Sport in die ou tyd en die belangrikheid van oorwinning
“ELKEEN wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles.” “As iemand . . . in die spele meeding, word hy nie gekroon tensy hy volgens die reëls meegeding het nie.”—1 Korintiërs 9:25; 2 Timoteus 2:5.
Die spele waarna die apostel Paulus verwys het, was ’n integrerende deel van die antieke Griekse beskawing. Wat vertel die geskiedenis ons oor hierdie wedstryde en die atmosfeer wat daar geheers het?
’n Tentoonstelling oor die Griekse spele, Nike—Il gioco e la vittoria (“Nike—die spele en die oorwinning”), is onlangs in die Kolosseum in Rome gehou.a Die vertoonstukke het ’n paar antwoorde op daardie vraag gebied en stof tot nadenke voorsien oor ’n Christen se beskouing van sport.
’n Antieke instelling
Griekeland was nie die eerste beskawing wat aan sport deelgeneem het nie. Reeds omstreeks die agtste eeu v.G.J. het die Griekse digter Homerus ’n samelewing beskryf wat besiel is deur heroïese ideale en ’n mededingende gees, waarin militêre vaardigheid en atletiese vermoëns hoog aangeskryf is. Die vroegste Griekse feeste, verduidelik die tentoonstelling, was aanvanklik godsdienstige geleenthede waar die gode by die begrafnisse van heldefigure vereer is. Byvoorbeeld, Homerus se Ilias, die oudste bestaande Griekse werk, beskryf hoe edele krygsmanne, metgeselle van Agilles, hulle wapens neergelê het by die begrafnisritusse van Patroklos en meegeding het om hulle vaardigheid in boks, stoei, diskus- en spiesgooi asook strydwawedrenne te bewys.
Soortgelyke feeste is later oor die hele Griekeland gehou. Die katalogus van die tentoonstelling sê: “Die feeste was basies ’n geleentheid vir die Grieke om, uit respek vir hulle gode, hulle eindelose en dikwels gewelddadige geskille opsy te skuif en hulle kenmerkende mededingende gees te veredel tot ’n vreedsame dog ewe vurige strewe: naamlik atletiekwedstryde.”
Groepe stadstate het gereeld by gemeenskaplike sentrums van aanbidding begin byeenkom om deur middel van atletiekwedstryde hulde aan hulle gode te bring. Mettertyd het vier van hierdie feeste—die Olimpiese en Nemeïese Spele, albei aan Zeus gewy, en die Pitiese en Ismiese Spele, wat aan Apollo en Poseidon onderskeidelik gewy is—so belangrik geword dat dit die status van Pan-Hellenistiese feeste verkry het. Dit wil sê, deelnemers van oor die hele Griekse wêreld kon daaraan deelneem. Die feeste is gekenmerk deur offerandes en gebede en het ook die gode deur voortreflike atletiek- of kunswedstryde vereer.
Die oudste en indrukwekkendste van hierdie feeste, wat glo uit 776 v.G.J. dateer, is elke vierde jaar ter ere van Zeus by Olimpië gehou. Die tweede belangrikste fees was die Pitiese fees. Dit is gehou naby die bekendste orakel van die antieke wêreld, by Delfi, en het ook atletiek ingesluit. Maar aangesien dit ter ere van die beskermheer van die digkuns en musiek, Apollo, gehou is, het die klem op sang en dans geval.
Die sportitems
In vergelyking met hedendaagse atletiekwedstryde was die getal sportitems redelik beperk, en slegs mans het daaraan deelgeneem. Die program van die antieke Olimpiese Spele het nooit uit meer as sowat tien nommers bestaan nie. Die standbeelde, reliëfs, mosaïeke en skilderye op terracottavase wat in die Kolosseum ten toon gestel is, het besoekers ’n idee hiervan gegee.
Daar was wedlope oor drie afstande—die stadionwedloop, van sowat 200 meter; die dubbele stadionwedloop, soortgelyk aan vandag se 400 meter, en die langafstandwedloop, van sowat 4 500 meter. Die atlete het heeltemal naak gehardloop en geoefen. Deelnemers aan die pentatlon het in vyf afdelings meegeding: hardloop, verspring, diskusgooi, spiesgooi en stoei. Ander wedstryde het boks en die pankration ingesluit, wat beskryf is as “’n wrede sport wat ’n kombinasie was van kaalvuisboks en stoei”. Dan was daar strydwawedrenne oor ’n afstand van agt stadions, met ligte oop voertuie op klein wiele wat deur twee of vier jong hingste of volwasse perde getrek is.
Boks was uiters gewelddadig en soms noodlottig. Deelnemers het stroke harde leer met metaalinsetsels om hulle vuiste gedraai wat groot skade kon aanrig. Jy kan jou indink waarom ’n sekere deelnemer met die naam Stratofonte ná ’n boksgeveg van vier uur homself nie in ’n spieël kon herken nie. Antieke standbeelde en mosaïeke getuig daarvan dat boksers erg geskend is.
Die reëls in stoei het grepe tot die bolyf beperk, en die wenner was die een wat eerste sy teenstander drie keer op die grond kon vaspen. In die pankration daarenteen was enige greep toelaatbaar. Deelnemers kon skop, slaan en die gewrigte uit lit draai. Al wat verbode was, was om hulle vingers in mekaar se oë te steek, mekaar te krap en te byt. Die doel was om die teenstander op die grond vas te pen en hom te dwing om oor te gee. Party het dit as “die grootste skouspel van die hele Olimpiese Spele” beskou.
Die beroemdste pankrationgeveg van daardie tyd het glo in 564 v.G.J. plaasgevind tydens die Olimpiese finale. Arrakion, wie se teenstander besig was om hom te verwurg, kon nog helder genoeg dink om een van sy teenstander se tone uit lit te ruk. Sy teenstander, oorweldig deur die pyn, het oorgegee ’n oomblik voordat Arrakion gesterf het. Die beoordelaars het verklaar dat Arrakion se lyk die wenner is!
Strydwawedrenne was die indrukwekkendste van die sportitems en ook die gewildste onder die adel, aangesien die wenner nie die drywer was nie, maar die eienaar van die strydwa en perde. Die kritieke oomblikke in die wedren was aan die begin, wanneer die strydwadrywers in hulle baan moes bly, en veral by die pilare aan weerskante van die baan waar hulle moes draai. Foute of vuilspel kon ongelukke veroorsaak wat hierdie gewilde sportitem nog skouspelagtiger gemaak het.
Die prys
‘Hardlopers in ’n wedloop hardloop almal’, het die apostel Paulus gesê, ‘maar net een ontvang die prys’ (1 Korintiërs 9:24). Om te wen, was al wat saak gemaak het. Daar was geen silwer- of bronsmedalje nie, geen tweede of derde plek nie. “Oorwinning, ‘Nike’, was die atleet se hoogste strewe”, verduidelik die tentoonstelling. “Slegs dit sou voldoende wees, aangesien slegs dit die ware weerspieëling was van sy persoonlike karakter, fisies sowel as sedelik, en die trots van sy tuisdorp.” Die gesindheid is opgesom in ’n reël deur Homerus: “Ek het geleer om altyd uit te blink.”
Die prys wat aan ’n wenner in die Pan-Hellenistiese Spele toegeken is, was bloot simbolies—’n kroon van blare. Paulus het dit “’n verderflike kroon” genoem (1 Korintiërs 9:25). Tog het die prys groot betekenis gehad. Dit het die natuurkrag verteenwoordig wat sy krag aan die wenner gegee het. Oorwinning, wat met doelgerigte vasberadenheid nagestreef is, het niks minder as goddelike guns beteken nie. Van die uitstallings het getoon hoe antieke beeldhouers en skilders Nike, die gevleuelde Griekse godin van oorwinning, voorgestel het waar sy die kroon aan die oorwinnaar gee. ’n Oorwinning by Olimpië was die hoogtepunt van enige atleet se loopbaan.
Krone vir die Olimpiese Spele is gemaak van wilde olyfblare—vir die Ismiese Spele van dennenaalde, vir die Pitiese Spele van lourierblare en vir die Nemeïese Spele van wilde seldery. Die organiseerders van ander spele het geld of ander pryse aangebied om die beste deelnemers te trek. Verskeie vase wat by die tentoonstelling uitgestal is, was toekennings by die Panateneïese Spele, wat in Atene gehou is ter ere van die godin Atena. Hierdie amfore het oorspronklik kosbare Attiese olie bevat. Aan die een kant van een van die vase is daar ’n afbeelding van die godin asook die frase “prys vir die wedstryde van Atena”. Aan die ander kant is daar ’n voorstelling van ’n spesifieke sportitem, waarskynlik die een waarin die atleet sy oorwinning behaal het.
Griekse stede het gedeel in die glorie van hulle atlete, wat weens hulle oorwinning heldefigure in hulle eie gemeenskap geword het. Die oorwinnaars se tuiskoms is met triomftogte gevier. Standbeelde van hulle is as dankoffers aan die gode opgerig—’n eer wat andersins nie aan sterflike mense toegeken is nie—en digters het hulle lof besing. Daarna het die wenners die eerste plekke by openbare seremonies ontvang en het hulle op staatskoste ’n pensioen gekry.
Gimnasiums en hulle atlete
Atletiekwedstryde is as ’n onontbeerlike element van die ontwikkeling van die burgersoldaat beskou. Alle Griekse stede het hulle gimnasiums gehad, waar fisiese opleiding vir jong manne gekombineer is met onderrigting in intellektuele en geestelike vakrigtings. Die gimnasiumgeboue is om groot oop ruimtes gebou waar daar geoefen is, en is omring deur kolonnades en ander areas wat onder dak was en as biblioteke en klaskamers gebruik is. Hierdie instellings is veral deur jong manne uit welgestelde families bygewoon wat dit kon bekostig om eerder tyd aan opvoeding te wy as om te werk. Hier het atlete hulle aan lang, intensiewe voorbereiding vir die spele onderwerp, met behulp van afrigters wat ook diëte voorgeskryf het en gesorg het dat hulle hulle van geslagsomgang onthou.
Die tentoonstelling by die Kolosseum het besoekers die geleentheid gebied om uitstekende voorstellings van eertydse atlete te bewonder, waarvan die meeste Romeinse kopieë van oorspronklike Griekse beeldhouwerke is. Aangesien daar in die klassieke ideologie ’n noue verband tussen fisiese volmaaktheid en sedelike volmaaktheid was en slegs die adel dit kon bereik, het hierdie goed gevormde liggame van seëvierende atlete ’n filosofiese ideaal uitgebeeld. Die Romeine het dit as kunswerke beskou, en baie het stadions, baddens, villas en paleise versier.
Onder die Romeine was gewelddadige vertonings altyd gewild, en daarom was boks, stoei en die pankration die Griekse sportitems wat die grootste skares gelok het wanneer dit in Rome aangebied is. Die Romeine het sulke sportsoorte nie beskou as kompetisies tussen gelykes om hulle onderskeie vermoëns te bepaal nie, maar bloot as vermaak. Die oorspronklike konsep van sport as iets waarin die beste kryger-atlete as deel van hulle opvoeding teen mekaar te staan gekom het, het verlore gegaan. In plaas daarvan was die Griekse sportsoorte vir die Romeine bloot gesonde oefening voordat hulle gebad het of ’n kyksport wat deur professionele lede van die laer klas beoefen is, baie soos gladiatorgevegte.
Christene en die spele
Die godsdienstige aard van die spele was een rede waarom eerste-eeuse Christene die spele vermy het, want “watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” (2 Korintiërs 6:14, 16). Wat van sport vandag?
Vandag vereer sport natuurlik nie heidense gode nie. Maar is dit nie waar dat sommige sportsoorte met ’n byna godsdienstige geesdrif aangehang word, soos dié wat in die Antieke Wêreld bestaan het nie? Wat meer is, soos berigte oor die afgelope paar jaar toon, was sommige atlete bereid om opkikkermiddels te gebruik wat hulle gesondheid en selfs hulle lewe in gevaar stel, sodat hulle kan wen.
Vir Christene het fisiese prestasies baie min waarde. Geestelike eienskappe van “die geheime persoon van die hart” is wat ons in God se oë kosbaar maak (1 Petrus 3:3, 4). Ons erken dat nie almal wat vandag aan sport deelneem, ’n sterk mededingende gees het nie, maar baie het wel. Sal assosiasie met hulle ons help om ag te slaan op die skriftuurlike aansporing om ‘niks uit twisgierigheid of uit egotisme te doen nie, maar ootmoedig te wees’? Of sal sulke assosiasie moontlik lei tot “vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede”?—Filippense 2:3; Galasiërs 5:19-21.
Talle hedendaagse kontaksportsoorte kan maklik gewelddadig raak. Enigeen wat van sulke sportsoorte hou, kan gerus let op die woorde van Psalm 11:5: “Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.”
Oefening op sy regte plek kan aangenaam wees, en die apostel Paulus het wel gesê dat ‘liggaamlike oefening voordeel het’, maar dat dit min is (1 Timoteus 4:7-10). Toe hy van die Griekse spele gepraat het, het Paulus egter bloot daarna verwys om toe te lig hoe belangrik dit vir Christene is om eienskappe soos selfbeheersing en volharding aan die dag te lê. Die doelwit waarna Paulus gestreef het, was bowenal om die godgegewe “kroon” van die ewige lewe te ontvang (1 Korintiërs 9:24-27; 1 Timoteus 6:12). Hierin het hy vir ons ’n voorbeeld gestel.
[Voetnoot]
a Nike is die Griekse woord vir “oorwinning”.
[Venster/Prent op bladsy 31]
Die bokser ná die geveg
Hierdie bronsfiguur uit die vierde eeu v.G.J. toon, volgens die katalogus by die Romeinse tentoonstelling, die verskriklike gevolge van eertydse boksgevegte waarin “die krag van die bokser . . . wat aan uitputtende gevegte deelgeneem het, waarin ‘wond vir wond vergeld is’, as ’n goeie voorbeeld voorgehou is”. “Tekens van die pas afgelope geveg word by dié van vorige gevegte gevoeg”, lui die beskrywing verder.
[Prent op bladsy 29]
Strydwawedrenne was die indrukwekkendste van die sportitems in eertydse spele
[Prent op bladsy 30]
Antieke kunstenaars het Nike, die gevleuelde godin van oorwinning, voorgestel waar sy die oorwinnaar kroon