Die Onse Vader—Wat dit vir jou beteken
DIE Onse Vader, wat Jesus Christus tydens die Bergpredikasie gegee het, word in die Bybel in Matteus hoofstuk 6, verse 9 tot 13, gevind. Net voordat Jesus hierdie gebed gegee het, het hy gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.”—Matteus 6:7.
Dit is dus duidelik dat Jesus nie bedoel het dat die Onse Vader woord vir woord opgesê moet word nie. Hy het weliswaar hierdie gebed later tot voordeel van ’n ander gehoor herhaal (Lukas 11:2-4). Maar die bewoording van die gebed verskil ietwat in die Evangelieverslae van Matteus en Lukas. Wat meer is, latere gebede deur Jesus en sy dissipels het nie streng gebly by die spesifieke woorde van sy modelgebed nie.
Waarom is die Onse Vader in die Bybel opgeteken? Deur middel van hierdie model leer Jesus ons hoe ons gebede vir God aanneemlik kan wees. In hierdie gebed vind ons ook antwoorde op party basiese vrae in die lewe. Kom ons bespreek dus elke gedeelte van die Onse Vader.
Wat is God se naam?
“Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Hierdie openingswoorde van die modelgebed help ons om nader aan God te kom deur hom as “ons Vader” aan te spreek. Soos ’n kind, wat van nature aangetrokke voel tot ’n liefdevolle en simpatieke ouer, kan ons ons hemelse Vader nader met die vertroue dat hy na ons wil luister. “O Hoorder van die gebed”, het koning Dawid gesing, “ja, tot u sal mense van alle vlees kom.”—Psalm 65:2.
Jesus sê vir ons om te bid dat God se naam geheilig word. Maar wat is God se naam? Die Bybel antwoord met hierdie woorde: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18). Het jy al ooit die naam Jehovah in die Bybel gelees?
God se naam, Jehovah, kom in werklikheid meer as 7 000 keer in ou Bybelmanuskripte voor. Party vertalers het hulle egter die reg aangematig om hierdie naam uit hulle Bybelvertalings te verwyder. Ons bid dus tereg dat ons Skepper sy naam moet heilig (Esegiël 36:23). Een manier waarop ons in ooreenstemming met so ’n gebed kan optree, is om die naam Jehovah te gebruik wanneer ons tot God bid.
’n Vrou met die naam Patricia is as ’n Katoliek grootgemaak en het die Onse Vader redelik goed geken. Hoe het sy gereageer toe een van Jehovah se Getuies haar God se naam in die Bybel gewys het? “Ek kon dit nie glo nie!” het sy uitgeroep. “Ek het dus my eie vertaling van die Bybel gaan haal, en dit was ook daarin. Die Getuie het toe vir my Matteus 6:9, 10 gewys en verduidelik dat God se naam met die Onse Vader verband hou. Ek was baie opgewonde en het haar gevra om die Bybel met my te studeer.”
God se wil sal op die aarde geskied
“Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Hoe sal hierdie gedeelte van Jesus se modelgebed vervul word? Die meeste mense dink aan die hemel as ’n vreedsame en rustige plek. Die Skrif verwys na die hemel as Jehovah se “verhewe woning van heiligheid en luisterrykheid” (Jesaja 63:15). Geen wonder ons bid dat God se wil op die aarde moet geskied “soos in die hemel” nie! Maar sal dit ooit gebeur?
Jehovah se profeet Daniël het voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie [aardse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Hierdie hemelse Koninkryk, of regering, sal binnekort optree om wêreldwye vrede onder ’n regverdige heerskappy tot stand te bring.—2 Petrus 3:13.
Om te bid dat God se Koninkryk moet kom en dat sy wil op die aarde moet geskied, is ’n blyk van geloof wat nie tot teleurstelling sal lei nie. Die Christenapostel Johannes het geskryf: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’” Toe het Johannes bygevoeg: “En die Een wat op die troon sit, het gesê: . . . ’Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’”—Openbaring 21:3-5.
Gebed en ons fisiese behoeftes
Deur wat hy in die modelgebed gesê het, het Jesus getoon dat God se naam en wil vir ons die hoofsaak moet wees wanneer ons bid. Maar die modelgebed gaan voort met persoonlike versoeke wat gepas tot Jehovah gerig word.
Die eerste hiervan is: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag” (Matteus 6:11). Dit is nie ’n versoek om materiële rykdom nie. Jesus het ons aangespoor om te bid vir “ons brood vir die dag volgens die dag se vereiste” (Lukas 11:3). In ooreenstemming met die Onse Vader kan ons met vertroue bid dat God in ons daaglikse behoeftes sal voorsien as ons hom liefhet en gehoorsaam.
Onnodige bekommernis oor ekonomiese probleme kan veroorsaak dat ons ons geestelike behoefte verwaarloos en gevolglik versuim om te doen wat God van ons verwag. Maar as ons die aanbidding van God eerste in ons lewe stel, kan ons seker wees dat ons versoeke om materiële noodsaaklikhede, soos kos en klere, verhoor sal word. Jesus het gesê: “Hou . . . aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:26-33). Dit is nie maklik om God se regverdigheid te soek nie, aangesien ons almal sondig en vergifnis nodig het (Romeine 5:12). Die Onse Vader roer ook hierdie saak aan.
Ons gebede en vergifnis
“Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matteus 6:12). In Lukas se verslag van die Onse Vader word daar na hierdie “skulde” verwys as “sondes” (Lukas 11:4). Sal Jehovah God werklik ons sondes vergewe?
Hoewel koning Dawid van eertydse Israel ernstige sondes gepleeg het, was hy berouvol en het hy vol vertroue gebid: “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind; en die liefderyke goedhartigheid teenoor almal wat u aanroep, is oorvloedig” (Psalm 86:5). Hoe bemoedigend tog! Ons hemelse Vader is “vergewensgesind” teenoor diegene wat hom berouvol aanroep. Net so seker as wat iemand se skuld ten volle kwytgeskeld kan word, kan Jehovah God ons sondes heeltemal vergewe.
Jesus het egter ’n voorwaarde genoem: As ons deur God vergewe wil word, moet ons ander vergewe (Matteus 6:14, 15). Al is die regverdige man Job sleg behandel deur drie van sy metgeselle, was hy vergewensgesind en het hy selfs vir hulle gebid (Job 42:10). As ons dié vergewe wat teen ons sondig, sal ons God behaag en by sy barmhartigheid kan baat vind.
God se bereidwilligheid om na ons versoeke te luister, moet ons beweeg om sy goedkeuring te probeer verkry. En ons kan dit doen, al is ons onvolmaak (Matteus 26:41). Ook hier kan Jehovah ons help, soos Jesus getoon het deur die modelgebed met ’n belangrike versoek af te sluit.
Hulp om ’n regverdige weg te volg
“Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matteus 6:13). Jehovah gee ons nie oor aan versoeking en laat ons ook nie sondig nie. Sy Woord sê: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). God laat wel toe dat ons versoek word, maar hy kan ons verlos van die Groot Versoeker—“die bose” bekend as Satan die Duiwel.
Die apostel Petrus het mede-Christene gemaan: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Satan het immers selfs die volmaakte man Jesus Christus probeer versoek! Wat was die Duiwel se oogmerk? Om Jesus van die ware aanbidding van Jehovah God af weg te lok (Matteus 4:1-11). As jy God wil dien, is Satan se oogmerk om jou ook te verslind!
Deur middel van die wêreld wat onder sy beheer is, kan die Duiwel ons in die versoeking bring om dinge te beoefen wat God mishaag (1 Johannes 5:19). Dit is dus uiters belangrik dat ons gereeld tot God bid vir hulp, veral wanneer ’n versoeking voortduur. En as ons Jehovah in ooreenstemming met sy geïnspireerde Woord, die Bybel, aanbid, sal hy ons verlos deur ons te help om die Duiwel te weerstaan. “God is getrou”, sê die Bybel vir ons, “en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie.”—1 Korintiërs 10:13.
Geloof in God onontbeerlik
Hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat ons hemelse Vader in elkeen van ons belangstel! Hy het selfs toegesien dat sy Seun, Jesus Christus, ons leer hoe om te bid. Dit wek beslis by ons die begeerte om Jehovah God te behaag. Hoe kan ons dit doen?
Die Bybel sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Hoe kan sulke geloof verkry word? “Geloof volg . . . op wat gehoor word”, sê die Bybel (Romeine 10:17). Jehovah se Getuies geniet dit om oor skriftuurlike sake te gesels met almal wat God graag met ware geloof wil dien.
Ons hoop dat hierdie bespreking van die Onse Vader jou waardering vir die betekenis daarvan vergroot het. Jy kan jou geloof in God versterk deur verdere kennis in te neem van Jehovah en hoe hy “dié wat hom ernstig soek”, sal beloon. Leer gerus meer van hom en van sy voornemens sodat jy tot in ewigheid ’n hegte verhouding met jou hemelse Vader kan geniet.—Johannes 17:3.
[Lokteks op bladsy 5]
“Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag; en vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.”—Matteus 6:9-13
[Prent op bladsy 7]
Jehovah voorsien in die behoeftes van dié wat hom liefhet
[Prent op bladsy 7]
God help ons ook om die Duiwel te weerstaan
[Prent op bladsy 7]
As ons, soos Job, diegene vergewe wat teen ons sondig, kan ons by God se barmhartigheid baat vind