Lewensverhaal
’n Opvoeding wat lewenslank voortgeduur het
SOOS VERTEL DEUR HAROLD GLUYAS
’n Herinnering uit my kinderdae het my meer as 70 jaar lank bygebly. Ek het in my ma se kombuis gesit en na ’n etiket gekyk met die naam “Ceylon-tee” daarop. Dit het ook ’n prentjie gehad van vroue wat teeblare in die welige groen plantasies van Ceylon (nou Sri Lanka) pluk. Hierdie prentjie, wat so anders was as ons woestyntuiste in Suid-Australië, het my verbeelding aangegryp. Ceylon moet sekerlik ’n pragtige en opwindende land wees, het ek gedink. Min het ek toe geweet dat ek 45 jaar van my lewe as ’n sendeling op daardie besonderse eiland sou deurbring.
EK IS in April 1922 gebore in ’n wêreld wat heeltemal anders was as die wêreld van vandag. Ons gesin het op ’n afgeleë saaiplaas gewoon naby die afgesonderde plattelandse dorpie Kimba, in die middel van die uitgestrekte Australiese vasteland en aan die suidelike punt van die groot woestyngebied. Dit was ’n moeilike bestaan weens die voortdurende stryd teen droogtes, insekplae en die versengende hitte. My ma het hard gewerk om na my pa en ons ses kinders om te sien in ons nederige huisie, wat eintlik nie veel meer as ’n sinkgeboutjie was nie.
Maar vir my was die woestyn ’n plek van vryheid en opwinding. Ek onthou nog hoe ek met kinderlike ontsag toegekyk het terwyl kragtige spanne jong osse die struikgewasse uit die grond getrek het en hoe hewige sandstorms die landstreek met stof oordek het. My opvoeding in die lewe het dus in werklikheid begin lank voordat ek die klein skooltjie, met net een onderwyser, vyf kilometer van die huis af begin bywoon het.
My ouers was godsdienstig, al het hulle nooit kerk toe gegaan nie—hoofsaaklik omdat ons plaas so ver van die dorp af was. Nietemin het my ma in die vroeë 1930’s na die Bybeltoesprake van regter Rutherford begin luister, wat elke week deur ’n radiostasie in Adelaide uitgesaai is. Ek het gedink dat regter Rutherford die een of ander prediker in Adelaide is, en ek het nie juis belanggestel nie. Maar elke week het my ma gretig op Rutherford se uitsendings gewag en aandagtig geluister terwyl sy stem al krakende oor ons ou battery-radio gekom het.
Een warm, stowwerige middag het ’n ou bakkie voor ons huis stilgehou, en twee netjies geklede mans het uitgeklim. Hulle was Jehovah se Getuies. My ma het na hulle boodskap geluister en ’n bydrae gegee vir ’n hele klomp boeke, wat sy onmiddellik begin lees het. Hierdie boeke het so ’n diep indruk op haar gemaak dat sy spoedig vir my pa gevra het om haar na die bure te neem sodat sy met hulle kon praat oor wat sy geleer het.
Die voordeel van positiewe invloede
Kort hierna het die ongunstige toestande van die Australiese Agterveld ons genoodsaak om na die stad Adelaide, ongeveer 500 kilometer daarvandaan, te verhuis. Ons gesin het met die Adelaide-gemeente van Jehovah se Getuies begin assosieer en geestelike vooruitgang gemaak. Die trek het egter die einde van my skoolopleiding beteken. Ek was maar 13 jaar oud en het net graad sewe voltooi. Ek het ’n sorgelose geaardheid gehad, en sonder die hulp van etlike voorbeeldige broers—pioniers, of voltydse bedienaars—wat ’n persoonlike belangstelling in my getoon het, sou ek dalk nie geestelike dinge nagestreef het nie.
Met verloop van tyd het die invloed van hierdie ywerige broers ’n sluimerende geestelikheid in my wakker gemaak. Ek het hulle geselskap terdeë geniet en hulle hardwerkende gees bewonder. Toe daar dus in 1940 by ’n streekbyeenkoms in Adelaide ’n aankondiging gemaak is om voltydse diens aan te moedig, het ek tot my groot verbasing my naam opgegee. Op daardie stadium was ek nog nie eers gedoop nie en het ek maar min ondervinding in die predikingswerk gehad. Ek is nietemin ’n paar dae later genooi om aan te sluit by ’n klein groepie pioniers in Warrnambool, ’n dorp honderde kilometers van Adelaide, in die naburige staat Victoria.
Ten spyte van hierdie wankelrige begin het ek spoedig ’n liefde vir die veldbediening ontwikkel, ’n liefde wat ek verheug is om te sê, oor die jare nie verflou het nie. Dit was in werklikheid ’n keerpunt in my lewe, en ek het waarlik geestelike vooruitgang begin maak. Ek het die waarde daarvan geleer om vriende te wees met diegene wat ’n liefde vir geestelike dinge het. Ek het uitgevind hoe hulle goeie invloed die beste in ons na vore kan bring ongeag ons opvoeding en hoe die lesse wat ons leer, ons lewenslank tot voordeel kan strek.
Versterk deur beproewinge
Ek was nog net ’n kort tydjie in die pionierdiens toe die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied is. Omdat ek nie seker was wat om te doen nie, het ek die broers om leiding gevra, en hulle het daarop gewys dat ons nie verbied is om met mense oor die Bybel te praat nie. Ek en die ander pioniers het dus met ’n eenvoudige boodskap uit die Bybel van huis tot huis begin gaan. Dit het my versterk vir toetse wat op hande was.
Vier maande later het ek 18 geword en is ek opgeroep vir diensplig. Dit het my die geleentheid gegee om my geloof voor etlike militêre offisiere en ’n magistraat te verdedig. Op daardie stadium was daar omtrent 20 broers in die gevangenis in Adelaide weens hulle neutrale standpunt, en ek het kort daarna by hulle aangesluit. Ons moes dwangarbeid verrig, soos steengroefwerk en herstelwerk aan paaie. Dít het my gehelp om eienskappe soos volharding en vasberadenheid aan te kweek. Ons goeie gedrag en ferm standpunt het uiteindelik die respek van baie van die tronkbewaarders afgedwing.
Toe ek maande later vrygelaat is, het ek ’n lekker ete geniet en die pionierdiens hervat. Maar pioniermaats was skaars, en daarom is ek gevra of ek bereid sal wees om op my eie in ’n afgesonderde plaasgebied in Suid-Australië te werk. Ek het ingestem en per skip na Yorke-skiereiland vertrek, met net die dinge wat ek vir die predikingswerk nodig gehad het en ’n fiets. Toe ek daar aankom, het ’n belangstellende gesin my vertel van ’n klein gastehuis, waar ’n vriendelike dame my soos ’n seun behandel het. Bedags het ek die stowwerige paaie op my fiets aangedurf en die predikingswerk in die klein dorpies oor die hele skiereiland gedoen. Om die verafgeleë dele te dek, het ek soms by klein hotelle of gastehuise oornag. Op dié manier het ek honderde kilometers per fiets afgelê en talle aangename ondervindinge geniet. Dit het my nooit juis gepla om alleen te werk nie, en hoe meer ek Jehovah se sorg ondervind het, hoe nader het ek aan hom gekom.
Ek oorkom gevoelens van onbevoegdheid
In 1946 het ek ’n brief ontvang waarin ek genooi is om die reisende werk as ’n kneg vir die broers (wat nou ’n kringopsiener genoem word) te doen. Dit het behels dat ek ’n aantal gemeentes in ’n gegewe kring besoek. Ek moet erken dat die verantwoordelikhede wat met hierdie toewysing gepaardgegaan het, vir my ’n groot uitdaging was. Eendag het ek ’n broer hoor sê: “Harold is nie eintlik iemand vir die verhoog nie, maar hy is goed in die veldbediening.” Hierdie kommentaar het my baie aangemoedig. Ek was deeglik bewus van my beperkings as spreker en organiseerder, maar ek het geglo dat die predikingswerk die vernaamste werk vir Christene is.
In 1947 het groot opgewondenheid geheers oor ’n besoek deur broers Nathan Knorr en Milton Henschel van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn. Dit was die eerste keer dat ons so ’n besoek ontvang het sedert broer Rutherford in 1938 gekom het. ’n Groot streekbyeenkoms is in Sydney gehou om hiermee saam te val. Soos baie van die ander jong pioniers het ek ook belanggestel in die sendingopleiding waarmee daar kort tevore by die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, VSA, begin is. Heelparty van ons in die gehoor het gewonder of goeie geleerdheid ’n vereiste sou wees om as student vir die skool in te skryf. Broer Knorr het egter verduidelik dat ons, as ons ’n artikel in Die Wagtoring kan lees en die hoofgedagtes kan onthou, waarskynlik goed sal vaar by Gilead.
Ek het gedink dat ek weens my beperkte skoolopleiding dalk nie sal kwalifiseer nie. Tot my verbasing is ek ’n paar maande later genooi om aansoek te doen vir Gileadopleiding. Daarna is ek as ’n student aanvaar en het ek in 1950 die 16de klas bygewoon. Dit was ’n wonderlike ondervinding wat my baie gehelp het om groter selfvertroue op te bou. Dit het vir my bewys dat akademiese prestasies nie die hooffaktor vir sukses is nie. Ywer en gehoorsaamheid is eerder die vernaamste vereistes. Ons instrukteurs het ons aangespoor om ons bes te doen. Deur na hulle raad te luister, het ek goeie vooruitgang gemaak en kon ek die opleidingskursus heel goed volg.
Van dorre vasteland na eilandjuweel
Ná die graduering is ek en twee ander broers van Australië na Ceylon (nou Sri Lanka) gestuur. Ons het in September 1951 in die hoofstad, Colombo, aangekom. Dit was warm en bedompig, en ons sintuie is oorweldig deur al die nuwe geluide, geure en dinge wat ons gesien het. Toe ons van die skip afklim, het een van die sendelinge wat reeds in die land gedien het, my verwelkom met ’n strooibiljet waarop ’n openbare toespraak vir die volgende Sondag op die stadsplein geadverteer is. Tot my verbasing was my naam op die biljet—as die spreker! Jy kan jou my skok voorstel. Maar my jare in die pionierdiens in Australië het my geleer om enige toewysing te aanvaar. Met Jehovah se hulp het ek dus die openbare toespraak gehou, en dit het goed afgeloop. Tesame met die vier ongetroude broers wat op daardie stadium reeds in die Colombo-sendinghuis was, het ons drie die moeilike Singala-taal begin leer en aan die veldbediening begin deelneem. Ons het die meeste van die tyd alleen gewerk en was verheug om te vind dat die plaaslike mense beleef en gasvry was. Kort voor lank het die vergaderingbywoning begin toeneem.
Met verloop van tyd het ek ernstig begin dink aan ’n aantreklike pioniersuster, Sybil, wat ek op die skip ontmoet het toe ek op pad was na Gileadskool. Sy was op pad na die internasionale byeenkoms in New York. Later het sy die 21ste klas van Gilead bygewoon, en in 1953 is sy na Hongkong gestuur. Ek het besluit om vir haar te skryf, en ons het tot 1955 gekorrespondeer toe Sybil by my aangesluit het in Ceylon, waar ons getrou het.
Ons eerste toewysing saam as ’n sendingegpaar was Jaffna, ’n stad in die verre noorde van Sri Lanka. In die middel-1950’s het politieke verskille ’n wig tussen die Singala- en Tamil-gemeenskappe begin indryf, wat die grondslag vir ’n gewapende konflik in latere dekades gelê het. Hoe hartverblydend was dit tog om te sien hoe Singala- en Tamil-Getuies maande lank vir mekaar skuiling gegee het gedurende daardie moeilike jare! Daardie beproewinge het die geloof van die broers gelouter en versterk.
Die predikings- en onderrigtingswerk in Sri Lanka
Dit het geduld en volharding geverg om aan die Hindoe- en Moslemgemeenskappe gewoond te raak. Nietemin het ons albei kulture leer ken en hulle aantreklike eienskappe begin waardeer. Aangesien dit ongewoon was om buitelanders op die plaaslike busse te sien ry, is ons dikwels aangestaar. Sybil het besluit dat sy breed vir hulle sou glimlag. Wat ’n vreugde was dit tog om te sien hoe daardie vraende blikke in pragtige glimlagte verander!
By een geleentheid is ons by ’n padblokkade voorgekeer. Nadat die wag ons gevra het waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is, het sy vrae persoonliker geraak.
“Wie is hierdie vrou?”
“Dis my vrou”, het ek geantwoord.
“Hoe lank is julle getroud?”
“Agt jaar.”
“Het julle kinders?”
“Nee.”
“Goeie genade! Het julle al ’n dokter gaan spreek?”
Hierdie natuurlike nuuskierigheid het ons aanvanklik verras, maar ons het dit mettertyd as ’n blyk van die plaaslike mense se opregte persoonlike belangstelling in ander beskou. Trouens, dit was een van hulle aantreklikste eienskappe. ’n Mens hoef net ’n kort rukkie in ’n openbare plek te staan voordat iemand jou nader en vriendelik vra of jy enige hulp nodig het.
Veranderinge en ’n terugblik
Deur die jare heen het ons verskeie toewysings benewens ons sendingwerk in Sri Lanka geniet. Ek het as ’n kring- en streekopsiener sowel as ’n lid van die Takkomitee gedien. Teen 1996 was ek in my middelsewentigerjare. Ek kon met blydskap terugkyk op 45 jaar van sendingdiens in Sri Lanka. By die eerste vergadering wat ek in Colombo bygewoon het, was daar omtrent 20 mense. Daardie getal het nou tot meer as 3 500 vermeerder! Ek en Sybil beskou baie van hierdie dierbare broers en susters as ons geestelike kinders en kleinkinders. Maar daar was nog baie werk wat in die hele land gedoen moes word—werk wat die energie en vermoëns van die jonger geslag vereis het. Daarom het ons ’n uitnodiging van die Bestuursliggaam aanvaar om na Australië terug te keer. Dit het bekwame jonger paartjies die geleentheid gegee om in ons plek as sendelinge in Sri Lanka te gaan dien.
Ek is nou amper 83, en ek en Sybil is verheug dat ons nog gesond genoeg is om as spesiale pioniers in my tuisgebied in Adelaide te dien. Ons bediening hou ons verstandelik skerp en aanpasbaar. Dit het ons ook gehelp om weer by die heeltemal ander lewenswyse in hierdie land aan te pas.
Jehovah voorsien steeds in al ons materiële behoeftes, en die broers en susters in ons plaaslike gemeente gee ons baie liefde en ondersteuning. Ek het onlangs ’n nuwe toewysing ontvang. Ek is as die sekretaris in ons gemeente aangestel. So het ek dan gevind dat my opleiding voortduur terwyl ek Jehovah getrou probeer dien. Wanneer ek terugkyk op die jare, kan ek nie glo dat ’n eenvoudige, sorgelose seun van die Agterveld so ’n wonderlike opvoeding ontvang het nie—een wat lewenslank voortgeduur het.
[Prent op bladsy 26]
Op ons troudag, 1955
[Prent op bladsy 27]
In die veldbediening saam met Rajan Kadirgamar, ’n plaaslike broer, 1957
[Prent op bladsy 28]
Saam met Sybil vandag