Reg en verkeerd—Hoe moet jy besluit?
WIE het die gesag om die standaarde van reg en verkeerd te stel? Hierdie vraag is heel aan die begin van die mensegeskiedenis geopper. Volgens die Bybelboek Genesis het God ’n boom wat in die tuin van Eden gegroei het, “die boom van die kennis van goed en kwaad” genoem (Genesis 2:9). God het die eerste mensepaar beveel om nie die vrugte van hierdie boom te eet nie. God se vyand, Satan die Duiwel, het egter te kenne gegee dat hulle oë “sekerlik geopen sal word” en hulle “sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken” as hulle van hierdie boom eet.—Genesis 2:16, 17; 3:1, 5; Openbaring 12:9.
Adam en Eva het voor ’n besluit te staan gekom—moet hulle God se standaarde van goed en kwaad aanvaar of moet hulle hulle eie volg? (Genesis 3:6). Hulle het besluit om aan God ongehoorsaam te wees en van die boom te eet. Wat het hierdie eenvoudige daad geïmpliseer? Deur te weier om die beperkings te eerbiedig wat God aan hulle opgelê het, het hulle te kenne gegee dat hulle en hulle nageslag beter sou vaar as hulle hulle eie standaarde van reg en verkeerd stel. Hoe suksesvol was die mensdom tot dusver in hulle pogings om hierdie gesag wat God toekom, uit te oefen?
Verskillende menings
Nadat die Encyclopædia Britannica die leringe bespreek het van prominente denkers wat deur die eeue heen geleef het, sê dit dat daar van die tyd van die Griekse filosoof Sokrates af tot die 20ste eeu “herhaalde debatte was oor presies wat goedheid en die standaard van reg en verkeerd nou eintlik is”.
Byvoorbeeld, die Sofiste was ’n vooraanstaande groep Griekse leermeesters in die vyfde eeu v.G.J. Hulle het geleer dat standaarde van reg en verkeerd deur die algemene mening bepaal word. Een van hierdie leermeesters het gesê: “Watter dinge ook al vir elke stad reg en goed lyk, is vir daardie stad reg en goed, solank die stad dit so beskou.” Volgens hierdie maatstaf moet Jodie, wat in die vorige artikel genoem word, die geld hou, aangesien die meerderheid in sy gemeenskap, of “stad”, dit waarskynlik sou doen.
Immanuel Kant, ’n bekende 18de-eeuse filosoof, het ’n ander beskouing gehad. Die tydskrif Issues in Ethics sê: “Immanuel Kant en ander soos hy . . . het gefokus op die individu se reg om self te kies.” Volgens Kant se filosofie berus die besluit heeltemal by Jodie, solank hy nie inbreuk maak op die regte van ander nie. Hy moenie toelaat dat die mening van die meerderheid sy standaarde bepaal nie.
Hoe het Jodie toe sy dilemma opgelos? Hy het ’n derde opsie gekies. Hy het die lering van Jesus Christus toegepas, wie se sedelike standaarde al deur Christene sowel as nie-Christene geprys is. Jesus het geleer: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Tot die verbasing van sy kliënt het Jodie die geld ter waarde van R512 000 aan haar oorhandig. Toe hy gevra is waarom hy dit nie geneem het nie, het Jodie verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is en gesê: “Dit was nie my geld nie.” Jodie het Jesus se woorde in die Bybel in Matteus 19:18 ernstig opgeneem: “Jy mag nie steel nie.”
Is die algemene mening ’n betroubare riglyn?
Sommige mense sou waarskynlik sê dat Jodie dom was om so eerlik te wees. Maar die algemene mening is ’n onbetroubare riglyn. Byvoorbeeld, as jy in ’n gemeenskap gelewe het waar die meerderheid geglo het dat kinderofferandes aanvaarbaar is, soos sommige gemeenskappe wel in die verlede gedink het, sou dit dan beteken het dat die gebruik reg is? (2 Konings 16:3). Sê nou jy was gebore in ’n gemeenskap wat gemeen het dat kannibalisme goed is? Sou dit beteken het dat dit nie werklik verkeerd is om menslike vlees te eet nie? Die gewildheid van ’n gebruik maak dit nie reg nie. Die Bybel het lank gelede teen hierdie strik gewaarsku en gesê: “Jy mag die menigte nie volg met bose oogmerke nie.”—Eksodus 23:2.
Jesus Christus het nog ’n rede gegee waarom ons versigtig moet wees om die algemene mening as ’n riglyn te gebruik om te bepaal wat reg en verkeerd is. Hy het Satan as “die heerser van die wêreld” aan die kaak gestel (Johannes 14:30; Lukas 4:6). Satan gebruik sy posisie om “die hele bewoonde aarde” te mislei (Openbaring 12:9). As jy dus jou standaarde van reg en verkeerd net stel volgens wat gewild is, neem jy dalk Satan se beskouing van sedelikheid aan, wat natuurlik rampspoedig sal wees.
Kan jy jou eie oordeel vertrou?
Moet elkeen dan self besluit wat reg is en wat verkeerd is? Die Bybel sê: “Moenie op jou eie begrip steun nie” (Spreuke 3:5). Waarom nie? Omdat alle mense ’n fundamentele gebrek geërf het wat hulle oordeel kan belemmer. Toe Adam en Eva teen God in opstand gekom het, het hulle die standaarde van die selfsugtige verraaier Satan aangeneem en hom as hulle geestelike vader gekies. Daarna het hulle ’n familiekenmerk aan hulle nageslag oorgedra—’n verraderlike hart met die vermoë om te onderskei wat reg is, maar met die neiging om te doen wat verkeerd is.—Genesis 6:5; Romeine 5:12; 7:21-24.
In ’n bespreking van etiek sê die Encyclopædia Britannica: “Dit is eintlik nie verbasend as mense weet wat die sedelike ding is om te doen, maar dan eerder in hulle eie belang optree nie. Hoe om vir sulke mense redes te verskaf om te doen wat reg is, is vir die Westerse etiek ’n groot probleem.” Die Bybel stel dit tereg soos volg: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Sou jy iemand vertrou wat daarvoor bekend is dat hy verraderlik en desperaat is?
Selfs diegene wat nie in God glo nie, het die vermoë om sedelik regskape op te tree en om ’n praktiese en eerbare gedragskode te ontwikkel. Maar die verhewe beginsels in hulle gedragskode is dikwels bloot ’n weerspieëling van die sedelike standaarde van die Bybel. Hoewel sulke individue moontlik God se bestaan ontken, toon hulle denke dat hulle ’n ingebore vermoë het om God se persoonlikheid te weerspieël. Dit bewys dat die mensdom, soos die Bybel toon, oorspronklik “na God se beeld” geskep is (Genesis 1:27; Handelinge 17:26-28). Die apostel Paulus sê: “Dit is juis hulle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan.”—Romeine 2:15.
Dit is natuurlik een ding om te weet wat reg is; dit is heeltemal iets anders om die sedelike krag te hê om te doen wat reg is. Hoe kan ’n mens die nodige sedelike krag bekom? Aangesien die hart ’n mens tot dade beweeg, kan dit jou help om hierdie krag te ontwikkel as jy liefde vir die Outeur van die Bybel, Jehovah God, aankweek.—Psalm 25:4, 5.
Vind die krag om te doen wat goed is
Die eerste stap om liefde vir God aan te kweek, is om te leer hoe redelik en prakties sy gebooie is. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, sê die apostel Johannes, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Die Bybel bevat byvoorbeeld praktiese raad wat jongmense kan help om tussen reg en verkeerd te onderskei wanneer hulle moet besluit of hulle alkohol gaan drink, dwelms gaan gebruik of hulle aan voorhuwelikse seks skuldig gaan maak. Die Bybel kan egpare help om te sien hoe hulle verskille kan oplos, en dit kan ouers riglyne oor die grootmaak van kinders gee.a Wanneer die Bybel se sedelike standaarde toegepas word, strek dit jonk en oud tot voordeel, ongeag hulle sosiale status, geleerdheid of kulturele agtergrond.
Net soos voedsame kos jou krag gee om te werk, verkry jy krag om volgens God se standaarde te lewe as jy sy Woord lees. Jesus het God se woorde met lewensonderhoudende brood vergelyk (Matteus 4:4). Hy het ook gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het” (Johannes 4:34). Omdat Jesus hom met God se woord gevoed het, het dit hom gehelp om versoekings te weerstaan en wyse besluite te neem.—Lukas 4:1-13.
Aanvanklik sal jy dit miskien moeilik vind om jou verstand met God se Woord te voed en Sy standaarde aan te neem. Maar onthou dat jy as kind dalk nie altyd van die smaak van heilsame kos gehou het nie. Om sterk te word, moes jy leer om van sulke gesonde kos te hou. Net so sal dit moontlik tyd neem om ’n ‘smaak’ vir God se standaarde te ontwikkel. As jy volhard, sal jy ’n liefde daarvoor aankweek en geestelik sterk word (Psalm 34:8; 2 Timoteus 3:15-17). Jy sal leer om op Jehovah te vertrou en sal beweeg word om te “doen wat goed is”.—Psalm 37:3.
Jy sal dalk nooit voor ’n situasie te staan kom soos die een waarin Jodie hom bevind het nie. Nietemin neem jy elke dag etiese besluite, klein sowel as groot. Die Bybel spoor jou dus aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6). As jy leer om op Jehovah te vertrou, sal dit jou nie net nou tot voordeel strek nie, maar jou ook die geleentheid bied om vir ewig te lewe, want die weg van gehoorsaamheid aan Jehovah God lei tot die lewe.—Matteus 7:13, 14.
[Voetnote]
a Praktiese Bybelse raad oor hierdie en ander belangrike onderwerpe word gevind in die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en Die geheim van gesinsgeluk, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
[Lokteks op bladsy 6]
Die algemene mening kan deur onsigbare magte beïnvloed word
[Prente op bladsy 5]
Deur die eeue heen het denkers gedebatteer oor die kwessie van reg en verkeerd
SOKRATES
KANT
CONFUCIUS
[Erkennings]
Kant: From the book The Historian’s History of the World; Sokrates: From the book A General History for Colleges and High Schools; Confucius: Sung Kyun Kwan University, Seoul, Korea
[Prente op bladsy 7]
Die Bybel help ons nie net om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, maar spoor ons ook aan om te doen wat reg is