Jehovah se oordeel sal oor die goddeloses kom
“Maak jou gereed om jou God te ontmoet.”—AMOS 4:12.
1, 2. Waarom kan ons vertroue hê dat God ’n einde aan goddeloosheid sal maak?
SAL Jehovah ooit ’n einde aan die goddeloosheid en lyding op die aarde maak? Aan die begin van die 21ste eeu is hierdie vraag meer gepas as ooit tevore. Net waar ons kyk, sien ons bewys van die mens se onmenslikheid teenoor die mens. Hoe smag ons tog na ’n wêreld sonder geweld, terrorisme en verdorwenheid!
2 Die goeie nuus is dat ons volle vertroue kan hê dat Jehovah ’n einde aan goddeloosheid sal maak. God se eienskappe verseker dat hy teen die goddeloses sal optree. Jehovah is ’n God van regverdigheid en geregtigheid. In Psalm 33:5 sê sy Woord vir ons: “Hy het regverdigheid en geregtigheid lief.” ’n Ander psalm sê: “[Jehovah se] siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). Jehovah, die almagtige God, wat regverdigheid en geregtigheid liefhet, sal beslis nie dinge wat hy haat, vir ewig duld nie.
3. Wat sal in ’n verdere bespreking van die profesie van Amos beklemtoon word?
3 Kyk na nog ’n rede waarom ons seker kan wees dat Jehovah goddeloosheid uit die weg sal ruim. Die verslag van sy handelinge in die verlede waarborg dit. Treffende voorbeelde van hoe Jehovah nog altyd teenoor die goddeloses opgetree het, word in die Bybelboek Amos gevind. ’n Verdere bespreking van die profesie van Amos sal drie dinge omtrent God se oordeel beklemtoon. Eerstens, dit is altyd verdiend. Tweedens, dit is onontkombaar. En derdens, dit is selektief, want Jehovah voltrek oordeel aan kwaaddoeners maar bewys barmhartigheid aan mense wat berouvol is en die regte gesindheid het.—Romeine 9:17-26.
God se oordeel is altyd verdiend
4. Waarheen het Jehovah Amos gestuur, en waarom?
4 In die dae van Amos was die Israeliete reeds in twee koninkryke verdeel. Die een was die suidelike tweestammeryk van Juda. Die ander was die noordelike tienstammeryk van Israel. Jehovah het Amos aangestel om as ’n profeet te dien en het hom van sy tuisdorp in Juda na Israel gestuur. Daar sou Amos deur God gebruik word om Sy oordeel bekend te maak.
5. Teen watter nasies het Amos eerste geprofeteer, en wat was een rede waarom hulle God se ongunstige oordeel verdien het?
5 Amos het nie sy werk begin deur Jehovah se oordeel oor die afvallige noordelike koninkryk van Israel te verkondig nie. Hy het eerder begin deur God se ongunstige oordeel oor ses nabygeleë nasies te verkondig. Hierdie nasies was Sirië, Filistea, Tirus, Edom, Ammon en Moab. Maar het hulle werklik God se ongunstige oordeel verdien? Hulle het beslis. Om maar een ding te noem, hulle was geswore vyande van Jehovah se volk.
6. Waarom sou God rampspoed oor Sirië, Filistea en Tirus bring?
6 Byvoorbeeld, Jehovah het die Siriërs veroordeel ‘omdat hulle Gilead gedors het’ (Amos 1:3). Die Siriërs het grondgebied van Gilead afgeneem—’n gebied van Israel oos van die Jordaanrivier—en het God se volk dáár ernstige leed aangedoen. Wat van Filistea en Tirus? Die Filistyne was daaraan skuldig dat hulle Israelitiese ballinge, of gevangenes, geneem en hulle aan die Edomiete verkoop het, en party Israeliete het in die hande van Tiriese slawehandelaars beland (Amos 1:6, 9). Dink net daaraan—hulle het God se volk in slawerny verkoop! Dit is geen wonder dat Jehovah rampspoed oor Sirië, Filistea en Tirus sou bring nie.
7. Wat het Edom, Ammon en Moab in gemeen gehad met Israel, en hoe het hulle die Israeliete behandel?
7 Edom, Ammon en Moab het iets in gemeen gehad met Israel en met mekaar. Al drie nasies was verwant aan die Israeliete. Die Edomiete was nakomelinge van Abraham deur Jakob se tweelingbroer, Esau. Hulle was dus in sekere sin Israel se broers. Die Ammoniete en die Moabiete was nakomelinge van Abraham se broerskind Lot. Maar het Edom, Ammon en Moab hulle Israelitiese verwante op ’n broederlike wyse behandel? Glad nie! Edom het die swaard meedoënloos teen “sy broer” gebruik, en die Ammoniete het hulle Israelitiese gevangenes sadisties behandel (Amos 1:11, 13). Hoewel Amos nie regstreeks melding maak van Moab se mishandeling van God se volk nie, het die Moabiete ’n lang geskiedenis van teenstand teen Israel gehad. Hierdie drie verwante nasies sou swaar gestraf word. Jehovah sou ’n vurige vernietiging oor hulle stuur.
God se oordeel is onontkombaar
8. Waarom was God se oordele oor die ses nasies naby Israel onontkombaar?
8 Die ses nasies wat vroeg in die profesie van Amos aangespreek is, het ongetwyfeld God se ongunstige oordeel verdien. Wat meer is, hulle kon glad nie daaraan ontkom nie. Van Amos hoofstuk 1, vers 3, tot hoofstuk 2, vers 1, sê Jehovah ses keer: “Ek [sal] dit nie afwend nie.” Net soos hy gesê het, het hy dan ook nie sy hand afgewend van daardie nasies nie. Dit is ’n geskiedkundige feit dat hulle almal later deur rampspoed getref is. Ten minste vier van hulle—Filistea, Moab, Ammon en Edom—het uiteindelik ophou bestaan!
9. Wat het die inwoners van Juda verdien, en waarom?
9 Die profesie van Amos het daarna die aandag op ’n sewende nasie gevestig—sy tuisgebied Juda. Sy toehoorders in die noordelike koninkryk van Israel was moontlik verbaas om te hoor dat Amos ’n oordeelsboodskap teen die koninkryk van Juda verkondig. Waarom het die inwoners van Juda ’n ongunstige oordeel verdien? “Omdat hulle die wet van Jehovah verwerp het”, sê Amos 2:4. Jehovah het sulke opsetlike verontagsaming van sy Wet nie lig opgeneem nie. Volgens Amos 2:5 het hy voorspel: “Ek sal ’n vuur in Juda stuur, en dit moet die woontorings van Jerusalem verteer.”
10. Waarom kon Juda nie aan wee ontkom nie?
10 Ontroue Juda kon nie aan die komende wee ontkom nie. Vir die sewende keer het Jehovah gesê: “Ek [sal] dit nie afwend nie” (Amos 2:4). Juda het die voorspelde straf ontvang toe dit in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs verwoes is. Ons sien weer eens dat die goddeloses nie aan God se oordeel kan ontkom nie.
11-13. Teen watter nasie het Amos hoofsaaklik geprofeteer, en watter vorme van onderdrukking het daar bestaan?
11 Die profeet Amos het so pas Jehovah se oordeel oor sewe nasies verkondig. Maar enigiemand wat gedink het dat sy voorspellings klaar was, het hulle misgis. Amos was nog lank nie klaar nie! Sy opdrag was hoofsaaklik om ’n verpletterende oordeelsboodskap teen die noordelike koninkryk van Israel te verkondig. En Israel het God se ongunstige oordeel verdien, want die nasie se sedelike en geestelike verval was skokkend.
12 Amos se voorspellings het die onderdrukking blootgelê wat algemeen in die koninkryk van Israel geword het. Amos 2:6, 7 sê in verband hiermee: “Só het Jehovah gesê: ‘Weens drie opstandige dade van Israel, en weens vier, sal ek dit nie afwend nie, omdat hulle ’n regverdige vir blote silwer verkoop het en ’n arme vir die prys van ’n paar sandale. Hulle hyg daarna dat die stof van die aarde op die kop van geringes kom; en hulle maak die weg van sagmoediges krom.’”
13 Regverdiges is “vir blote silwer” verkoop, wat moontlik beteken dat regters wat silwer as omkoopgeskenke aanvaar het, onskuldiges gevonnis het. Skuldeisers het die armes vir die prys van “’n paar sandale”, miskien vir geringe skuld, in slawerny verkoop. Hardvogtige manne het daarna ‘gehyg’, of gretig probeer, om “geringes” tot so ’n lae toestand te bring dat hierdie armes stof op hulle kop sou gooi as ’n teken van angs, droefheid of vernedering. Korrupsie was so algemeen dat “sagmoediges” geen hoop gehad het om regverdige behandeling te ontvang nie.
14. Wie is in die tienstammeryk van Israel mishandel?
14 Let op wie mishandel is. Dit was die regverdige, arm, geringe en sagmoedige inwoners van die land. Jehovah se Wetsverbond met die Israeliete het vereis dat medelye aan die kwesbares en behoeftiges betoon moet word. Tog kon toestande vir hierdie mense in die tienstammeryk van Israel skaars erger gewees het.
“Maak jou gereed om jou God te ontmoet”
15, 16. (a) Waarom is die Israeliete gewaarsku: “Maak jou gereed om jou God te ontmoet”? (b) Hoe toon Amos 9:1, 2 dat die goddeloses nie die voltrekking van God se oordeel kon ontduik nie? (c) Wat het in 740 v.G.J. met die tienstammeryk van Israel gebeur?
15 Aangesien onsedelikheid en ander sondes hoogty gevier het in Israel, het die profeet Amos die opstandige nasie tereg gewaarsku: “Maak jou gereed om jou God te ontmoet” (Amos 4:12). Ontroue Israel kon nie aan die naderende voltrekking van God se oordeel ontkom nie, want Jehovah het vir die agtste keer gesê: “Ek [sal] dit nie afwend nie” (Amos 2:6). Aangaande goddeloses wat dalk sou probeer wegkruip, het God gesê: “Niemand van hulle wat vlug, sal in sy vlug slaag nie, en niemand van hulle wat ontsnap, sal wegkom nie. As hulle tot in Sjeool grawe, sal my hand hulle daar uithaal; en as hulle na die hemel opklim, sal ek hulle daarvandaan afbring.”—Amos 9:1, 2.
16 Die goddeloses kon nie die voltrekking van Jehovah se oordeel ontduik deur “tot in Sjeool” te grawe nie, wat figuurlik gesproke dui op pogings om in die diepste dele van die aarde weg te kruip. Hulle kon ook nie aan God se oordeel ontkom deur “na die hemel” op te klim nie, dit wil sê deur op hoë berge te probeer skuiling vind nie. Jehovah se waarskuwing was duidelik: Geen skuilplek is buite sy bereik nie. Goddelike geregtigheid het vereis dat die koninkryk van Israel tot verantwoording geroep word vir sy goddelose dade. Daardie tyd het dan ook gekom. In 740 v.G.J.—omtrent 60 jaar nadat Amos sy profesie opgeteken het—is die koninkryk van Israel deur die seëvierende Assiriërs verower.
God se oordeel is selektief
17, 18. Wat openbaar Amos hoofstuk 9 oor God se barmhartigheid?
17 Die profesie van Amos het ons gehelp om te sien dat God se oordeel altyd verdiend is en dat dit onontkombaar is. Maar die boek Amos toon ook dat Jehovah se oordeel selektief is. God kan die goddeloses vind en oordeel aan hulle voltrek waar hulle ook al wegkruip. Hy kan ook die berouvolles en opregtes vind—dié aan wie hy besluit om barmhartigheid te bewys. Dit word pragtig beklemtoon in die laaste hoofstuk van die boek Amos.
18 Volgens Amos hoofstuk 9, vers 8, het Jehovah gesê: “Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie.” Soos opgeteken in verse 13 tot 15, het Jehovah belowe dat hy ‘die gevangenes van sy volk sou laat terugkeer’. Hulle sou barmhartigheid bewys word en sou veiligheid en voorspoed geniet. “Die ploeër sal die snyer inhaal”, het Jehovah belowe. Stel jou dit voor—’n oes wat so groot is dat alles nog nie ingesamel is wanneer die volgende ploeg- en saaityd aanbreek nie!
19. Wat het met ’n oorblyfsel van Israel en Juda gebeur?
19 Daar kan gesê word dat Jehovah se oordeel oor die goddeloses in Juda sowel as Israel selektief was deurdat barmhartigheid bewys is aan persone wat berouvol was en die regte gesindheid gehad het. Ter vervulling van die herstellingsprofesie in Amos hoofstuk 9 het ’n berouvolle oorblyfsel van Israel en Juda in 537 v.G.J. uit gevangenskap in Babilon teruggekeer. Toe hulle terug was in hulle geliefde vaderland, het hulle rein aanbidding herstel. Hulle het ook in veiligheid hulle huise herbou en wingerde en tuine aangelê.
Jehovah se ongunstige oordeel sal kom!
20. Waarvan behoort ons bespreking van die oordeelsboodskappe wat deur Amos bekend gemaak is, ons te verseker?
20 Ons bespreking van God se oordeelsboodskappe wat deur Amos bekend gemaak is, behoort ons te verseker dat Jehovah ’n einde sal maak aan die goddeloosheid van ons dag. Waarom kan ons dit glo? Eerstens, hierdie voorbeelde van hoe God in die verlede teenoor die goddeloses opgetree het, toon hoe hy in ons dag sal optree. Tweedens, die voltrekking van God se oordeel aan die afvallige koninkryk van Israel verseker dat God vernietiging sal bring oor die Christendom, die laakbaarste deel van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens.—Openbaring 18:2.
21. Waarom verdien die Christendom God se ongunstige oordeel?
21 Daar bestaan geen twyfel dat die Christendom God se ongunstige oordeel verdien nie. Die betreurenswaardige godsdienstige en sedelike toestande daarin spreek vanself. Jehovah se oordeel oor die Christendom—en die res van Satan se wêreld—is verdiend. Dit is ook onontkombaar, want wanneer die tyd aanbreek om oordeel te voltrek, sal die woorde van Amos hoofstuk 9, vers 1, van toepassing wees: “Niemand van hulle wat vlug, sal in sy vlug slaag nie, en niemand van hulle wat ontsnap, sal wegkom nie.” Ja, ongeag waar die goddeloses wegkruip, Jehovah sal hulle vind.
22. Watter feite oor God se oordeel word in 2 Tessalonisense 1:6-8 duidelik gemaak?
22 God se oordeel is altyd verdiend, onontkombaar en selektief. Dit kan gesien word uit die apostel Paulus se woorde: “Dit [is] regverdig . . . van God om verdrukking te vergeld aan dié wat vir julle verdrukking veroorsaak, maar aan julle wat verdrukking ly, verligting saam met ons by die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:6-8). ‘Dit is regverdig van God’ om diegene te vergeld wat ’n ongunstige oordeel verdien omdat hulle verdrukking oor sy gesalfdes bring. Daardie oordeel sal onontkombaar wees, want die goddeloses sal nie ‘die openbaring van Jesus met sy magtige engele in ’n vlammende vuur’ oorleef nie. God se oordeel sal ook selektief wees deurdat Jesus wraak sal uitoefen “op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie”. En die voltrekking van God se oordeel sal vertroosting bring vir godvrugtige mense wat verdrukking ly.
Hoop vir die opregtes
23. Watter hoop en vertroosting kan ons uit die boek Amos put?
23 Die profesie van Amos bevat ’n wonderlike boodskap van hoop en vertroosting vir mense wat die regte gesindheid het. Soos voorspel is in die boek Amos, het Jehovah nie sy volk van die ou tyd heeltemal verdelg nie. Hy het uiteindelik die gevangenes van Israel en Juda laat terugkeer, hulle in hulle vaderland herstel en hulle ryklik met veiligheid en voorspoed geseën. Wat beteken dit vir ons dag? Dit verseker ons dat Jehovah gedurende die voltrekking van sy oordeel die goddeloses sal vind waar hulle ook al wegkruip en die mense wat hy meen sy barmhartigheid verdien, sal vind waar hulle ook al op die aarde lewe.
24. Hoe word Jehovah se hedendaagse knegte geseën?
24 Wat ondervind ons as Jehovah se getroue knegte terwyl ons wag op die tyd dat sy oordeel oor die goddeloses kom? Jehovah seën ons ryklik met geestelike voorspoed! Ons geniet ’n vorm van aanbidding wat vry is van die leuens en verdraaiings wat uit die Christendom se valse leerstellings voortgespruit het. Jehovah het ons ook met ’n oorvloed van geestelike voedsel geseën. Maar onthou dat hierdie ryk seëninge wat van Jehovah af kom, met ’n groot verantwoordelikheid gepaardgaan. God verwag dat ons ander oor die komende oordeel moet waarsku. Ons wil alles in ons vermoë doen om diegene te vind wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Handelinge 13:48). Ja, ons wil soveel mense moontlik help om te deel in die geestelike voorspoed wat ons nou geniet. En ons wil hê dat hulle die naderende voltrekking van God se oordeel aan die goddeloses moet oorleef. As ons hierdie seëninge wil geniet, moet ons natuurlik die regte hartstoestand hê. Soos ons in die volgende artikel sal sien, word dit ook in die profesie van Amos beklemtoon.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe toon die profesie van Amos dat Jehovah se oordeel altyd verdiend is?
• Watter bewys voorsien Amos om te toon dat God se oordeel onontkombaar is?
• Hoe toon die boek Amos dat die voltrekking van God se oordeel selektief is?
[Prent op bladsy 16, 17]
Die koninkryk van Israel het nie aan God se oordeel ontkom nie
[Prent op bladsy 18]
In 537 v.G.J. het ’n oorblyfsel van Israel en Juda uit gevangenskap in Babilon teruggekeer