God se volk moet goedhartigheid liefhê
“Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—MIGA 6:8.
1, 2. (a) Waarom moet dit ons nie verbaas dat Jehovah van sy volk verwag om goedhartig te wees nie? (b) Watter vrae in verband met goedhartigheid verdien ons aandag?
JEHOVAH is ’n God van goedhartigheid (Romeine 2:4; 11:22). Die eerste egpaar, Adam en Eva, moes sekerlik daardie feit waardeer het! In die tuin van Eden was hulle omring deur sigbare skeppingswerke wat getuig het van God se goedhartigheid teenoor mense wat hierdie dinge kon geniet. En God is nog steeds goedhartig teenoor almal, selfs teenoor ondankbare en goddelose mense.
2 Aangesien mense na God se beeld gemaak is, het hulle die vermoë om godvrugtige eienskappe te weerspieël (Genesis 1:26). Dit verbaas ons dus nie dat Jehovah van ons verwag om goedhartig te wees nie. Soos Miga 6:8 toon, moet God se volk “goedhartigheid lief[hê]”. Maar wat is goedhartigheid? Hoe hou dit verband met ander godvrugtige eienskappe? Waarom is die wêreld so ’n wrede en gevoellose plek as mense die vermoë het om goedhartigheid aan die dag te lê? Waarom moet ons as Christene goedhartigheid in ons handelinge met ander probeer openbaar?
Wat is goedhartigheid?
3. Hoe sal jy goedhartigheid definieer?
3 Goedhartigheid word bewys deur daadwerklike belangstelling in die welsyn van ander. Dit word geopenbaar deur behulpsaamheid en bedagsame woorde. Om goedhartig te wees, beteken dat ’n mens eerder goeie as skadelike dinge sal doen. ’n Goedhartige persoon is vriendelik, saggeaard, simpatiek en innemend. Hy is vrygewig en bedagsaam teenoor ander. Die apostel Paulus het Christene gemaan: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Goedhartigheid is dus deel van elke ware Christen se figuurlike kleredrag.
4. Hoe het Jehovah die voorbeeld gestel wat goedhartigheid teenoor die mensdom betref?
4 Jehovah God is die vernaamste voorbeeld van iemand wat goedhartigheid aan die dag lê. Soos Paulus gesê het, was dit “toe die goedhartigheid van ons Redder, God, en sy liefde vir die mens geopenbaar is”, dat “hy ons gered [het] deur middel van die bad wat ons lewend gemaak het en deur middel van ons vernuwing deur heilige gees” (Titus 3:4, 5). God “bad”, of reinig, gesalfde Christene in Jesus se bloed deur die waarde van Christus se losprysoffer ten behoewe van hulle aan te wend. Hulle word ook nuut gemaak deur heilige gees en word “’n nuwe skepping” as geesverwekte kinders van God (2 Korintiërs 5:17). Verder word God se goedhartigheid en liefde ook betoon aan “’n groot menigte”, wat “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”.—Openbaring 7:9, 14; 1 Johannes 2:1, 2.
5. Waarom moet diegene wat deur God se gees gelei word, goedhartigheid betoon?
5 Goedhartigheid is ook een van die vrugte van God se heilige gees, of werkende krag. Paulus het gesê: “Die vrugte van die gees . . . is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar geen wet nie” (Galasiërs 5:22, 23). Moet diegene wat deur God se gees gelei word, dan nie goedhartigheid teenoor ander betoon nie?
Ware goedhartigheid is nie ’n swakheid nie
6. Wanneer is goedhartigheid ’n swakheid, en waarom?
6 Party mense beskou goedhartigheid as ’n swakheid. Hulle meen dat ’n mens hardvogtig, soms selfs onbeskof, moet wees sodat ander jou krag kan sien. Maar eintlik verg dit ware krag om werklik goedhartig te wees en misplaaste goedhartigheid te vermy. Aangesien ware goedhartigheid een van die vrugte van God se gees is, kan dit nie dui op ’n swak, toegeeflike gesindheid wat verkeerde gedrag betref nie. Misplaaste goedhartigheid daarenteen is ’n swakheid wat veroorsaak dat iemand sondige gedrag verskoon.
7. (a) In watter opsig was Eli nalatig? (b) Waarom moet ouer manne waak teen misplaaste goedhartigheid?
7 Beskou die voorbeeld van Israel se hoëpriester Eli. Hy het nagelaat om sy seuns, Hofni en Pinehas, wat as priesters by die tabernakel gedien het, behoorlik te dissiplineer. Omdat hulle nie tevrede was met die deel van die offerande wat hulle volgens God se Wet kon neem nie, het hulle ’n dienaar gestuur na die persoon wat die offerande gebring het om aan te dring dat rou vleis aan hulle gegee word voordat die vet van die offerande op die altaar gerook het. Eli se seuns het hulle ook skuldig gemaak aan geslagsonsedelikheid met die vroue wat by die ingang van die tabernakel gedien het. Maar in plaas van Hofni en Pinehas van hulle amp te onthef, het Eli hulle bloot lig bestraf (1 Samuel 2:12-29). Dit is geen wonder dat “woorde van Jehovah . . . in dié dae seldsaam geword” het nie! (1 Samuel 3:1). Christen- ouer manne moet waak teen misplaaste goedhartigheid teenoor oortreders wat die gemeente se geestelikheid in gevaar kan stel. Ware goedhartigheid is nie blind vir bose woorde en dade wat God se standaarde skend nie.
8. Hoe het Jesus ware goedhartigheid aan die dag gelê?
8 Ons Voorbeeld, Jesus Christus, het nooit misplaaste goedhartigheid betoon nie. Hy was die verpersoonliking van ware goedhartigheid. Hy het byvoorbeeld ‘tere geneentheid gehad vir die mense omdat hulle gestroop en rondgegooi was soos skape sonder ’n herder’. Opregtes van hart het die vrymoedigheid gehad om Jesus te nader en het selfs hulle jong kinders na hom toe gebring. Dink aan die goedhartigheid en medelye wat hy aan die dag gelê het toe hy “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën” het (Matteus 9:36; Markus 10:13-16). Hoewel Jesus goedhartig was, was hy nietemin ferm vir wat reg is in die oë van sy hemelse Vader. Jesus het nooit boosheid vergoelik nie; hy het die godgegewe krag gehad om die skynheilige godsdiensleiers te veroordeel. Soos Matteus 23:13-26 toon, het hy etlike kere die uitspraak herhaal: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!”
Goedhartigheid en ander godvrugtige eienskappe
9. Hoe hou goedhartigheid verband met lankmoedigheid en goedheid?
9 Goedhartigheid hou verband met ander eienskappe wat deur God se gees voortgebring word. Dit word ná “lankmoedigheid” en voor “goedheid” genoem. Ja, iemand wat goedhartigheid aankweek, openbaar hierdie eienskap deur lankmoedig te wees. Hy is geduldig selfs met onvriendelike mense. Goedhartigheid hou verband met goedheid in dié sin dat dit dikwels na vore kom in behulpsame dade wat tot voordeel van ander gedoen word. Soms kan die Griekse woord wat in die Bybel vir “goedhartigheid” gebruik word, vertaal word met “goedheid”. Die betoning van hierdie eienskap onder vroeë Christene het die heidene so verbaas dat hulle, volgens Tertullianus, hierdie volgelinge van Jesus ‘mense van goedhartigheid’ genoem het.
10. Watter verband is daar tussen goedhartigheid en liefde?
10 Daar is ’n verband tussen goedhartigheid en liefde. Jesus het aangaande sy volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). En Paulus het van hierdie liefde gesê: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig” (1 Korintiërs 13:4). Goedhartigheid hou ook met liefde verband in die woord “liefderyke goedhartigheid”, wat dikwels in die Skrif gebruik word. Dit is goedhartigheid wat voortspruit uit lojale liefde. Die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word, sluit meer in as net ’n tere geneentheid. Dit is ’n goedhartigheid wat hom liefdevol aan iets heg totdat sy doel daarmee bereik is. Jehovah se liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, word op verskeie maniere geopenbaar. Dit word byvoorbeeld gesien in sy dade van verlossing en beskerming.—Psalm 6:4; 40:11; 143:12.
11. Watter versekering gee God se liefderyke goedhartigheid ons?
11 Jehovah se liefderyke goedhartigheid trek mense na hom toe (Jeremia 31:3). Wanneer God se getroue knegte verlossing of hulp nodig het, weet hulle dat sy liefderyke goedhartigheid inderdaad lojale liefde is. Dit sal hulle nie in die steek laat nie. Daarom kan hulle in geloof bid, soos die psalmis wat gesê het: “Wat my betref, op u liefderyke goedhartigheid het ek vertrou; laat my hart bly wees in u redding” (Psalm 13:5). Aangesien God se liefde lojaal is, kan sy knegte hulle volle vertroue in hom stel. Hulle het hierdie versekering: “Jehovah sal sy volk nie verstoot nie, en ook sal hy sy erfdeel nie verlaat nie.”—Psalm 94:14.
Waarom is die wêreld so wreed?
12. Wanneer en hoe het tirannieke heerskappy begin?
12 Die antwoord op hierdie vraag het te doen met wat in die tuin van Eden gebeur het. Vroeg in die mens se geskiedenis het ’n geesskepsel wat selfsugtig en trots geword het, met ’n plan vorendag gekom om ’n wêreldheerser te word. As gevolg van sy komplot het hy “die heerser van hierdie wêreld” geword, ’n uiters tirannieke heerser (Johannes 12:31). Hy het bekend geword as Satan die Duiwel, die vernaamste teenstander van God sowel as mense (Johannes 8:44; Openbaring 12:9). Sy selfsugtige plan om ’n heerskappy in verset teen Jehovah se goedhartige heerskappy tot stand te bring, het aan die lig gekom kort nadat Eva geskep is. Slegte heerskappy het dus begin toe Adam onafhanklikheid van God se heerskappy gekies het en Sy goedhartigheid heeltemal verwerp het (Genesis 3:1-6). In plaas van werklik oor hulleself te regeer, het Adam en Eva in der waarheid onder die selfsugtige en trotse invloed van die Duiwel gekom en onderdane van sy heerskappy geword.
13-15. (a) Wat was van die gevolge toe Jehovah se regverdige heerskappy verwerp is? (b) Waarom is hierdie wêreld so ’n gevoellose plek?
13 Kyk na party van die gevolge. Adam en Eva is uit die deel van die aarde gedryf wat ’n paradys was. Hulle het toe nie meer in ’n welige tuin met maklike toegang tot gesonde plantsoorte en vrugte gelewe nie, maar hulle bevind in moeilike toestande buite die tuin van Eden. God het vir Adam gesê: “Omdat jy na jou vrou se stem geluister het en van die boom begin eet het waarvan ek jou hierdie bevel gegee het: ‘Jy mag daarvan nie eet nie’—vervloek is die grond weens jou. Met pyn sal jy die opbrengs daarvan eet al die dae van jou lewe. En dorings en dissels sal dit vir jou voortbring.” Die vloek wat oor die grond uitgespreek is, het beteken dat dit nou baie moeilik sou wees om dit te bewerk. Die gevolge van die vervloekte grond, met sy dorings en dissels, is so erg deur Adam se nakomelinge gevoel dat Noag se vader, Lameg, gepraat het van ‘die pyn van hulle hande as gevolg van die grond wat Jehovah vervloek het’.—Genesis 3:17-19; 5:29.
14 Adam en Eva het ook ’n rustige lewe verruil vir benoudheid. God het vir Eva gesê: “Ek sal die pyn van jou swangerskap grootliks vermeerder; met geboortepyne sal jy kinders voortbring, en jou begeerte sal na jou man wees, en hy sal oor jou heers.” Later het Kain, die eersgeborene van Adam en Eva, ’n wrede daad gepleeg deur sy broer Abel te vermoor.—Genesis 3:16; 4:8.
15 “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, het die apostel Johannes gesê (1 Johannes 5:19). Soos sy heerser weerspieël die wêreld vandag bose eienskappe wat selfsug en trots insluit. Dit is geen wonder dat die wêreld so gevoelloos en wreed is nie! Maar dit sal nie so bly nie. Jehovah sal toesien dat goedhartigheid en medelye, eerder as gevoelloosheid en wreedheid, onder sy Koninkryk heers.
Onder God se Koninkryk sal goedhartigheid heers
16. Waarom word God se heerskappy deur middel van Christus Jesus gekenmerk deur goedhartigheid, en wat is ons dus verplig om te doen?
16 Jehovah en die aangestelde Koning van Sy Koninkryk, Christus Jesus, vereis dat hulle onderdane geken moet word aan hulle goedhartigheid (Miga 6:8). Jesus Christus het ons ’n kykie gegee in hoe die administrasie wat sy Vader aan hom toevertrou het, deur goedhartigheid gekenmerk sal word (Hebreërs 1:3). Dit kan gesien word in Jesus se woorde toe hy die valse godsdiensleiers aan die kaak gestel het, wat die mense met swaar vragte belas het. Hy het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Daar is so baie aardse heersers, op godsdienstige en ander gebiede, wat die mense vermoei en belas met eindelose reëls en ondankbare take. Wat Jesus daarenteen van sy volgelinge vereis, voorsien in hulle behoeftes en is binne hulle vermoëns. Inderdaad ’n verkwikkende, sagte juk! Word ons nie beweeg om soos hy te wees deur goedhartigheid aan ander te betoon nie?—Johannes 13:15.
17, 18. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Christus se medeheersers in die hemel en sy verteenwoordigers op aarde goedhartigheid aan die dag sal lê?
17 Jesus se treffende woorde aan sy apostels beklemtoon hoe God se Koninkryksheerskappy duidelik van menseheerskappy verskil. Die Bybel sê: “Daar het . . . ook ’n driftige woordewisseling onder hulle [die dissipels] ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was. Maar hy het vir hulle gesê: ‘Die konings van die nasies speel oor hulle baas, en dié wat oor hulle gesag voer, word Weldoeners genoem. Julle moet egter nie so wees nie. Maar laat hy wat die grootste onder julle is, soos die jongste word, en die een wat as die vernaamste optree, soos die een wat dien. Want watter een is groter: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Is dit nie die een wat aan tafel is nie? Maar ek is in julle midde soos die een wat bedien.’”—Lukas 22:24-27.
18 Menseheersers probeer hulle grootheid bewys deur oor mense ‘baas te speel’ en deur verhewe titels te probeer verkry, asof hierdie titels hulle beter maak as die mense oor wie hulle heers. Maar Jesus het gesê dat ware grootheid verkry word deur ander te dien—deur ywerig en sonder ophou na maniere te soek om dit te doen. Almal wat saam met Christus in die hemel sal heers of as sy aardse verteenwoordigers sal dien, moet daarna streef om sy voorbeeld van nederigheid en goedhartigheid te volg.
19, 20. (a) Hoe het Jesus die omvang van Jehovah se goedhartigheid beskryf? (b) Hoe kan ons Jehovah navolg wat die betoning van goedhartigheid betref?
19 Kom ons kyk na nog liefdevolle raad wat Jesus gegee het. Hy het getoon in watter mate Jehovah goedhartigheid openbaar en gesê: “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter verdienste het julle dan? Want selfs die sondaars het dié lief wat hulle liefhet. En as julle goed doen aan dié wat aan julle goed doen, watter verdienste het julle dan? Selfs die sondaars doen dieselfde. Ook as julle sonder rente leen aan dié van wie julle hoop om te ontvang, watter verdienste het julle dan? Selfs sondaars leen sonder rente aan sondaars sodat hulle net soveel kan terugkry. Hou daarenteen aan om julle vyande lief te hê en om goed te doen en om sonder rente te leen, sonder om te hoop om iets terug te kry; en julle beloning sal groot wees, en julle sal kinders van die Allerhoogste wees, want hy is goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses. Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is.”—Lukas 6:32-36.
20 Godvrugtige goedhartigheid is onselfsugtig. Dit eis niks en verwag niks in ruil nie. Goedhartigheid beweeg Jehovah om “sy son [te] laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit [te] laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:43-45; Handelinge 14:16, 17). Ons volg ons hemelse Vader nie net na deur die ondankbares geen kwaad aan te doen nie, maar ook deur goed te doen aan hulle, selfs aan dié wat optree asof hulle ons vyande is. Deur goedhartigheid aan die dag te lê, bewys ons aan Jehovah en Jesus dat ons graag onder God se Koninkryk wil lewe, waar goedhartigheid en ander godvrugtige eienskappe kenmerkend van alle menseverhoudings sal wees.
Waarom goedhartigheid betoon?
21, 22. Waarom moet ons goedhartigheid aan die dag lê?
21 Dit is baie belangrik dat ’n ware Christen goedhartigheid aan die dag lê. Dit is ’n bewys dat ons God se gees het. Wat meer is, wanneer ons ware goedhartigheid aan die dag lê, volg ons Jehovah God en Christus Jesus na. Goedhartigheid is ook ’n vereiste vir diegene wat onderdane van God se Koninkryk gaan wees. Ons moet dus goedhartigheid liefhê en leer om dit te betoon.
22 Op watter praktiese maniere kan ons goedhartigheid in ons daaglikse lewe openbaar? Die volgende artikel sal dit bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is goedhartigheid?
• Waarom is die wêreld so ’n wrede en gevoellose plek?
• Hoe weet ons dat goedhartigheid onder God se heerskappy sal heers?
• Waarom is dit belangrik dat diegene wat graag onder God se Koninkryk wil lewe, goedhartigheid betoon?
[Prent op bladsy 13]
Christen- ouer manne streef daarna om goedhartig met die kudde te handel
[Prent op bladsy 15]
Jehovah se liefderyke goedhartigheid sal nie sy knegte tydens moeilike tye in die steek laat nie
[Prente op bladsy 16]
Goedhartigheid beweeg Jehovah om sonskyn en reën aan alle mense te voorsien