Voeg by julle kennis selfbeheersing
“Voeg . . . by julle kennis selfbeheersing.”—2 PETRUS 1:5-8.
1. Watter onvermoë veroorsaak baie probleme vir die mens?
TYDENS ’n grootskaalse kampanje teen dwelmmisbruik is jongmense in die Verenigde State aangeraai: “Sê net nee.” Hoeveel beter sou dinge nie gewees het as almal net nee kon sê, nie net vir dwelms nie, maar ook vir drankmisbruik, onverstandige of onsedelike lewenstyle, oneerlike sakegebruike en “die begeertes van die vlees”! (Romeine 13:14). Maar wie sal beweer dat dit altyd maklik is om nee te sê?
2. (a) Watter Bybelvoorbeelde toon dat dit nog altyd moeilik was om nee te sê? (b) Wat moet hierdie voorbeelde ons aanspoor om te doen?
2 Aangesien dit vir alle onvolmaakte mense moeilik is om selfbeheersing te beoefen, moet ons daarin belangstel om te leer hoe ons enige persoonlike stryd in dié opsig kan wen. Die Bybel vertel ons van mense in die verlede wat daarna gestreef het om God te dien, maar wat dit soms moeilik gevind het om nee te sê. Dink aan Dawid en sy sonde toe hy egbreuk met Batseba gepleeg het. Dit het tot die dood gelei van hulle kind wat uit hulle owerspelige verhouding verwek is, sowel as van Batseba se man—albei onskuldige slagoffers (2 Samuel 11:1-27; 12:15-18). Of dink aan die apostel Paulus, wat openlik erken het: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek” (Romeine 7:19). Voel jy ook soms so gefrustreerd? Paulus het verder gesê: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” (Romeine 7:22-24). Bybelvoorbeelde moet ons vasbeslotenheid versterk om nooit op te gee in ons stryd om groter selfbeheersing te verkry nie.
Selfbeheersing, ’n les wat geleer moet word
3. Verduidelik waarom ons nie kan verwag dat dit maklik sal wees om selfbeheersing te beoefen nie.
3 Selfbeheersing, wat die vermoë insluit om nee te sê, word in 2 Petrus 1:5-7 saam met geloof, deug, kennis, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde genoem. Mense word nie met een van hierdie ander begeerlike eienskappe gebore nie. Dit moet aangeleer word. Om dit in ’n betekenisvolle mate aan die dag te lê, verg vasbeslotenheid en inspanning. Moet ons dan verwag dat dit in die geval van selfbeheersing enigsins makliker sal wees?
4. Waarom meen baie dat hulle geen probleem met selfbeheersing het nie, maar waarvan is dit ’n aanduiding?
4 Miljoene mense meen dalk dat hulle geen probleem met selfbeheersing het nie. Hulle doen net wat hulle wil en tree wetend of onwetend in ooreenstemming met die begeertes van hulle onvolmaakte vlees op, en hulle steur hulle min aan die gevolge—vir hulle of vir ander (Judas 10). Mense se onvermoë en onwilligheid om nee te sê, is nou duideliker as ooit tevore. Dit is ’n aanduiding dat ons inderdaad in “die laaste dae” lewe waarvan Paulus gepraat het toe hy voorspel het dat daar “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, . . . sonder selfbeheersing.”—2 Timoteus 3:1-3.
5. Waarom stel Jehovah se Getuies belang in die onderwerp van selfbeheersing, en watter raad geld nog steeds?
5 Jehovah se Getuies weet goed dat dit moeilik is om selfbeheersing te beoefen. Soos Paulus is hulle bewus van die stryd tussen ’n begeerte om God te behaag deur volgens sy standaarde te lewe en die weg wat hulle onvolmaakte vlees hulle dalk aanspoor om te volg. Om dié rede stel hulle lank reeds belang in maniere om hierdie tweestryd te wen. ’n Vroeëre nommer van die tydskrif wat jy nou lees, het al in 1916 gepraat van “die regte weg wat ons moet volg om beheer te kry oor onsself, ons gedagtes, ons woorde en ons gedrag”. Dit het aan die hand gedoen dat ’n mens Filippense 4:8 in gedagte hou. Die goddelike raad in daardie teks geld nog steeds, al is dit oorspronklik meer as 2 000 jaar gelede gegee en nou waarskynlik moeiliker om te volg as wat dit toe of in 1916 was. Nietemin doen Christene hulle bes om nee te sê vir wêreldse begeertes, in die wete dat hulle sodoende ja sê vir hulle Skepper.
6. Waarom moet ons nie moedeloos raak terwyl ons selfbeheersing probeer aankweek nie?
6 Selfbeheersing word in Galasiërs 5:22, 23 genoem as deel van “die vrugte van die [heilige] gees”. As ons hierdie eienskap tesame met “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof [en] sagmoedigheid” openbaar, sal ons grootliks daarby baat vind. Dit sal verhoed dat ons, soos Petrus verduidelik het, “onbedrywig of onvrugbaar” word in ons diens aan God (2 Petrus 1:8). Maar ons moenie moedeloos raak of onsself veroordeel as ons nie daarin slaag om hierdie eienskappe so gou en so volkome aan die dag te lê soos ons graag wil nie. Jy het waarskynlik opgemerk dat een leerling op skool gouer leer as ’n ander. Of by die werk leer een persoon ’n nuwe taak baie gouer aan as sy medewerkers. Net so leer party gouer as ander om Christelike eienskappe aan die dag te lê. Wat belangrik is, is dat ons aanhou om godvrugtige eienskappe na die beste van ons vermoë aan te kweek. Ons kan dit doen deur ten volle gebruik te maak van die hulp wat Jehovah deur sy Woord en gemeente voorsien. Ons vasbeslote pogings om te bly vorder, is belangriker as die spoed waarmee ons ons doelwit bereik.
7. Wat toon dat selfbeheersing belangrik is?
7 Al word selfbeheersing laaste genoem in die lys van eienskappe wat deur die gees voortgebring word, is dit geensins minder belangrik as die ander nie. Die teendeel is eerder waar. Ons moet in gedagte hou dat ons al “die werke van die vlees” sou kon vermy as ons volmaakte selfbeheersing gehad het. Maar onvolmaakte mense swig maklik voor die een of ander vorm van “die werke van die vlees . . . , en dit is hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes” (Galasiërs 5:19, 20). Ons moet derhalwe voortdurend daarteen stry en vasbeslote wees om ontslae te raak van negatiewe neigings in ons hart sowel as ons verstand.
’n Groter stryd vir party
8. Watter faktore maak dit veral vir party moeilik om selfbeheersing te beoefen?
8 Party Christene vind dit moeiliker om selfbeheersing te beoefen as ander. Waarom? Hulle opvoeding of vorige ondervindinge kan tot die situasie bydra. As dit lyk of ons nie ’n probleem het om selfbeheersing aan te kweek en te beoefen nie, het ons rede om bly te wees. Maar ons moet beslis medelye en begrip aan die dag lê wanneer ons te doen het met diegene wat dit moeiliker vind, al veroorsaak hulle gebrek aan selfbeheersing vir ons ’n mate van persoonlike ongerief. Wie van ons het, met die oog op ons eie onvolmaaktheid, enige rede om selfvoldaan te voel?—Romeine 3:23; Efesiërs 4:2.
9. Watter swakhede het party, en wanneer sal hulle hierdie swakhede heeltemal oorkom?
9 Ter toeligting: Ons weet moontlik dat party mede-Christene wat rook of dwelms opgegee het, soms nog ’n sterk begeerte daarna het. Of sommige vind dit moeilik om minder te eet of minder alkohol te gebruik. Ander beheers hulle tong met moeite, en daarom struikel hulle dikwels in woord. ’n Doelbewuste poging om selfbeheersing aan te kweek, is nodig om hierdie tekortkominge die hoof te bied. Waarom? Jakobus 3:2 erken tereg: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou.” Ander het weer ’n sterk begeerte om te dobbel. Of hulle sukkel om hulle humeur te beteuel. ’n Mens het dalk tyd nodig om hierdie of soortgelyke swakhede met welslae die hoof te bied. Al maak ons nou goeie vordering, sal verkeerde begeertes eers permanent uit die weg geruim wees wanneer ons volmaaktheid bereik. As ons intussen daarna strewe om selfbeheersing te beoefen, sal dit ons help om nie terug te val in ’n sondige lewenswyse nie. Terwyl die stryd voortduur, moet ons mekaar help om nie tou op te gooi nie.—Handelinge 14:21, 22.
10. (a) Waarom is selfbeheersing in seksuele sake veral moeilik vir party? (b) Watter groot verandering het een broer gemaak? (Sien venster op bladsy 16.)
10 Party vind dit weer moeilik om selfbeheersing te beoefen op die gebied van seksualiteit. Seksualiteit is iets waarmee Jehovah God ons as mense geskep het. En tog vind sommige dit baie moeilik om geslagsomgang op sy regte plek te hou, in ooreenstemming met God se standaarde. Hulle probleem word dalk vererger deur ’n ongewone sterk seksdrang. Ons lewe in ’n seksmal wêreld wat geneig is om hartstog op baie maniere te laat opvlam. Dit kan ’n groot probleem skep vir Christene wat—ten minste vir ’n tyd lank—ongetroud wil bly om God te dien sonder om deur die huwelik afgelei te word (1 Korintiërs 7:32, 33, 37, 38). Maar in ooreenstemming met die skriftuurlike raad dat ‘dit beter is om te trou as om van hartstog te brand’, besluit hulle miskien om te trou, wat beslis eerbaar is. Terselfdertyd is hulle vasbeslote om “net in die Here” te trou, soos die Skrif vermaan (1 Korintiërs 7:9, 39). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah verheug is dat hulle by sy regverdige beginsels wil bly. Hulle mede-Christene is baie bly om geassosieer te word met ware aanbidders wat sulke hoë sedelike standaarde het en hulle onkreukbaarheid handhaaf.
11. Hoe kan ons ’n broer of ’n suster bystaan wat graag wil trou, maar nog nie kon nie?
11 Gestel geen geskikte huweliksmaat kan gevind word nie. Stel jou voor hoe frustrerend so ’n situasie moet wees vir iemand wat graag wil trou! Hy sien dalk hoe sy vriende trou en gelukkig lyk, terwyl hy nog steeds na ’n geskikte maat soek. Vir party in daardie situasie word die onrein gewoonte van masturbasie dalk ’n voortgesette probleem. Hoe dit ook al sy, geen Christen wil iemand wat ’n stryd voer om kuis te bly, onbewustelik ontmoedig nie. Ons kan ander onopsetlik ontmoedig deur onbedagsame kommentare soos: “Wanneer trou jy?” Dit word dalk heel onskuldig gesê, maar hoeveel beter sal dit tog nie wees om selfbeheersing te beoefen deur ons tong te beheers nie! (Psalm 39:1). Diegene onder ons wat kuis bly terwyl hulle ongetroud is, verdien om hartlik geprys te word. Ons moet eerder aanmoedigend probeer wees as om iets te sê wat ontmoedigend kan wees. Ons kan byvoorbeeld ’n poging aanwend om ongetroude persone in te sluit wanneer ’n groepie ryp Christene bymekaarkom vir ’n maaltyd of heilsame Christelike assosiasie.
Selfbeheersing in die huwelik
12. Waarom is ’n mate van selfbeheersing selfs in die huwelik nodig?
12 Die feit dat ’n mens getroud is, beteken nie op sigself dat geen selfbeheersing ten opsigte van geslagsomgang nodig is nie. Byvoorbeeld, die seksuele behoeftes van ’n man en vrou kan grootliks verskil. Of die fisiese toestand van een maat kan normale geslagsomgang moeilik of selfs onmoontlik maak. Miskien vind een maat dit weens vorige ondervindinge moeilik om hierdie raad te gehoorsaam: “Laat die man sy vrou gee wat haar toekom; maar laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen.” In so ’n situasie moet die ander maat dalk groter selfbeheersing beoefen. Maar albei kan Paulus se liefdevolle raad aan getroude Christene in gedagte hou: “Moenie mekaar dit ontsê nie, behalwe met wedersydse instemming vir ’n vasgestelde tyd, dat julle tyd aan gebed kan wy en weer bymekaar kan kom, sodat Satan julle nie weens julle gebrek aan selfbeheersing bly versoek nie.”—1 Korintiërs 7:3, 5.
13. Wat kan ons doen vir diegene wat sukkel om selfbeheersing te beoefen?
13 Hoe dankbaar kan egpare tog wees as albei geleer het om gepaste selfbeheersing in hierdie baie intieme verhouding te beoefen. Terselfdertyd moet hulle begrip hê vir medegelowiges wat nog sukkel om dit op hierdie gebied te openbaar. Ons moet nooit vergeet om te bid dat Jehovah ons geestelike broers insig, moed en vasbeslotenheid gee sodat hulle kan volhard in hulle stryd om selfbeheersing te openbaar en stappe kan neem om verkeerde begeertes te oorkom.—Filippense 4:6, 7.
Hou aan om mekaar te help
14. Waarom moet ons medelye voel en begrip toon vir mede-Christene?
14 Soms vind ons dit dalk moeilik om begrip te toon vir mede-Christene wat sukkel om selfbeheersing te beoefen op ’n gebied wat ons baie maklik vind. Maar mense se geaardhede verskil. Party word maklik deur emosies oorheers; ander nie. Party vind dit redelik maklik om hulleself te beheers, en selfbeheersing is vir hulle nie ’n groot probleem nie. Ander vind dit moeiliker. Maar ons moet onthou dat iemand wat daarmee sukkel, nie ’n slegte persoon is nie. Mede-Christene het ons begrip en medelye nodig. Dit sal bydra tot ons geluk as ons aanhou om barmhartigheid te bewys aan dié wat nog sukkel om groter selfbeheersing aan die dag te lê. Ons sien dit in Jesus se woorde in Matteus 5:7.
15. Waarom is die woorde van Psalm 130:3 vertroostend wanneer dit kom by selfbeheersing?
15 Ons wil nooit ’n mede-Christen wat die een of ander tyd versuim om die Christelike persoonlikheid te openbaar, verkeerd beoordeel nie. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah nie net die een keer sien wanneer ons dalk te kort skiet nie, maar ook al die kere wanneer ons slaag, selfs as mede-Christene nie een daarvan raaksien nie. Dit is uiters vertroostend om die woorde van Psalm 130:3 in gedagte te hou: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?”
16, 17. (a) Hoe kan ons Galasiërs 6:2, 5 toepas ten opsigte van selfbeheersing? (b) Wat gaan ons vervolgens oor selfbeheersing bespreek?
16 Om Jehovah te behaag, moet elkeen van ons selfbeheersing aankweek, maar ons kan verseker wees van die hulp van ons Christenbroers. Hoewel elkeen van ons sy eie las moet dra wat aanspreeklikheid betref, word ons nietemin aangespoor om mekaar te help om swakhede te oorkom (Galasiërs 6:2, 5). Ons kan dankbaar wees teenoor die ouer, huweliksmaat of vriend wat keer dat ons na plekke toe gaan waar ons nie hoort nie, dat ons dinge sien wat ons nie moet sien nie of dat ons dinge doen wat ons nie moet doen nie. Hy help ons om selfbeheersing te beoefen, die vermoë om nee te sê en dit te bedoel!
17 Baie Christene stem dalk saam met wat ons tot dusver oor selfbeheersing gesê het, maar voel miskien dat hulle persoonlik ver te kort skiet. Hulle wil graag groter selfbeheersing aan die dag lê, in die mate wat hulle glo redelikerwys van onvolmaakte mense verwag kan word. Voel jy ook so? Wat kan jy dan doen om hierdie vrug van God se gees in groter mate aan te kweek? En hoe kan dit jou help om jou langtermyndoelwitte as ’n Christen te bereik? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Onthou jy?
Waarom is selfbeheersing . . .
• ’n belangrike eienskap wat Christene moet aankweek?
• veral moeilik vir sommige?
• belangrik in die huwelik?
• ’n eienskap wat ons mekaar kan help aankweek?
[Venster/Prent op bladsy 16]
Hy het geleer om nee te sê
Een van Jehovah se Getuies in Duitsland het as ’n tegniese kommunikasiebeampte gewerk. Sy werk het ingesluit dat hy sowat 30 verskillende televisie- en radioprogramme monitor. Wanneer daar steurings was, moes hy sy aandag by die program bepaal om vas te stel wat die probleem was. Hy sê: “Die steurings het feitlik altyd op die verkeerde tyd plaasgevind, sodra daar gewelddadige of sekstonele was. Die slegte tonele het soms dae lank, indien nie weke nie, in my gedagtes gebly, asof dit in my brein ingeëts was.” Hy erken dat dit ’n negatiewe uitwerking op sy geestelikheid gehad het: “Ek is geneig om opvlieënd te wees, en daarom het die gewelddadige tonele dit vir my moeilik gemaak om selfbeheersing te beoefen. Die sekstonele het tot spanning tussen my en my vrou gelei. Ek moes daagliks ’n stryd voer. Omdat ek nie die stryd wou verloor nie, het ek besluit om ander werk te soek, al sou dit ’n kleiner salaris beteken. Nie te lank terug nie, het ek ander werk gekry. My wens is vervul.”
[Prente op bladsy 15]
Kennis wat deur middel van Bybelstudie verkry word, help ons om selfbeheersing te beoefen