Die prag van Jehovah se skepping
‘U is majestueuser as die berge’
DIT is ’n onvergeetlike ondervinding om op die top van die berg Foedji te staan en te sien hoe die dag breek. ’n Vuurrooi son verskyn plotseling op die horison en verlig die wit sneeu en die grys lawarots. Terwyl ’n nuwe dag begin, sprei die berg se duidelike skaduwee kilometers ver oor heuwels en valleie.
Soos in die geval van die berg Foedji—wat eens op ’n tyd in karakters geskryf is wat “sonder gelyke” beteken—laat majestueuse berge ons altyd met ’n gevoel van verwondering. Hulle grote alleen is genoeg om ons nederig te laat voel! Omdat berge so majestueus is, het baie mense geglo dat die hoogste pieke, wat dikwels in mis en wolke gehul is, die woonplek van die gode is.
Die enigste God wat waarlik deur die bergpieke verheerlik word, is hulle meesterlike Skepper, Jehovah. Hy alleen is “die Formeerder van die berge” (Amos 4:13). Bykans ’n kwart van die aarde is bergagtig, en toe God ons planeet geskep het, het hy kragte in werking gestel wat uiteindelik skouspelagtige pieke en bergreekse voortgebring het (Psalm 95:4). Daar word byvoorbeeld gemeen dat die Himalaja- en die Andesbergreekse gevorm is deur geweldige opheffings diep binne die aarde en deur die beweging van dele van die aardkors.
As mense verstaan ons nie ten volle hoe en waarom berge in aansyn gekom het nie. Ja, ons kan nie hierdie vrae beantwoord wat aan regverdige Job gestel is nie: “Waar was jy toe ek [Jehovah] die aarde gegrondves het? . . . Waarin is sy voetstukke neergelaat?”—Job 38:4-6.
Maar wat ons wel weet, is dat ons lewe afhanklik is van die berge. Hulle is al die natuur se watertorings genoem, aangesien al die groot riviere gevoed word deur water wat van berge afkomstig is en die helfte van die mense op aarde van berge afhanklik is vir hulle water (Psalm 104:13). Volgens die tydskrif New Scientist “het ses van die wêreld se 20 vernaamste voedselgewasse hulle oorsprong in die berge”. Wanneer die ekologiese balans in God se beloofde nuwe wêreld herstel is, “sal [daar] volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees”.—Psalm 72:16; 2 Petrus 3:13.
Wanneer daar van berge gepraat word, dink baie mense aan die Europese Alpe. Hierdie pieke, onder andere die berg Civetta op die bygaande foto, getuig op wonderlike wyse van hulle Skepper (Psalm 98:8). Hulle bring lof aan Jehovah, die een wat ‘die berge stewig grondves met sy krag’.—Psalm 65:6.a
Die prag van die Alpe—die sneeubedekte pieke, riwwe en hange, die valleie en mere en die graslande—is inderdaad ontsagwekkend. Koning Dawid het Jehovah geïdentifiseer as “die Een wat op die berge groen gras laat uitspruit”.—Psalm 147:8.
Heuwelreekse—soos hierdie heuwels in Guilin, China—lyk dalk minder indrukwekkend as die Alpe, maar hulle het ’n unieke skoonheid. Besoekers is beïndruk wanneer hulle, al langs die Li-rivier, die prag aanskou van die een ry kalksteenspitse na die ander. Die helder water wat deur hierdie mistige heuwels vloei, herinner ’n mens moontlik aan die psalmis se woorde: “Hy [Jehovah] stuur fonteine in die stroomvalleie; tussen die berge bly hulle vloei.”—Psalm 104:10.
Ons word tereg beïndruk deur berge omdat dit ’n majestueuse deel van die Skepper se liefdevolle voorsienings vir die welstand en genot van die mens is. Maar al is die berge ontsagwekkend, kan dit nie vergelyk word met Jehovah se majesteit nie. Hy is waarlik ‘majestueuser as die berge’.—Psalm 76:4.
[Voetnoot]
a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2004, Maart/April.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Tien persent van die wêreldbevolking woon in bergagtige gebiede. Maar dit is nie ’n onoorkombare struikelblok vir diegene wat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig nie. Hierdie Christenbedienaars is baie bedrywig in talle streke wat hoog bo seespieël lê. En “hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig”!—Jesaja 52:7.
“Die hoë berge is vir die bergbokke”, het die psalmis gesing (Psalm 104:18). Bergbokke, soos die Nubiese ibeks met sy pragtige horings, is van al die bergbewoners die vasste op hulle voete. Hulle loop op rotslyste wat so smal is dat dit onbegaanbaar lyk. Die ibeks is goed toegerus vir die lewe in onbereikbare plekke. Dit is deels te danke aan die ontwerp van sy hoewe. Die spleet kan ooprek onder die bok se gewig sodat die dier ’n stewige houvas het wanneer hy op smal rotslyste staan of beweeg. Die ibeks is gewis meesterlik ontwerp!
[Prent op bladsy 9]
Die berg Foedji, Honsjoe, Japan