Gee God vir ons om?
GAAN jy gebuk onder ’n emosionele las weens probleme met jou gesin, gesondheid, werk of ander gewigtige verantwoordelikhede? Dit is die geval met baie mense. En wie word vandag nie geraak deur ongeregtigheid, misdaad en geweld nie? Ja, die Bybel sê tereg dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Dit is geen wonder nie dat baie mense vra: ‘Gee God om? Sal hy ons help?’
Die wyse koning Salomo het in gebed tot God gesê: “U alleen ken die hart van die mensekinders goed.” Salomo het die vertroue gehad dat God ons nie net ken nie, maar ook vir ons as individue omgee. Hy kon God vra om te “hoor vanuit die hemel” en die gebede van elke godvresende individu te beantwoord wat “sy eie plaag en sy eie pyn” aan God bekend maak.—2 Kronieke 6:29, 30.
Vandag gee Jehovah God nog steeds vir ons om en nooi hy ons om hom in gebed aan te roep (Psalm 50:15). Hy beloof om hartgrondige gebede te verhoor wat in ooreenstemming met sy wil is (Psalm 55:16, 22; Lukas 11:5-13; 2 Korintiërs 4:7). Ja, Jehovah luister na “watter gebed, watter versoek om guns daar ook al mag wees van enige mens of van [sy] hele volk”. As ons derhalwe ons vertroue in God stel, om sy hulp bid en nader aan hom kom, sal ons sy liefdevolle sorg en leiding ondervind (Spreuke 3:5, 6). Die Bybelskrywer Jakobus verseker ons: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.