Een ware Christelike geloof—’n Werklikheid
JESUS CHRISTUS het net een kerk, of gemeente, gestig. Daardie gemeente was ’n geestelike liggaam, ’n geestelike gesin. Hiermee bedoel ons dat dit ’n byeenbringing van mense was wat deur God se heilige gees gekies is—wat almal deur God erken is as sy “kinders”.—Romeine 8:16, 17; Galasiërs 3:26.
Jesus het mense geleer dat God net een kanaal gebruik om persone na die waarheid en na die lewe te rig. Om daardie belangrike waarheid toe te lig, het Jesus die weg na die ewige lewe met ’n pad vergelyk. Hy het gesê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.”—Matteus 7:13, 14; Johannes 14:6; Handelinge 4:11, 12.
’n Verenigde gemeente
Ons moet nie aan daardie eerste-eeuse gemeente dink as “’n wêreldwye, universele, georganiseerde gemeenskap soos ons vandag bedoel wanneer ons van die katolieke kerk praat nie”, sê The New Dictionary of Theology. Waarom nie? “Om die eenvoudige rede”, sê dit, “dat so ’n georganiseerde, universele gemeenskap nouliks bestaan het.”
Niemand kan tereg die feit betwis dat die vroeë Christengemeente hoegenaamd geen ooreenkoms getoon het met die gestruktureerde kerkstelsels wat ons vandag sien nie. Maar dit was wel georganiseerd. Individuele gemeentes het nie onafhanklik van mekaar gefunksioneer nie. Hulle almal het die gesag van ’n bestuursliggaam in Jerusalem erken. Daardie liggaam—wat uit die apostels en ouer manne van die gemeente in Jerusalem bestaan het—het gehelp om die eenheid van die gemeente as die “een liggaam” van Christus te bewaar.—Efesiërs 4:4, 11-16; Handelinge 15:22-31; 16:4, 5.
Wat het van daardie een ware gemeente geword? Het dit die magtige Katolieke Kerk geword? Het dit ontwikkel tot die Protestantse kerkstelsel van vandag wat uit talle versplinterde godsdienste bestaan? Of het iets anders plaasgevind?
“Koring” en “onkruid”
Om die antwoorde hierop te vind, moet ons noukeurig let op wat Jesus Christus self gesê het sou gebeur. Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat Jesus verwag het dat sy gemeente skynbaar sou verdwyn en dat hy sou toelaat dat hierdie droewige situasie eeue lank voortduur.
Hy het sy gemeente met “die koninkryk van die hemele” in verband gebring en gesê: “Die koninkryk van die hemele het geword soos ’n man wat goeie saad in sy saailand gesaai het. Terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid daaroor gesaai, tussen die koring in, en weggegaan. Toe die halm uitspruit en vrug voortbring, het die onkruid ook verskyn. En die slawe van die huisheer het nader gekom en vir hom gesê: ‘Heer, het u nie goeie saad in u saailand gesaai nie? Hoe kom dit dan dat dit onkruid het?’ Hy het vir hulle gesê: ‘’n Vyand, ’n mens, het dit gedoen.’ Hulle het vir hom gesê: ‘Wil u dan hê dat ons moet uitgaan en dit bymekaar maak?’ Hy het gesê: ‘Nee; sodat julle nie miskien, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat al twee saam groei tot die oes toe; en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, en gaan bring dan die koring in my voorraadskuur bymekaar.’”—Matteus 13:24-30.
Jesus het verduidelik dat hy “die saaier” was. “Die goeie saad” het sy ware dissipels voorgestel. Sy “vyand” was Satan die Duiwel. “Die onkruid” was valse Christene wat in die vroeë Christengemeente ingekom het. Hy het gesê dat hy “die koring” en “die onkruid” saam sou laat groei tot “die oes” toe, wat tydens “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” sou kom (Matteus 13:37-43). Wat het dit alles beteken?
Die Christengemeente word verderf
Kort ná die dood van die apostels het afvallige onderrigters in die gemeente die leiding daarvan begin oorneem. Hulle het “verdraaide dinge [gespreek] om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Gevolglik het baie Christene ‘van die geloof afvallig geword’. Hulle het hulle ‘tot valse stories gewend’.—1 Timoteus 4:1-3; 2 Timoteus 4:3, 4.
Teen die vierde eeu G.J., sê The New Dictionary of Theology, “het die Katolieke Christelike godsdiens die amptelike . . . godsdiens van die Romeinse Ryk geword”. Daar was ’n “vereniging van die kerklike en sekulêre gemeenskap”—’n samesmelting van Kerk en Staat wat lynreg in stryd was met die oortuigings van die vroeë Christene (Johannes 17:16; Jakobus 4:4). Dieselfde bron sê dat die hele struktuur en aard van die kerk, sowel as baie van sy grondleerstellings, mettertyd drasties verander het “onder die invloed van ’n vreemde en uiters onheilsame vermenging van die O[u] T[estamentiese] en neoplatoniese patroon”. Soos Jesus Christus voorspel het, kon sy ware dissipels nie duidelik herken word terwyl valse Christene gefloreer het nie.
Jesus se toehoorders het geweet hoe moeilik dit was om koring van onkruid te onderskei, soos in die geval van giftige drabok, wat gedurende die groeiseisoen baie soos koring lyk. Jesus het dus geïllustreer dat dit ’n tyd lank moeilik sou wees om ware Christene van valse Christene te onderskei. Dit beteken nie dat die Christengemeente ophou bestaan het nie, want Jesus het beloof dat hy sou aanhou om sy geestelike broers te lei “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20). Jesus het gesê dat die koring steeds sou groei. En deur die eeue heen het ware Christene—as individue of groepe—ongetwyfeld hulle bes gedoen om getrou by Christus se leringe te bly. Maar hulle was nie meer ’n duidelik herkenbare, sigbare liggaam, of organisasie, nie. Hulle het beslis geen ooreenkoms getoon met die sigbare afvallige godsdiensstelsel wat deur die geskiedenis heen net smaad en oneer op Jesus Christus se naam gebring het nie.—2 Petrus 2:1, 2.
‘Die mens van wetteloosheid word geopenbaar’
Die apostel Paulus het iets anders voorspel wat hierdie valse godsdiensstelsel sou kenmerk. Hy het geskryf: “Laat niemand julle op enige manier verlei nie, want [Jehovah se dag] sal nie kom nie tensy die afval eers kom en die mens van wetteloosheid geopenbaar word” (2 Tessalonisense 2:2-4). Hierdie “mens van wetteloosheid” is niemand anders nie as die geestelikeklas wat hulleself verhef het tot heersers oor die “Christen”-gemeente.*
Die afvalligheid het in die apostel Paulus se dag begin. Dit het vinnig versprei nadat die apostels gesterf het en nie meer daar was om dit teë te hou nie. Paulus het gesê dat die afvalligheid gekenmerk sou word deur “die werking van Satan met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog” (2 Tessalonisense 2:6-12). Hoe akkuraat beskryf dit tog nie die bedrywighede van tallose godsdiensleiers deur die geskiedenis heen nie!
Ter stawing van hulle bewering dat die Rooms-Katolieke Kerk die een ware kerk is, sê Katolieke leiers dat hulle biskoppe “’n lewegewende verbintenis met die oorspronklike apostels het deur ’n lyn van opvolging wat teruggevoer kan word tot die begin”. In werklikheid het hierdie bewering van apostoliese opvolging geen geskiedkundige of skriftuurlike grondslag nie. Daar is geen geloofwaardige bewys dat die kerkstelsel wat ná die dood van Jesus se apostels ontstaan het, ooit deur God se heilige gees gerig is nie.—Romeine 8:9; Galasiërs 5:19-21.
En wat van die ander kerke wat ná die sogenaamde Hervorming oral verskyn het? Het hulle na die patroon van die vroeë Christengemeente teruggekeer? Het hulle die suiwerheid van die eerste Christengemeente herstel? Ná die Hervorming het die Bybel weliswaar vir baie van die gewone mense in hulle eie taal beskikbaar geword. Maar die geskiedenis toon dat hierdie kerke voortgegaan het om valse leerstellings te verkondig.*—Matteus 15:7-9.
Let egter hierop. Jesus Christus het duidelik voorspel dat sy een ware gemeente herstel sou word gedurende die tydperk wat hy ’n voleinding van ’n stelsel van dinge genoem het (Matteus 13:30, 39). Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat ons nou in daardie tyd lewe (Matteus 24:3-35). Aangesien dit die geval is, moet elkeen van ons vra: ‘Waar is daardie een ware kerk?’ Dit behoort al hoe makliker te word om dit te identifiseer.
Dalk meen jy dat jy reeds daardie kerk, of gemeente, gevind het. Dit is belangrik dat jy seker maak. Waarom? Want soos in die eerste eeu kan daar net een ware kerk wees. Het jy die tyd geneem om seker te maak of jou kerk die voorbeeld van die eerste-eeuse Christengemeente getrou volg en of dit lojaal bly by die leringe van Jesus Christus? Waarom doen jy dit nie sommer nou nie? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om so ’n ondersoek te doen.—Handelinge 17:11.
[Voetnote]
Verdere inligting oor die identiteit van “die mens van wetteloosheid” kan gevind word in Die Wagtoring van 1 Februarie 1990, bladsye 10-14.
Sien die hoofstuk “Die Hervorming—’n nuwe wending in die soektog”, in die boek Die mensdom se soeke na God, bladsye 306-28, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prente op bladsy 5]
Wat leer Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid ons oor die ware gemeente?
[Prente op bladsy 7]
Volg jou kerk die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene deur die predikingswerk te doen en die Bybel te bestudeer?