“Doen die werk van ’n evangeliedienaar”
“Bly . . . in alles nugter van verstand, . . . doen die werk van ’n evangeliedienaar.”—2 Timoteus 4:5.
1. Watter opdrag het Jesus aan sy volgelinge gegee?
JEHOVAH se naam en voornemens word oor die hele aarde bekend gemaak. Dit is omdat God se toegewyde knegte die opdrag ter harte neem wat Jesus Christus aan sy volgelinge gegee het: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.
2. Watter aansporing het die opsiener Timoteus ontvang, en wat is een manier waarop Christenopsieners hulle bediening kan uitvoer?
2 Jesus se eerste-eeuse dissipels het daardie opdrag ernstig opgeneem. Die apostel Paulus het byvoorbeeld sy mede-Christenopsiener Timoteus aangespoor: “Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Timoteus 4:5). Een manier waarop ’n opsiener vandag sy bediening uitvoer, is deur ’n ywerige Koninkryksverkondiger te wees, een wat gereeld aan die veldbediening deelneem. Die Gemeentelike Boekstudieopsiener het byvoorbeeld die lonende voorreg om die leiding in die predikingswerk te neem en ander op te lei. Paulus het sy persoonlike verantwoordelikheid nagekom om die goeie nuus bekend te maak, en hy het gehelp om ander vir die bediening op te lei.—Handelinge 20:20; 1 Korintiërs 9:16, 17.
Ywerige evangeliedienaars van vroeër tye
3, 4. Watter ondervindinge het Filippus as ’n evangeliedienaar gehad?
3 Die vroeë Christene was bekend as ywerige evangeliedienaars. Beskou die voorbeeld van die evangeliedienaar Filippus. Hy was een van die “sewe manne van goeie getuienis . . . , vol gees en wysheid”, wat gekies is om toe te sien dat die daaglikse voedselverdeling onder die Griekssprekende en die Hebreeussprekende Christenweduwees in Jerusalem op onpartydige wyse geskied (Handelinge 6:1-6). Nadat daardie spesiale diens tot ’n einde gekom het en almal behalwe die apostels deur vervolging verstrooi is, het Filippus na Samaria gegaan. Daar het hy die goeie nuus bekend gemaak en met krag van die heilige gees demone uitgedryf en verlamdes en kreupeles genees. Baie Samaritane het die Koninkryksboodskap aangeneem en is gedoop. Toe die apostels in Jerusalem hiervan te hore kom, het hulle die apostels Petrus en Johannes na Samaria gestuur sodat die pas gedoopte gelowiges die heilige gees kon ontvang.—Handelinge 8:4-17.
4 God se gees het Filippus vervolgens na die Etiopiese eunug op die pad na Gasa gelei. Nadat Filippus Jesaja se profesie deeglik aan hom verduidelik het, het hierdie “maghebber onder Kandake, die koningin van die Etiopiërs”, geloof in Jesus Christus gestel en is hy gedoop (Handelinge 8:26-38). Daarvandaan is Filippus na Asdod en toe na Sesarea, en onderweg het hy “die goeie nuus aan al die stede” bekend gemaak (Handelinge 8:39, 40). Hy het beslis ’n goeie voorbeeld gestel in die manier waarop hy die werk van ’n evangeliedienaar gedoen het!
5. Waarvoor was Filippus se vier dogters veral bekend?
5 Ongeveer 20 jaar later was Filippus nog steeds bedrywig in die bediening in Sesarea. Toe Paulus en Lukas in sy huis tuisgegaan het, het hy “vier dogters gehad, maagde, wat geprofeteer het” (Handelinge 21:8-10). Hulle was beslis geestelik goed opgelei, was ywerig vir die bediening en het selfs die voorreg gehad om te profeteer. Ook vandag kan ouers se ywer vir die bediening ’n goeie invloed op seuns en dogters hê en hulle beweeg om ywerige evangelisasiewerk hulle lewenstaak te maak.
Ywerige evangeliedienaars van vandag
6. Watter sukses het eerste-eeuse evangeliedienaars gehad?
6 In sy betekenisvolle profesie wat na ons dag en die tyd van die einde wys, het Jesus Christus gesê: “Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Die einde sou kom nadat die goeie nuus “in die hele bewoonde aarde” verkondig is (Matteus 24:14). Toe Paulus en ander eerste-eeuse evangeliedienaars die goeie nuus verkondig het, het baie mense gelowiges geword en is gemeentes op die een plek na die ander oor die hele Romeinse Ryk gestig. Ouer manne wat aangestel is om in hierdie gemeentes te dien, het saam met hulle broers en susters aan die evangelisasiewerk deelgeneem en die predikingswerk wyd en syd uitgebrei. Jehovah se woord het in daardie dae bly groei en seëvier, soos vandag ook die geval is omdat miljoene Getuies van Jehovah die werk van evangeliedienaars doen (Handelinge 19:20). Het jy jou standpunt ingeneem as een van daardie vreugdevolle lowers van Jehovah?
7. Wat doen Koninkryksverkondigers vandag?
7 Talle hedendaagse Koninkryksverkondigers benut geleenthede om hulle deelname aan die evangelisasiewerk te vergroot. Duisende het sendelinge geword en honderdduisende neem as gewone en hulppioniers aan die voltydse evangelisasiewerk deel. En watter uitstekende werk verrig manne, vroue en kinders tog wat as ywerige Koninkryksverkondigers dien! Ja, al Jehovah se knegte geniet sy ryk seën terwyl hulle hom skouer aan skouer dien as Christenevangeliedienaars.—Sefanja 3:9.
8. Watter merkwerk word tans gedoen, en deur wie?
8 God het Jesus se gesalfde volgelinge die verantwoordelikheid gegee om die goeie nuus oor die hele aarde te verkondig. ’n Toenemende aantal “ander skape” van Christus is saam met hulle bedrywig in hierdie evangelisasiewerk (Johannes 10:16). In ’n profesie word hierdie lewensreddende werk vergelyk met ’n merk wat gemaak word op die voorkoppe van diegene wat sug en steun oor die verfoeilike dinge wat nou plaasvind. Die goddeloses sal binnekort vernietig word. Wat ’n voorreg is dit tog om intussen lewensreddende waarhede na die bewoners van die aarde te neem!—Esegiël 9:4-6, 11.
9. Hoe kan nuwelinge in die bediening gehelp word?
9 As ons al ’n geruime tyd aan die evangelisasiewerk deelneem, kan ons heel waarskynlik iets doen om nuwelinge in die gemeente te help. Dalk kan ons hulle af en toe nooi om saam met ons in die bediening te werk. Diegene wat as ouer manne dien, doen alles in hulle vermoë om medegelowiges geestelik op te bou. Die uitstekende pogings van nederige ouer manne kan ander grootliks help om ywerige, produktiewe evangeliedienaars te wees.—2 Petrus 1:5-8.
Getuieniswerk van huis tot huis
10. Watter voorbeeld het Christus en sy vroeë volgelinge in die bediening gestel?
10 Jesus Christus het vir sy volgelinge ’n voortreflike voorbeeld as ’n evangeliedienaar gestel. God se Woord sê aangaande die bediening van Christus en sy apostels: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak. En die twaalf was saam met hom” (Lukas 8:1). Wat van die apostels self? Nadat die heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is, het hulle “elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak”.—Handelinge 5:42.
11. Wat het die apostel Paulus volgens Handelinge 20:20, 21 in sy bediening gedoen?
11 Weens sy ywerige evangelisasiewerk kon die apostel Paulus vir die Christen- ouer manne in Efese sê: “Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle alles te vertel wat nuttig is of om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.” Het Paulus, toe hy ‘van huis tot huis geleer het’, die huise van medeaanbidders van Jehovah besoek om herdersbesoeke by gelowiges te doen? Nee, want hy verduidelik verder: “Ek het aan Jode sowel as Grieke deeglik oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus getuig” (Handelinge 20:20, 21). Oor die algemeen sou diegene wat reeds aan Jehovah toegewy was, nie onderrigting oor “berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus” nodig gehad het nie. Paulus het die Christen- ouer manne van Efese in die huis-tot-huis-bediening opgelei terwyl hy ongelowiges oor berou en geloof geleer het. Sodoende het Paulus die metode van Jesus gevolg.
12, 13. Wat het Jehovah se knegte in ooreenstemming met Filippense 1:7 gedoen aangaande hulle reg om te getuig?
12 Die huis-tot-huis-bediening kan ’n uitdaging wees. Dit ontstel byvoorbeeld sommige mense wanneer ons met die Bybelboodskap na hulle deure toe kom. Ons wil nie mense ontstel nie. Die huis-tot-huis-bediening is egter ’n skriftuurlike opdrag, en liefde vir God en ons naaste motiveer ons om op hierdie manier te getuig (Markus 12:28-31). Ons het ons reg om van huis tot huis te getuig, ‘verdedig en wetlik bevestig’ deur sake na die howe, onder andere die Hooggeregshof van die Verenigde State, te neem (Filippense 1:7). Die beslissings van daardie hof was feitlik sonder uitsondering in ons guns. Die volgende uitspraak is ’n tipiese voorbeeld:
13 “Die persoonlike verspreiding van godsdienstraktate is ’n eeue oue vorm van sendingevangelisasie—so oud soos die geskiedenis van die drukpers. Dit het deur die jare heen ’n groot rol gespeel in verskeie godsdiensbewegings. Hierdie vorm van evangelisasie word vandag op groot skaal deur verskeie godsdienssektes gebruik wie se kolporteurs die Evangelie na derduisende huise neem en deur persoonlike besoeke aanhangers vir hulle geloof probeer werf. . . . Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging [van die Amerikaanse Grondwet] as aanbidding in die kerke en die hou van preke van die kansels af.”—Murdock v. Pennsylvania, 1943.
Waarom volhard in die predikingswerk?
14. Watter resultate kan ons gesamentlike pogings in ons bediening oplewer?
14 Daar is baie redes om van huis tot huis te getuig. Elke keer wanneer ons ’n huisbewoner besoek, probeer ons ’n saadjie van Bybelwaarheid plant. Deur middel van herbesoeke probeer ons dit natgooi. En ons gesamentlike pogings kan goeie resultate oplewer, want Paulus het geskryf: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei” (1 Korintiërs 3:6). Laat ons dus voortgaan om ‘te plant en nat te gooi’, vol vertroue dat Jehovah ‘dit sal laat groei’.
15, 16. Waarom gaan ons herhaaldelik terug na mense se huise?
15 Ons doen die werk van evangeliedienaars omdat lewens op die spel is. Deur middel van die predikingswerk kan ons onsself red en diegene wat na ons luister (1 Timoteus 4:16). Sal ons, as ons weet dat iemand se lewe in gevaar is, net ’n halfhartige poging aanwend om hom te help? Nouliks! Aangesien dit redding kan beteken, gaan ons herhaaldelik terug na mense se huise. Omstandighede bly verander. Iemand wat by een geleentheid te besig is om te luister, sal dalk gewillig wees om op ’n ander tyd na die Bybelboodskap te luister. Dalk maak ’n ander lid van die gesin die deur oop en lei dit tot ’n Bybelbespreking.
16 Nie net die omstandighede van huisbewoners nie, maar ook hulle gesindheid kan verander. Die pynlike verlies wanneer ’n geliefde sterf, kan ’n individu byvoorbeeld beweeg om na die Koninkryksboodskap te luister. Ons wil die persoon graag vertroos, hom bewus maak van sy geestelike behoefte en hom wys hoe dit bevredig kan word.—Matteus 5:3, 4.
17. Wat is die vernaamste rede vir ons predikingsbedrywigheid?
17 Die vernaamste rede waarom ons van huis tot huis getuig of aan ander aspekte van die Christelike bediening deelneem, is omdat ons graag Jehovah se naam bekend wil maak (Eksodus 9:16; Psalm 83:18). Hoe lonend is dit tog wanneer ons evangelisasiewerk liefhebbers van waarheid en regverdigheid help om lowers van Jehovah te word! “Jong manne en ook maagde, ou manne saam met seuns”, het die psalmis gesing. “Laat hulle die naam van Jehovah loof, want sy naam alleen is onbereikbaar hoog. Sy waardigheid is oor aarde en hemel.”—Psalm 148:12, 13.
Evangelisasie strek ons persoonlik tot voordeel
18. Hoe strek dit ons tot voordeel om die evangelisasiewerk te doen?
18 Die werk van ’n evangeliedienaar strek ons op verskillende maniere persoonlik tot voordeel. Wanneer ons van huis tot huis gaan, help dit ons om nederigheid aan te kweek, veral as ons nie vriendelik ontvang word nie. Om as evangeliedienaars welslae te behaal, moet ons soos Paulus wees, wat ‘alles vir alle soorte mense geword het sodat hy sommige kon red’ (1 Korintiërs 9:19-23). Ondervinding in die bediening help ons om taktvol te wees. Deur op Jehovah te vertrou en ons woorde goed te kies, kan ons Paulus se raad toepas: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”—Kolossense 4:6.
19. Hoe help die heilige gees evangeliedienaars?
19 Die evangelisasiewerk beweeg ons ook om op God se heilige gees staat te maak (Sagaria 4:6). En dit laat weer die vrugte daarvan—“liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”—duidelik na vore kom in ons bediening (Galasiërs 5:22, 23). Dit beïnvloed ons handelinge met mense, want as ons ons deur die gees laat lei, help dit ons om liefde te beoefen, om vreugdevol en vredeliewend te wees, om lankmoedig en goedhartig te wees, om goedheid en geloof te weerspieël en om sagmoedigheid en selfbeheersing te openbaar terwyl ons die goeie nuus verkondig.
20, 21. Watter seëninge en voordele kan ons geniet as ons besig bly as evangeliedienaars?
20 Nog ’n seën wat ons as evangeliedienaars ontvang, is dat ons simpatieker word. Wanneer mense hulle probleme meld—siekte, werkloosheid, gesinsprobleme—tree ons nie as raadgewers op nie, maar ons wys vir hulle bemoedigende en vertroostende tekste. Ons is besorg oor mense wat geestelik verblind is, maar wat lyk of hulle ’n liefde vir regverdigheid het (2 Korintiërs 4:4). En wat ’n seën is dit tog om geestelike hulp te verleen aan diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het!—Handelinge 13:48.
21 ’n Gereelde deelname aan die evangelisasiewerk help ons om ons verstand op geestelike dinge gevestig te hou (Lukas 11:34). Dit is beslis voordelig, aangesien ons andersins kan swig voor materialistiese versoekings wat so algemeen in hierdie wêreld is. Die apostel Johannes het Christene gemaan: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld. Wat meer is, die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). As ons besig bly as evangeliedienaars wat baie het om in die Here se werk te doen, help dit ons om nie die wêreld lief te hê nie.—1 Korintiërs 15:58.
Gaar skatte in die hemel op
22, 23. (a) Watter skatte gaar Christenevangeliedienaars op? (b) Hoe sal die volgende artikel ons help?
22 Ywerige Koninkrykspredikingswerk bring blywende voordele mee. Jesus het dit getoon toe hy gesê het: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”—Matteus 6:19-21.
23 Laat ons voortgaan om skatte in die hemel op te gaar, in die wete dat ons geen groter voorreg kan hê as om die Soewereine Heer Jehovah as sy Getuies te verteenwoordig nie (Jesaja 43:10-12). Terwyl ons ons opdrag as God se bedienaars uitvoer, voel ons heel moontlik soos die Christenvrou in haar negentigerjare wat oor haar lang lewe in God se diens gesê het: “Deur dit alles heen dank ek Jehovah dat hy al hierdie jare geduldig was met my, en dit is my vurige gebed dat hy vir ewig my liefdevolle Vader sal wees.” As ons eweneens ons verhouding met God koester, sal ons sekerlik die werk van ’n evangeliedienaar ten volle wil doen. Die volgende artikel sal ons help om te sien hoe ons ons bediening ten volle kan uitvoer.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom moet ons die werk van ’n evangeliedienaar doen?
• Wat kan jy sê oor die werk van evangeliedienaars destyds en vandag?
• Waarom getuig ons van huis tot huis?
• Hoe strek dit jou persoonlik tot voordeel om die werk van ’n evangeliedienaar te doen?
[Prente op bladsy 10]
Vandag is daar talle vreugdevolle evangeliedienaars, soos Filippus en sy dogters was
[Prent op bladsy 14]
Hoe strek dit jou persoonlik tot voordeel wanneer jy die goeie nuus aan ander verkondig?