Hoe jy jou geestelike behoeftes kan bevredig
“DIE afgelope dekade is boekwinkels oorstroom deur meer as 300 boeke oor geestelikheid in die werksplek—van Jesus CEO tot The Tao of Leadership”, sê U.S.News & World Report. Hierdie tendens is bloot ’n weerspieëling van die feit dat mense in talle welvarende lande al hoe meer hunker na geestelike leiding in die lewe. Die saketydskrif Training & Development sê in ’n kommentaar hieroor: “In ’n tyd wanneer tegnologie feitlik elke aspek van ons lewe beïnvloed, soek ons na dieper betekenis, na ’n doel en na groter persoonlike bevrediging.”
Maar waar kan ’n mens bevredigende geestelike leiding vind? In die verlede het mense hulle tot georganiseerde godsdiens gewend om hulle te help om “dieper betekenis” en “’n doel” in die lewe te vind. Vandag het baie mense georganiseerde godsdiens die rug toegekeer. ’n Opname onder 90 topbestuurders en uitvoerende hoofde het aan die lig gebring dat “mense ’n besliste onderskeid tref tussen godsdiens en geestelikheid”, sê Training & Development. Die respondente het godsdiens beskou as “onverdraagsaam en verdelend”, maar geestelikheid as “universeel en alomvattend”.
Baie jongmense in minder godsdienstige gemeenskappe soos Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en Europa tref eweneens ’n onderskeid tussen godsdiens en geestelikheid. Professor Ruth Webber skryf in Youth Studies Australia en sê: “Baie jongmense glo in God of in die een of ander bonatuurlike mag, maar beskou nie die kerk as belangrik of as iets wat hulle kan help om hulle geestelikheid uit te leef nie.”
Die ware godsdiens bevorder geestelikheid
Hierdie skeptiese beskouing van godsdiens is te begrype. Baie godsdiensorganisasies is diep betrokke by politieke knoeiery en huigelary wat sedes betref en is deurdrenk van onskuldige bloed weens tallose godsdiensoorloë. Party mense het egter nie net die godsdiensorganisasies verwerp wat deur huigelary en bedrog besoedel is nie, maar het die fout begaan om ook die Bybel te verwerp omdat hulle dink dat dit sulke dade vergoelik.
In werklikheid veroordeel die Bybel huigelary en wetteloosheid. Jesus het vir die godsdiensleiers van sy dag gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle is soos gewitte grafte, wat wel van buite mooi lyk, maar binne-in vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is. So lyk ook julle wel van buite vir die mense regverdig, maar binne-in is julle vol huigelary en wetteloosheid.”—Matteus 23:27, 28.
Bowendien moedig die Bybel Christene aan om neutraal ten opsigte van alle politieke aangeleenthede te wees. Dit spoor gelowiges nie aan om mekaar dood te maak nie, maar toon eerder dat hulle bereid moet wees om vir mekaar te sterf (Johannes 15:12, 13; 18:36; 1 Johannes 3:10-12). Die ware godsdiens, wat op die Bybel gegrond is, is “alomvattend” eerder as “onverdraagsaam en verdelend”. Die apostel Petrus het gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.
Die Bybel—’n betroubare gids tot geestelike gesondheid
Die Bybel vertel ons dat die mens na God se beeld geskep is (Genesis 1:26, 27). Dit beteken nie dat mense fisies soos God lyk nie, maar eerder dat mense die vermoë het om God se eienskappe, insluitende ’n sin vir geestelike dinge, of geestelikheid, te weerspieël.
Aangesien dit die geval is, is dit logies om te aanvaar dat God ook die middele sal voorsien om ons geestelike behoeftes te bevredig, sowel as behoorlike riglyne sodat ons kan onderskei tussen wat goed en wat skadelik vir ons geestelikheid is. Net soos God ons liggame geskep het met ’n immuunstelsel wat wonderlik ontwerp is om siekte te beveg en ons gesond te hou, het hy ons ook met ’n gewete, of innerlike stem, toegerus wat ons kan help om die regte besluite te neem en gebruike te vermy wat fisies en geestelik skadelik is (Romeine 2:14, 15). Soos ons weet, moet ons immuunstelsel die regte voeding ontvang om te werk. As ons eweneens wil hê dat ons gewete moet werk, moet ons sorg dat dit met goeie geestelike voedsel gevoed word.
Jesus het getoon watter soort voedsel ons geestelik gesond sal hou toe hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Jehovah se woorde is opgeteken in sy Woord, die Bybel, en is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). Dit hang dus van ons af of ons ons gaan inspan om daardie geestelike voedsel in te neem. Die mate waarin ons die Bybel leer ken en die beginsels daarin in ons lewe probeer toepas, sal bepaal in watter mate ons geestelik en fisies baat sal vind.—Jesaja 48:17, 18.
Is dit die inspanning werd?
Dit verg weliswaar tyd om ons geestelike gesondheid op te bou deur die Bybel te bestudeer; en dit wil voorkom of tyd al hoe skaarser word. Maar die belonings is die inspanning werd! Let op hoe ’n paar besige beroepsmense verduidelik waarom dit vir hulle belangrik is om tyd daaraan te wy om na hulle geestelike gesondheid om te sien.
Marina, ’n dokter, sê: “Ek het nooit werklik aan my geestelikheid gedink nie, totdat ek in ’n hospitaal begin werk het en die lyding van ander my diep geraak het. Toe het ek besef dat ek my geestelike behoefte moet erken en bevredig as ek voldoening en gemoedsrus wil verkry, aangesien die tempo van die lewe en die eise wat die versorging van mense stel, oorweldigend kan word vir iemand in my beroep.
“Ek studeer nou die Bybel met Jehovah se Getuies. Die studie help my om my dade en beweegredes op ’n konstruktiewe manier te ondersoek, en dit leer my om positiewer te dink sodat ek my lewe in perspektief kan hou. Ek put wel groot bevrediging uit my sekulêre loopbaan. Maar dit is my Bybelstudie wat my emosionele gesondheid verbeter het en my gehelp het om negatiewe gevoelens te beheer, om spanning te verminder en om groter geduld en medelye met mense te hê. Die toepassing van Bybelbeginsels het ook ’n positiewe uitwerking op my huwelik gehad. Bowenal het ek Jehovah leer ken en kan ek in klein mate die vrye vloei van sy heilige gees ondervind, wat my lewe groter betekenis gee.”
Nicholas, ’n argitek, sê: “Voordat ek die Bybel met Jehovah se Getuies gestudeer het, het ek nie in geestelike dinge belanggestel nie. My enigste doel in die lewe was om in my gekose beroep sukses te behaal. My Bybelstudie het my geleer dat die lewe meer behels en dat dit ’n mens ware en blywende geluk verskaf om Jehovah se wil te doen.
“My sekulêre loopbaan gee my wel ’n gevoel van bevrediging, maar dit is die Bybel wat my geleer het hoe belangrik dit is om my lewe eenvoudig te hou deur dit om geestelike dinge te laat draai. Gevolglik het ek en my vrou baie van die spanning vermy wat met ’n materialistiese lewenstyl gepaardgaan. Ons het ook talle ware vriende gemaak deur te assosieer met mense wat ’n soortgelyke geestelike lewensbeskouing het.”
Vincent, ’n regsgeleerde, sê: “’n Goeie sekulêre loopbaan kan ’n mate van bevrediging verskaf. Ek het egter gevind dat baie meer nodig is om geluk en voldoening te verkry. Voordat ek geleer het wat die Bybel oor dié onderwerp sê, is ek diep getref deur die sinloosheid van die lewe—’n mens word gebore, word groot, trou, werk om in die materiële behoeftes van jou kinders te voorsien, lei hulle op om presies dieselfde lewensiklus te volg en word uiteindelik oud en sterf.
“Dit was eers nadat ek die Bybel met Jehovah se Getuies gestudeer het dat ek bevredigende antwoorde op my vrae oor die doel van die lewe gevind het. My Bybelstudie het my gehelp om Jehovah as ’n persoon te leer ken en innig lief vir hom te word. Dit voorsien my van die grondslag om ’n gesonde geestelike uitkyk te behou terwyl ek my lewe probeer lei in ooreenstemming met wat ek geleer het sy voorneme is. Nou put ek en my vrou bevrediging uit die wete dat ons ons lewe op die betekenisvolste manier moontlik gebruik.”
Jy kan ook ’n doel in die lewe vind deur die Bybel te studeer. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help. Soos Marina, Nicholas en Vincent kan jy ook bevrediging daaruit put om meer oor Jehovah en sy voornemens vir die mensdom in die algemeen en vir jou as ’n individu te leer. Jy sal nie net nou vreugde ervaar omdat jou geestelike behoeftes bevredig word nie, maar jy sal ook die vooruitsig hê op ewige lewe in volmaakte fisiese gesondheid—’n vooruitsig wat net moontlik is vir diegene wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”.—Matteus 5:3.
Een manier waarop ons ons geestelikheid kan ontwikkel, is deur gebed. Jesus het tyd daaraan afgestaan om sy dissipels te leer hoe om te bid en vir hulle die gebed gegee wat oor die algemeen bekend is as die Onse Vader. Wat beteken daardie gebed vandag vir jou? Hoe kan jy daarby baat vind? Jy sal die antwoorde in die volgende twee artikels vind.
[Prente op bladsy 6]
Marina
[Prente op bladsy 7]
Nicholas
[Prente op bladsy 7]
Vincent