Lewensverhaal
’n Nota wat my lewe verander het
SOOS VERTEL DEUR IRENE HOCHSTENBACH
Dit het op ’n Dinsdagaand in 1972 gebeur. Ek was 16 jaar oud en is saam met my ouers na ’n godsdiensvergadering in Eindhoven, ’n stad in die provinsie Brabant, in Nederland. Ek het ongemaklik gevoel en gewens ek was eerder êrens anders. Toe het twee jong vroue vir my ’n nota gegee met ’n boodskap: “Liewe Irene, ons wil jou graag help.” Min het ek geweet hoe daardie nota my lewe sou verander. Maar voordat ek sê wat volgende gebeur het, wil ek julle eers iets oor my agtergrond vertel.
EK IS gebore op die eiland Billiton, in Indonesië. Ek onthou nog van die geluide op daardie tropiese eiland—die geritsel van palmbome in die wind, die sagte gemurmel van ’n nabygeleë rivier, die gelag van kinders wat buite speel asook die klank van musiek in ons huis. In 1960, toe ek vier jaar oud was, het ons gesin van Indonesië na Nederland getrek. Ons het die lang reis per skip afgelê, en ek onthou veral die geluid van ’n gunstelingspeelding wat ek saam met my geneem het—’n klein nar wat op tromme speel. Toe ek sewe was, het ek weens ’n siekte my gehoor verloor, en sedertdien kon ek geen geluide om my hoor nie. Herinneringe is al wat ek oorhet.
My kinderjare
Weens die liefdevolle sorg van my ouers, het ek aanvanklik nie die gevolge van doofheid ten volle begryp nie. As ’n kind het ek selfs gedink dat my groot gehoortoestel nogal pret was, al het dit my nie veel gehelp nie. Die kinders in die buurt het met my gekommunikeer deur alles wat hulle wou sê, met kryt op die sypaadjie te skryf, en ek het hulle geantwoord, al kon ek nie my eie stem hoor nie.
Toe ek ouer geword het, het ek agtergekom dat ek anders as die mense om my was. Ek het ook begin agterkom dat party my oor my doofheid spot, terwyl ander my uit hulle geselskap uitgesluit het. Ek het afgesonderd en eensaam begin voel. Ek het begin besef wat dit beteken om doof te wees, en hoe ouer ek geword het, hoe banger het ek geword vir die wêreld van mense wat kon hoor.
My ouers het met ons hele gesin van ’n dorpie in die provinsie Limburg na die stad Eindhoven getrek, sodat ek ’n spesiale skool vir dowes kon bywoon. Daar het my pa werk gesoek, en my broer en susters het na ’n nuwe skool toe gegaan. Ek is dankbaar vir al die aanpassings wat hulle ter wille van my gemaak het. Op skool is ek geleer om my stemsterkte aan te pas en duideliker te praat. En hoewel die onderwysers nie gebaretaal gebruik het nie, het ek dit by my klasmaats geleer.
In my eie wêreldjie
Terwyl ek groot geword het, het my ouers hard probeer om met my te kommunikeer, maar ek het baie dinge nie verstaan nie. Ek het byvoorbeeld nie besef dat my ouers die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer nie. Maar ek onthou dat ons gesin eendag ’n plek besoek het waar daar ’n klomp mense was wat op stoele gesit het. Hulle het almal vorentoe gekyk, soms hande geklap en nou en dan opgestaan—maar waarom hierdie mense dit alles gedoen het, het ek nie verstaan nie. Ek het eers baie later uitgevind dat ek by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies was. My ouers het my ook gereeld na ’n saaltjie in die stad Eindhoven geneem. Daar was ek op my gemak, want almal was vriendelik en die res van my gesin het gelukkig gelyk, maar ek het nie geweet waarom ons altyd soontoe gaan nie. Nou weet ek dat die saaltjie ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies was.
Ongelukkig was daar niemand by daardie vergaderinge om die program vir my te tolk nie. Ek weet nou dat die mense wat daar was, my wou help, maar omdat ek doof was, het hulle nie geweet hoe nie. Ek het by daardie vergaderinge uitgesluit gevoel en gedink: ‘Ek wens ek was eerder by die skool.’ Maar net toe ek daaraan gesit en dink het, het twee jong vroue iets op ’n stukkie papier geskryf en vir my gegee. Dit was die nota wat ek aan die begin genoem het. Ek het geen idee gehad dat hierdie nota die begin van ’n kosbare vriendskap sou wees wat my uit my wêreld van afsondering sou bevry nie.
’n Kosbare vriendskap ontwikkel
Colette en Hermine, wat die nota geskryf het, was in hulle vroeë twintigerjare. Later het ek uitgevind dat hulle kom dien het as gewone pioniers, of voltydse bedienaars, in die gemeente van Jehovah se Getuies wat ek besoek het. Hoewel Colette en Hermine nie werklik gebaretaal geken het nie, kon ek hulle lippe lees terwyl hulle met my gepraat het, en op hierdie manier het ons nogal goed gekommunikeer.
My ouers was bly toe Colette en Hermine vra of hulle die Bybel met my kan studeer, maar hierdie jong vroue het baie meer as net dit gedoen. Hulle het hard probeer om die vergaderinge by die Koninkryksaal vir my te tolk en om my ook by ander in die gemeente te betrek. Hulle het Bybelprekies vir die predikingswerk saam met my geoefen en my ook gehelp om studentetoesprake vir die Teokratiese Bedieningskool voor te berei. Dink net, nou het ek selfs die moed gehad om ’n toespraak te hou voor ’n groep mense wat kon hoor!
Wat meer is, Colette en Hermine het my laat voel dat ek hulle kon vertrou. Hulle was geduldig en het na my geluister. Hoewel ons dikwels oor my foute gelag het, het hulle nooit met my gespot nie; en hulle was ook nie skaam om my by hulle te hê nie. Hulle het my gevoelens probeer verstaan en my as hulle gelyke behandel. Hierdie gawe meisies het my ’n pragtige geskenk gegee—hulle liefde en vriendskap.
Bowenal het Colette en Hermine my geleer dat ek ons God, Jehovah, moet leer ken as ’n vriend wat ek kan vertrou. Hulle het verduidelik dat Jehovah my sien wanneer ek in die Koninkryksaal sit en dat hy verstaan hoe dit vir my voel om doof te wees. Hoe dankbaar is ek tog dat ’n gemeenskaplike liefde vir Jehovah ons drie as vriendinne bymekaargebring het! Jehovah se besorgdheid oor my het my diep geraak, en uit liefde vir hom het ek in Julie 1975 my toewyding aan hom deur waterdoop gesimboliseer.
Saam met ’n spesiale vriend
In die jare daarna het ek al hoe meer Christenbroers en -susters leer ken. Een broer het ’n baie spesiale vriend geword, en ons is in 1980 getroud. Kort daarna het ek as ’n pionier begin dien, en in 1994 het ek en my man, Harry, ’n toewysing ontvang om as spesiale pioniers in die Nederlandse veld vir dowes te dien. Die volgende jaar het ek voor ’n groot uitdaging te staan gekom. Ek moes saam met my man, wat kan hoor, verskillende gemeentes besoek terwyl hy as ’n waarnemende kringopsiener gedien het.
Dis wat ek besluit het om te doen. Wanneer ons ’n gemeente die eerste keer besoek, gaan stel ek my dadelik voor aan soveel broers en susters as moontlik. Ek sê vir hulle dat ek doof is en vra hulle om direk na my te kyk en stadig met my te praat. Ek probeer ook om so gou as moontlik ’n antwoord by die gemeentelike vergaderinge te gee. En ek vra of iemand bereid sal wees om daardie week vir my te tolk tydens vergaderinge en velddiens.
Hierdie benadering werk so goed dat my broers en susters soms vergeet dat ek nie kan hoor nie, en dit lei tot komiese situasies. Hulle vertel my byvoorbeeld dat hulle hulle motor se toeter blaas om my te groet wanneer hulle my in die dorp sien loop, maar ek reageer natuurlik nie. Ek vergeet ook soms my beperkinge—soos wanneer ek iets vertrouliks in my man se oor probeer fluister. Wanneer ek hom skielik sien bloos, weet ek dat my “gefluister” hopeloos te hard was.
Kinders help soms op onverwagte maniere. Tydens ons eerste besoek aan een gemeente het ’n negejarige seun opgelet dat party in die Koninkryksaal ’n bietjie huiwerig was om met my te kom praat, en hy het besluit om iets daaromtrent te doen. Hy het na my toe gekom, my aan die hand na die middel van die Koninkryksaal gelei en so hard as hy kon uitgeroep: “Kan ek julle voorstel aan Irene—sy is doof!” Die broers en susters het na my toe gekom en hulle aan my voorgestel.
Terwyl ek my man in die kringwerk vergesel, word my vriendekring al hoe groter. Hoe verskil my lewe tog vandag van die jare toe ek uitgesluit en afgesonderd gevoel het! Sedert die aand toe Colette en Hermine daardie notatjie vir my gegee het, het ek die krag van vriendskap ondervind en mense ontmoet wat vir my baie spesiaal geword het. Bowenal het ek Jehovah, die allerkosbaarste Vriend, leer ken (Romeine 8:38, 39). Hoe het daardie notatjie tog my lewe verander!
[Prent op bladsy 24]
Ek onthou nog die geluid van my gunstelingspeelding
[Prente op bladsy 25]
In die bediening en saam met my man, Harry