
Party geleerdes voer aan dat Eva Kain as die “saad” beskou het wat die slang sou vernietig, want met Kain se geboorte het sy gesê: “Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE” (Genesis 4:1). As Kain dit ook geglo het, was hy heeltemal verkeerd. Aan die ander kant het Abel se offerande met geloof gepaardgegaan. “Deur geloof het Abel [dus] ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain.”—Hebreërs 11:4.
Abel se geestelike insig en Kain se gebrek daaraan was nie die enigste verskil tussen hierdie broers nie. Ook hulle gesindhede het verskil. Daarom het “die HERE . . . Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie”. Kain het waarskynlik nie veel oor sy offerande nagedink nie en dit net werktuiglik aangebied. Maar blote vormdiens het nie God se goedkeuring weggedra nie. Kain het ’n bose hart ontwikkel, en Jehovah het gesien dat sy beweegredes verkeerd is. Kain se reaksie toe sy offerande verwerp is, het sy ware gesindheid weerspieël. In plaas van sake te probeer regstel, het “Kain baie kwaad [geword], en hy het sy hoof laat hang” (Genesis 4:5). Sy houding het verraai dat sy gedagtes en bedoelings goddeloos is.
’n Waarskuwing en die reaksie daarop
God het geweet wat Kain se gesindheid is en hom tereggewys deur te sê: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers.”—Genesis 4:6, 7.
Ons kan ’n les hieruit leer. Sonde lê in werklikheid en wag om ons te verslind. Maar God het aan ons wilsvryheid gegee, en ons kan kies om te doen wat reg is. Jehovah het Kain aangespoor om ‘goed te doen’, maar Hy het hom nie gedwing om te verander nie. Kain het self gekies watter weg hy wou inslaan.
Die geïnspireerde verslag sê verder: “En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan” (Genesis 4:8). Kain het sodoende ’n ongehoorsame, koelbloedige moordenaar geword. Hy het nie eers ’n sweem van berou getoon toe Jehovah hom gevra het: “Waar is jou broer Abel?” nie. Hy het eerder op ’n ongevoelige en astrante wyse geantwoord: “Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?” (Genesis 4:9). Daardie infame leuen en ontkenning van sy skuld het Kain se hardvogtigheid geopenbaar.
Jehovah het Kain vervloek en hom uit die omgewing van Eden verdryf. Die vloek wat reeds oor die grond uitgespreek is, sou blykbaar in Kain se geval nog erger wees, en die grond sou geen opbrengs lewer wanneer hy dit bewerk nie. Hy sou ’n swerwer en vlugteling op die aarde wees. Die feit dat Kain gekla het dat sy vonnis te groot is, het gewys dat hy bang was dat sy broer se moord op hom gewreek sou word, maar hy het geen opregte berou getoon nie. Jehovah het aan Kain “’n teken” gegee—moontlik ’n plegtige verordening waarvan ander geweet het en wat hulle onderhou het en wat sou voorkom dat hy uit wraak doodgemaak word.—Genesis 4:10-15.
“Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden” (Genesis 4:16). Hy het ’n vrou onder sy susters of niggies geneem en ’n stad gebou wat hy na Henog, sy eersgebore seun, vernoem het. Kain se nakomeling Lameg was net so gewelddadig soos sy goddelose voorvader. Maar die geslagslyn van Kain is met die Vloed van Noag se dag uitgewis.—Genesis 4:17-24.
Lesse vir ons
Ons kan leer uit die verslag van Kain en Abel. Die apostel Johannes vermaan Christene om mekaar lief te hê, “nie soos Kain, wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer doodgemaak het nie”. Kain se ‘werke was goddeloos, maar dié van sy broer regverdig’. Johannes sê ook: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n mensemoordenaar, en julle weet dat die ewige lewe in geen mensemoordenaar bly nie.” Ja, die manier waarop ons mede-Christene behandel, raak ons verhouding met God sowel as ons lewensvooruitsigte. Ons kan nie enige van ons medegelowiges haat en nogtans God se goedkeuring geniet nie.—1 Johannes 3:11-15; 4:20.
Kain en Abel is ongetwyfeld op dieselfde manier grootgemaak, maar Kain het nie geloof in God gehad nie. Trouens, hy het die gees van die Duiwel geopenbaar, die oorspronklike ‘mensemoordenaar en vader van die leuen’ (Johannes 8:44). Kain se handelswyse toon dat ons almal ’n keuse het, dat diegene wat verkies om te sondig, hulle van God afskei en dat Jehovah die onberouvolles veroordeel.
Daarenteen het Abel geloof in Jehovah beoefen. Ja, “deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, deur welke geloof hy getuienis aangaande homself ontvang het dat hy regverdig is, aangesien God aangaande sy gawes getuig het”. Hoewel nie een van Abel se woorde in die Skrif opgeteken is nie, “spreek hy nog” deur middel van sy voorbeeldige geloof.—Hebreërs 11:4.
Abel was die eerste van ’n groot aantal handhawers van onkreukbaarheid. Sy bloed, wat ‘na Jehovah geroep het van die aarde af’, is nie vergete nie (Genesis 4:10; Lukas 11:48-51). As ons soos Abel geloof beoefen, kan ons ook ’n kosbare en ewigdurende verhouding met Jehovah geniet.
[Venster op bladsy 22]
DIE LANDBOUER EN DIE HERDER
Die bewerking van die grond en die versorging van die diere was van die verantwoordelikhede wat God oorspronklik aan Adam gegee het (Genesis 1:28; 2:15; 3:23). Sy seun Kain het ’n landbouer geword en Abel het ’n herder geword (Genesis 4:2). Maar aangesien die mens se voedsel tot ná die Vloed uitsluitlik uit vrugte en groente bestaan het, kan ’n mens vra: Waarom met skape boer?—Genesis 1:29; 9:3, 4.
Skape het die mens se sorg nodig om te kan floreer. Abel se beroep bevestig dat daar van die begin van die mensegeskiedenis af met hierdie diere geboer is. Die Skrif sê nie of die mense destyds dieremelk as voedsel gebruik het nie, maar selfs ’n vegetariër kan skaapwol gebruik. En wanneer skape doodgaan, word hulle vel vir nuttige doeleindes gebruik. Jehovah het byvoorbeeld “rokke van vel” voorsien om Adam en Eva te klee.—Genesis 3:21.
Hoe dit ook al sy, dit lyk redelik om te aanvaar dat daar aanvanklik samewerking tussen Kain en Abel was. Hulle het iets voorsien wat ander in die familie nodig gehad het om geklee en goed gevoed te wees.
[Prent op bladsy 23]
Kain se ‘werke was goddeloos, maar dié van sy broer regverdig’