“Leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het”
“Gaan dus en maak dissipels . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—MATTEUS 28:19, 20.
1. Watter gesprek het tussen die dissipel Filippus en ’n man van Etiopië plaasgevind?
DIE man van Etiopië het die lang reis na Jerusalem afgelê. Daar het hy die God aanbid vir wie hy lief was, Jehovah. Hy was klaarblyklik ook lief vir God se geïnspireerde Woord. Terwyl hy in sy wa op pad huis toe was, het hy ’n afskrif van die profeet Jesaja se geskrifte gelees toe Filippus, ’n dissipel van Christus, hom ontmoet het. Filippus het die Etiopiër gevra: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die man het geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Filippus het toe hierdie opregte student van die Skrif gehelp om ’n dissipel van Christus te word.—Handelinge 8:26-39.
2. (a) In watter opsig was die Etiopiër se antwoord betekenisvol? (b) Watter vrae wat verband hou met Christus se bevel om dissipels te maak, sal ons bespreek?
2 Die Etiopiër se antwoord is insiggewend. Hy het gesê: ‘Hoe kan ek, tensy iemand my lei.’ Ja, hy het ’n gids nodig gehad, iemand wat hom die weg kon wys. Hierdie kommentaar lig die belangrikheid toe van ’n spesifieke opdrag wat Jesus ingesluit het in sy bevel om dissipels te maak. Watter opdrag? Om die antwoord te vind, kan ons ons bespreking van Jesus se woorde in Matteus hoofstuk 28 voortsit. Die vorige artikel het die aandag gevestig op die vrae waarom? en waar? Ons sal nou nog twee vrae bespreek wat verband hou met Christus se bevel om dissipels te maak—wat? en wanneer?
“Leer hulle om alles te onderhou”
3. (a) Hoe word iemand ’n dissipel van Jesus Christus? (b) Wat moet ons mense leer wanneer ons dissipels maak?
3 Wat moet ons ander leer om hulle te help om dissipels van Christus te word? Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Ons moet mense dus die dinge leer wat Christus beveel het.a Maar wat sal help om te verseker dat iemand wat Jesus se gebooie leer, nie net ’n dissipel word nie, maar een bly? Een belangrike faktor kan gesien word in Jesus se woordkeuse. Let op dat hy nie bloot gesê het: ‘Leer hulle alles wat ek julle beveel het’ nie. Hy het eerder gesê: “Leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 19:17). Wat gee dit te kenne?
4. (a) Wat beteken dit om ’n bevel te onderhou? (b) Lig toe hoe ons iemand leer om Christus se bevele te onderhou.
4 Om ’n bevel te onderhou, beteken dat “’n mens jou dade in ooreenstemming bring” met ’n bevel—dit gehoorsaam, of nakom. Hoe leer ons iemand dan om die dinge wat Christus beveel het, te onderhou, of te gehoorsaam? Wel, dink aan die manier waarop ’n instrukteur leerlingbestuurders leer om die verkeerswette te gehoorsaam. Die instrukteur leer sy studente dalk die padreëls terwyl hulle in ’n klaskamer is. Maar as hy sy studente wil leer om daardie reëls te gehoorsaam, moet hy hulle die nodige leiding gee terwyl hulle self in die verkeer bestuur en sukkel om toe te pas wat hulle geleer het. Wanneer ons die Bybel met mense studeer, leer ons hulle eweneens Christus se bevele. Maar ons moet die studente ook lei terwyl hulle Christus se voorskrifte in hulle daaglikse lewe en in die bediening probeer toepas (Johannes 14:15; 1 Johannes 2:3). Om Christus se bevel om dissipels te maak ten volle uit te voer, vereis dus dat ons onderrigters sowel as gidse moet wees. Sodoende volg ons die voorbeeld van Jesus sowel as Jehovah.—Psalm 48:14; Openbaring 7:17.
5. Waarom huiwer iemand met wie ons die Bybel studeer dalk om Christus se bevel te gehoorsaam om dissipels te maak?
5 Wanneer ons ander leer om Jesus se bevele te onderhou, moet ons hulle ook help om die bevel te gehoorsaam om dissipels te maak. Vir sommige met wie ons die Bybel studeer, kan dit oorweldigend wees. Selfs as hulle voorheen bedrywige lede van een van die Christendom se kerke was, is dit onwaarskynlik dat hulle vorige godsdiensonderrigters hulle ooit geleer het om dissipels te gaan maak. Party kerkleiers erken openlik dat die Christendom se kerke jammerlik daarin faal om hulle kudde te leer om die evangelie te verkondig. In ’n kommentaar oor Jesus se bevel om die wêreld in te gaan en alle soorte mense te help om dissipels te word, het die Bybelgeleerde John R. W. Stott gesê: “Vandag is ons versuim om die strekking van hierdie bevel te gehoorsaam, die grootste swakheid van evangeliese Christene op die gebied van evangelisasie.” Hy het bygevoeg: “Ons is geneig om ons boodskap op ’n afstand te verkondig. Ons lyk soms soos mense wat veilig op die strand sit en raad uitskreeu vir manne wat verdrink. Ons duik nie in om hulle te red nie. Ons is bang ons word nat.”
6. (a) Hoe kan ons die voorbeeld van Filippus navolg wanneer ons ’n Bybelstudent help? (b) Hoe kan ons ons besorgdheid toon wanneer ’n Bybelstudent aan die predikingswerk begin deelneem?
6 As iemand met wie ons die Bybel studeer, voorheen deel was van ’n godsdiens wie se lidmate ‘bang is om nat te word’, kan dit vir hom ’n uitdaging wees om as ’t ware sy vrees vir water te oorkom en Christus se bevel te gehoorsaam om dissipels te maak. Hy sal hulp nodig hê. Ons moet dus geduldig wees terwyl ons hom die soort onderrigting en leiding gee wat sy begrip vergroot en hom tot dade aanspoor, net soos die onderrigting van Filippus die Etiopiër insig gegee en hom beweeg het om gedoop te word (Johannes 16:13; Handelinge 8:35-38). En omdat ons graag ons Bybelstudente wil leer om die bevel te onderhou om dissipels te maak, is ons daar om hulle te lei wanneer hulle hulle eerste treë in die Koninkrykspredikingswerk gee.—Prediker 4:9, 10; Lukas 6:40.
“Alles”
7. Watter gebooie moet ander geleer word sodat hulle ‘alles kan onderhou’?
7 Ons leer nuwe dissipels nie net om dissipels te maak nie. Jesus het ons die opdrag gegee om ander te leer om “alles te onderhou” wat hy beveel het. Dit sluit beslis die twee grootste gebooie in—liefde vir God en liefde vir ons naaste (Matteus 22:37-39). Hoe kan ’n nuwe dissipel geleer word om daardie gebooie te onderhou?
8. Lig toe hoe ’n nuwe dissipel die gebod om liefde te betoon, geleer kan word.
8 Dink weer aan die illustrasie van die leerlingbestuurder. Terwyl hy deur die verkeer vleg met die instrukteur langs hom, leer die student nie net deur te luister na wat sy instrukteur sê nie, maar ook deur ander bestuurders dop te hou. Byvoorbeeld, die instrukteur vestig dalk sy aandag op ’n bestuurder wat beleef toelaat dat ’n ander voor hom in die verkeer invloei; of ’n bestuurder wat beleef sy motor se kopligte demp sodat hy nie aankomende verkeer verblind nie; of ’n bestuurder wat gewillig is om ’n kennis te help wie se voertuig onklaar geraak het. Sulke voorbeelde leer die student waardevolle lesse wat hy kan toepas wanneer hy bestuur. So ook leer ’n nuwe dissipel wat op die weg na die lewe wandel, nie net by sy onderrigter nie, maar ook uit die goeie voorbeelde wat hy in die gemeente sien.—Matteus 7:13, 14.
9. Hoe leer ’n nuwe dissipel wat dit beteken om die gebod oor die betoning van liefde na te kom?
9 Byvoorbeeld, ’n Bybelstudent sien dalk ’n enkelouer wat groot moeite doen om met haar klein kindertjies na die Koninkryksaal te kom. Hy sien moontlik ’n terneergedrukte siel wat ondanks haar stryd met depressie die vergaderinge getrou bywoon, ’n bejaarde weduwee wat ander oues van dae na elke gemeentelike vergadering toe bring of ’n tiener wat help om die Koninkryksaal skoon te maak. Die Bybelstudent merk dalk op dat ’n gemeentelike ouer man getrou die leiding in velddiens neem ten spyte van al sy gemeentelike verantwoordelikhede. Hy ontmoet moontlik ’n Getuie wat gestrem is en nie uit die huis kan kom nie, maar wat ’n bron van geestelike bemoediging is vir almal wat hom besoek. Die student sien miskien ’n egpaar wat drastiese veranderinge in hulle lewenswyse aanbring om hulle bejaarde ouers te versorg. Deur sulke goedhartige, bedagsame en getroue Christene waar te neem, leer die nuwe dissipel uit ander se voorbeelde wat dit beteken om gehoorsaam te wees aan Christus se gebod om God en ons naaste, veral medegelowiges, lief te hê (Spreuke 24:32; Johannes 13:35; Galasiërs 6:10; 1 Timoteus 5:4, 8; 1 Petrus 5:2, 3). So kan—en moet—elke lid van die Christengemeente ’n onderrigter en gids wees.—Matteus 5:16.
“Tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”
10. (a) Hoe lank sal ons nog voortgaan om dissipels te maak? (b) Watter voorbeeld het Jesus gestel wat die uitvoering van toewysings betref?
10 Tot wanneer moet ons aanhou met die dissipelmaakwerk? Tot aan die voleinding van die stelsel van dinge (Matteus 28:20). Sal ons hierdie aspek van Jesus se opdrag kan vervul? As ’n wêreldwye gemeente is ons vasbeslote om dit te doen. Ons het deur die jare heen met blydskap van ons tyd, energie en middele gegee om mense te vind wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Handelinge 13:48). Tans bestee Jehovah se Getuies elke dag van die jaar gemiddeld meer as driemiljoen uur aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk in alle wêrelddele. Ons doen dit omdat ons Jesus se voorbeeld volg. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Dit is ook ons opregte begeerte (Johannes 20:21). Ons wil die werk wat aan ons toevertrou is, nie net begin nie; ons wil dit volbring.—Matteus 24:13; Johannes 17:4.
11. Wat het gebeur met party van ons Christenbroers en -susters, en wat moet ons ons afvra?
11 Dit maak ons egter hartseer om te sien dat party van ons medegelowiges geestelik swak geword het en gevolglik traag geword het of heeltemal opgehou het om Christus se bevel na te kom om dissipels te maak. Is daar enige manier waarop ons hulle kan help om weer met die gemeente om te gaan en weer aan die dissipelmaakwerk deel te neem? (Romeine 15:1; Hebreërs 12:12). Die manier waarop Jesus sy apostels gehelp het toe hulle tydelik in ’n swak toestand was, toon wat ons vandag kan doen.
Toon besorgdheid
12. (a) Wat het Jesus se apostels net voor sy dood gedoen? (b) Hoe het Jesus sy apostels behandel al het hulle ernstige swakhede geopenbaar?
12 Aan die einde van Jesus se bediening op aarde, net voor sy dood, het die apostels “hom verlaat en gevlug”. Soos Jesus voorspel het, is hulle elkeen “na sy eie huis verstrooi” (Markus 14:50; Johannes 16:32). Hoe het Jesus sy geestelik verswakte metgeselle behandel? Kort ná sy opstanding het Jesus vir party van sy volgelinge gesê: “Moenie vrees nie! Gaan, vertel vir my broers, sodat hulle na Galilea kan gaan; en daar sal hulle my sien” (Matteus 28:10). Hoewel die apostels ernstige swakhede geopenbaar het, het Jesus hulle nog steeds “my broers” genoem (Matteus 12:49). Hy het nie gedink dat daar geen hoop vir hulle was nie. Jesus was dus barmhartig en vergewensgesind, net soos Jehovah barmhartig en vergewensgesind is (2 Konings 13:23). Hoe kan ons Jesus navolg?
13. Hoe moet ons diegene beskou wat geestelik swak geword het?
13 Ons moet diep besorg wees oor diegene wat traag geword het of opgehou het om aan die bediening deel te neem. Ons onthou nog die dade van liefde wat daardie medegelowiges in die verlede—dalk dekades lank—verrig het (Hebreërs 6:10). Ons mis werklik hulle assosiasie (Lukas 15:4-7; 1 Tessalonisense 2:17). Maar hoe kan ons toon dat ons besorg is oor hulle?
14. Hoe kan ons ’n swakke help in navolging van Jesus?
14 Jesus het vir die neerslagtige apostels gesê dat hulle na Galilea moet gaan en dat hulle hom daar sou sien. Jesus het hulle as ’t ware na ’n spesiale vergadering genooi (Matteus 28:10). Vandag moedig ons eweneens dié wat geestelik swak is aan om die vergaderinge van die Christengemeente by te woon, en ons sal hulle dalk meer as een keer moet aanmoedig. In die geval van die apostels het die uitnodiging vrugte afgewerp, want “die elf dissipels het . . . na Galilea gegaan, na die berg waar Jesus met hulle afgespreek het” (Matteus 28:16). Hoe verheug is ons tog wanneer die swakkes ook so reageer op ons hartlike uitnodigings en Christelike vergaderinge weer begin bywoon!—Lukas 15:6.
15. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg deur swakkes te verwelkom wat na ons vergadering toe kom?
15 Hoe sal ons reageer wanneer ’n Christen wat swak geword het, by die Koninkryksaal opdaag? Wel, wat het Jesus gedoen toe hy sy apostels, wie se geloof tydelik verswak het, by die afgesproke vergaderplek sien? “Jesus het nader gekom en met hulle gepraat” (Matteus 28:18). Hy het hulle nie van ver af aangestaar nie, maar het hulle genader. Stel jou voor hoe verlig die apostels was toe Jesus die inisiatief geneem het! Mag ons ook die inisiatief neem en dié wat geestelik swak is en die poging aanwend om terug te kom na die Christengemeente, hartlik verwelkom.
16. (a) Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus sy volgelinge behandel het? (b) Hoe kan ons Jesus se beskouing van swakkes weerspieël? (Sien voetnoot.)
16 Wat het Jesus nog gedoen? Eerstens het hy ’n aankondiging gemaak: “Alle gesag . . . is aan my gegee.” Tweedens het hy ’n toewysing gegee: “Gaan dus en maak dissipels.” Derdens het hy ’n belofte gemaak: “Ek is met julle al die dae.” Maar het jy opgemerk wat Jesus nie gedoen het nie? Hy het die dissipels nie oor hulle tekortkominge en twyfelgedagtes berispe nie (Matteus 28:17). Was sy benadering doeltreffend? Ja. Kort voor lank was die apostels weer eens besig “om te leer en die goeie nuus . . . bekend te maak” (Handelinge 5:42). As ons Jesus navolg in die manier waarop hy swakkes beskou en behandel het, sal ons dalk ook sulke hartverblydende resultate in ons plaaslike gemeente sien.b—Handelinge 20:35.
“Ek is met julle al die dae”
17, 18. Watter bemoedigende gedagtes bevat Jesus se woorde, “ek is met julle al die dae”?
17 Die laaste woorde van Jesus se opdrag, “ek is met julle al die dae”, bevat ’n bemoedigende gedagte vir almal wat daarna streef om Christus se bevel te gehoorsaam om dissipels te maak. Ongeag in watter mate ons vyande ons Koninkrykspredikingswerk teëstaan en ongeag hoe hulle ons belaster, ons het geen rede om te vrees nie. Waarom nie? Jesus, ons Leier, wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” het, is met ons om ons te ondersteun!
18 Jesus se belofte, “ek is met julle al die dae”, is ook ’n bron van groot vertroosting. Terwyl ons Christus se bevel probeer uitvoer om dissipels te maak, ondervind ons nie net gelukkige dae nie, maar ook hartseer dae (2 Kronieke 6:29). Party van ons verduur droewige tye wanneer ons oor die dood van ’n geliefde treur (Genesis 23:2; Johannes 11:33-36). Ander sukkel met die ouderdom, wanneer gesondheid en kragte afneem (Prediker 12:1-6). Nog ander ondervind dae wanneer hulle deur neerslagtigheid oorweldig word (1 Tessalonisense 5:14). En al hoe meer van ons sukkel om kop bo water te hou weens ekonomiese ontberinge. Maar ten spyte van hierdie uitdagings behaal ons welslae in ons bediening omdat Jesus “al die dae” met ons is, selfs in die donkerste dae van ons lewe.—Matteus 11:28-30.
19. (a) Watter instruksies bevat Jesus se opdrag om dissipels te maak? (b) Wat stel ons in staat om Christus se opdrag na te kom?
19 Soos ons in hierdie en die vorige artikel gesien het, is Jesus se opdrag om dissipels te maak, alomvattend. Jesus het vir ons gesê waarom en waar ons sy bevel moet uitvoer. Hy het ook vir ons gesê wat ons ander moet leer en tot wanneer ons dit moet doen. Dit is weliswaar ’n uitdaging om hierdie gewigtige opdrag na te kom. Maar met Christus se gesag wat ons steun en sy teenwoordigheid wat ons aanspoor, kan ons dit doen! Stem jy nie saam nie?
[Voetnote]
a ’n Naslaanwerk wys daarop dat Jesus gesê het “doop hulle . . . leer hulle”, nie ‘doop en leer hulle’ nie. Gevolglik is die opdrag om te doop en te leer “nie streng gesproke . . . twee opeenvolgende handelinge nie”. Inteendeel, “om [ander] te leer, is ’n deurlopende proses, wat doop gedeeltelik voorafgaan . . . en gedeeltelik [daarop] volg”.
b Verdere inligting oor hoe swakkes beskou en gehelp moet word, kan gevind word in Die Wagtoring van 1 Februarie 2003, bladsye 15-18.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe leer ons ander om te onderhou wat Jesus beveel het?
• Watter lesse kan ’n nuwe dissipel by ander in die gemeente leer?
• Wat kan ons doen om diegene te help wat geestelik swak geword het?
• Watter krag en bemoediging put ons uit Jesus se belofte “ek is met julle al die dae”?
[Prente op bladsy 15]
Ons moet onderrigters sowel as gidse wees
[Prente op bladsy 17]
’n Nuwe dissipel leer waardevolle lesse uit die voorbeeld wat ander stel