Wat beteken die Here se Aandmaal vir jou?
“Enigeen wat op onwaardige wyse die brood eet of die beker van die Here drink, [sal] skuldig wees met betrekking tot die liggaam en die bloed van die Here.”—1 KORINTIËRS 11:27.
1. Wat is die belangrikste geleentheid wat vir die jaar 2003 beplan word, en wat is die oorsprong daarvan?
DIE belangrikste geleentheid wat vir die jaar 2003 beplan word, sal ná sononder op 16 April plaasvind. Jehovah se Getuies sal dan bymekaarkom om die herdenking van Jesus Christus se dood te vier. Soos in die vorige artikel getoon is, het Jesus hierdie viering, ook bekend as die Here se Aandmaal, ingestel nadat hy en sy apostels die Pasga op 14 Nisan 33 G.J. gevier het. Die Gedenkmaalembleme, die ongesuurde brood en rooi wyn, stel Christus se sondelose liggaam en sy vergote bloed voor—die enigste offerande wat die mensdom van oorgeërfde sonde en die dood kan loskoop.—Romeine 5:12; 6:23.
2. Watter waarskuwing is in 1 Korintiërs 11:27 opgeteken?
2 Dié wat die Gedenkmaalembleme gebruik, moet dit op waardige wyse doen. Die apostel Paulus het dit duidelik gemaak toe hy aan Christene in eertydse Korinte geskryf het, waar die Here se Aandmaal nie op gepaste wyse gevier is nie (1 Korintiërs 11:20-22). Paulus het geskryf: “Enigeen wat op onwaardige wyse die brood eet of die beker van die Here drink, [sal] skuldig wees met betrekking tot die liggaam en die bloed van die Here” (1 Korintiërs 11:27). Wat beteken hierdie woorde?
Party het dit op onwaardige wyse gevier
3. Hoe het baie Christene in Korinte hulle by die vierings van die Here se Aandmaal gedra?
3 Baie Christene in Korinte het die Gedenkmaalembleme op onwaardige wyse gebruik. Daar was verdeeldhede onder hulle, en ten minste ’n ruk lank het party hulle aandete saamgebring en dit voor of gedurende die vergadering geëet, terwyl hulle dikwels te veel geëet en gedrink het. Hulle was nie verstandelik of geestelik wakker nie. Dit het hulle “skuldig [gemaak] met betrekking tot die liggaam en die bloed van die Here”. Dié wat geen aandete gehad het nie, was honger en hulle aandag is afgetrek. Ja, baie het die embleme gebruik sonder om respek te toon en die erns van die geleentheid ten volle te besef. Dit is geen wonder dat hulle ’n oordeel oor hulleself gebring het nie!—1 Korintiërs 11:27-34.
4, 5. Waarom is selfondersoek noodsaaklik vir dié wat gewoonlik die Gedenkmaalembleme gebruik?
4 Elke jaar wanneer die Gedenkmaal nader kom, is selfondersoek noodsaaklik vir dié wat gewoonlik die embleme gebruik. As hulle op gepaste wyse aan hierdie gemeenskaplike maal wil deelneem, moet hulle geestelik gesond wees. Enigiemand wat ’n gebrek aan respek, selfs minagting, vir Jesus se offerande toon, loop gevaar om ‘uit God se volk uitgeroei te word’, net soos ’n Israeliet wat van ’n gemeenskaplike maal geëet het terwyl hy onrein was.—Levitikus 7:20; Hebreërs 10:28-31.
5 Paulus het die Gedenkmaal met ’n gemeenskaplike maal in eertydse Israel vergelyk. Hy het gepraat van dié wat deelgenote met Christus hierin is en toe gesê: “Julle kan nie die beker van Jehovah en die beker van demone drink nie; julle kan nie deel hê aan ‘die tafel van Jehovah’ en die tafel van demone nie” (1 Korintiërs 10:16-21). As iemand wat gewoonlik die Gedenkmaalembleme gebruik, ’n ernstige sonde pleeg, moet hy dit teenoor Jehovah bely en ook die geestelike hulp van die ouer manne in die gemeente vra (Spreuke 28:13; Jakobus 5:13-16). As hy waarlik berouvol is en vrugte voortbring wat by berou pas, sal hy nie die embleme op onwaardige wyse gebruik nie.—Lukas 3:8.
Eerbiedige waarnemers
6. Vir wie het God die voorreg voorbehou om die embleme by die Here se Aandmaal te gebruik?
6 Moet diegene wat nou goed doen aan die oorblyfsel van die 144 000 broers van Christus, die embleme by die Here se Aandmaal gebruik? (Matteus 25:31-40; Openbaring 14:1). Nee. God het hierdie voorreg voorbehou vir persone wat hy met heilige gees gesalf het om “mede-erfgename met Christus” te wees (Romeine 8:14-18; 1 Johannes 2:20). Wat is dan die posisie van diegene wat hoop om vir ewig in ’n wêreldwye paradys onder Koninkryksheerskappy te lewe? (Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4). Aangesien hulle nie Jesus se mede-erfgename met ’n hemelse hoop is nie, woon hulle die Gedenkmaal by as eerbiedige waarnemers.—Romeine 6:3-5.
7. Waarom het eerste-eeuse Christene geweet dat hulle die Gedenkmaalembleme moet gebruik?
7 Ware Christene in die eerste eeu is deur heilige gees gesalf. Baie van hulle kon een of meer van die wonderdadige gawes van die gees gebruik, soos om in tale te praat. Dit sou dus nie vir sulke persone moeilik gewees het om te weet dat hulle geesgesalfdes is en die Gedenkmaalembleme moet gebruik nie. Maar in ons dag kan dit bepaal word op grond van geïnspireerde woorde soos: “Almal wat deur God se gees gelei word, dié is God se kinders. Want julle het nie ’n gees van slawerny ontvang wat weer vrees veroorsaak nie, maar julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang, en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’”—Romeine 8:14, 15.
8. Wie word deur “die koring” en “die onkruid” voorgestel wat in Matteus hoofstuk 13 genoem word?
8 Deur die eeue heen het ware gesalfdes gegroei soos “koring” in ’n saailand vol “onkruid”, of valse Christene (Matteus 13:24-30, 36-43). Sedert die 1870’s het die “koring” al hoe opvallender geword, en jare later is daar vir gesalfde Christenopsieners gesê: “Die ouer manne . . . moet die volgende voorwaardes stel aan diegene wat [vir die Gedenkmaal] vergader—(1) geloof in die bloed [van Christus]; en (2) toewyding aan die Here en sy diens, selfs tot die dood. Hulle moet dan almal wat hiermee eens is en wat hulle dus toegewy het, nooi om ook die Here se dood te herdenk.”—Studies in the Scriptures, Reeks VI, The New Creation, bladsy 473.a
Op soek na “ander skape”
9. Hoe is die identiteit van die “groot menigte” in 1935 duidelik gemaak, en hoe het dit party geraak wat voorheen die Gedenkmaalembleme gebruik het?
9 Na verloop van tyd het Jehovah se organisasie aandag begin skenk aan ander benewens Christus se gesalfde volgelinge. ’n Belangrike verwikkeling in dié verband het in die middel-1930’s plaasgevind. Voor daardie tyd het God se volk die “groot menigte” van Openbaring 7:9 as ’n sekondêre geestelike klas beskou wat saam met die 144 000 verrese gesalfdes in die hemel sou wees—soos bruidsmeisies of metgeselle van die bruid van Christus (Psalm 45:14, 15; Openbaring 7:4; 21:2, 9). Maar op 31 Mei 1935 is daar in ’n toespraak by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, VSA, uit die Skrif verduidelik dat die “groot menigte” na die “ander skape” verwys wat gedurende die tyd van die einde lewe (Johannes 10:16). Ná daardie byeenkoms het party wat voorheen die Gedenkmaalembleme gebruik het, opgehou om dit te doen omdat hulle besef het dat hulle ’n aardse hoop het, nie ’n hemelse hoop nie.
10. Hoe sal jy die hoop en die verantwoordelikhede van die hedendaagse “ander skape” beskryf?
10 Veral sedert 1935 is daar gesoek na diegene wat die “ander skape” sou uitmaak, wat geloof in die losprys stel, hulle aan God toewy en die gesalfde “klein kuddetjie” in die Koninkrykspredikingswerk ondersteun (Lukas 12:32). Hierdie ander skape hoop om vir ewig op die aarde te lewe, maar in alle ander opsigte kom hulle ooreen met die hedendaagse oorblyfsel van Koninkrykserfgename. Soos die inwonende vreemdelinge van eertydse Israel wat Jehovah aanbid en hulle aan die Wet onderwerp het, aanvaar ander skape van vandag Christelike verantwoordelikhede, soos om die goeie nuus saam met die lede van geestelike Israel te verkondig (Galasiërs 6:16). Maar net soos geen inwonende vreemdeling ’n koning of priester van Israel kon word nie, kan ook nie een van hierdie ander skape in die hemelse Koninkryk heers of as ’n priester dien nie.—Deuteronomium 17:15.
11. Waarom kan die datum waarop iemand hom toegewy het, ’n aanduiding gee van sy hoop?
11 Teen die 1930’s het dit dus duidelik geword dat die hemelse klas oor die algemeen reeds gekies is. Daar word nou al dekades lank na ander skape gesoek, wat ’n aardse hoop het. As ’n gesalfde ontrou word, sal iemand wat God al lank getrou as een van die ander skape dien, heel waarskynlik geroep word om daardie plek in die 144 000 te vul.
Waarom verkeerde veronderstellings
12. Onder watter omstandighede moet ’n persoon ophou om die Gedenkmaalembleme te gebruik, en waarom?
12 Gesalfde Christene is doodseker dat hulle die hemelse roeping het. Maar sê nou party persone wat nie hierdie roeping het nie, het die Gedenkmaalembleme gebruik? Noudat hulle besef dat hulle nooit die hemelse hoop gehad het nie, sal hulle gewete hulle ongetwyfeld nie toelaat om die embleme verder te gebruik nie. God sal niemand goedkeur wat voorgee dat hy geroep is om ’n hemelse koning en priester te wees terwyl hy weet dat hy in werklikheid nie so ’n roeping het nie (Romeine 9:16; Openbaring 20:6). Jehovah het die Leviet, Korag, tereggestel omdat hy vermetel was deur die Aäronitiese priesterskap te begeer (Eksodus 28:1; Numeri 16:4-11, 31-35). As enige Christen besef dat hy die Gedenkmaalembleme verkeerdelik gebruik het, moet hy of sy ophou om dit te doen en Jehovah nederig om vergifnis vra.—Psalm 19:13.
13, 14. Waarom neem party dalk verkeerdelik aan dat hulle die hemelse roeping het?
13 Waarom neem party dalk verkeerdelik aan dat hulle die hemelse roeping het? Die dood van ’n huweliksmaat of ’n ander tragedie het hulle moontlik belangstelling in die lewe op aarde laat verloor. Of hulle wil miskien dieselfde hoop as ’n intieme vriend hê wat sê dat hy ’n gesalfde Christen is. God het natuurlik niemand aangestel om ander vir hierdie voorreg te werf nie. En hy salf nie Koninkrykserfgename deur hulle stemme te laat hoor met ’n boodskap wat dit bevestig nie.
14 Die valse godsdiensidee dat alle goeie mense hemel toe gaan, kan sommige laat dink dat hulle die hemelse roeping het. Ons moet dus daarteen waak dat ons nie deur vorige verkeerde beskouings of ander faktore beïnvloed word nie. Party kan hulle byvoorbeeld afvra: ‘Gebruik ek medisyne wat ’n invloed op my gemoedstoestand het? Is ek geneig om sterk emosies te hê wat ek verkeerd kan vertolk?’
15, 16. Waarom kom sommige moontlik verkeerdelik tot die slotsom dat hulle gesalfdes is?
15 Sommige kan hulle afvra: ‘Wil ek graag vernaam wees? Begeer ek ’n gesagsposisie nou of in die toekoms as ’n mede-erfgenaam met Christus?’ Toe Koninkrykserfgename in die eerste eeu geroep is, het nie almal verantwoordelike posisies in die gemeente gehad nie. En persone met die hemelse roeping streef nie na vernaamheid en spog nie oor die feit dat hulle gesalf is nie. Hulle openbaar die nederigheid wat verwag word van diegene wat “die denke van Christus” het.—1 Korintiërs 2:16.
16 Party het dalk tot die slotsom gekom dat hulle die hemelse roeping het omdat hulle baie Bybelkennis verkry het. Maar salwing met die gees bring nie buitengewone begrip mee nie, want Paulus moes sekere gesalfdes vermaan en raad gee (1 Korintiërs 3:1-3; Hebreërs 5:11-14). God het ’n reëling waardeur geestelike voedsel aan al sy knegte voorsien word (Matteus 24:45-47). Niemand moet dus dink dat hy groter wysheid as diegene met die aardse hoop het omdat hy ’n gesalfde Christen is nie. Dit is nie ’n aanduiding dat iemand met die gees gesalf is as hy met bedrewenheid Bybelvrae kan beantwoord, kan getuig of Bybeltoesprake kan hou nie. Christene met die aardse hoop doen ook goed in hierdie opsigte.
17. Waarvan en van wie hang salwing met die gees af?
17 As ’n medegelowige vrae oor die hemelse hoop het, kan ’n ouer man of ander ryp Christen die saak met hom bespreek. Maar een persoon kan nie hierdie besluit vir ’n ander maak nie. Iemand wat werklik hierdie roeping het, hoef nie ander te vra of hy so ’n hoop het nie. Gesalfdes “is ’n nuwe geboorte gegee, nie deur verderflike nie maar deur onverderflike voortplantingsaad, deur middel van die woord van die lewende en blywende God” (1 Petrus 1:23). Deur sy gees en Woord plant God in iemand die ‘saad’ wat van hom “’n nuwe skepping” met ’n hemelse hoop maak (2 Korintiërs 5:17). En Jehovah doen die keuse. Salwing “[hang] nie af van die een wat wil of van die een wat hardloop nie, maar van God” (Romeine 9:16). Hoe kan iemand dan seker wees dat hy die hemelse roeping het?
Waarom hulle seker is
18. Hoe getuig God se gees met die gees van gesalfdes?
18 Die getuienis van God se gees oortuig gesalfde Christene dat hulle hemelse vooruitsigte het. “Julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang”, het Paulus geskryf, “en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word” (Romeine 8:15-17). Onder die invloed van die heilige gees beweeg die gees, of oorheersende gesindheid, van gesalfdes hulle om die dinge wat die Skrif oor Jehovah se geestelike kinders sê, op hulleself toe te pas (1 Johannes 3:2). God se gees gee hulle ’n gevoel van seunskap teenoor hom en wek ’n unieke hoop by hulle (Galasiërs 4:6, 7). Ja, ewige lewe op aarde as volmaakte mense omring deur familielede en vriende sou wonderlik wees, maar dit is nie hulle godgegewe hoop nie. Deur middel van sy gees het God so ’n sterk hemelse hoop in hulle gewek dat hulle bereid is om alle aardse bande en vooruitsigte op te offer.—2 Korintiërs 5:1-5, 8; 2 Petrus 1:13, 14.
19. Watter rol speel die nuwe verbond in die lewe van ’n gesalfde Christen?
19 Gesalfde Christene is seker van hulle hemelse hoop, dat hulle in die nuwe verbond opgeneem is. Jesus het dit gemeld toe hy die Gedenkmaal ingestel en gesê het: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word” (Lukas 22:20). Die partye in die nuwe verbond is God en die gesalfdes (Jeremia 31:31-34; Hebreërs 12:22-24). Jesus is die middelaar. Die nuwe verbond, wat deur Christus se vergote bloed bekragtig is, het nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nasies ’n volk vir Jehovah se naam geneem en hulle deel van Abraham se “saad” gemaak (Galasiërs 3:26-29; Handelinge 15:14). Hierdie “ewige verbond” maak dit vir alle geestelike Israeliete moontlik om tot onsterflike lewe in die hemel opgewek te word.—Hebreërs 13:20.
20. In watter verbond met Christus word die gesalfdes opgeneem?
20 Die gesalfdes is seker van hulle hoop. Hulle is opgeneem in nog ’n verbond, die Koninkryksverbond. Aangaande hulle deelgenootskap met Christus het Jesus gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (Lukas 22:28-30). Hierdie verbond tussen Christus en sy medekonings bly vir ewig van krag.—Openbaring 22:5.
Die Gedenkmaalseisoen—’n geseënde tyd
21. Hoe kan ons grootliks baat vind by die Gedenkmaalseisoen?
21 Die Gedenkmaalseisoen bring baie seëninge mee. Ons kan baat vind by die Bybelleesprogram vir hierdie tydperk. Dit is ook ’n besonder goeie tyd vir gebed, vir bepeinsing oor Jesus se aardse lewe en dood en vir deelname aan die Koninkrykspredikingswerk (Psalm 77:12; Filippense 4:6, 7). Die viering self herinner ons aan die liefde wat God en Christus in verband met Jesus se losprysoffer betoon het (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Hierdie voorsiening gee ons hoop en vertroosting en moet ons meer vasbeslote maak om ’n Christelike weg te volg (Eksodus 34:6; Hebreërs 12:3). Die Gedenkmaal moet ons ook versterk om ons toewyding as God se knegte na te leef en om lojale volgelinge van sy geliefde Seun te wees.
22. Wat is God se grootste gawe aan die mensdom, en wat is een manier om waardering hiervoor te toon?
22 Watter goeie gawes gee Jehovah ons tog! (Jakobus 1:17). Ons het die leiding van sy Woord, die hulp van sy gees en die hoop op ewige lewe. God se grootste gawe is Jesus se offerande vir die sondes van gesalfdes en vir alle ander mense wat geloof beoefen (1 Johannes 2:1, 2). Hoeveel beteken Jesus se dood dan vir jou? Sal jy onder diegene wees wat hulle dankbaarheid hiervoor toon deur ná sononder op 16 April 2003 bymekaar te kom om die Here se Aandmaal te vier?
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies maar nou uit druk.
Hoe sal jy antwoord?
• Wie moet die Gedenkmaalembleme gebruik?
• Waarom woon die “ander skape” die Here se Aandmaal net as eerbiedige waarnemers by?
• Hoe weet gesalfde Christene dat hulle die brood en wyn by die herdenking van Christus se dood moet gebruik?
• Waarvoor is die Gedenkmaalseisoen ’n goeie tyd?
[Grafiek/Prente op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Gedenkmaalbywoningsyfer
IN MILJOENE
15,597,746
15
14
13,147,201
13
12
11
10
9
8
7
6
5
4,925,643
4
3
2
1
878,303
63,146
1935 1955 1975 1995 2002
[Prent op bladsy 18]
Sal jy vanjaar die Here se Aandmaal bywoon?
[Prente op bladsy 21]
Die Gedenkmaalseisoen is ’n goeie tyd om meer Bybellees te doen en ’n groter deelname aan die Koninkrykspredikingswerk te hê