Jehovah se knegte het ware hoop
‘Die oorblywendes van Jakob sal tussen baie volke soos dou van Jehovah word, wat nie op die mens hoop nie.’—MIGA 5:7.
1. In watter sin is geestelike Israel ’n bron van verkwikking?
JEHOVAH is die groot Skepper van reën en dou. Dit is tevergeefs om op mense te hoop om dou of reën te voorsien. Die profeet Miga het geskryf: “Die oorblywendes van Jakob sal tussen baie volke soos dou van Jehovah word, soos oorvloedige reënbuie op die plante, wat nie op die mens hoop of op die mensekinders wag nie” (Miga 5:7). Wie is die hedendaagse “oorblywendes van Jakob”? Hulle is geestelike Israeliete, die oorblyfsel van “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). Vir “baie volke” van die aarde is hulle soos verkwikkende “dou van Jehovah” en soos “oorvloedige reënbuie op die plante”. Ja, gesalfde Christene van vandag is ’n seën van God vir die mensdom. As Koninkryksverkondigers word hulle deur Jehovah gebruik om sy boodskap van ware hoop aan mense oor te dra.
2. Waarom het ons ware hoop al lewe ons in hierdie wêreld vol probleme?
2 Dit behoort ons nie te verbaas dat hierdie wêreld geen ware hoop het nie. Politieke onbestendigheid, sedelike verval, misdaad, ekonomiese krisisse, terrorisme, oorloë—ons verwag sulke dinge in ’n wêreld wat in die mag van Satan die Duiwel lê (1 Johannes 5:19). Baie mense vrees die toekoms. Maar as aanbidders van Jehovah is ons nie bang nie, want ons het ’n vaste hoop vir die toekoms. Dit is ’n betroubare hoop omdat dit op God se Woord gegrond is. Ons stel vertroue in Jehovah en in sy Woord, want wat hy sê, word altyd bewaarheid.
3. (a) Waarom sou Jehovah teen Israel en Juda optree? (b) Waarom is Miga se woorde vandag van toepassing?
3 Die goddelik geïnspireerde profesie van Miga versterk ons om in Jehovah se naam te wandel en gee ons ’n grondslag vir ware hoop. In die agtste eeu v.G.J., toe Miga geprofeteer het, was God se verbondsvolk in twee nasies verdeel—Israel en Juda—en albei nasies het God se verbond verontagsaam. Die gevolg was sedelike verval, godsdiensafvalligheid en oordrewe materialisme. Jehovah het dus gewaarsku dat hy teen hulle sou optree. God se waarskuwings was natuurlik tot Miga se tydgenote gerig. Maar die situasie in ons dag kom soveel ooreen met dié van Miga se dag dat sy woorde ook nou van toepassing is. Dit sal duidelik word terwyl ons van die glanspunte in die sewe hoofstukke van die boek Miga bespreek.
Wat ’n oorsig aan die lig bring
4. Watter inligting verskaf Miga hoofstukke 1 tot 3?
4 Kom ons kyk vlugtig na die inhoud van die boek Miga. In hoofstuk 1 lê Jehovah Israel en Juda se opstand bloot. Weens hulle ontrouheid sal Israel vernietig word en sal Juda se straf selfs die poorte van Jerusalem bereik. Hoofstuk 2 toon dat die rykes en magtiges die swakkes en hulpeloses onderdruk. Maar daar is ook ’n belofte van God af. God se volk sal in eenheid versamel word. Hoofstuk 3 vertel van Jehovah se uitsprake teen die volksleiers en die ontroue profete. Die leiers verdraai die reg, en die profete spreek leuens. Ten spyte hiervan word Miga deur heilige gees versterk om Jehovah se komende oordeel te verkondig.
5. Wat is die hooftrekke van Miga hoofstukke 4 en 5?
5 Hoofstuk 4 voorspel dat alle nasies aan die einde van die dae na die verhewe berg van die huis van Jehovah sal kom om deur hom onderrig te word. Voor daardie tyd sal Juda in ballingskap na Babilon weggevoer word, maar Jehovah sal hulle verlos. Hoofstuk 5 toon dat die Messias in Betlehem in Juda gebore sal word. Hy sal sy volk as herder lei en hulle van onderdrukkende nasies verlos.
6, 7. Watter gedagtes kom na vore in hoofstukke 6 en 7 van Miga se profesie?
6 Miga hoofstuk 6 bevat Jehovah se aanklagte teen sy volk in die vorm van ’n regsaak. Wat het hy gedoen wat hulle in opstand laat kom het? Niks nie. Sy vereistes is in werklikheid baie redelik. Hy wil hê dat sy aanbidders geregtigheid moet beoefen en goedhartig en beskeie moet wees terwyl hulle met hom wandel. In plaas van dít te doen, het Israel en Juda ’n opstandige weg ingeslaan en sal hulle die gevolge moet dra.
7 In die laaste hoofstuk van sy profesie veroordeel Miga die goddeloosheid van sy tydgenote. Hy verloor egter nie moed nie, want hy is vasbeslote om “’n wagtende houding” teenoor Jehovah in te neem (Miga 7:7). In die slot van die boek word die vertroue uitgespreek dat Jehovah barmhartigheid aan sy volk sal bewys. Die geskiedenis bevestig dat hierdie hoop verwesenlik is. In 537 v.G.J., nadat Jehovah sy volk gedissiplineer het, het hy uit barmhartigheid ’n oorblyfsel in hulle land herstel.
8. Hoe sal jy die inhoud van die boek Miga opsom?
8 Watter uitstekende inligting maak Jehovah tog deur Miga bekend! Hierdie geïnspireerde boek bevat waarskuwende voorbeelde van hoe God optree teenoor dié wat beweer dat hulle hom dien, maar ontrou is. Dit voorspel gebeure wat vandag plaasvind. En dit gee goddelike raad oor hoe ons gedurende hierdie moeilike tye moet optree sodat ons ons hoop standvastig kan maak.
Die Soewereine Heer Jehovah spreek
9. Wat was Jehovah van voorneme om te doen volgens Miga 1:2?
9 Kom ons ondersoek die boek Miga nou van naderby. In Miga 1:2 lees ons: “Hoor, o alle volke; skenk aandag, o aarde en alles wat jou vul, en laat die Soewereine Heer Jehovah as ’n getuie teen julle dien, Jehovah uit sy heilige tempel.” As jy in Miga se tyd gelewe het, sou hierdie woorde ongetwyfeld jou belangstelling gewek het. Ja, dit wek ’n mens se belangstelling omdat Jehovah vanuit sy heilige tempel praat en nie net Israel en Juda aanspreek nie, maar mense in alle wêrelddele. In Miga se dag het mense die Soewereine Heer Jehovah te lank geïgnoreer. Dit sou spoedig verander. Jehovah was vasbeslote om beslissend op te tree.
10. Waarom is die woorde van Miga 1:2 vir ons van belang?
10 Dieselfde geld vir ons dag. Openbaring 14:18-20 toon dat Jehovah weer eens vanuit sy heilige tempel spreek. Hy sal binnekort beslissend optree, en betekenisvolle gebeure sal die mensdom weer eens skud. Dié keer sal die goddelose “wingerdstok van die aarde” in die groot wynpers van Jehovah se toorn gewerp word, wat die algehele vernietiging van Satan se stelsel van dinge sal beteken.
11. Wat beteken die woorde van Miga 1:3, 4?
11 Luister na wat Jehovah gaan doen. Miga 1:3, 4 sê: “Kyk! Jehovah gaan uit sy plek uit, en hy sal beslis neerdaal en op die aarde se hoogtes wandel. En die berge sal onder hom smelt, en die laagvlaktes sal uitmekaar skeur, soos was as gevolg van die vuur, soos waters wat teen ’n skuinste afgegooi word.” Sal Jehovah sy hemelse woning verlaat en letterlik op die berge en vlaktes van die Beloofde Land wandel? Nee. Hy hoef nie. Hy hoef net sy aandag op die aarde te vestig en sy wil sal volbring word. Dit is bowendien nie die fisiese landskap wat die dinge gaan ervaar wat hier beskryf word nie, maar die inwoners. Wanneer Jehovah optree, sal dit rampspoedige gevolge vir ontroues hê—asof die berge soos was gesmelt het en die vlaktes deur ’n aardbewing uitmekaar geskeur is.
12, 13. Hoe verkry ons ’n vaste hoop volgens 2 Petrus 3:10-12?
12 Die profetiese woorde van Miga 1:3, 4 herinner jou dalk aan ’n ander geïnspireerde profesie wat rampspoedige gebeure vir die aarde voorspel. Soos opgeteken in 2 Petrus 3:10, het die apostel Petrus geskryf: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word.” Net soos Miga se profesie, is Petrus se woorde nie op die letterlike hemele en aarde van toepassing nie. Dit verwys na ’n groot verdrukking wat oor hierdie goddelose stelsel van dinge gaan kom.
13 Ten spyte van hierdie komende ramp kan Christene met vertroue na die toekoms kyk, net soos Miga gedoen het. Waarom? Hulle volg die raad wat in die daaropvolgende verse van Petrus se brief gevind word. Die apostel sê: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Petrus 3:11, 12). Ons sal ’n vaste hoop op die toekoms hê as ons ’n gehoorsame hart ontwikkel en seker maak dat ons gedrag heilig is en ons lewe gevul is met dade van godvrugtige toegewydheid. Ons sal ook ’n vaste hoop hê as ons in gedagte hou dat Jehovah se dag beslis gaan kom.
14. Waarom het Israel en Juda straf verdien?
14 Jehovah verduidelik waarom sy eertydse volk straf verdien. Miga 1:5 sê: “Dit is alles weens die opstandigheid van Jakob, ja, weens die sondes van die huis van Israel. Wat is die opstandigheid van Jakob? Is dit nie Samaria nie? En wat is die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?” Israel en Juda het die blote feit dat hulle bestaan, aan Jehovah te danke. Tog het hulle teen hom in opstand gekom, en hulle opstandigheid reik tot in hulle onderskeie hoofstede, Samaria en Jerusalem.
Goddelose dade aan die orde van die dag
15, 16. Aan watter goddelose dade het Miga se tydgenote hulle skuldig gemaak?
15 ’n Voorbeeld van hoe goddeloos Miga se tydgenote was, word duidelik beskryf in Miga 2:1, 2: “Wee dié wat skadelike planne beraam, en dié wat beoefen wat sleg is, op hulle beddens! By die môrelig voer hulle dit uit, omdat dit in die mag van hulle hand is. En hulle het velde begeer en daarop beslag gelê; ook huise, en dit geneem; en hulle het ’n man en sy huisgesin, ’n man en sy erfbesitting, te kort gedoen.”
16 Gierige persone lê snags wakker en beraam planne om op hulle naaste se velde en huise beslag te lê. In die oggend is hulle haastig om hulle planne uit te voer. Hulle sal nie sulke goddelose dade pleeg as hulle Jehovah se verbond in gedagte hou nie. Die Mosaïese Wet bevat voorsienings wat die armes beskerm. Daarvolgens behoort geen gesin ooit hulle erfenis permanent te verloor nie. Maar hierdie gierige persone steur hulle nie daaraan nie. Hulle ignoreer die woorde van Levitikus 19:18 wat sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
17. Wat kan gebeur wanneer mense wat beweer dat hulle God dien, materiële dinge eerste in hulle lewe stel?
17 Dit toon wat kan gebeur wanneer mense wat beweer dat hulle God dien, hulle geestelike doelwitte uit die oog verloor en materiële dinge eerste stel. Paulus het Christene van sy dag gewaarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort” (1 Timoteus 6:9). Wanneer iemand die verkryging van geld sy vernaamste strewe in die lewe maak, aanbid hy in werklikheid ’n valse god—Mammon, of Rykdom. Daardie valse god bied geen vaste hoop vir die toekoms nie.—Matteus 6:24.
18. Wat sou met materialistiese mense in Miga se dag gebeur?
18 Baie in Miga se dag leer deur bittere ervaring dat dit tevergeefs is om op materiële dinge te vertrou. Volgens Miga 2:4 sê Jehovah: “In dié dag sal daar oor julle ’n spreekwoord aangehef word en beslis geweeklaag word in ’n weeklag, ja, ’n weeklag. Daar sal gesê moet word: ‘Ons is gewis geplunder! My volk se deel verander hy. Hoe neem hy dit tog van my af weg! Aan die ontroue deel hy ons velde uit.’” Ja, daardie persone wat huise en velde gesteel het, sal hulle eie familie-erfdeel verloor. Hulle sal na ’n vreemde land weggevoer word, en hulle besittings sal die buit van “die ontroue”, of mense van die nasies, word. Alle verwagtinge van ’n voorspoedige toekoms sal verydel wees.
19, 20. Wat was die ondervinding van Jode wat op Jehovah vertrou het?
19 Die verwagtinge van diegene wat op Jehovah vertrou, sal egter nie verydel word nie. Jehovah is getrou aan sy verbonde met Abraham en Dawid, en hy bewys barmhartigheid aan mense wat, soos Miga, hom liefhet en bedroef is omdat hulle landgenote van God vervreemd geraak het. Ter wille van opregtes van hart sal daar op God se bestemde tyd ’n herstel wees.
20 Dit gebeur in 537 v.G.J., ná Babilon se val, toe ’n Joodse oorblyfsel na hulle land terugkeer. Op daardie tydstip het die woorde van Miga 2:12 ’n eerste vervulling. Jehovah sê: “Ek sal Jakob beslis versamel, almal in jou; ek sal die oorblywendes van Israel vir seker bymekaarbring. In eenheid sal ek hulle stel, soos skape in die kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; dit sal rumoerig wees van mense.” Hoe liefdevol is Jehovah tog! Nadat hy sy volk gedissiplineer het, laat hy ’n oorblyfsel toe om terug te keer en hom te dien in die land wat hy aan hulle voorvaders gegee het.
Treffende ooreenkomste in ons dag
21. Hoe vergelyk hedendaagse toestande met dié in Miga se dag?
21 Het jy, terwyl ons die eerste twee hoofstukke van Miga bespreek het, opgemerk hoe soortgelyk die situasie vandag is? Soos in Miga se tyd beweer baie vandag dat hulle God dien. Maar soos Juda en Israel is hulle verdeeld en voer hulle selfs oorloë teen mekaar. Baie van die rykes in die Christendom het die armes onderdruk. Gebruike wat uitdruklik in die Bybel veroordeel word, word al hoe meer deur godsdiensleiers vergoelik. Dit is geen wonder dat die Christendom, tesame met die res van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, binnekort aan hulle einde sal kom nie! (Openbaring 18:1-5). Maar net soos in Miga se tyd, sal daar getroue knegte van Jehovah op die aarde oorbly.
22. Watter twee groepe het hulle hoop op God se Koninkryk gevestig?
22 In 1919 het getroue gesalfde Christene hulle uiteindelik heeltemal van die Christendom afgeskei en die goeie nuus van die Koninkryk aan al die nasies begin verkondig (Matteus 24:14). Hulle het eers na die oorblywendes van geestelike Israel gesoek. Daarna het hulle “ander skape” begin insamel, en die twee groepe het “een kudde onder een herder” geword (Johannes 10:16). Hoewel hulle God nou in 234 lande dien, is al hierdie getroue aanbidders van Jehovah waarlik “in eenheid”. En teen dié tyd is die skaapkraal ‘rumoerig van mense’, mans, vrouens en kinders. Hulle vestig hulle hoop, nie op hierdie stelsel van dinge nie, maar op God se Koninkryk, wat binnekort ’n aardse paradys gaan bring.
23. Waarom is jy daarvan oortuig dat jou hoop seker is?
23 Aangaande die getroue aanbidders van Jehovah sê die laaste vers van Miga hoofstuk 2: “Hulle koning sal voor hulle uit deurtrek, met Jehovah aan hulle hoof.” Sien jy jouself in daardie seëvierende optog, terwyl jy jou Koning, Jesus Christus, volg, met Jehovah self aan die hoof? Indien wel, kan jy daarvan oortuig wees dat oorwinning ’n uitgemaakte saak is en dat jou hoop seker is. Dit sal selfs duideliker word wanneer ons verdere glanspunte van Miga se profesie bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom het Jehovah in Miga se dag besluit om teen Juda en Israel op te tree?
• Wat kan gebeur wanneer diegene wat beweer dat hulle God dien, materiële belange eerste in hulle lewe stel?
• Waarom is jy, ná ’n ondersoek van Miga hoofstukke 1 en 2, daarvan oortuig dat jou hoop seker is?
[Prent op bladsy 9]
Miga se profesie kan ons geestelik versterk
[Prente op bladsy 10]
Soos die Joodse oorblyfsel in 537 v.G.J. bevorder geestelike Israeliete en hulle metgeselle ware aanbidding