“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”
Voor en ná—Hoe die Bybel hierdie man verander het
MUSIEK was Rolf-Michael se lewe, dwelms sy obsessie. As ’n jong man in Duitsland het hy baie gedrink en LSD, kokaïen, dagga en ander breinwysigende middels vryelik gebruik.
Terwyl hy dwelms in ’n Afrikaland probeer insmokkel het, is Rolf-Michael in hegtenis geneem en het hy 13 maande in die tronk deurgebring. Daardie tyd in die tronk het hom die geleentheid gegee om na te dink oor die ware doel van die lewe.
Rolf-Michael en sy vrou, Ursula, het desperaat na ’n doel in die lewe en na die waarheid gesoek. Ten spyte van negatiewe ondervindinge met sogenaamde Christelike kerke, het hulle ’n sterk begeerte gehad om God te leer ken. Hulle het egter vrae gehad en kon by verskeie godsdiensgroepe geen bevredigende antwoorde vind nie. Daarbenewens het hierdie godsdienste hulle nie ’n sterk beweegrede gegee om hulle lewe te verander nie.
Rolf-Michael en Ursula het uiteindelik met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Nadat hy die Bybel begin studeer het, is Rolf-Michael diep geraak deur die aansporing: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Hy was vasbeslote om ‘die ou persoonlikheid af te lê, wat met sy vroeëre lewenswandel ooreengekom het en hom met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’.—Efesiërs 4:22-24.
Hoe kon Rolf-Michael hom met die nuwe persoonlikheid beklee? Hy is uit die Bybel gewys dat iemand se persoonlikheid “deur juiste kennis vernuwe [kan] word na die beeld van die Een wat dit geskep het”, naamlik Jehovah God.—Kolossense 3:9-11.
Namate hy juiste kennis ingeneem het, het Rolf-Michael sy lewe in ooreenstemming probeer bring met die beginsels van God se Woord (Johannes 17:3). Dit was moeilik om dwelms op te gee, maar Rolf-Michael het die waarde daarvan besef om Jehovah in gebed te nader en sy hulp te ontvang (1 Johannes 5:14, 15). Verdere hulp het gekom van noue omgang met diegene wat reeds Jehovah se Getuies was en hard gewerk het om God se wil te doen.
Die wete dat die wêreld verbygaan en dat diegene wat God se wil doen, vir ewig sal bestaan, het Rolf-Michael ook gehelp. Dit het hom in staat gestel om nie die korttermynliefde vir die wêreld te kies nie, maar die ewige seën van ’n hegte verhouding met die liefdevolle God, Jehovah (1 Johannes 2:15-17). Rolf-Michael is diep geraak deur die woorde van Spreuke 27:11: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Hy sê met waardering: “Hierdie vers toon die diepte van Jehovah se liefde, want hy gee mense die kans om sy hart bly te maak.”
Soos Rolf-Michael, sy vrou en hulle drie kinders, het honderdduisende mense daarby baat gevind om Bybelbeginsels te volg. Sulke individue kan in gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld gevind word. Ongelukkig word die Getuies in sommige lande valslik daarvan beskuldig dat hulle ’n gevaarlike sekte is wat gesinne opbreek. Rolf-Michael se ondervinding bewys die teendeel.—Hebreërs 4:12.
Hy sê dat Matteus 6:33, wat ons aanspoor om geestelike belange eerste te stel, sy gesin se “kompas” is, wat hulle in die regte rigting stuur. Hy en sy gesin is innig dankbaar teenoor Jehovah vir die gelukkige gesinslewe wat hulle as Christene geniet. Hulle voel soos die psalmis wat gesing het: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?”—Psalm 116:12.
[Lokteks op bladsy 9]
God gee mense die kans om sy hart bly te maak
[Venster op bladsy 9]
Die krag van Bybelbeginsels
Hier is ’n paar van die Bybelbeginsels wat baie gemotiveer het om dodelike verslawings te oorkom:
“O julle wat Jehovah liefhet, haat die kwaad” (Psalm 97:10). Nadat iemand oortuig is van hoe sleg dodelike gebruike is en waarlik ’n haat daarvoor ontwikkel, is dit vir hom makliker om te doen wat God behaag.
“Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Om nee te sê vir dwelms en ander verslawende middels, moet iemand sy vriende versigtig kies. Die vriendskap van Christene wat hom in sy besluit sal ondersteun, is waarlik nuttig.
“Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Niks kan hierdie innerlike vrede oortref nie. En biddende vertroue op God help ’n mens om die lewe se probleme die hoof te bied sonder om jou tot dwelms te wend.