Weerstaan die gees van ’n veranderende wêreld
“Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom.”—1 KORINTIËRS 2:12.
1. Op watter maniere is Eva bedrieg?
“DIE slang—hy het my bedrieg” (Genesis 3:13). Met daardie paar woorde het die eerste vrou, Eva, probeer verduidelik waarom sy ’n weg van opstandigheid teen Jehovah God ingeslaan het. Wat sy gesê het, was waar, maar dit was geen verskoning vir haar sonde nie. Die apostel Paulus is later geïnspireer om te skryf: “[Eva] is geheel en al bedrieg” (1 Timoteus 2:14). Sy is bedrieg om te glo dat ’n daad van ongehoorsaamheid—om die verbode vrug te eet—haar tot voordeel sou strek, haar soos God sou laat word. Sy is ook bedrieg wat die identiteit betref van die een wat haar mislei het. Min het sy geweet dat die slang bloot ’n mondstuk vir Satan die Duiwel was.—Genesis 3:1-6.
2. (a) Hoe mislei Satan mense vandag? (b) Wat is “die gees van die wêreld”, en watter vrae gaan ons nou bespreek?
2 Sedert die tyd van Adam en Eva het Satan aangehou om mense te bedrieg. Feit is dat hy “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Sy taktiek het nie verander nie. Hoewel hy nie meer ’n letterlike slang gebruik nie, verberg hy nog steeds sy identiteit. Deur gebruik te maak van die vermaaklikheidsbedryf, die media en ander middele, mislei Satan mense om te glo dat hulle nie God se liefdevolle leiding nodig het nie en dat dit ook nie tot hulle voordeel is nie. Die Duiwel se veldtog van bedrog het oral in die wêreld ’n gees van opstandigheid teen Bybelwette en -beginsels laat ontstaan. Die Bybel noem dit “die gees van die wêreld” (1 Korintiërs 2:12). Hierdie gees het ’n kragtige invloed op die opvattings, gesindhede en gedrag van diegene wat God nie ken nie. Hoe word hierdie gees geopenbaar, en hoe kan ons die verderflike invloed daarvan weerstaan? Kom ons kyk.
Sedelike waardes gaan agteruit
3. Waarom kan “die gees van die wêreld” in hedendaagse tye al hoe duideliker gesien word?
3 In hedendaagse tye kan “die gees van die wêreld” al hoe duideliker gesien word (2 Timoteus 3:1-5). Jy het waarskynlik al opgelet dat sedelike waardes agteruitgaan. Die Skrif verduidelik waarom dit so is. Nadat God se Koninkryk in die jaar 1914 opgerig is, het oorlog in die hemel uitgebreek. Satan en sy demoonengele is oorwin en neergewerp na die omgewing van die aarde. Met groot woede het Satan sy veldtog van aardwye bedrog verskerp (Openbaring 12:1-9, 12, 17). Hy probeer op elke denkbare manier “om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei” (Matteus 24:24). As God se volk is ons sy hoofteiken. Hy wil ons geestelikheid vernietig sodat ons Jehovah se guns en die vooruitsig op die ewige lewe sal verloor.
4. Hoe beskou Jehovah se knegte die Bybel, en hoe beskou die wêreld dit?
4 Satan probeer twyfel saai oor die Bybel, die kosbare boek wat ons van ons liefdevolle Skepper leer. Jehovah se knegte het ’n liefde en waardering vir die Bybel. Ons weet dat dit die geïnspireerde Woord van God is, nie die woord van mense nie (1 Tessalonisense 2:13; 2 Timoteus 3:16). Satan se wêreld wil ons egter tot ander insigte bring. Die voorwoord van ’n boek wat die Bybel aanval, sê byvoorbeeld: “Daar is niks ‘heiligs’ omtrent die Bybel nie, en dit is ook nie ‘die woord van God’ nie. Dit is nie deur godgeïnspireerde heiliges geskryf nie, maar deur magsugtige priesters.” Diegene wat hulle laat oorreed om sulke bewerings te glo, kan maklik slagoffers word van die verkeerde opvatting dat hulle God kan aanbid op enige manier wat hulle goeddink—of dat hulle hom glad nie hoef te aanbid nie.—Spreuke 14:12.
5. (a) Wat het ’n skrywer beweer oor godsdienste wat met die Bybel vereenselwig word? (b) Hoe vergelyk algemene wêreldse idees met wat die Bybel sê? (Sluit die venster op die volgende bladsy in.)
5 Direkte en indirekte aanvalle op die Bybel, tesame met die godsdienshuigelary van diegene wat beweer dat hulle dit ondersteun, het gelei tot ’n groter teësin in godsdiens, met inbegrip van godsdiens wat met die Bybel vereenselwig word. In die nuusmedia en akademiese kringe word godsdiens aangeval. ’n Skrywer sê: “Die meeste mense het ’n negatiewe beskouing van Judaïsme en die Christelike godsdiens. In die gunstigste geval word dit as ouderwets beskou; in die ergste geval as verouderde beskouings wat intellektuele volwassenheid teëwerk en wetenskaplike vooruitgang belemmer. In onlangse jare het minagting toegeneem en tot bespotting en openlike vyandigheid gelei.” Hierdie vyandigheid ontstaan dikwels by diegene wat ontken dat God bestaan en wat “leeghoofdig in hulle redenasies” geword het.—Romeine 1:20-22.
6. Watter beskouing het die wêreld van seksuele gebruike wat deur God veroordeel word?
6 Dit is dus glad nie verbasend dat mense al hoe verder van God se gedragstandaarde afwyk nie. Byvoorbeeld, die Bybel beskryf homoseksuele verhoudings as ‘onwelvoeglik’ (Romeine 1:26, 27). Dit sê ook dat diegene wat hoerery en egbreuk beoefen, nie God se Koninkryk sal beërf nie (1 Korintiërs 6:9). En tog word hierdie seksuele gebruike in baie lande nie net as aanvaarbaar beskou nie, maar dit word ook in boeke, tydskrifte, liedjies, rolprente en TV-programme as iets begeerliks voorgestel. Diegene wat hulle teen sulke gebruike uitspreek, word as onverdraagsaam, veroordelend en heeltemal outyds beskou. In plaas van God se standaarde as blyke van liefdevolle besorgdheid te sien, beskou die wêreld dit as hindernisse op ons weg na persoonlike vryheid en vervulling.—Spreuke 17:15; Judas 4.
7. Watter vrae moet ons ons afvra?
7 Aangesien ons in ’n wêreld lewe wat al hoe meer verstok raak in hulle verset teen God, sal dit verstandig wees om ons eie gesindheid en waardes in oënskou te neem. Ons moet onsself van tyd tot tyd biddend en eerlik ondersoek om seker te maak dat ons nie geleidelik wegdryf van Jehovah se denke en standaarde nie. Ons kan ons byvoorbeeld afvra: ‘Word ek vermaak deur onderwerpe wat ek ’n paar jaar gelede sou verwerp het? Het ek verdraagsamer geword teenoor gebruike wat God veroordeel? Is ek geneig om geestelike sake in ’n minder ernstige lig te beskou as in die verlede? Toon my lewenswyse dat ek Koninkryksbelange eerste in my lewe stel?’ (Matteus 6:33). Sulke nadenke sal ons help om die gees van die wêreld te weerstaan.
‘Moet nooit wegdryf nie’
8. Hoe kan iemand van Jehovah wegdryf?
8 Die apostel Paulus het aan mede-Christene geskryf: “Dit [is] nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie” (Hebreërs 2:1). ’n Skip wat wegdryf, bereik nie sy bestemming nie. As ’n kaptein nie let op die wind en die seestrome nie, kan sy skip maklik verby ’n veilige hawe dryf en op die rotse loop. As ons nie let op die kosbare waarhede van God se Woord nie, kan ons eweneens maklik van Jehovah wegdryf en geestelik skipbreuk ly. Ons hoef nie die waarheid noodwendig heeltemal te verwerp om so ’n verlies te ly nie. Trouens, daar is min mense wat Jehovah skielik en doelbewus verwerp. Hulle raak eerder geleidelik betrokke by iets wat hulle aandag van God se Woord aflei. Hulle dryf amper ongemerk in ’n sondige weg in. Soos ’n kaptein wat aan die slaap is, word sulke individue eers wakker wanneer dit te laat is.
9. Hoe het Jehovah Salomo geseën?
9 Beskou byvoorbeeld die lewensweg van Salomo. Jehovah het die koningskap oor Israel aan hom toevertrou. God het Salomo gebruik om die tempel te bou en dele van die Bybel te skryf. Jehovah het by twee geleenthede met hom gepraat en hom rykdom, roem en ’n vreedsame heerskappy gegee. Bowenal het Jehovah Salomo met groot wysheid geseën. Die Bybel sê: “God het aan Salomo wysheid en begrip in baie groot mate bly gee, en ruimheid van hart, soos die sand wat aan die seestrand is. En Salomo se wysheid was oorvloediger as die wysheid van al die Oosterlinge en as al die wysheid van Egipte” (1 Konings 4:21, 29, 30; 11:9). ’n Mens sou dalk dink dat Salomo, van alle mense, beslis aan God getrou sou bly. En tog het Salomo weggedryf en afvallig geword. Hoe het dit gebeur?
10. Aan watter riglyn was Salomo ongehoorsaam, en hoe het sake afgeloop?
10 Salomo het ’n deeglike kennis en begrip van God se Wet gehad. Hy sou ongetwyfeld baie belanggestel het in die riglyne wat uiteengesit is vir diegene wat konings in Israel geword het. Een van hierdie riglyne het gesê: “[Die koning] mag ook nie vir hom baie vrouens neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie” (Deuteronomium 17:14, 17). Ten spyte van daardie duidelike riglyn het Salomo sewehonderd vrouens en driehonderd byvrouens geneem. Baie van hierdie vrouens het vreemde gode aanbid. Ons weet nie waarom Salomo soveel vrouens geneem het nie, en ook weet ons nie hoe hy dit verantwoord het nie. Wat ons wel weet, is dat hy ongehoorsaam was aan God se duidelike riglyn. Sake het afgeloop presies soos Jehovah gewaarsku het. Ons lees: “[Salomo se] vrouens het sy hart geleidelik . . . laat afwyk om ander gode te volg” (1 Konings 11:3, 4). “Geleidelik”—maar seker—het sy goddelike wysheid vervaag. Hy het weggedryf. Mettertyd het Salomo se begeerte om sy heidense vrouens te behaag, sy begeerte verdring om God te gehoorsaam en te behaag. Hoe tragies tog, want juis Salomo het vroeër hierdie woorde neergeskryf: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee”!—Spreuke 27:11.
Die gees van die wêreld is kragtig
11. Hoe word ons denke geraak deur die dinge wat ons in ons verstand inneem?
11 Ons leer uit Salomo se voorbeeld dat dit gevaarlik is om te redeneer dat wêreldse invloede nie werklik ons denke sal raak nie omdat ons die waarheid ken. Net soos fisiese voedsel ’n uitwerking op ons liggaam het, het verstandelike “voedsel” ’n uitwerking op ons denke. Die dinge waarmee ons ons verstand voed, vorm ons denke en gesindheid. Maatskappye besef dit en spandeer elke jaar miljarde rande om hulle produkte te adverteer. Geslaagde advertensies span woorde en beelde op bekwame wyse in om die verbruiker se begeertes te wek en sy verbeelding gaande te maak. Adverteerders weet ook dat mense ná die eerste of tweede keer dat hulle ’n advertensie sien, gewoonlik nie oortuig is dat hulle die produkte onmiddellik moet gaan koop nie. Maar herhaaldelike blootstelling oor ’n tydperk veroorsaak dikwels dat ’n produk byval vind by verbruikers. Advertensies werk—anders sou niemand geld daarin steek nie. Dit het ’n kragtige uitwerking op die denke en gesindhede van die publiek.
12. (a) Hoe beïnvloed Satan mense se denke? (b) Wat toon dat Christene beïnvloed kan word?
12 Soos ’n adverteerder bevorder Satan sy idees deur dit aanloklik te laat lyk, in die wete dat hy mense mettertyd kan oorhaal om sy denke te aanvaar. Deur die vermaaklikheidswêreld en ander kanale bedrieg Satan mense om te glo dat goed sleg is en sleg goed is (Jesaja 5:20). Selfs ware Christene het al slagoffers geword van die valse idees wat Satan stelselmatig versprei. Die Bybel waarsku: “Die geïnspireerde uiting sê . . . uitdruklik dat party in latere tye van die geloof afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone, deur die huigelary van mense wat leuens spreek, wat in hulle gewete gemerk is soos met ’n brandyster.”—1 Timoteus 4:1, 2; Jeremia 6:15.
13. Wat is slegte omgang, en hoe word ons deur ons omgang geraak?
13 Nie een van ons is immuun teen die gees van die wêreld nie. Die winde en strome van Satan se stelsel is kragtig. Die Bybel gee ons hierdie wyse raad: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Slegte omgang kan enigiets of enigiemand—selfs binne die gemeente—insluit wat die gees van die wêreld weerspieël. As ons redeneer dat slegte omgang ons nie kan skaad nie, sal ons dan nie ook tot die slotsom moet kom dat goeie omgang ons nie kan help nie? Hoe verkeerd sou dit tog wees! Die Bybel stel die saak duidelik wanneer dit sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.
14. Op watter maniere kan ons die gees van die wêreld teëwerk?
14 Om die gees van die wêreld teë te werk, moet ons met wyse mense omgaan—diegene wat Jehovah dien. Ons moet ons verstand vul met dinge wat ons geloof opbou. Die apostel Paulus het geskryf: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink” (Filippense 4:8). Aangesien ons wilsvryheid het, kan ons besluit watter dinge ons wil bedink. Mag ons altyd kies om dinge te bedink wat ons nader aan Jehovah sal bring.
God se gees is kragtiger
15. Hoe het Christene in eertydse Korinte verskil van die ander inwoners van daardie stad?
15 In teenstelling met diegene wat deur die gees van die wêreld mislei word, word ware Christene deur God se heilige gees gelei. Die apostel Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf: “Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom, sodat ons die dinge sou ken wat goedgunstig deur God aan ons gegee is” (1 Korintiërs 2:12). Eertydse Korinte was ’n stad wat deurtrek was van die gees van die wêreld. Die meeste van sy inwoners was so losbandig dat die stad se naam sinoniem met die beoefening van onsedelikheid geword het. Satan het die verstande van die mense verblind. Gevolglik het hulle min of niks van die ware God verstaan nie (2 Korintiërs 4:4). Maar deur middel van sy heilige gees het Jehovah die oë van party Korintiërs geopen, wat hulle in staat gestel het om ’n kennis van die waarheid te verkry. Sy gees het hulle beweeg en gerig om groot veranderinge in hulle lewe aan te bring sodat hulle sy goedkeuring en seën kon ontvang (1 Korintiërs 6:9-11). Die gees van die wêreld was wel sterk, maar Jehovah se gees was sterker.
16. Hoe kan ons God se gees ontvang en behou?
16 Dit is vandag ook die geval. Jehovah se heilige gees is die sterkste krag in die heelal, en hy gee dit vryelik en oorvloedig aan almal wat in geloof daarvoor vra (Lukas 11:13). As ons God se gees wil hê, moet ons egter meer doen as om net die gees van die wêreld te weerstaan. Ons moet ook God se Woord gereeld bestudeer en in ons lewe toepas sodat óns gees—ons geestesgesindheid—in lyn is met sy denke. As ons dit doen, sal Jehovah ons versterk om opgewasse te wees teen enige taktiek wat Satan kan gebruik om ons geestelikheid te vernietig.
17. Op watter maniere kan die ondervinding van Lot ons laat moed skep?
17 Al is Christene geen deel van die wêreld nie, is hulle in die wêreld (Johannes 17:11, 16). Nie een van ons kan die gees van die wêreld heeltemal vermy nie, aangesien ons moontlik werk of selfs lewe saam met dié wat geen liefde vir God of sy weë het nie. Voel ons soos Lot, wat “baie ontsteld” was, en selfs gepynig gevoel het, oor die wettelose dade van die mense van Sodom, onder wie hy gewoon het? (2 Petrus 2:7, 8). Indien wel, kan ons moed skep. Jehovah het Lot beskerm en verlos, en hy kan dieselfde vir ons doen. Ons liefdevolle Vader sien en ken ons omstandighede, en hy kan ons die hulp en die krag gee wat ons nodig het om ons geestelikheid te handhaaf (Psalm 33:18, 19). As ons op hom steun, ons vertroue in hom stel en hom aanroep, sal hy ons help om die gees van die wêreld te weerstaan, ongeag hoe moeilik ons situasie mag wees.—Jesaja 41:10.
18. Waarom moet ons ons verhouding met Jehovah hoog op prys stel?
18 In ’n wêreld wat van God vervreemd is en deur Satan bedrieg word, is ons as Jehovah se volk geseën met kennis van die waarheid. Ons ervaar dus vreugde en vrede wat die wêreld nie het nie (Jesaja 57:20, 21; Galasiërs 5:22). Ons koester die wonderlike hoop op die ewige lewe in die Paradys, waar die gees van hierdie sterwende wêreld nie meer sal bestaan nie. Mag ons derhalwe ons kosbare verhouding met God hoog op prys stel en wakker wees om enige neiging om geestelik weg te dryf, reg te stel. Laat ons altyd nader aan Jehovah kom, en hy sal ons help om die gees van die wêreld te weerstaan.—Jakobus 4:7, 8.
Kan jy verduidelik?
• Op watter maniere het Satan mense bedrieg en mislei?
• Hoe kan ons voorkom dat ons wegdryf van Jehovah?
• Wat toon dat die gees van die wêreld kragtig is?
• Hoe kan ons die gees wat van God kom, ontvang en behou?
[Tabel op bladsy 11]
WÊRELDSE WYSHEID VERSUS GOD SE WYSHEID
Waarheid is relatief—mense formuleer hulle eie waarheid.
“[God se] woord is die waarheid.”—Johannes 17:17.
Vertrou op jou gevoelens om vas te stel wat reg of verkeerd is.
“Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat.”—Jeremia 17:9.
Doen jou eie ding.
“Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.
Rykdom is die sleutel tot geluk.
“Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.”—1 Timoteus 6:10.
[Prent op bladsy 10]
Salomo het van ware aanbidding weggedryf en hom tot valse gode gewend
[Prent op bladsy 12]
Soos ’n adverteerder bevorder Satan die gees van die wêreld. Weerstaan jy dit?