Wees moedig soos Jeremia
“Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah.”—PSALM 27:14.
1. Watter ryk seën geniet Jehovah se Getuies?
JEHOVAH SE GETUIES is in ’n geestelike paradys (Jesaja 11:6-9). Te midde van hierdie veelbewoë wêreld bevind hulle hulle in ’n unieke geestelike milieu saam met hulle mede-Christene, wat in vrede met Jehovah God en met mekaar verkeer (Psalm 29:11; Jesaja 54:13). En hulle geestelike paradys word al hoe groter. Almal wat “die wil van God met hulle hele siel doen”, help om dit uit te brei (Efesiërs 6:6). Hoe? Deur volgens Bybelbeginsels te lewe en ander te leer om dieselfde te doen, en hulle sodoende te nooi om ook die ryk seëninge van daardie paradys te geniet.—Matteus 28:19, 20; Johannes 15:8.
2, 3. Waarmee het ware Christene te kampe?
2 Maar die feit dat ons in ’n geestelike paradys is, beteken nie dat ons geen beproewinge sal verduur nie. Ons is nog steeds onvolmaak en ervaar die pyn wat gepaardgaan met siekte, ouderdom en uiteindelik die dood. Ook sien ons hoe profesieë aangaande “die laaste dae” vervul word (2 Timoteus 3:1). Oorloë, misdaad, siekte, hongersnood en ander ellendes teister die hele mensdom, en Jehovah se Getuies is nie vry van hierdie probleme nie.—Markus 13:3-10; Lukas 21:10, 11.
3 Benewens al hierdie dinge is ons ook maar alte bewus daarvan dat koue winde van teenstand buite die warm omgewing van ons geestelike paradys waai. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. Hou die woord wat ek tot julle gespreek het in gedagte: ’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:18-21). Vandag staan sake geensins anders nie. Die meeste mense verstaan of waardeer nog steeds nie ons vorm van aanbidding nie. Party kritiseer en spot ons, en soos Jesus gewaarsku het, haat hulle ons selfs (Matteus 10:22). Ons is dikwels die teiken van verkeerde inligting en kwaadwillige propaganda wat deur die media versprei word (Psalm 109:1-3). Ja, ons kom almal voor moeilike omstandighede te staan, en party van ons kan moed begin verloor. Hoe kan ons volhard?
4. Op wie vertrou ons vir hulp om te volhard?
4 Jehovah sal ons help. Die psalmis het onder inspirasie geskryf: “Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Psalm 34:19; 1 Korintiërs 10:13). Baie van ons kan daarvan getuig dat Jehovah ons die krag gee om tydens enige beproewing te volhard as ons ten volle op hom vertrou. Ons liefde vir hom en die vreugde wat ons voorgehou word, help ons om te stry teen ontmoediging en vrees (Hebreërs 12:2). Daarom bly ons standvastig ten spyte van probleme.
God se woord het Jeremia versterk
5, 6. (a) Watter voorbeelde het ons van ware aanbidders wat volhard het? (b) Hoe het Jeremia gereageer toe hy as profeet geroep is?
5 Deur die geskiedenis heen het getroue knegte van Jehovah vreugdevol gebly ondanks moeilike omstandighede. Party het in oordeelstydperke geleef toe Jehovah sy toorn oor die ontroues uitgestort het. Onder hierdie getroue aanbidders is Jeremia en ’n paar van sy tydgenote, asook die eerste-eeuse Christene. Hierdie voorbeelde uit die geskiedenis is in die Bybel opgeteken om ons aan te moedig, en ons kan baie leer uit ’n studie daarvan (Romeine 15:4). Kyk byvoorbeeld na Jeremia.
6 Jeremia is op ’n jong ouderdom geroep om as ’n profeet in Juda te dien. Dit was nie ’n maklike toewysing nie. Baie het valse gode aanbid. Hoewel Josia, wat koning was toe Jeremia sy bediening begin het, getrou was, was al die konings ná hom ontrou, en die meeste van diegene wat die verantwoordelikheid gehad het om die volk te onderrig—die profete en die priesters—was nie aan die kant van die waarheid nie (Jeremia 1:1, 2; 6:13; 23:11). Hoe het Jeremia dus gevoel toe Jehovah hom as profeet geroep het? Baie bang! (Jeremia 1:8, 17). Jeremia het sy aanvanklike reaksie só beskryf: “Ek het gesê: ‘Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun.’”—Jeremia 1:6.
7. Watter reaksie het Jeremia in sy gebied teëgekom, en hoe het hy gereageer?
7 Die meeste mense in Jeremia se gebied was onontvanklik, en hy het dikwels voor hewige teenstand te staan gekom. By een geleentheid het Pasgur, ’n priester, hom geslaan en in die blok gesit. Jeremia het vertel hoe hy op daardie stadium gevoel het: “Ek het gesê: ‘Ek sal nie van hom [Jehovah] melding maak nie, en ek sal nie meer in sy naam spreek nie.’” Dalk het jy ook al so gevoel—jy wou dalk moed opgee. Let op wat Jeremia gehelp het om te volhard. Hy het gesê: “In my hart was dit [God se woord, of boodskap] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente; en ek het moeg geword om dit in te hou, en ek kon dit nie verduur nie” (Jeremia 20:9). Het God se woorde daardie uitwerking op jou?
Jeremia se metgeselle
8, 9. (a) Watter swakheid het die profeet Uria geopenbaar, en met watter gevolg? (b) Waarom het Barug ontmoedig gevoel, en hoe is hy gehelp?
8 Jeremia was nie alleen in sy profetiese werk nie. Hy het metgeselle gehad, en dit was ongetwyfeld vir hom ’n aanmoediging. Soms het sy metgeselle egter nie wys opgetree nie. ’n Medeprofeet genaamd Uria het byvoorbeeld waarskuwings teen Jerusalem en Juda gerig “ooreenkomstig al die woorde van Jeremia”. Maar toe koning Jojakim beveel dat Uria doodgemaak moet word, het die profeet uit vrees na Egipte gevlug. Dit het hom nie gered nie. Die koning se manne het hom agtervolg, gevang en teruggebring na Jerusalem, waar hy doodgemaak is. Dit was sekerlik ’n groot skok vir Jeremia!—Jeremia 26:20-23.
9 Nog ’n metgesel van Jeremia was sy sekretaris, Barug. Barug was vir Jeremia ’n ware steunpilaar, maar by een geleentheid het ook hy sy geestelike ewewig verloor. Hy het begin kla en gesê: “Wee my tog, want Jehovah het droefheid by my pyn gevoeg! Ek het moeg geword weens my gesug, en ek het geen rusplek gevind nie.” Barug het ontmoedig gevoel en sy waardering vir geestelike dinge begin verloor. Jehovah het nogtans uit goedhartigheid vir Barug wyse raad gegee, en sy siening van sake is reggestel. Hy is toe die versekering gegee dat hy Jerusalem se vernietiging sou oorleef (Jeremia 45:1-5). Dit het Jeremia ongetwyfeld baie aangemoedig toe Barug sy geestelike ewewig herwin het!
Jehovah het sy profeet ondersteun
10. Watter beloftes van ondersteuning het Jehovah aan Jeremia gemaak?
10 Die belangrikste feit is dat Jehovah Jeremia nie in die steek gelaat het nie. Hy het verstaan hoe sy profeet voel en hom die nodige krag en ondersteuning gegee. Toe Jeremia byvoorbeeld aan die begin van sy bediening getwyfel het of hy bekwaam genoeg is, het Jehovah vir hom gesê: “Moenie bang wees vir hulle aangesigte nie, want ‘ek is met jou om jou te verlos’, is die woord van Jehovah.” Toe het Jehovah, nadat hy sy profeet oor sy toewysing ingelig het, gesê: “Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’” (Jeremia 1:8, 19). Hoe vertroostend tog! En Jehovah het by sy woord gebly.
11. Hoe weet ons dat Jehovah sy belofte nagekom het om Jeremia te ondersteun?
11 Nadat Jeremia in die blok gesit is en in die openbaar bespot is, kon hy dus vol vertroue sê: “Jehovah was met my soos ’n verskriklike magtige. Daarom sal my vervolgers struikel en nie die oorhand kry nie. Hulle sal beslis baie beskaamd gemaak word” (Jeremia 20:11). Toe hulle Jeremia in latere jare probeer doodmaak het, was Jehovah nog steeds met hom, en soos Barug het Jeremia die vernietiging van Jerusalem as ’n vry man oorleef, terwyl sy vervolgers en diegene wat sy waarskuwings geïgnoreer het, óf hulle lewe verloor het óf na Babilon weggevoer is.
12. Wat moet ons onthou, al het ons rede om ontmoedig te voel?
12 Daar is vandag baie van Jehovah se Getuies wat soos Jeremia beproewinge deurmaak. Soos vroeër genoem is, word party hiervan veroorsaak deur ons eie onvolmaaktheid, ander deur die chaos wat in hierdie wêreld heers en nog ander deur diegene wat ons werk teëstaan. Sulke beproewinge kan ontmoedigend wees. Soos Jeremia bereik ons moontlik die punt waar ons wonder of ons kan voortgaan. Ja, ons kan verwag dat ons van tyd tot tyd ontmoedig sal voel. Ontmoediging toets die diepte van ons liefde vir Jehovah. Ons moet derhalwe vasbeslote wees om nie toe te laat dat ons soos Uria Jehovah se diens weens ontmoediging verlaat nie. Laat ons eerder Jeremia navolg en vertrou dat Jehovah ons sal ondersteun.
Hoe om te stry teen ontmoediging
13. Hoe kan ons die voorbeeld van Jeremia en Dawid volg?
13 Jeremia het gereeld met Jehovah God gekommunikeer om hom van sy diepste gevoelens te vertel en hom om krag te smeek. Dit is ’n goeie voorbeeld om te volg. Dawid van ouds, wat hom tot dieselfde Bron van krag gewend het, het geskryf: “Luister tog na my woorde, o Jehovah; verstaan tog my gesug. Skenk tog aandag aan die geluid van my hulpgeroep, o my Koning en my God, want tot u bid ek” (Psalm 5:1, 2). Die geïnspireerde verslag van Dawid se lewe toon dat Jehovah keer op keer gereageer het op Dawid se gebede om hulp (Psalm 18:1, 2; 21:1-5). Wanneer ons baie druk ervaar of ons probleme onoorkomelik lyk, sal ons dit eweneens baie vertroostend vind om ons in gebed tot Jehovah te wend en ons hart voor hom uit te stort (Filippense 4:6, 7; 1 Tessalonisense 5:16-18). Jehovah weier nie om na ons te luister nie. Hy verseker ons eerder dat ‘hy vir ons sorg’ (1 Petrus 5:6, 7). Dit sal egter nie redelik wees om tot Jehovah te bid en dan nie te luister na wat hy sê nie, of hoe?
14. Watter uitwerking het Jehovah se woorde op Jeremia gehad?
14 Hoe praat Jehovah met ons? Kom ons kyk weer na Jeremia. Aangesien Jeremia ’n profeet was, het Jehovah direk met hom gekommunikeer. Jeremia beskryf die uitwerking wat God se woorde op sy hart gehad het: “U woorde is gevind en ek het hulle opgeëet; en u woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart; want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah, God van die leërs” (Jeremia 15:16). Ja, Jeremia was verheug daaroor dat God se naam oor hom uitgeroep is, en Sy woorde was vir die profeet kosbaar. Gevolglik was Jeremia, soos die apostel Paulus, gretig om die boodskap te verkondig wat aan hom toevertrou is.—Romeine 1:15, 16.
15. Hoe kan ons ons hart vul met Jehovah se woorde, en watter feite sal ons vasbeslote maak om nie stil te bly nie?
15 Jehovah kommunikeer vandag nie meer direk met enigiemand nie. Maar ons het wel God se woorde in die bladsye van die Bybel. As ons dus ’n ernstige studie van die Bybel maak en diep nadink oor wat ons leer, sal God se woorde ook “die verheuging en die blydskap” van ons hart word. En ons kan ons daarin verbly dat ons Jehovah se naam dra wanneer ons daardie woorde aan ander gaan meedeel. Laat ons nooit die feit uit die oog verloor dat geen ander volk ter wêreld Jehovah se naam vandag bekend maak nie. Slegs sy Getuies verkondig die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk en leer sagmoediges om dissipels van Jesus Christus te word (Matteus 28:19, 20). Ons is inderdaad geseënd! Hoe kan ons dan stilbly as ons dink aan wat Jehovah liefdevol aan ons toevertrou het?
Ons moet let op ons omgang
16, 17. Watter beskouing het Jeremia van omgang gehad, en hoe kan ons hom navolg?
16 Jeremia meld nog iets wat hom gehelp het om moedig te wees. Hy het gesê: “Ek het nie gesit in die intieme groep van dié wat grappe maak en my aan uitgelatenheid oorgegee nie. Weens u hand het ek heeltemal alleen gesit, want met veroordeling het u my vervul” (Jeremia 15:17). Jeremia wou eerder alleen wees as om deur slegte metgeselle verderf te word. Ons het vandag dieselfde beskouing van sake. Ons vergeet nooit die apostel Paulus se waarskuwing dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ nie, selfs nuttige gewoontes wat ons al jare lank het.—1 Korintiërs 15:33.
17 Slegte omgang kan veroorsaak dat die gees van die wêreld ons denke besoedel (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2; Jakobus 4:4). Laat ons dus ons waarnemingsvermoëns oefen om skadelike omgang te identifiseer en dit heeltemal te vermy (Hebreërs 5:14). Wat dink jy sou Paulus, as hy vandag op aarde was, vir ’n Christen gesê het wat na onsedelike of gewelddadige rolprente of na gewelddadige sportsoorte kyk? Watter raad sou hy ’n broer gegee het wat vriendskappe aanknoop met volslae vreemdelinge op die Internet? Wat sou hy gedink het van ’n Christen wat uur na uur videospeletjies speel of televisie kyk maar nie goeie persoonlike studiegewoontes het nie?—2 Korintiërs 6:14b; Efesiërs 5:3-5, 15, 16.
Bly in die geestelike paradys
18. Wat sal ons help om geestelik sterk te bly?
18 Ons geestelike paradys is vir ons kosbaar. Daar is niks in vandag se wêreld wat hoegenaamd daarmee vergelyk kan word nie. Selfs ongelowiges praat van die liefde, bedagsaamheid en goedhartigheid wat Christene teenoor mekaar betoon (Efesiërs 4:31, 32). Nietemin moet ons nou meer as ooit tevore teen ontmoediging stry. Goeie omgang, gebed en goeie studiegewoontes kan ons help om geestelik sterk te bly. Dit sal ons die krag gee om enige beproewing met volle vertroue in Jehovah tegemoet te gaan.—2 Korintiërs 4:7, 8.
19, 20. (a) Wat sal ons help om te volhard? (b) Tot wie is die volgende artikel gerig, en vir wie is dit ook van belang?
19 Ons moet nooit toelaat dat diegene wat ons Bybelboodskap haat, ons intimideer en ons geloof laat verswak nie. Soos die vyande wat Jeremia vervolg het, veg dié wat teen ons veg, eintlik teen God. Hulle sal nie die oorhand oor ons kry nie. Jehovah, wat soveel sterker as ons teenstanders is, sê vir ons: “Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah” (Psalm 27:14). Mag ons, met ons hoop op Jehovah diep in ons hart gewortel, vasbeslote wees om nie op te hou om te doen wat goed is nie. Mag ons vol vertroue wees dat ons, net soos Jeremia en Barug, sal maai as ons nie moeg word nie.—Galasiërs 6:9.
20 Baie Christene voer ’n volgehoue stryd teen ontmoediging. Jongmense kom egter voor spesifieke uitdagings te staan. Maar daar lê ook uitstekende geleenthede voor hulle. Die volgende artikel is spesiaal vir die jongmense onder ons bedoel. Dit is egter ook van belang vir ouers en alle toegewyde volwassenes in die gemeente wat deur woord, deur voorbeeld en deur regstreekse ondersteuning jongmense in die gemeente kan help.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom kan ons ontmoedigende omstandighede te wagte wees, en tot wie kan ons ons wend om hulp?
• Hoe het Jeremia ontmoediging te bowe gekom, al het hy ’n moeilike toewysing gehad?
• Wat sal selfs onder moeilike omstandighede tot “die verheuging en die blydskap” van ons hart bydra?
[Prent op bladsy 9]
Jeremia het gedink dat hy te jonk en onervare is om ’n profeet te wees
[Prent op bladsy 10]
Selfs toe Jeremia vervolg is, het hy geweet dat Jehovah met hom is “soos ’n verskriklike magtige”