‘Hou aan waak’
IN DIE ou tyd het poortwagters by stads- en tempelingange en in sommige gevalle by die deure van woonhuise gedien. Poortwagters het nie net toegesien dat die poorte snags gesluit word nie, maar het ook as wagte gedien. Dit was ’n baie verantwoordelike toewysing, want die veiligheid van die stad het daarvan afgehang dat hulle uitroep om die mense te waarsku as daar gevaar dreig.
Jesus Christus was vertroud met die rol van poortwagters, wat ook deurwagters genoem is. By een geleentheid het hy sy dissipels met deurwagters vergelyk en hulle aangespoor om aan te hou waak met betrekking tot die voleinding van die Joodse stelsel van dinge. Hy het gesê: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. Dit is soos ’n man wat, toe hy na die buiteland gereis het, sy huis verlaat het en . . . die deurwagter beveel het om aan te hou waak. Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie.”—Markus 13:33-35.
Hierdie tydskrif, Die Wagtoring, vestig al meer as 125 jaar lank die aandag op Jesus se aanmoediging om ‘aan te hou waak’. Hoe? Soos op bladsy 2 van hierdie tydskrif gesê word, “lewer [dit] verslag oor wêreldgebeure wat Bybelprofesieë vervul. Dit troos alle volke met die goeie nuus dat God se Koninkryk binnekort diegene gaan vernietig wat hulle medemens verdruk en dat dit die aarde in ’n paradys gaan omskep.” Met ’n wêreldwye verspreiding van meer as 26 000 000 eksemplare in 150 tale is Die Wagtoring die godsdienstydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld. Met behulp van hierdie tydskrif spoor Jehovah se Getuies, soos die poortwagters van die ou tyd, mense oral in die wêreld aan om geestelik ‘wakker te bly’, want die Heer, Jesus Christus, is op die punt om terug te keer en oordeel te voltrek aan hierdie stelsel van dinge.—Markus 13:26, 37.