Die altaar—Watter rol speel dit in aanbidding?
BESKOU jy die altaar as ’n uiters belangrike deel van jou aanbidding? Vir baie lidmate van die Christendom se kerke is die altaar moontlik van die allergrootste belang. Het jy al ooit gewonder wat die Bybel oor die gebruik van altare in aanbidding sê?
Die eerste altaar wat in die Bybel genoem word, is die een wat Noag gebou het om diereoffers te bring toe hy ná die Vloed uit die ark van redding gekom het.*—Genesis 8:20.
Nadat die tale by Babel verwar is, het die mensdom oor die hele aarde versprei (Genesis 11:1-9). Weens die mens se inherente behoefte om te aanbid, het hulle nader aan God probeer kom, van wie hulle gaandeweg al hoe minder geweet het en na wie hulle blindelings ‘getas’ het (Handelinge 17:27; Romeine 2:14, 15). Sedert Noag se tyd het baie volke altare vir hulle godhede gebou. Godsdienste en mense het altare in valse aanbidding gebruik. Omdat hulle vervreemd was van die ware God, het party mense altare dikwels vir afstootlike ritusse gebruik waarin mense, selfs kinders, geoffer is. Party konings van Israel het Jehovah verlaat en altare vir heidense gode, soos Baäl, opgerig (1 Konings 16:29-32). Maar wat van die gebruik van altare in ware aanbidding?
Altare en ware aanbidding in Israel
Ná Noag het ander getroue manne altare gebou vir gebruik in hulle aanbidding van die ware God, Jehovah. Abraham het altare gebou in Sigem, op ’n plek naby Bet-El, by Hebron en op die berg Moria, waar hy ’n ram geoffer het wat God in die plek van Isak voorsien het. Later het Isak, Jakob en Moses spontaan altare gebou vir gebruik in hulle aanbidding van God.—Genesis 12:6-8; 13:3, 18; 22:9-13; 26:23-25; 33:18-20; 35:1, 3, 7; Eksodus 17:15, 16; 24:4-8.
Toe God sy Wet aan die nasie Israel gegee het, het hy beveel dat hulle, as middelpunt van die reëling om hom te nader, die tabernakel oprig, ’n draagbare tent, wat ook “die tent van samekoms” genoem is (Eksodus 39:32, 40). Die tabernakel, of tent, het twee altare gehad. Die een vir brandoffers, wat van akasiahout gemaak en met koper oorgetrek is, is voor die ingang geplaas en vir diereoffers gebruik (Eksodus 27:1-8; 39:39; 40:6, 29). Die reukaltaar, wat ook van akasiahout gemaak maar met goud oorgetrek is, is in die tabernakel gesit, voor die voorhangsel van die Allerheiligste (Eksodus 30:1-6; 39:38; 40:5, 26, 27). Spesiale reukwerk is twee keer per dag, in die oggend en in die aand, daarop gebrand (Eksodus 30:7-9). Die permanente tempel wat koning Salomo gebou het, het net soos die tabernakel twee altare gehad.
“Die ware tent” en die simboliese altaar
Toe Jehovah die Wet aan Israel gegee het, het hy baie meer gedoen as om net reëls te voorsien wat sy volk se lewens sowel as hulle offerandes en gebede aan hom sou rig. Baie van die reëlings was, soos die apostel Paulus dit genoem het, “’n sinnebeeldige voorstelling” “’n illustrasie” of “’n skaduwee van die hemelse dinge” (Hebreërs 8:3-5; 9:9; 10:1; Kolossense 2:17). Met ander woorde, baie aspekte van die Wet het nie net die Israeliete gerig totdat die Christus gekom het nie, maar was ook ’n voorskou van God se voornemens wat deur Jesus Christus vervul sou word (Galasiërs 3:24). Ja, aspekte van die Wet het profetiese waarde gehad. Die Pasgalam, waarvan die bloed gebruik is as ’n teken van redding vir die Israeliete, het byvoorbeeld Jesus Christus voorafgeskadu. Hy is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, wie se bloed uitgestort is om ons van sonde te bevry.—Johannes 1:29; Efesiërs 1:7.
Baie dinge in verband met die tabernakel en tempeldiens het geestelike werklikhede afgebeeld (Hebreërs 8:5; 9:23). Trouens, Paulus skryf van “die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie”. Hy sê verder: “Christus [het gekom] as ’n hoëpriester van die goeie dinge wat geskied het, deur die groter en volmaakter tent wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê wat nie van hierdie skepping is nie” (Hebreërs 8:2; 9:11). “Die groter en volmaakter tent” was Jehovah se groot geestelike tempelreëling. Die taal van die Skrif dui daarop dat die groot geestelike tempel die reëling is waardeur mense Jehovah kan nader op grond van Jesus Christus se soenoffer.—Hebreërs 9:2-10, 23-28.
Wanneer ons uit God se Woord leer dat party van die Wet se voorsienings en standaarde groter, betekenisvoller, geestelike werklikhede afbeeld, bou dit beslis geloof op in die feit dat die Bybel geïnspireer is. Dit laat ook ’n mens se waardering toeneem vir God se wysheid wat op unieke wyse in die Skrif geopenbaar word.—Romeine 11:33; 2 Timoteus 3:16.
Die brandofferaltaar het ook profetiese waarde. Dit verteenwoordig blykbaar God se “wil”, of sy gewilligheid om Jesus se volmaakte menseoffer te aanvaar.—Hebreërs 10:1-10.
Later in die boek Hebreërs lewer Paulus hierdie interessante kommentaar: “Ons het ’n altaar waarvan dié wat by die tent heilige diens verrig, geen reg het om te eet nie” (Hebreërs 13:10). Na watter altaar het hy verwys?
Baie Katolieke kommentators beweer dat die altaar wat in Hebreërs 13:10 gemeld word, die een is wat gebruik word vir die eucharistie, die “sakrament” waardeur Christus se offerande na bewering gedurende die mis hernieu word. Maar jy kan uit die konteks sien dat die altaar wat Paulus bespreek het, simbolies is. Etlike geleerdes meen dat die term “altaar” in hierdie teks in figuurlike sin gebruik is. Vir Giuseppe Bonsirven, ’n Jesuïet, “strook dit volkome met al die simboliek van die sendbrief [aan die Hebreërs]”. Hy sê: “In die Christelike taal is die woord ‘altaar’ aanvanklik in geestelike sin gebruik en is dit eers ná Ireneus, en veral ná Tertullianus en St. Cyprianus, toegepas op die eucharistie en meer spesifiek op die eucharistietafel.”
Volgens ’n Katolieke tydskrif het die gebruik van die altaar tydens die “Konstantynse tydperk” toegeneem met die “oprigting van basilikas”. Rivista di Archeologia Cristiana (Bespreking van Christelike Argeologie) het gesê: “Feit is dat daar nie van vaste aanbiddingsplekke in die eerste twee eeue gepraat kan word nie, maar van liturgiese vergaderinge wat in vertrekke in huise gehou is . . . , vertrekke wat onmiddellik ná die seremonie weer vir hulle oorspronklike funksie gebruik is.”
Die Christendom se gebruik van die altaar
“Die altaar”, sê die Katolieke tydskrif La Civiltà Cattolica, “is nie net die middelpunt van die kerkgebou nie, maar ook van die lewende Kerk.” Tog het Jesus Christus nie eers een godsdiensseremonie ingestel wat by ’n altaar gehou moes word nie; en hy het ook nie sy dissipels beveel om seremonies te hou waar ’n altaar gebruik moes word nie. Jesus se verwysing na die altaar in Matteus 5:23, 24 en elders slaan op godsdiensgebruike wat algemeen onder die Jode was, maar hy toon nie dat sy volgelinge God moet aanbid deur ’n altaar te gebruik nie.
Die Amerikaanse geskiedskrywer George Foot Moore (1851-1931) het geskryf: “Die vernaamste kenmerke van Christelike aanbidding was nog altyd dieselfde, maar mettertyd is die eenvoudige seremonies wat deur Justinus in die middel van die tweede eeu beskryf is, in ’n indrukwekkende kultus verander.” Daar is soveel Katolieke ritusse en openbare godsdiensseremonies en dit is so ingewikkeld dat dit ’n vak—liturgie—in Katolieke kweekskole is. Moore het verder gesê: “Hierdie neiging, wat inherent is aan alle ritusse, is grootliks versterk deur die invloed van die Ou Testament toe die mening posgevat het dat die Christengeestelikes opvolgers is van die priesterdom van die vorige bedeling. Die pragtige drag van die hoëpriester, die ampsgewade van die ander priesters, die plegtige optogte, die kore van Levitiese sangers wat psalmsing, die wolke van reukwerk wat uit swaaiende reukwerkhouers opstyg—dit alles het na ’n godgegewe model van aanbidding gelyk, wat dit geregverdig het dat die kerk die praal van die eertydse kultusse probeer ewenaar het.”
Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat baie ritusse, seremonies, ampsgewade en ander items wat verskeie kerke in aanbidding gebruik, nie in navolging van die Christelike leringe of die Evangelies is nie, maar van die gebruike en ritusse van Jode en heidene. Die Enciclopedia Cattolica sê dat Katolisisme “die gebruik van die altaar geërf het van Judaïsme en deels van die heidendom”. Minucius Felix, ’n apologeet van die derde eeu G.J., het geskryf dat Christene ‘nie tempels of altare’ gehad het nie. Die ensiklopediese woordeboek Religioni e Miti (Godsdienste en mites) sê eweneens: “Die vroeë Christene het die gebruik van die altaar verwerp om hulle van Joodse en heidense aanbidding te onderskei.”
Omdat die Christelike geloof bowenal gegrond is op beginsels wat in die daaglikse lewe en in elke land aanvaar en toegepas moet word, was ’n heilige stad op aarde of ’n letterlike tempel met altare of mensepriesters wat ’n hoë rang beklee en spesiale ampsgewade dra, nie meer nodig nie. “Die uur kom”, het Jesus gesê, “wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie. . . . Die ware aanbidders [sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid” (Johannes 4:21, 23). Die ingewikkelde ritusse en die gebruik van altare deur baie kerke verontagsaam wat Jesus gesê het oor die manier waarop die ware God aanbid moet word.
[Voetnoot]
Kain en Abel het dalk vroeër hulle offerandes aan Jehovah op ’n altaar gebring.—Genesis 4:3, 4.