Hoe om “’n doring in die vlees” te verduur
“My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende.”—2 KORINTIËRS 12:9.
1, 2. (a) Waarom moet ons nie daaroor verbaas wees dat ons toetse en probleme ondervind nie? (b) Waarom kan ons vol vertroue wees ten spyte van beproewinge?
“ALMAL wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Waarom is dit die geval? Omdat Satan beweer dat mense God net om selfsugtige redes dien, en hy is vasbeslote om dit te bewys. Jesus het eenkeer sy getroue apostels gewaarsku: “Satan het julle geëis om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31). Jesus het geweet dat God Satan toelaat om ons deur middel van pynlike probleme te toets. Dit beteken natuurlik nie dat elke probleem wat ons in die lewe ondervind, regstreeks deur Satan of sy demone veroorsaak word nie (Prediker 9:11). Maar Satan is gretig om enige middel tot sy beskikking te gebruik om ons onkreukbaarheid te ondermyn.
2 Die Bybel sê dat ons nie verbaas moet wees oor ons beproewinge nie. Wat ook al oor ons kom, dit is nie vreemd of onverwags nie (1 Petrus 4:12). Trouens, “dieselfde dinge in die vorm van lyding [word] in die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld veroorsaak” (1 Petrus 5:9). Satan plaas vandag geweldige druk op elke kneg van God. Die Duiwel skep behae daarin om te sien dat ons met soveel doringagtige probleme as moontlik geteister word. Met dié doel voor oë gebruik hy sy stelsel van dinge op so ’n wyse dat dit die ‘dorings in ons vlees’ kan vermeerder of vererger (2 Korintiërs 12:7). Nogtans hoef Satan se aanvalle nie ons onkreukbaarheid te ondermyn nie. Net soos Jehovah ‘die uitweg sal gee’ sodat ons versoekings kan verduur, sal hy dit ook doen wanneer ons voor probleme te staan kom wat vir ons soos dorings in die vlees is.—1 Korintiërs 10:13.
Hoe om ’n doring te verduur
3. Wat was Jehovah se antwoord toe Paulus hom gevra het om die doring in sy vlees te verwyder?
3 Die apostel Paulus het God gesmeek om die doring in sy vlees te verwyder. “Hieroor het ek die Here drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk.” Wat was Jehovah se antwoord op Paulus se dringende versoek? “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende; want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring” (2 Korintiërs 12:8, 9). Kom ons ontleed hierdie antwoord en sien hoe dit ons kan help om enige doringagtige probleem wat ons pynig, te verduur.
4. In watter opsigte het Paulus by Jehovah se onverdiende goedhartigheid baat gevind?
4 Let op dat God Paulus aangespoor het om die onverdiende goedhartigheid te waardeer wat reeds deur middel van Christus aan hom bewys is. Ja, Paulus is in baie opsigte ryklik geseën. Jehovah het hom liefdevol die voorreg gegee om ’n dissipel te word, hoewel hy ’n fanatiese teenstander van Jesus se volgelinge was (Handelinge 7:58; 8:3; 9:1-4). Jehovah het Paulus daarna goedgunstig talle opwindende toewysings en voorregte gegee. Die les vir ons is duidelik. Selfs in die moeilikste tye het ons nog steeds baie seëninge waarvoor ons dankbaar kan wees. Ons beproewinge moet ons nooit Jehovah se oorvloedige goedheid laat vergeet nie.—Psalm 31:19.
5, 6. (a) Hoe het Jehovah Paulus geleer dat Goddelike krag ‘in swakheid tot volmaaktheid gebring word’? (b) Hoe het Paulus se voorbeeld Satan ’n leuenaar bewys?
5 Jehovah se onverdiende goedhartigheid is voldoende in ’n ander opsig. God se krag is meer as genoeg om ons deur ons beproewinge te help (Efesiërs 3:20). Jehovah het Paulus geleer dat Goddelike krag ‘in swakheid tot volmaaktheid gebring word’. Hoe? Hy het Paulus liefdevol voorsien van al die nodige krag om sy beproewing te verduur. En Paulus se volharding en sy volkome vertroue op Jehovah het aan almal bewys dat God se krag in die geval van hierdie swak en sondige man geseëvier het. Dink nou aan die uitwerking wat dit op die Duiwel het, wat beweer dat mense God net dien wanneer die lewe gemaklik en sonder probleme is. Paulus se onkreukbaarheid was vir daardie lasteraar as ’t ware ’n klap in die gesig!
6 Hier was Paulus, ’n man wat voorheen saam met Satan teen God geveg het, ’n vermetele vervolger van Christene, ’n ywerige Fariseër wat dit ongetwyfeld vroeër baie gerieflik gehad het omdat hy in ’n bevoorregte klas gebore is. En nou het Paulus Jehovah en Christus as “die geringste van die apostels” gedien (1 Korintiërs 15:9). As sodanig het hy hom nederig onderwerp aan die gesag van die eerste-eeuse Christenbestuursliggaam. En hy het getrou volhard ondanks sy doring in die vlees. Tot Satan se groot ergernis het die beproewinge in die lewe nie Paulus se ywer laat afneem nie. Paulus het nooit die hoop uit die oog verloor dat hy deel sou wees van Christus se hemelse Koninkryk nie (2 Timoteus 2:12; 4:18). Geen doring, ongeag hoe pynlik, kon sy ywer laat afneem nie. Mag ons ywer ook so sterk bly! Deur ons tydens ons beproewinge te onderskraag, vereer Jehovah ons met die voorreg om Satan ’n leuenaar te help bewys.—Spreuke 27:11.
Jehovah se voorsienings is noodsaaklik
7, 8. (a) Hoe gee Jehovah vandag krag aan sy knegte? (b) Waarom is daaglikse Bybellees en -studie so belangrik vir ons om ’n doring in die vlees te kan verduur?
7 Vandag gee Jehovah krag aan getroue Christene deur middel van sy heilige gees, sy Woord en ons Christenbroederskap. Soos die apostel Paulus kan ons ons laste op Jehovah werp in gebed (Psalm 55:22). Hoewel God dalk nie ons beproewinge wegneem nie, kan hy ons die wysheid gee om dit die hoof te bied, selfs dié wat besonder moeilik is om te verduur. Jehovah kan ons ook van innerlike sterkte voorsien—deur ons “krag [te gee] wat bo die normale is”—om ons te help volhard.—2 Korintiërs 4:7.
8 Hoe ontvang ons hierdie hulp? Ons moet God se Woord ywerig bestudeer, want daarin sal ons sy ware vertroostinge vind (Psalm 94:19). In die Bybel lees ons die hartroerende woorde van God se knegte wanneer hulle hom om hulp gesmeek het. Jehovah se antwoorde, wat dikwels vertroostende woorde ingesluit het, gee stof tot nadenke. Studie sal ons versterk sodat “die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie”. Net soos ons elke dag kos moet eet om gevoed en versterk te word, so moet ons gereeld God se woorde inneem. Doen ons dit? As ons dit doen, sal ons sien dat ons, wanneer ons die “krag wat bo die normale is”, ontvang, gehelp word om enige figuurlike dorings te verduur wat ons dalk nou teister.
9. Hoe kan ouer manne diegene ondersteun wat met probleme te kampe het?
9 Godvresende Christen- ouer manne kan “soos ’n skuilplek teen die wind” van teëspoed en “’n skuiling teen die reënstorm” van probleme wees. Ouer manne, wat graag aan daardie geïnspireerde beskrywing wil beantwoord, vra Jehovah nederig en opreg om hulle ‘die tong te gee van dié wat geleer is’, sodat hulle kan weet hoe om dié wat ly, met die regte woorde te antwoord. Die woorde van die ouer manne kan soos sagte reën wees wat ons gees gedurende moeilike tye in die lewe verfris en verkwik. Deur “vertroostend met die terneergedrukte siele” te praat, gee ouer manne ware ondersteuning aan hulle geestelike broers en susters wat dalk moeg of mismoedig begin word weens die een of ander doring in hulle vlees.—Jesaja 32:2; 50:4; 1 Tessalonisense 5:14.
10, 11. Hoe kan God se knegte ander aanmoedig wat moeilike toetse deurmaak?
10 Al Jehovah se knegte is deel van sy verenigde Christengesin. Ja, ons is “lede wat afsonderlik aan mekaar behoort”, en ons staan “onder verpligting om mekaar lief te hê” (Romeine 12:5; 1 Johannes 4:11). Hoe kom ons hierdie verpligting na? Volgens 1 Petrus 3:8 doen ons dit deur ‘meegevoel, broederlike geneentheid en tere medelye te betoon’ teenoor almal wat in die geloof aan ons verwant is. Wat diegene betref wat ’n besonder pynlike doring in die vlees verduur, hetsy hulle jonk of oud is, ons almal kan hulle met spesiale bedagsaamheid behandel. Hoe?
11 Ons moet probeer om empatie met hulle te betoon weens hulle lyding. As ons gevoelloos, koud of onverskillig is, kan ons onbewustelik hulle lyding vererger. Begrip vir hulle beproewinge behoort ons te beweeg om te let op wat ons sê, hoe ons dit sê en hoe ons optree. As ons positief en aanmoedigend is, kan dit help om die pyn te verlig van die doring wat hulle teister. Ons kan sodoende ’n versterkende hulp vir hulle wees.—Kolossense 4:11.
Wat party gehelp het om te volhard
12-14. (a) Wat het een Christen gedoen om ondanks kanker te kon voortgaan? (b) Hoe het hierdie vrou se geestelike broers en susters haar ondersteun en aangemoedig?
12 Namate ons die einde van hierdie laaste dae nader, word die “weë van benoudheid” elke dag meer (Matteus 24:8). Beproewinge sal dus heel waarskynlik elkeen op aarde teister, veral Jehovah se getroue knegte wat sy wil probeer doen. Beskou die voorbeeld van ’n Christen wat as ’n voltydse bedienaar gedien het. Daar is vasgestel dat sy kanker het, en haar speeksel- en limfkliere moes deur ’n operasie verwyder word. Toe sy en haar man uitvind dat sy hierdie siekte het, het hulle onmiddellik ’n lang smeekbede tot Jehovah gedoen. Sy het later gesê dat ’n ongelooflike kalmte oor hulle gekom het. Dit het nietemin soms goed en dan weer sleg gegaan, veral terwyl sy die newe-effekte van haar behandeling ondervind het.
13 Om ondanks haar situasie te kon voortgaan, het hierdie suster soveel as moontlik oor kanker probeer uitvind. Sy het met haar dokters gesels. In Die Wagtoring, Ontwaak! en ander Christelike publikasies het sy persoonlike ondervindinge gevind wat toon hoe individue hierdie siekte emosioneel verwerk het. Sy het ook gepaste Skrifgedeeltes gelees wat wys op Jehovah se vermoë om sy knegte tydens moeilikhede te onderskraag, en ook ander nuttige inligting.
14 Een artikel oor hoe om wanhoop die hoof te bied, het hierdie wyse woorde aangehaal: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek” (Spreuke 18:1). Die artikel het dus hierdie raad gegee: “Vermy afsondering.”a Die suster vertel: “Baie het vir my gesê dat hulle vir my bid; ander het my gebel. Twee ouer manne het my gereeld besoek om te sien hoe dit gaan. Ek het blomme en hope kaartjies ontvang. Party het selfs etes gebring. En baie het aangebied om my te neem wanneer ek behandeling moes ontvang.”
15-17. (a) Hoe het een Christen probleme wat die gevolg van ongelukke was, die hoof gebied? (b) Watter ondersteuning het gemeentelede gegee?
15 ’n Suster wat Jehovah al lank dien in Nieu-Mexiko, VSA, was in twee motorongelukke betrokke. Haar nek en skouers is beseer, en dit het die gewrigsontsteking vererger waarmee sy toe al meer as 25 jaar gesukkel het. Sy vertel: “Dit was vir my baie moeilik om my kop op te hou en enigiets swaarder as twee kilogram te dra. Maar ernstige gebed tot Jehovah het my grootliks onderskraag. So ook die artikels in Die Wagtoring wat ons gestudeer het. Die een het oor Miga 6:8 kommentaar gelewer en gesê dat ’n mens beskeie met God wandel deur bewus te wees van jou beperkings. Dit het my help besef dat ek, ten spyte van my toestand, nie mismoedig moet word nie, al bestee ek minder tyd aan die bediening as wat ek graag wil. Om hom met die regte beweegredes te dien, is wat werklik van belang is.”
16 Sy sê ook: “Die ouer manne het my altyd geprys omdat ek probeer het om die vergaderinge by te woon en in die veldbediening uit te gaan. Die jonges het my ’n drukkie gegee wanneer hulle my gegroet het. Die pionierbedienaars was baie geduldig met my en het dikwels hulle reëlings verander op dae wanneer ek baie siek gevoel het. As die weer onaangenaam was, was hulle so gaaf om my na herbesoeke te neem of my na hulle Bybelstudies te nooi. En aangesien ek nie ’n velddienssak kon dra nie, het ander verkondigers my lektuur in hulle sak gesit wanneer ek in die predikingswerk uitgegaan het.”
17 Let op hoe gemeentelike ouer manne en medegelowiges hierdie twee susters gehelp het om hulle doringagtige kwale te verduur. Hulle het praktiese, vriendelike hulp aangebied wat in spesifieke geestelike, fisiese en emosionele behoeftes voorsien het. Spoor dit jou nie aan om hulp te verleen aan ander broers en susters wat probleme ondervind nie? Jongmense, julle kan ook ’n hulp wees vir diegene in julle gemeente wat met dorings in die vlees worstel.—Spreuke 20:29.
18. Watter aanmoediging kan ons kry uit die lewensverhale wat in Die Wagtoring en Ontwaak! gepubliseer word?
18 Die Wagtoring en Ontwaak! het al baie lewensverhale en ondervindinge gepubliseer van Getuies wat probleme in die lewe die hoof gebied het en dit nog steeds doen. As jy hierdie artikels gereeld lees, sal jy sien dat baie van jou geestelike broers en susters regoor die wêreld ekonomiese ontberinge, die dood van geliefdes tydens rampe asook gevaarlike oorlogstoestande verduur het. Ander sukkel met aftakelende siektes. Baie kan nie party van die eenvoudige dinge in die lewe doen wat gesonde mense as vanselfsprekend beskou nie. Hulle siektes is vir hulle ’n baie groot toets, veral wanneer hulle nie so ’n groot deelname aan Christelike bedrywighede kan hê soos hulle graag wil nie. Hoe baie waardeer hulle tog die hulp en ondersteuning wat hulle broers en susters, jonk en oud, hulle gee!
Volharding bring geluk mee
19. Waarom kon Paulus hom verheug ten spyte van sy doringagtige beproewinge en swakhede?
19 Paulus was verheug om te sien hoe God hom versterk het. Hy het gesê: “Met die grootste genoeë sal ek . . . liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. Daarom skep ek behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korintiërs 12:9, 10). Weens sy persoonlike ondervindinge kon Paulus met vertroue sê: “Nie dat ek praat omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al verkeer, vergenoeg te wees. Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:11-13.
20, 21. (a) Waarom kan dit ons gelukkig maak as ons peins oor “die dinge wat nie gesien word nie”? (b) Wat is van “die dinge wat nie gesien word nie” wat jy hoop om in die aardse Paradys te sien?
20 As ons dus enige figuurlike doring in die vlees verduur, kan dit ons groot geluk verskaf om aan almal te toon dat Jehovah se krag in ons swakheid tot volmaaktheid gebring word. Paulus het geskryf: “Ons [gee] nie moed op nie . . . Die mens wat ons innerlik is, [word] beslis van dag tot dag vernuwe. Want al is die verdrukking kortstondig en lig, bewerk dit vir ons ’n heerlikheid wat van al hoe meer oortreffende gewig en ewig is; terwyl ons ons oë gerig hou . . . op die dinge wat nie gesien word nie. Want die dinge wat . . . nie gesien word nie, is ewig.”—2 Korintiërs 4:16-18.
21 Die meeste van Jehovah se hedendaagse knegte hoop om in sy aardse Paradys te lewe en die seëninge te geniet wat hy belowe het. Hierdie seëninge kan vandag beskou word as dinge wat “nie gesien word” deur ons nie. Maar die tyd kom vinnig nader wanneer ons sulke seëninge met ons eie oë sal sien, ja, en vir ewig sal geniet. Een van hierdie seëninge sal die verligting wees dat ons nooit weer enige doringagtige probleem sal hoef te verduur nie! God se Seun sal ‘die werke van die Duiwel verbreek’ en ‘die een tot niet maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak’.—1 Johannes 3:8; Hebreërs 2:14.
22. Watter vertroue en vasbeslotenheid behoort ons te hê?
22 Laat ons dan, ongeag watter doring in die vlees ons vandag pynig, aanhou om dit te verduur. Soos Paulus sal ons die krag hê om dit te doen danksy Jehovah, wat ons mildelik van krag voorsien. Wanneer ons in die aardse Paradys lewe, sal ons Jehovah ons God elke dag loof vir al sy wonderlike dade ten behoewe van ons.—Psalm 103:2.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Hoe om wanhoop die hoof te bied”, in die Ontwaak! van 8 Mei 2000.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom en hoe probeer die Duiwel die onkreukbaarheid van ware Christene ondermyn?
• Hoe word Jehovah se krag “in swakheid tot volmaaktheid gebring”?
• Hoe kan ouer manne en ander diegene aanmoedig wat deur probleme geteister word?
[Prent op bladsy 18]
Paulus het drie keer tot God gebid om die doring in sy vlees te verwyder