Lewensverhaal
“Wat sal ek Jehovah vergoed?”
SOOS VERTEL DEUR MARIA KERASINIS
Toe ek 18 was, was ek ’n bittere teleurstelling vir my ouers, ’n uitgeworpene onder my familie en ’n voorwerp van bespotting in ons dorpie. Pleidooie, dwang en dreigemente is gebruik om my te probeer kry om my onkreukbaarheid teenoor God prys te gee—maar sonder sukses. Ek was vol vertroue dat ek geestelik geseën sou word as ek lojaal aan Bybelwaarheid vashou. Wanneer ek terugkyk op die meer as 50 jaar dat ek Jehovah al dien, kan ek nie anders nie as om die psalmis se woorde te beaam: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?”—Psalm 116:12.
EK IS in 1930 gebore in Aggelokastro, ’n dorpie wat ongeveer 20 kilometer van die hawe Kenchreë en aan die oostekant van die landengte van Korinte geleë is, waar ’n gemeente van ware Christene in die eerste eeu gestig is.—Handelinge 18:18; Romeine 16:1.
Ons gesin het ’n stil lewe gelei. My pa was hoof van die dorpie en ander het groot respek vir hom gehad. Ek was die derde van vyf kinders. My ouers het ons as getroue lede van die Grieks-Ortodokse Kerk grootgemaak. Elke Sondag het ek die mis bygewoon. Ek het voor ikone boete vir sondes gedoen, kerse aangesteek in plattelandse kerkies en al die vaste onderhou. Ek het dikwels daaraan gedink om ’n non te word. Mettertyd het ek die eerste een in die gesin geword wat my ouers teleurgestel het.
Opgewonde oor Bybelwaarheid
Toe ek omtrent 18 was, het ek gehoor dat Katina, die suster van een van my swaers, wat in ’n naburige dorpie gewoon het, die publikasies van Jehovah se Getuies lees en dat sy nie meer kerk toe gaan nie. Dit het my baie gepla, en daarom het ek besluit om haar te help sodat sy kon terugkeer na wat ek gedink het die regte weg is. Toe sy dus by ons kom kuier het, het ek gereël dat ons ’n entjie gaan stap, met die bedoeling om by die priester se huis aan te gaan. Die priester het die gesprek met ’n stortvloed beledigings teen Jehovah se Getuies begin, en hulle ketters genoem wat Katina mislei het. Die bespreking is drie aande ná mekaar voortgesit. Katina het al sy aantygings met goed voorbereide Bybelse argumente weerlê. Uiteindelik het die priester vir haar gesê dat sy, aangesien sy so ’n mooi, intelligente meisie is, eerder haar jeug moet geniet terwyl sy kan en wanneer sy oud is, in God kan begin belangstel.
Ek het my ouers niks vertel van daardie bespreking nie, maar die volgende Sondag het ek nie kerk toe gegaan nie. Die middag het die priester reguit na ons winkel toe gekom. Ek het ’n verskoning uitgedink en gesê dat ek in die winkel moes bly om my pa te help.
“Is dit werklik die rede of het daardie meisie jou beïnvloed?” het die priester my gevra.
“Daardie mense het beter oortuigings as ons”, het ek reguit gesê.
Die priester het na my pa toe gedraai en gesê: “Mnr. Economos, gooi daardie familielid van jou onmiddellik uit; sy het ’n vuur in jou huis aangesteek.”
My familie draai teen my
Dit alles het laat in die 1940’s gebeur toe Griekeland in die gewelddadige greep van ’n burgeroorlog was. Omdat my pa bang was dat guerillas my sou ontvoer, het hy gereël dat ek die dorpie verlaat en na my suster se huis gaan in die dorpie waar Katina gebly het. Gedurende die twee maande dat ek daar was, het ek geleer wat die Bybel oor verskeie kwessies sê. Ek was teleurgestel om te sien dat baie van die leerstellings van die Ortodokse Kerk onskriftuurlik is. Ek het besef dat God nie aanbidding deur middel van ikone aanvaar nie, dat verskeie godsdienstradisies—soos die verering van die kruis—nie ’n Christelike oorsprong het nie en dat ’n mens God “met gees en waarheid” moet aanbid om hom te behaag (Johannes 4:23; Eksodus 20:4, 5). Bowenal het ek geleer dat die Bybel die wonderlike hoop van ewige lewe op die aarde bied! Hierdie kosbare Bybelwaarhede was van die eerste seëninge wat ek van Jehovah ontvang het.
Intussen het my suster en haar man opgelet dat ek etenstye nie die teken van die kruis maak nie en ook nie voor godsdienstige ikone bid nie. Een aand het hulle altwee my geslaan. Die volgende dag het ek besluit om van hulle af weg te gaan, en ek is na my tante se huis toe. My swaer het my pa hiervan laat weet. Kort daarna het my pa in trane daar aangekom en probeer om my van gedagte te laat verander. My swaer het voor my gekniel en my gesmeek om hom te vergewe, wat ek gedoen het. Ten slotte het hulle my gevra om terug te kom kerk toe, maar ek het nie ingegee nie.
Terug in my pa se dorpie het die druk voortgeduur. Ek kon glad nie met Katina in aanraking kom nie, en ek het geen lektuur gehad om te lees nie, nie eers ’n Bybel nie. Ek was so bly toe een van my niggies my probeer help het. Toe sy na Korinte is, het sy ’n Getuie gevind en teruggekom met die boek “Laat God waaragtig wees” en ’n eksemplaar van die Christelike Griekse Geskrifte, wat ek in die geheim begin lees het.
My lewe neem ’n onverwagse wending
Drie jaar lank het ek hewige teenstand ondervind. Ek het geen kontak met enige Getuies gehad nie en kon ook nie lektuur ontvang nie. Maar ek het nie geweet dat daar binnekort groot veranderinge in my lewe sou plaasvind nie.
My pa het vir my gesê dat ek na my oom in Tessalonika moet gaan. Voordat ek na Tessalonika vertrek het, het ek na ’n snyerswinkel in Korinte gegaan om ’n jas te laat maak. Hoe verbaas was ek tog toe ek uitvind dat Katina daar werk! Ons was so bly om mekaar ná so ’n lang tyd weer te sien. Terwyl ons twee by die winkel uitgeloop het, het ons ’n baie aangename jong man ontmoet wat met sy fiets van die werk af op pad huis toe was. Sy naam was Charalambos. Nadat ons mekaar leer ken het, het ons besluit om te trou. Dit was ook omstreeks hierdie tyd, op 9 Januarie 1952, dat ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer het deur gedoop te word.
Charalambos was toe reeds gedoop. Ook hy het teenstand van sy familie ondervind. Charalambos was baie ywerig. Hy het as assistent-gemeentekneg gedien en baie Bybelstudies gehou. Weldra het sy broers die waarheid aangeneem, en vandag is die meeste van hulle familielede ook dienaars van Jehovah.
My pa het baie van Charalambos gehou, en daarom het hy toestemming vir die huwelik gegee, maar my ma kon nie so maklik oorreed word nie. Ten spyte van dit alles is ek en Charalambos op 29 Maart 1952 getroud. Net my oudste broer en een van my nefies het na die troue gekom. Min het ek toe geweet wat ’n onvergelyklike seën—’n ware gawe van Jehovah—Charalambos vir my sou wees! As sy metgesel kon ek my lewe om Jehovah se diens bou.
Ons versterk ons broers
In 1953 het ek en Charalambos besluit om na Atene te trek. Omdat ons meer in die predikingswerk wou doen, het Charalambos hulle familiebesigheid verlaat en deeltydse werk gekry. Ons het smiddae saam aan die Christelike bediening deelgeneem en baie Bybelstudies gehou.
As gevolg van amptelike beperkings op ons predikingswerk moes ons vindingryk wees. Ons het byvoorbeeld besluit om ’n eksemplaar van Die Wagtoring te vertoon in die venster van ’n kiosk in die middestad van Atene, waar my man deeltyds gewerk het. ’n Hooggeplaaste polisiebeampte het vir ons gesê dat dit ’n verbode tydskrif is. Maar hy het vir ’n eksemplaar gevra sodat hy by die veiligheidskantoor daaroor navraag kon doen. Nadat hulle hom verseker het dat die tydskrif wettig is, het hy teruggekom om dit vir ons te sê. Toe die ander broers met kioske hiervan hoor, het hulle ook eksemplare van Die Wagtoring in hulle kioskvensters gesit. Een man wat Die Wagtoring by ons kiosk gekry het, het ’n Getuie geword en dien nou as ’n ouer man.
Ons het ook die vreugde ervaar om te sien dat my jongste broer die waarheid leer. Hy het na Atene gekom om aan die kollege vir handelskeepvaart te studeer, en ons het hom saamgeneem na ’n byeenkoms. Ons byeenkomste is in die geheim in die woud gehou. Hy was beïndruk met wat hy gehoor het, maar het kort daarna met sy seereise begin. Op een van sy reise het hy ’n hawe in Argentinië aangedoen. Daar het ’n sendeling aan boord gekom om te getuig, en my broer het hom vir ons tydskrifte gevra. Ons was in die wolke toe ons sy brief ontvang wat gesê het: “Ek het die waarheid gevind. Ek wil inteken op die tydskrifte.” Vandag is hy en sy gesin getroue dienaars van Jehovah.
In 1958 is my man genooi om as ’n reisende opsiener te dien. Aangesien ons werk verbied was en die omstandighede baie moeilik was, het reisende opsieners gewoonlik sonder hulle vrouens gereis. In Oktober 1959 het ons die verantwoordelike broers by die takkantoor gevra of ek hom mag vergesel. Hulle het ingestem. Ons moes die gemeentes in die sentrale en noordelike deel van Griekeland besoek en aanmoedig.
Hierdie reise was nie maklik nie. Daar was bitter min teerpaaie. Omdat ons nie ’n motor gehad het nie, het ons gewoonlik met openbare vervoer of in ligte vragmotors gereis, saam met hoenders en ander handelsware. Ons het rubberstewels gedra sodat ons die modderige paaie kon aandurf. Aangesien daar in elke dorpie ’n burgermag was, moes ons die dorpies snags binnegaan om ondervraging te vermy.
Die broers het hierdie besoeke baie waardeer. Hoewel die meeste van hulle hard op hulle landerye gewerk het, het hulle hulle bes gedoen om die vergaderinge by te woon, wat laat in die nag in verskillende huise gehou is. Die broers was ook baie gasvry en het ons die beste gegee wat hulle gehad het, al het hulle baie min gehad. Soms het ons saam met die hele gesin in dieselfde kamer slaap. Om die broers se geloof, volharding en ywer te sien, was vir ons nog ’n besondere seën.
Ons diens brei uit
In Februarie 1961, terwyl ons die takkantoor in Atene besoek het, is ons gevra of ons bereid sou wees om by Bethel te dien. Ons het met Jesaja se woorde geantwoord: “Hier is ek! Stuur my” (Jesaja 6:8). Twee maande later het ons ’n brief ontvang waarin ons gevra is om so gou moontlik Bethel toe te kom. Op 27 Mei 1961 het ons dus by Bethel begin dien.
Ons het baie gehou van ons nuwe toewysing en het dadelik tuis gevoel. My man het in die Diens- en Intekeningafdeling gewerk en later ’n tyd lank as lid van die Takkomitee gedien. Ek het verskeie toewysings in die huis gehad. Die gesin het destyds uit 18 lede bestaan, maar daar was byna vyf jaar lank omtrent 40 mense omdat ’n skool vir ouer manne by Bethel gehou is. Soggens het ek die skottelgoed gewas, die kok gehelp, 12 beddens opgemaak en die tafels vir middagete gedek. Smiddae het ek klere gestryk en toilette en kamers skoongemaak. Een keer per week het ek ook in die wassery gewerk. Daar was baie werk, maar ek was bly dat ek kon help.
Ons Betheltoewysings sowel as die bediening het ons baie besig gehou. Dikwels het ons tot sewe Bybelstudies gehad. Naweke het ek saam met Charalambos na verskeie gemeentes gegaan waar hy toesprake gehou het. Ons was onafskeidbaar.
Ons het ’n Bybelstudie met ’n paartjie gehou wat noue bande met die Grieks-Ortodokse Kerk gehad het en wat persoonlik bevriend was met die geestelike wat hoof was van die kerk se agentskap teen ketters. In hulle huis was daar ’n kamer vol ikone, waar reukwerk heeltyd gebrand het en Bisantynse gesange heeldag gespeel het. Ons het hulle ’n tyd lank op Donderdae besoek om die Bybel te studeer, en hulle vriend, die geestelike, het hulle Vrydae besoek. Eendag het hulle ons gevra om dadelik na hulle huis toe te kom omdat hulle ’n verrassing vir ons het. Die eerste ding wat hulle ons gewys het, was daardie kamer. Hulle het van al die ikone ontslae geraak en die kamer opgeknap. Hierdie paartjie het verder gevorder en is gedoop. Ons het die vreugde gehad om te sien hoe sowat 50 van die mense met wie ons Bybelstudies gehou het, hulle lewe aan Jehovah toewy en gedoop word.
Die voorreg om met gesalfde broers te assosieer, was vir my ’n spesiale seën. Besoeke deur lede van die Bestuursliggaam, soos broers Knorr, Franz en Henschel, was uiters aanmoedigend. Ná meer as 40 jaar voel ek nog steeds dat Betheldiens ’n groot eer en voorreg is.
Ek moet siekte en verlies verwerk
In 1982 het my man tekens van Alzheimer se sieke begin toon. Teen 1990 het sy gesondheid al baie agteruitgegaan, en hy het uiteindelik voortdurende sorg nodig gehad. Gedurende die laaste agt jaar van sy lewe, kon ons die Bethelkompleks glad nie verlaat nie. Talle dierbare broers in die Bethelgesin, sowel as verantwoordelike opsieners, het reëlings getref om ons te help. Maar ten spyte van hulle liefdevolle hulp moes ek dikwels dag en nag ure lank na hom omsien. Soms het dit baie moeilik gegaan, en ek het menige slapelose nag gehad.
In Julie 1998 is my geliefde man oorlede. Al mis ek hom verskriklik baie, vind ek vertroosting in die wete dat hy in goeie hande is, en ek weet dat Jehovah hom tesame met miljoene ander in die opstanding sal onthou.—Johannes 5:28, 29.
Dankbaar vir Jehovah se weldade
Hoewel ek my man verloor het, is ek nie alleen nie. Ek het nog steeds die voorreg om by Bethel te dien, en ek ontvang die liefde en sorg van die hele Bethelgesin. My uitgebreide familie sluit ook geestelike broers en susters regoor Griekeland in. Al is ek nou oor die 70, kan ek nog steeds ’n vol dag in die kombuis en die eetsaal werk.
In 1999 is een van my lewenslange drome bewaarheid toe ek die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York besoek het. Ek kan nie beskryf hoe ek gevoel het nie. Dit was ’n opbouende en onvergeetlike ondervinding.
Wanneer ek terugkyk, glo ek opreg dat daar nie ’n beter manier is waarop ek my lewe kon gebruik het nie. Die beste loopbaan wat enigiemand kan volg, is om Jehovah voltyds te dien. Ek kan vol vertroue sê dat ek nog nooit iets kortgekom het nie. Jehovah het liefdevol vir my en my man gesorg, geestelik sowel as fisies. Uit persoonlike ondervinding kan ek verstaan waarom die psalmis gevra het: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?”—Psalm 116:12.
[Prent op bladsy 26]
Ek en Charalambos was onafskeidbaar
[Prent op bladsy 27]
My man in sy kantoor by die tak
[Prent op bladsy 28]
Ek voel dat Betheldiens ’n groot eer is