Wagtoring AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 5/15 bl. 21-bl. 24 par. 9
  • Glanspunte uit die boek Levitikus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon laai nie.

  • Glanspunte uit die boek Levitikus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VRYWILLIGE EN VERPLIGTE HEILIGE OFFERANDES
  • (Levitikus 1:1–7:38)
  • DIE HEILIGE PRIESTERDOM WORD INGESTEL
  • (Levitikus 8:1–10:20)
  • HEILIGE AANBIDDING VEREIS REINHEID
  • (Levitikus 11:1–15:33)
  • HEILIGHEID MOET GEHANDHAAF WORD
  • (Levitikus 16:1–27:34)
  • HOE LEVITIKUS ONS AANBIDDING RAAK
  • Bybelboek nommer 3—Levitikus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 5/15 bl. 21-bl. 24 par. 9

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Levitikus

DIT is minder as ’n jaar sedert die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry is. Hulle is nou georganiseer in ’n nuwe nasie en op pad na die land Kanaän. Dit is Jehovah se voorneme dat ’n heilige nasie in daardie land woon. Maar die lewenswyse en die godsdiensgebruike van die Kanaäniete is uiters verdorwe. Daarom gee die ware God voorskrifte aan die gemeente van Israel wat hulle sal afsonder vir sy diens. Hierdie voorskrifte is opgeteken in die Bybelboek Levitikus. Die boek wat, blykbaar in die jaar 1512 v.G.J., deur die profeet Moses in die wildernis Sinai geskryf is, dek slegs een maanmaand (Eksodus 40:17; Numeri 1:1-3). Jehovah spoor sy aanbidders herhaaldelik aan om heilig te wees.—Levitikus 11:44; 19:2; 20:7, 26.

Vandag is Getuies van Jehovah nie onder die Wet wat God deur middel van Moses gegee het nie. Die dood van Jesus Christus het daardie Wet tot niet gemaak (Romeine 6:14; Efesiërs 2:11-16). Maar die voorskrifte wat in Levitikus gevind word, kan baie nuttig vir ons wees en ons baie leer oor die aanbidding van ons God, Jehovah.

VRYWILLIGE EN VERPLIGTE HEILIGE OFFERANDES

(Levitikus 1:1–7:38)

Party offerandes wat onder die Wet gebring is, was vrywillig, terwyl ander verpligtend was. Die brandoffer was byvoorbeeld ’n vrywillige offerande. Die hele dier is aan God geoffer, net soos Jesus Christus sy lewe gewillig en volkome as ’n losprysoffer gegee het. Die vrywillige gemeenskapsoffer is gedeel. ’n Deel is op die altaar aan God gebring, ’n deel is deur die priester geëet en ’n ander deel deur die persoon wat die offerande gebring het. Vir gesalfde Christene is die Gedenkmaal van Christus se dood eweneens ’n gemeenskaplike maal.—1 Korintiërs 10:16-22.

Sondoffers en skuldoffers was verpligtend. Eersgenoemde het versoening gedoen vir onopsetlike sondes. Laasgenoemde is gebring om God se guns te verkry nadat ’n reg geskend is, of om sekere regte vir die berouvolle oortreder te herstel—of albei. Daar was ook graanoffers wat uit dankbaarheid vir Jehovah se oorvloedige voorsienings gebring is. Dit is alles vir ons van belang omdat die offerandes wat onder die Wetsverbond vereis is, vooruitgewys het na Jesus Christus en sy offerande of na die voordele wat daaruit sou voortspruit.—Hebreërs 8:3-6; 9:9-14; 10:5-10.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

2:11, 12—Waarom was heuning “as ’n vuuroffer” onaanvaarbaar vir Jehovah? Die heuning wat hier genoem word, kan nie na dié van bye verwys nie. Al kon dit nie “as ’n vuuroffer” gebring word nie, is dit wel ingesluit onder “die eerstelinge van die . . . opbrengs van die land” (2 Kronieke 31:5). Hierdie heuning was klaarblyklik die sap, of stroop, van vrugte. Aangesien dit kon gis, was dit onaanvaarbaar as ’n offerande op die altaar.

2:13—Waarom moes sout saam met “elke offer” aangebied word? Dit is nie gedoen om die smaak van offerandes te verbeter nie. Regoor die wêreld word sout as preserveermiddel gebruik. Dit is waarskynlik saam met offerandes aangebied omdat dit vryheid van verdorwenheid en bederf voorstel.

Lesse vir ons:

3:17. Aangesien die vet as die beste of die rykste deel beskou is, het die bevel om dit nie te eet nie, blykbaar by die Israeliete tuisgebring dat die beste deel aan Jehovah behoort (Genesis 45:18). Dit herinner ons aan die feit dat ons ons heel beste aan Jehovah moet gee.—Spreuke 3:9, 10; Kolossense 3:23, 24.

7:26, 27. Die Israeliete moes nie bloed eet nie. In God se oë verteenwoordig bloed lewe. “Die siel [of, lewe] van die vlees is in die bloed”, sê Levitikus 17:11. Vandag word daar nog steeds van ware aanbidders verwag om hulle te onthou van bloed.—Handelinge 15:28, 29.

DIE HEILIGE PRIESTERDOM WORD INGESTEL

(Levitikus 8:1–10:20)

Aan wie is die verantwoordelikheid gegee om na pligte in verband met offerandes om te sien? Dit is aan die priesters toevertrou. Soos God beveel het, het Moses ’n inhuldigingseremonie gehou vir Aäron, die hoëpriester, en vir sy vier seuns, wat onderpriesters sou wees. Die seremonie het blykbaar sewe dae geduur, en die priesterdom het die dag daarna in werking getree.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

9:9—Wat is betekenisvol omtrent die feit dat bloed aan die voet van die altaar uitgegiet en aan die verskillende voorwerpe gesmeer is? Dit het getoon dat Jehovah bloed vir versoeningsdoeleindes aanvaar het. Die hele versoeningsreëling was gegrond op bloed. “Byna alles word volgens die Wet met bloed gereinig”, het die apostel Paulus geskryf, “en tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie.”—Hebreërs 9:22.

10:1, 2—Wat was moontlik betrokke by die sonde van Aäron se seuns Nadab en Abihu? Kort nadat Nadab en Abihu hulle sekere vryhede veroorloof het terwyl hulle hulle priesterlike pligte uitgevoer het, het Jehovah priesters verbied om wyn of sterk drank te gebruik terwyl hulle by die tabernakel dien (Levitikus 10:9). Dit gee te kenne dat Aäron se twee seuns dalk onder die invloed van drank was tydens die geleentheid onder bespreking. Maar die werklike rede vir hulle dood was dat hulle “onwettige vuur” geoffer het, “wat [Jehovah] hulle nie voorgeskryf het nie”.

Lesse vir ons:

10:1, 2. Vandag moet verantwoordelike knegte van Jehovah goddelike vereistes gehoorsaam. Verder moet hulle nie vermetel optree terwyl hulle hulle verantwoordelikhede nakom nie.

10:9. Ons moet nie godgegewe pligte onder die invloed van sterk drank uitvoer nie.

HEILIGE AANBIDDING VEREIS REINHEID

(Levitikus 11:1–15:33)

Voedselvoorskrifte in verband met rein en onrein diere het die Israeliete op twee maniere tot voordeel gestrek. Hierdie voorskrifte het hulle beskerm teen besmetting deur skadelike organismes en het die skeidsmuur tussen hulle en die mense van omringende nasies versterk. Ander voorskrifte het gehandel oor onreinheid van dooie liggame, die reiniging van vroue nadat hulle geboorte gegee het, prosedures in verband met melaatsheid en onreinheid weens afskeidings uit manlike en vroulike geslagsorgane. Priesters moes die sake hanteer van individue wat onrein geword het.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

12:2, 5—Waarom was ’n vrou “onrein” nadat sy geboorte gegee het? Die voorplantingsorgane moes volmaakte menselewe oordra. Maar weens die oorgeërfde gevolge van sonde is onvolmaakte en sondige lewe aan die nageslag oorgedra. Die tydelike tydperke van ‘onreinheid’ wat gepaardgegaan het met kindergeboorte, asook met ander dinge, soos menstruasie en saadstorting, het die Israeliete herinner aan hierdie oorgeërfde sondigheid (Levitikus 15:16-24; Psalm 51:5; Romeine 5:12). Die reinigingsvoorskrifte sou die Israeliete help besef dat ’n losprysoffer nodig was om die mensdom se sonde te bedek en menslike volmaaktheid te herstel. So het die Wet dan hulle “tugmeester geword wat na Christus gelei het”.—Galasiërs 3:24.

15:16-18—Wat is die “saadstorting” waarvan hierdie verse praat? Dit verwys blykbaar na ’n afskeiding gedurende die nag sowel as na geslagsomgang binne die huwelik.

Lesse vir ons:

11:45. Jehovah God is heilig en vereis dat diegene wat heilige diens aan hom verrig, heilig moet wees. Hulle moet heiligheid nastreef en fisies en geestelik rein bly.—2 Korintiërs 7:1; 1 Petrus 1:15, 16.

12:8. Jehovah het toegelaat dat die armes duiwe in plaas van ’n duurder skaap as ’n offerande bring. Hy is bedagsaam teenoor die armes.

HEILIGHEID MOET GEHANDHAAF WORD

(Levitikus 16:1–27:34)

Die belangrikste offerandes vir sondes is op die jaarlikse Versoendag geoffer. ’n Bul is geoffer vir die priesters en die stam Levi. ’n Bok is geoffer vir Israel se niepriesterlike stamme. ’n Tweede bok is lewendig weggestuur, die wildernis in, nadat die volk se sondes daaroor bely is. Die twee bokke is as een sondoffer beskou. Dit alles het vooruitgewys na die feit dat Jesus Christus geoffer sou word en ook sondes sou wegneem.

Voorskrifte in verband met die eet van vleis en ander sake laat ons besef hoe belangrik heiligheid in ons aanbidding van Jehovah is. Dit is gepas dat die priesters heilig moes bly. Die drie jaarlikse feeste was geleenthede vir groot blydskap en om dank aan die Skepper te gee. Jehovah het ook aan sy volk voorskrifte gegee in verband met die misbruik van sy heilige naam, die viering van die Sabbat en van die Jubeljaar, asook hoe hulle teenoor die armes en slawe moes optree. Die seëninge wat uit gehoorsaamheid aan God sou voortspruit, word gestel teenoor die vloeke wat deur ongehoorsaamheid meegebring sou word. Daar is ook wette oor offerandes wat verband hou met geloftes en waardebepalings, die eersgeborene van diere en die gee van tiendes as “iets heiligs vir Jehovah”.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

16:29—In watter sin moes die Israeliete ‘hulle siel kasty’? Dit is iets wat op die Versoendag gedoen is en het verband gehou met die versoek om vergifnis van sondes. Deur op daardie dag te vas, het hulle blykbaar erken dat hulle sondig is. Die uitdrukking ‘die siel kasty’ het dus heel waarskynlik verwys na die gebruik om te vas.

19:27—Wat het die bevel beteken om nie ‘die sylokke rondom kort te knip nie’ en nie ‘die rand van die baard te vernietig nie’? Hierdie wet is klaarblyklik gegee om te keer dat die Jode hulle baarde of hare knip op ’n manier wat sekere heidense gebruike sou nadoen (Jeremia 9:25, 26; 25:23; 49:32). Maar God se bevel het nie beteken dat die Jode nie hulle baarde of gesighare kon knip nie.—2 Samuel 19:24.

25:35-37—Was dit onder alle omstandighede verkeerd vir die Israeliete om rente te vra? As die geld vir sakedoeleindes geleen is, kon die uitlener rente vra. Maar die Wet het verbied dat rente gevra word op lenings aan dié wat in armoede verval het. Dit was verkeerd om wins te maak uit hulle naaste se benarde situasie.—Eksodus 22:25.

26:19—Hoe kon ‘die hemel soos yster en die aarde soos koper word’? Weens ’n gebrek aan reën sou die hemel oor die land Kanaän soos harde, digte yster lyk. Sonder reën sou die aarde ’n koperkleurige metaalglans hê.

26:26—Wat word bedoel met die woorde dat ‘tien vroue brood in een oond sal bak’? Normaalweg sou elke vrou ’n aparte oond nodig hê vir al haar bakwerk. Maar hierdie woorde het verwys na so ’n groot skaarste aan voedsel dat een oond genoeg sou wees vir al die bakwerk van tien vroue. Dit was een van die voorspelde gevolge as hulle nie heilig gebly het nie.

Lesse vir ons:

20:9. ’n Haatdraende en wrede gesindheid was net so sleg in Jehovah se oë as moord. Hy het derhalwe dieselfde straf voorgeskryf hetsy iemand sy ouers vervloek of hulle werklik doodgemaak het. Behoort dit ons nie te beweeg om liefde aan ons medegelowiges te betoon nie?—1 Johannes 3:14, 15.

22:32; 24:10-16, 23. Jehovah se naam mag nie gesmaad word nie. Inteendeel, ons moet sy naam loof en bid dat dit geheilig word.—Psalm 7:17; Matteus 6:9.

HOE LEVITIKUS ONS AANBIDDING RAAK

Jehovah se Getuies lewe vandag nie onder die Wet nie (Galasiërs 3:23-25). Maar aangesien die inhoud van Levitikus ons insig gee in Jehovah se beskouing van verskillende sake, kan dit ons aanbidding raak.

Terwyl jy die weeklikse Bybellees ter voorbereiding van die Teokratiese Bedieningskool doen, sal die feit dat ons God heiligheid van sy knegte vereis, ongetwyfeld ’n diep indruk op jou maak. Hierdie Bybelboek kan jou ook beweeg om die Allerhoogste jou heel beste te gee en altyd heiligheid te handhaaf tot sy lof en eer.

[Prent op bladsy 21]

Die offerandes wat onder die Wet gebring is, het vooruitgewys na Jesus Christus en sy offerande

[Prent op bladsy 22]

Die Fees van die Ongesuurde Koeke was ’n vreugdevolle geleentheid

[Prent op bladsy 23]

Jaarlikse feeste, soos die Huttefees, was geleenthede om Jehovah te dank

    Afrikaanse publikasies (1975-2020)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Voorkeure
    • Copyright © 2019 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan