Vrae van lesers
In watter sin het Esegiël “stom” geword tydens Jerusalem se beleëring en vernietiging?
Basies in die sin dat hy niks gehad het om by te voeg by die profetiese boodskap van Jehovah wat hy reeds oorgedra het nie.
Die profeet Esegiël het sy diens as ’n getroue wag vir die Israelitiese ballinge in Babilon in “die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin” begin, dit wil sê in 613 v.G.J. (Esegiël 1:2, 3). Op die tiende dag van die tiende maanmaand van 609 v.G.J. is hy deur goddelike inspirasie ingelig dat die Babiloniërs se beleëring van Jerusalem begin het (Esegiël 24:1, 2). Wat sou die afloop van die beleëring wees? Sou Jerusalem en sy ontroue inwoners ontkom? As wag het Esegiël reeds Jehovah se duidelike oordeelsboodskap bekend gemaak, en dit was glad nie vir Esegiël nodig om enigiets by te voeg om daardie boodskap oortuigender te maak nie. Esegiël het stom geword wat enige verdere inligting oor die beleëring van Jerusalem betref.—Esegiël 24:25-27.
Sowat ses maande ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. het ’n man wat ontsnap het, vir Esegiël in Babilon nuus gebring oor die verwoesting van die heilige stad. Die aand voor hy daar aangekom het, het Jehovah “[Esegiël se] mond geopen . . . en [hy] was nie meer stom nie” (Esegiël 33:22). Dit was die einde van Esegiël se stomheid.
Was Esegiël letterlik stom gedurende daardie tyd? Klaarblyklik nie, want selfs nadat hierdie “stomheid” oor hom gekom het, het hy profesieë geuiter wat hoofsaaklik gerig was teen die omliggende lande wat hulle oor die val van Jerusalem verheug het (Esegiël hoofstukke 25-32). Vroeër in Esegiël se loopbaan as profeet en wag het Jehovah vir hom gesê: “Jou tong sal ek aan jou verhemelte laat kleef, en jy sal beslis stom word, en jy sal nie vir hulle ’n man word wat teregwysing gee nie, want hulle is ’n opstandige huis. En wanneer ek met jou praat, sal ek jou mond open” (Esegiël 3:26, 27). Wanneer Jehovah geen boodskap vir Israel gehad het nie, moes Esegiël stom bly wat daardie nasie betref. Esegiël moes spreek wat Jehovah wou hê hy moes spreek op die tyd wat Jehovah bepaal het. Esegiël se stomheid het te kenne gegee dat hy nie meer woorde van profetiese belang vir die Israeliete gehad het nie.
Die hedendaagse wagklas, gesalfde Christene, rig al lank ’n waarskuwing oor die vernietiging van die Christendom, antitipiese Jerusalem. Wanneer die “groot verdrukking” uitbreek en “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, verwoes word, sal die gesalfde Esegiël-klas niks meer hoef te sê oor die einde van die Christendom, wat ’n vername deel van daardie ryk uitmaak nie.—Matteus 24:21; Openbaring 17:1, 2, 5.
Ja, die dag sal kom wanneer die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle stom sal word en niks meer sal hê om aan die Christendom oor te dra nie. Dit sal wees wanneer “die tien horings” en “die wilde dier” Babilon die Grote verwoes en haar naak maak (Openbaring 17:16). Dit beteken natuurlik nie dat Christene letterlik stom sal wees nie. Net soos nou, sal hulle Jehovah loof en elke dag en “in alle toekomstige geslagte” van hom melding maak.—Psalm 45:17; 145:2.