Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 6/15 bl. 17-22
  • Soek na die goeie in almal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Soek na die goeie in almal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In die predikings- en dissipelmaakwerk
  • In die gesin
  • In die Christengemeente
  • Soek na die goeie in almal
  • Goedheid – Hoe kan jy dit aankweek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Openbaar “elke soort goedheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hou aan om goedheid aan die dag te lê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 6/15 bl. 17-22

Soek na die goeie in almal

“Dink tog aan my, o my God, ten goede.”—NEHEMIA 13:31.

1. Hoe betoon Jehovah goedheid teenoor almal?

NÁ ’N hele paar bewolkte, mistroostige dae bring die sonskyn ’n welkome verandering. Mense voel sommer weer opgewek en lus vir die lewe. Net so ook kan ’n reënbui—selfs ’n wolkbreuk—verkwikking en verligting bring as dit oor ’n lang tydperk bloedig warm en droog was. Ons liefdevolle Skepper, Jehovah, het die weer as ’n wonderlike gawe in die aarde se atmosfeer ingebou. Jesus het die aandag op God se goedheid gevestig toe hy mense geleer het: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:43-45). Ja, Jehovah is goed teenoor almal. Sy knegte moet daarna streef om hom na te volg deur na die goeie in ander te soek.

2. (a) Op grond waarvan betoon Jehovah goedheid? (b) Wat sien Jehovah omtrent ons reaksie op sy goedheid?

2 Op grond waarvan betoon Jehovah goedheid? Sedert Adam gesondig het, het Jehovah nog altyd na die goeie in mense gesoek (Psalm 130:3, 4). Sy voorneme is om gehoorsame mense tot lewe in die Paradys te herstel (Efesiërs 1:9, 10). Sy onverdiende goedhartigheid het ons die vooruitsig gegee om deur middel van die beloofde Saad bevry te word van sonde en onvolmaaktheid (Genesis 3:15; Romeine 5:12, 15). Aanvaarding van die losprysreëling maak dit vir mense moontlik om uiteindelik na volmaaktheid terug te keer. Jehovah kyk nou na elkeen van ons om, onder andere, ons reaksie op sy vrygewigheid te sien (1 Johannes 3:16). Hy let op wat ons doen om ons waardering vir sy goedheid te toon. “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie”, het die apostel Paulus geskryf.—Hebreërs 6:10.

3. Watter vraag verdien ons aandag?

3 Hoe kan ons Jehovah dus navolg deur na die goeie in ander te soek? Kom ons kyk hoe hierdie vraag beantwoord word op vier gebiede van die lewe: (1) die Christelike bediening, (2) die gesin, (3) die gemeente en (4) ons verhoudings met ander.

In die predikings- en dissipelmaakwerk

4. Hoe toon deelname aan die Christelike bediening dat ons na die goeie in ander soek?

4 “Die saailand is die wêreld”, het Jesus verduidelik toe hy sy dissipels se vraag beantwoord het oor die betekenis van die gelykenis van die koring en die onkruid. As Christus se hedendaagse dissipels toon ons dat ons hierdie waarheid erken wanneer ons aan die bediening deelneem (Matteus 13:36-38; 28:19, 20). Ons veldbediening behels die openbare bekendmaking van ons geloof. Die blote feit dat Jehovah se Getuies vandag welbekend is vir hulle bediening van huis tot huis en op straat, bewys dat ons ywerig na alle verdienstelikes soek wat die Koninkryksboodskap moet hoor. Trouens, Jesus het beveel: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is.”—Matteus 10:11; Handelinge 17:17; 20:20.

5, 6. Waarom besoek ons mense herhaaldelik by hulle huise?

5 Wanneer ons mense ongenooid besoek, sien ons hoe hulle op ons boodskap reageer. Soms vind ons dat iemand in die huis na ons sal luister, terwyl iemand anders van binne af sal uitroep: “Ons stel nie belang nie”, en die besoek kom tot ’n einde. Hoe jammer tog dat een persoon se teenstand of gebrek aan belangstelling die reaksie van ’n ander persoon kan beïnvloed! Wat kan ons dus doen om aan te hou om na die goeie in almal te soek?

6 Wanneer ons weer in daardie gebied getuig, kom ons dalk weer by daardie huis uit. Hierdie keer kry ons moontlik die geleentheid om met die persoon te praat wat die vorige besoek kortgeknip het. As ons in gedagte hou wat toe gebeur het, kan dit ons help om voorbereid te wees. Die een wat nie belanggestel het nie, het dalk met goeie bedoelings gehandel omdat hy oortuig was dat hy die een wat na die Koninkryksboodskap wou luister, moet keer. Sy beskouing is moontlik gevorm deur verkeerde inligting oor ons bedoelings. Maar dit sal ons nie verhinder om weer by daardie huis die goeie nuus van die Koninkryk bekend te maak en taktvol te probeer om enige wanopvattings reg te stel nie. Ons wil graag almal help om tot ’n juiste kennis van God te kom. Dan sal Jehovah dalk daardie persoon na hom toe trek.—Johannes 6:44; 1 Timoteus 2:4.

7. Wat kan ons help om positief te wees wanneer ons mense besoek?

7 Jesus se instruksies aan sy dissipels het getoon dat daar gesinsteenstand sal wees. Hy het immers gesê: “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder.” Jesus het bygevoeg: “’n Mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matteus 10:35, 36). En tog verander mense se omstandighede en gesindheid. Skielike siekte, die dood van ’n familielid, rampe, emosionele krisisse en menige ander faktore beïnvloed mense se reaksie op ons predikingswerk. Kan ons werklik sê dat ons na die goeie in mense soek as ons ’n negatiewe beskouing het—as ons dink dat diegene vir wie ons getuig, onontvanklik sal bly? Ons kan hulle gerus weer by ’n ander geleentheid met ’n blymoedige gees besoek. Ons vind dalk ’n heel ander reaksie. Soms is dit nie wat ons sê nie, maar hoe ons dit sê wat ’n veranderde reaksie uitlok. As ons ernstig tot Jehovah bid voordat ons in die predikingswerk uitgaan, sal dit ons beslis help om positief te wees en die Koninkryksboodskap so aan te bied dat dit by almal byval sal vind.—Kolossense 4:6; 1 Tessalonisense 5:17.

8. Wat kan die gevolg wees wanneer Christene na die goeie in hulle ongelowige familielede soek?

8 In party gemeentes dien baie lede van dieselfde familie Jehovah. Die volharding van ’n ouer familielid en sy goeie verhouding met ander in die familie en in die huwelik dwing dikwels die bewondering en respek van jonger familielede af, en dit kan hulle beweeg om hulle gesindheid te verander. Baie Christenvrouens het die apostel Petrus se raad gehoorsaam en sodoende hulle man “sonder ’n woord” gewen.—1 Petrus 3:1, 2.

In die gesin

9, 10. Hoe het beide Jakob en Josef na die goeie in hulle familie gesoek?

9 Nog ’n gebied waar ons na die goeie in ander kan soek, is in die gesin, waar hegte bande tussen die lede bestaan. Beskou die les van Jakob se handelinge met sy seuns. In Genesis hoofstuk 37, verse 3 en 4, toon die Bybel dat Jakob besonder lief was vir Josef. Josef se broers was so jaloers op hom dat hulle selfs beplan het om hulle broer dood te maak. Maar let op die gesindheid van Jakob en Josef later in hulle lewe. Hulle albei het na die goeie in hulle familie gesoek.

10 Toe Josef die hoofvoedseladministrateur was in Egipte, waar hongersnood geheers het, het hy sy broers verwelkom. Hoewel hy hom nie onmiddellik aan hulle bekend gemaak het nie, het hy sake so bewerk dat daar goed na hulle omgesien is en dat hulle voedsel gehad het om na hulle bejaarde vader terug te neem. Ja, al was hy die slagoffer van hulle haat, het Josef in hulle belang opgetree (Genesis 41:53–42:8; 45:23). Jakob het eweneens op sy sterfbed profetiese seëninge oor al sy seuns uitgespreek. Al het hulle weens hulle verkeerde dade sekere voorregte verloor, het almal ’n erfdeel in die land ontvang (Genesis 49:3-28). Wat ’n wonderlike blyk van Jakob se onverganklike liefde!

11, 12. (a) Watter profetiese voorbeeld beklemtoon hoe belangrik dit is om na die goeie in gesinslede te soek? (b) Watter les leer ons uit die voorbeeld van die vader in Jesus se illustrasie van die verlore seun?

11 Jehovah se lankmoedigheid in sy handelinge met die ontroue nasie Israel gee ons verdere insig in hoe hy na die goeie in sy knegte soek. Deur die profeet Hosea se gesinsituasie as voorbeeld te gebruik, het Jehovah sy onverganklike liefde toegelig. Gomer, Hosea se vrou, het herhaaldelik egbreuk gepleeg. Ten spyte daarvan het Jehovah Hosea beveel: “Gaan weer eens, bemin ’n vrou wat deur ’n metgesel bemin word en egbreuk pleeg, soos in die geval van Jehovah se liefde vir die kinders van Israel terwyl hulle hulle tot ander gode wend en lief is vir rosynekoeke” (Hosea 3:1). Waarom so ’n opdrag? Jehovah het geweet dat daar onder die nasie wat van sy weg afgedwaal het, individue sou wees wat op sy verdraagsaamheid sou reageer. Hosea het gesê: “Daarna sal die kinders van Israel terugkom en beslis Jehovah hulle God en Dawid hulle koning soek; en hulle sal beslis sidderend na Jehovah en na sy goedheid kom aan die einde van die dae” (Hosea 3:5). Dit is ongetwyfeld ’n goeie voorbeeld waaroor ons kan peins wanneer ons met gesinsprobleme te kampe het. As jy aanhou om na die goeie in ander gesinslede te soek, stel jy ten minste ’n goeie voorbeeld van verdraagsaamheid.

12 Jesus se gelykenis van die verlore seun gee ons selfs meer insig in hoe ons na die goeie in lede van ons eie gesin kan soek. Die jonger seun het teruggekom huis toe nadat hy sy losbandige lewe die rug toegekeer het. Die vader het hom barmhartig behandel. Hoe het die vader gereageer op die klagtes van die ouer seun wat nooit die gesin verlaat het nie? Die vader het vir sy ouer seun gesê: “Kind, jy was altyd by my, en alles wat myne is, is joune.” Met hierdie woorde het die vader hom nie probeer berispe nie, maar eerder sy liefde vir hom bevestig. “Ons moes eenvoudig vrolik en bly wees”, het hy verder gesê, “want hierdie broer van jou was dood en het lewend geword, en hy was verlore en is gevind.” Ons moet eweneens aanhou om na die goeie in ander te soek.—Lukas 15:11-32.

In die Christengemeente

13, 14. Wat is een manier waarop ons die koninklike wet van liefde in die Christengemeente kan toepas?

13 As Christene streef ons daarna om die koninklike wet van liefde toe te pas (Jakobus 2:1-9). Dalk aanvaar ons persone in ons gemeente wie se materiële situasie van ons s’n verskil. Maar het ons nog steeds “klasseverskille” op grond van ras, kultuur of selfs godsdiensagtergrond? Indien wel, hoe kan ons dus Jakobus se raad ter harte neem?

14 As ons almal verwelkom wat Christelike vergaderinge bywoon, toon ons hoe groothartig ons is. Wanneer ons die inisiatief neem om met nuwelinge te praat wat na die Koninkryksaal kom, sal hulle aanvanklike senuweeagtigheid en selfbewustheid dalk verdwyn. Ja, party wat vir die eerste keer ’n Christelike vergadering bygewoon het, het al gesê: “Almal was so vriendelik. Dit het gevoel of almal my reeds geken het. Ek het sommer tuis gevoel.”

15. Hoe kan jonges in die gemeente gehelp word om belangstelling in ouer persone te toon?

15 In party gemeentes kom ’n paar jongmense dalk ná die vergadering binne of buite die Koninkryksaal bymekaar en skram hulle weg van assosiasie met ouer persone. Is daar iets positiefs wat gedoen kan word om hierdie neiging teë te werk? In die eerste plek kan ouers natuurlik hulle kinders by die huis oplei deur hulle vir vergaderinge voor te berei (Spreuke 22:6). Hulle kan die taak gegee word om vir almal in die gesin die publikasies bymekaar te kry wat by die vergadering gebruik sal word. Ouers is ook in die beste posisie om hulle kinders aan te spoor om ’n bietjie met ouer persone en sieklikes by die Koninkryksaal te gesels. As die kind iets spesifieks het om vir hierdie persone te sê, kan dit hom ’n gevoel van bevrediging gee.

16, 17. Hoe kan volwassenes na die goeie in jongmense in die gemeente soek?

16 Ouer broers en susters moet ook belangstelling in die jongmense in die gemeente toon (Filippense 2:4). Hulle kan die inisiatief neem om die jonges aan te moedig. Gewoonlik word daar gedurende die vergadering punte bespreek wat uitstaan. Vra gerus die jongmense of hulle die vergadering geniet het en of daar punte is wat hulle veral waardeer het en kan toepas. Jongmense is ’n onafskeidbare deel van die gemeente en moet geprys word wanneer hulle aandagtig luister en antwoorde gedurende die vergadering gee of ’n aandeel aan programdele het. Die manier waarop jongmense ouer persone in die gemeente behandel en die manier waarop hulle eenvoudige takies in die huis verrig, sal toon of hulle later in die lewe goed na groter verantwoordelikhede sal kan omsien.—Lukas 16:10.

17 Jongmense wat verantwoordelikhede aanvaar, vorder soms so goed dat hulle geestelike hoedanighede hulle in staat stel om belangriker take te kry. Die feit dat hulle take het om te verrig, kan jongmense help om onverstandige gedrag te vermy (2 Timoteus 2:22). Hierdie toewysings kan broers wat daarna streef om bedieningsknegte te word, ‘op die proef stel wat hulle geskiktheid betref’ (1 Timoteus 3:10). As jongmense ywerig aan vergaderinge en die bediening deelneem en besorgdheid oor almal in die gemeente toon, sal ouer manne hulle potensiaal kan sien wanneer hulle vir verdere toewysings in aanmerking kom.

Soek na die goeie in almal

18. Watter gevaar moet ouer manne vermy wanneer hulle regspreek, en waarom?

18 “Om partydigheid in die gereg te toon, is nie goed nie”, sê Spreuke 24:23. Hemelse wysheid vereis dat ouer manne partydigheid vermy wanneer hulle regspreek in die gemeente. Jakobus het gesê: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie” (Jakobus 3:17). Terwyl ouer manne na die goeie in ander soek, moet hulle natuurlik sorg dat hulle oordeelsvermoë nie deur persoonlike verhoudings of emosies belemmer word nie. “God staan in die vergadering van die Goddelike Wese”, het die psalmis Asaf geskryf. “Te midde van die gode [“goddelikes”, voetnoot, met verwysing na menseregters] oordeel hy: ‘Hoe lank sal julle aanhou om onregverdig te oordeel en partydigheid teenoor die goddeloses te betoon?’” (Psalm 82:1, 2). Gevolglik vermy Christen- ouer manne enige sweem van voortrekkery in sake waarby ’n vriend of familielid betrokke is. Sodoende bewaar hulle die eenheid van die gemeente en laat hulle Jehovah se gees toe om vryelik te vloei.—1 Tessalonisense 5:23.

19. Op watter maniere kan ons na die goeie in ander soek?

19 Wanneer ons na die goeie in ons broers en susters soek, weerspieël ons Paulus se gesindheid toe hy vir die gemeente in Tessalonika geskryf het. Hy het gesê: “Wat meer is, ons het vertroue in die Here aangaande julle, dat julle die dinge wat ons beveel, doen en sal aanhou doen” (2 Tessalonisense 3:4). Ons sal meer geneig wees om die foute van ander oor te sien as ons na die goeie in hulle soek. Ons sal na dinge soek waarvoor ons ons broers kan prys, en ons sal beslis ’n kritiese gesindheid vermy. “Wat . . . van bestuurders verwag word”, het Paulus geskryf, “is dat ’n man getrou bevind word” (1 Korintiërs 4:2). Die getrouheid van diegene wat as bestuurders van die gemeente dien sowel as die getrouheid van al ons Christenbroers en -susters maak hulle geliefd by ons. Dit laat ons nader aan hulle kom en versterk die bande van Christelike vriendskap. Ons kry dieselfde beskouing as wat Paulus van die broers in sy dag gehad het. Hulle is “medewerkers vir die koninkryk van God” en “’n versterkende hulp” vir ons (Kolossense 4:11). Ons weerspieël dus Jehovah se gesindheid.

20. Watter seëninge sal diegene ontvang wat na die goeie in almal soek?

20 Ons beaam beslis Nehemia se gebed: “Dink tog aan my, o my God, ten goede” (Nehemia 13:31). Hoe verheug is ons tog dat Jehovah na die goeie in mense soek! (1 Konings 14:13). Mag ons dieselfde doen in ons handelinge met ander. As ons dit doen, kan ons die vooruitsig hê op verlossing asook op die ewige lewe in die nuwe wêreld wat nou so naby is.—Psalm 130:3-8.

Hoe sal jy antwoord?

• Op grond waarvan betoon Jehovah goedheid teenoor almal?

• Hoe kan ons na die goeie in ander soek

• in ons bediening?

• in ons gesin?

• in ons gemeente?

• in al ons verhoudings?

[Prent op bladsy 18]

Al het Josef se broers hom voorheen gehaat, het hy na die goeie in hulle gesoek

[Prent op bladsy 19]

Teenstand keer ons nie om almal te probeer help nie

[Prent op bladsy 20]

Jakob het al sy seuns geseën, ten spyte van hulle verkeerde dade in die verlede

[Prent op bladsy 21]

Verwelkom almal by Christelike vergaderinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel