Is godsdiens die oorsaak van die mensdom se probleme?
“WANNEER godsdiens nie onenigheid aanblaas nie, tree dit soos ’n dwelm op, wat die menslike gewete afstomp en die menslike brein met ontvlugtingsfantasieë vul. . . . [Dit] veroorsaak dat mense bekrompe, bygelowig, vol haat en vrees is.” Die gewese Metodistesendeling wat hierdie woorde geskryf het, het bygevoeg: “Hierdie beskuldigings is waar. Daar is slegte en goeie godsdiens.”—Start Your Own Religion.
‘Dit is tog sekerlik onregverdige kritiek’, sê sommige dalk. Maar wie kan die feite van die geskiedenis ontken? Tot ’n groot mate het godsdiens—wat as “die diens en aanbidding van God of die bonatuurlike” gedefinieer word—’n skokkende geskiedenis. Dit behoort ons insig te gee en ons te besiel. Maar alte dikwels verwek dit eerder onenigheid, onverdraagsaamheid en haat. Waarom is dit die geval?
’n “Engel van lig” wat mense mislei
Volgens die Bybel is daar ’n baie eenvoudige antwoord. Satan die Duiwel, wat hom as “’n engel van lig” voordoen, het al miljoene mislei sodat hulle sý leringe eerder as God se leringe volg (2 Korintiërs 11:14). Die apostel Johannes het getoon dat Satan se invloed so omvangryk is dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose [lê]” (1 Johannes 5:19). Johannes het geweet dat Satan “die hele bewoonde aarde mislei”.—Openbaring 12:9.
Wat was die gevolge hiervan? Satan het godsdiensstelsels bevorder wat op die oog af heilig lyk. Hulle het die “uiterlike skyn van die godsdiens”, maar hulle ware toestand word blootgelê deur die bose vrugte wat hulle voortbring (2 Timoteus 3:5, Die Bybel, 1983; Matteus 7:15-20). In plaas van die mensdom se probleme te help oplos, word godsdiens in werklikheid ’n deel van die probleem.
Moenie daardie gedagte vinnig afmaak as vergesog of onredelik nie. Onthou, bedrog kom daarop neer dat die een wat bedrieg word, onbewus is daarvan. Die apostel Paulus het ’n voorbeeld hiervan gegee toe hy geskryf het dat “die nasies die dinge wat hulle offer, aan demone offer en nie aan God nie” (1 Korintiërs 10:20). Daardie mense sou waarskynlik geskok gewees het om te dink dat hulle demone aanbid. Hulle het gedink dat hulle ’n goeie god, of gode, van die een of ander aard aanbid. Maar in werklikheid is hulle bedrieg deur “die bose geesmagte in die hemelse plekke”, wat Satan ondersteun in sy pogings om die mensdom te mislei.—Efesiërs 6:12.
Kom ons kyk byvoorbeeld hoe talle verklaarde Christene wat verkies het om die apostel Johannes se waarskuwing oor daardie bose invloed te ignoreer, deur Satan bedrieg en mislei is.—1 Korintiërs 10:12.
Jesus se leringe het van God gekom
“Wat ek leer”, het Jesus Christus gesê, “is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Ja, wat hy mense geleer het, het van die almagtige God af gekom. Jesus se leringe het dus ’n kragtige, verkwikkende uitwerking gehad op diegene wat na hom geluister het. Dit het nie ‘die menslike gewete afgestomp of die menslike brein met ontvlugtingsfantasieë gevul’ nie. Inteendeel, Jesus se leringe het mense bevry van godsdiensdwaling en mensefilosofieë wat voortgebring is deur ’n wêreld wat weens die Duiwel se bedrog “verstandelik in duisternis” was.—Efesiërs 4:18; Matteus 15:14; Johannes 8:31, 32.
Ware Christene kon uitgeken word, nie aan ’n blote belydenis van vroomheid nie, maar aan ’n geloof wat die pragtige eienskappe weerspieël het wat deur God se heilige gees voortgebring word (Galasiërs 5:22, 23; Jakobus 1:22; 2:26). Die uitnemendste van hierdie eienskappe—en die kenmerk van die ware Christelike godsdiens—is die voortreflike eienskap liefde.—Johannes 13:34, 35.
Let egter op hierdie belangrike punt: Nóg Jesus nóg sy apostels het verwag dat die Christengemeente sou voortbestaan in die vorm waarin dit oorspronklik gestig is. Hulle het geweet dat afvalligheid sou ontwikkel en dat die ware godsdiens ’n tyd lank uit die gesig sou verdwyn.
Die ware godsdiens ’n tyd lank verberg
In ’n illustrasie oor koring en onkruid het Jesus voorspel dat die ware godsdiens ’n tyd lank feitlik verberg sou wees. Lees gerus self die verslag in Matteus 13:24-30, 36-43. Jesus het ’n saailand besaai met koring, die “goeie saad”, wat sy getroue dissipels voorgestel het wat die oorspronklike Christengemeente sou uitmaak. Hy het gewaarsku dat “’n vyand”, Satan die Duiwel, mettertyd “onkruid”—mense wat bely het dat hulle Jesus Christus volg, maar in werklikheid sy leringe verwerp het—in die koringland sou saai.
Kort ná die dood van Jesus se apostels het persone te voorskyn gekom wat getoon het dat hulle “onkruid” was omdat hulle verdraaide menseleringe bo “die woord van Jehovah” verkies het (Jeremia 8:8, 9; Handelinge 20:29, 30). Gevolglik het ’n verdorwe, valse Christelike godsdiens op die wêreldtoneel verskyn. Dit is oorheers deur wat die Bybel “die wettelose” noem—’n korrupte geestelikeklas wat self diep betrokke was by “allerhande onregverdige bedrog” (2 Tessalonisense 2:6-10). Jesus het voorspel dat hierdie situasie “in die voleinding van die stelsel van dinge” sou verander. Die koringagtige Christene sou in eenheid bymekaargemaak word en “die onkruid” sou uiteindelik vernietig word.
Dit is hierdie valse Christelike godsdiens wat verantwoordelik is vir die “eeue van uiterste barbaarsheid” en die geestelike duisternis wat die Christendom in die daaropvolgende eeue omhul het. Die apostel Petrus het dít en al die ander verdorwe en gewelddadige dinge wat sedertdien in die naam van godsdiens gedoen is, vooruitgesien en tereg voorspel: “Weens hulle [verklaarde Christene] sal die weg van die waarheid gesmaad word.”—2 Petrus 2:1, 2.
“’n Teologie van woede en haat”
Dit is beslis nie net die Christendom wat godsdiens ’n slegte naam gegee het nie. Dink byvoorbeeld aan die fundamentalistiese weergawes van “militante vroomheid”, wat volgens die voormalige non Karen Armstrong voortgebring is deur “elke vername godsdienstradisie”. Armstrong sê dat ’n beslissende toets van enige godsdiens is dat dit tot “daadwerklike medelye” moet lei. Wat is die rekord van fundamentalistiese godsdienste in hierdie verband? “Fundamentalistiese geloof”, skryf sy, “of dit nou Joods, Christen of Moslem is, faal hierdie beslissende toets as dit ’n teologie van woede en haat word” (The Battle for God—Fundamentalism in Judaism, Christianity and Islam). Maar is dit net die “fundamentalistiese” soort godsdienste wat in hierdie toets gefaal het en “’n teologie van woede en haat” geword het? Die geskiedenis toon dat dit nie die geval is nie.
Satan het in werklikheid ’n wêreldryk van valse godsdiens opgebou, wat deur woede, haat en byna eindelose bloedvergieting gekenmerk word. Die Bybel noem hierdie ryk “Babilon die Grote, die moeder van . . . die walglike dinge van die aarde”, en dit word uitgebeeld as ’n prostituut wat op die rug van ’n dierlike politieke stelsel ry. Dit is opmerkenswaardig dat sy aanspreeklik gehou word vir “die bloed . . . van almal wat op die aarde doodgemaak is”.—Openbaring 17:4-6; 18:24.
Nie almal is bedrieg nie
Die geskiedenis bewys egter dat nie almal bedrieg is nie. Selfs gedurende die donkerste tye, sê Melvyn Bragg, “het talle goeie siele gedoen wat goed is, terwyl die meeste mense om hulle boos was”. Ware Christene het aangehou om God “met gees en waarheid [te] aanbid” (Johannes 4:21-24). Hulle was afgeskeie van ’n wêreldwye godsdiensstelsel wat soos ’n prostituut opgetree het deur “’n ondersteuner van militêre mag” te word. Hulle het geweier om gewikkel te raak in ’n vriendskaplike verhouding tussen Kerk en Staat, wat volgens die geskiedenis “eerder ’n ooreenkoms was wat deur Satan gesluit is as deur Jesus van Nasaret”.—Two Thousand Years—The Second Millennium: From Medieval Christendom to Global Christianity.
In onlangser tye het Jehovah se Getuies bekend geword vir hulle goeie invloed. Hulle het hulle oortuigings en dade uitsluitlik op God se geïnspireerde Woord, die Bybel, gegrond om enige besmetting deur valse godsdiens te vermy (2 Timoteus 3:16, 17). En soos eerste-eeuse Christene het hulle Jesus se opdrag nagekom om “geen deel van die wêreld” te wees nie (Johannes 15:17-19; 17:14-16). In Nazi-Duitsland het hulle byvoorbeeld geweier om Christelike beginsels prys te gee en was hulle derhalwe onaanvaarbaar volgens Nazi-ideologie. Om dié rede het Hitler hulle gehaat. ’n Skoolhandboek sê: “Jehovah se Getuies . . . het die Bybel se leer gevolg deur nie wapens op te neem om enige saak te bevorder nie. Hulle het dus geweier om in die leër te dien of om enigiets met die Nazi’s te doen te hê. Uit wraak het die SS hele gesinne van Jehovah se Getuies gevange geneem. Ongeveer ’n derde van alle Jehovah se Getuies [in Duitsland] is in konsentrasiekampe vermoor.”—Germany—1918-45.
Ander moedige persone van verskeie godsdienste het natuurlik ook vir hulle oortuigings gely. Maar Jehovah se Getuies het dit as ’n verenigde godsdiensgroep gedoen. Die oorgrote meerderheid het ferm by die skriftuurlike grondbeginsel gebly dat hulle “eerder aan God as heerser gehoorsaam [moet] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29; Markus 12:17.
Die oorsaak van die probleem
Dit is dus net gedeeltelik waar dat godsdiens die oorsaak van al die mensdom se probleme is. Valse godsdiens is wel. Maar dit is God se voorneme om binnekort alle valse godsdiens te verwyder (Openbaring 17:16, 17; 18:21). Sy bevel aan enigiemand wat geregtigheid en regverdigheid liefhet, is: “Gaan uit haar [dit wil sê, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens] uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie. Want haar sondes het tot aan die hemel opgehoop en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4, 5). Ja, God self word diep gegrief deur godsdiens wat ‘onenigheid aanblaas, die menslike gewete afstomp, die menslike brein met ontvlugtingsfantasieë vul en veroorsaak dat mense bekrompe, bygelowig en vol haat en vrees is’!
Intussen bring God diegene wat die waarheid liefhet, bymekaar in die ware godsdiens. Dit is die godsdiens wat by die beginsels en leringe van ’n liefdevolle, regverdige en medelydende Skepper bly (Miga 4:1, 2; Sefanja 3:8, 9; Matteus 13:30). Jy kan deel daarvan wees. As jy meer inligting wil hê oor hoe ’n mens die ware godsdiens kan identifiseer, kan jy gerus skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif of enige van Jehovah se Getuies vra om jou te help.
[Prent op bladsy 7]
Mense uit alle agtergronde het geluk gevind in die ware godsdiens