Bring die waarheid vrugte voort in dié wat jy onderrig?
TOE jong Eric vir sy ouers gesê het dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie, was hulle verpletter. Hulle het dit nie verwag nie. As ’n seun het Eric aan die gesinsbybelstudie deelgeneem, Christelike vergaderinge bygewoon en saam met die gemeente in die predikingswerk uitgegaan. Dit het gelyk of hy, by wyse van spreke, in die waarheid is. Maar noudat hy die huis verlaat het, het sy ouers besef dat Bybelwaarheid nie in hom was nie. Toe hulle dit besef, was hulle geskok sowel as teleurgesteld.
Ander het al ’n soortgelyke gevoel van verlies ervaar wanneer ’n Bybelstudent onverwags sy studie stopsit. Dan vra mense hulle dikwels af: ‘Waarom het ek dit nie sien kom nie?’ Wel, is dit moontlik om vas te stel of die waarheid vrugte voortbring in dié wat ons onderrig voordat geestelike rampspoed hulle tref? Trouens, hoe kan ons seker wees dat die waarheid in ons aan die werk is sowel as in dié wat ons onderrig? In sy bekende gelykenis van die saaier het Jesus ’n leidraad gegee om die antwoord op hierdie vrae te vind.
Die waarheid moet die hart bereik
“Die saad is die woord van God”, het Jesus gesê. “Wat dié [betref wat] op die goeie grond [gesaai is], dit is hulle wat die woord, nadat hulle dit met ’n edel en goeie hart gehoor het, vashou en met volharding vrug dra” (Lukas 8:11, 15). Voordat Koninkrykswaarheid dus enige vrugte in ons studente kan voortbring, moet dit in hulle figuurlike hart wortelskiet. Jesus verseker ons dat goddelike waarheid, net soos goeie saad in goeie grond, onmiddellik aan die werk gaan en vrug dra nadat dit ’n goeie hart geraak het. Waarna moet ons op die uitkyk wees?
Ons moet let op eienskappe van die hart, nie net uiterlike vertoon nie. Die blote feit dat iemand ’n roetine van aanbidding handhaaf, toon nie altyd wat werklik in sy hart aangaan nie (Jeremia 17:9, 10; Matteus 15:7-9). Ons moet dieper kyk. Daar moet ’n besliste verandering wees in die persoon se begeertes, beweegredes en voorkeure. Hy moet die nuwe persoonlikheid aankweek, wat met God se wil ooreenkom (Efesiërs 4:20-24). Ter toeligting: Toe die Tessalonisense die goeie nuus gehoor het, het Paulus gesê dat hulle dit geredelik as die woord van God aangeneem het. Maar dit was hulle volharding, getrouheid en liefde wat daarop gevolg het, wat vir hom bevestig het dat die waarheid ‘ook in hulle aan die werk’ was.—1 Tessalonisense 2:13, 14; 3:6.
Wat ook al in ’n student se hart is, sal natuurlik vroeër of later in sy gedrag aan die lig kom, soos Eric se voorbeeld toelig (Markus 7:21, 22; Jakobus 1:14, 15). Teen die tyd dat sekere slegte eienskappe ten volle in iemand se dade na vore kom, is dit ongelukkig soms te laat. Die uitdaging is dus om spesifieke swakhede te probeer raaksien voordat dit geestelike struikelblokke word. Ons moet op die een of ander manier uitvind wat in die figuurlike hart is. Hoe kan ons dit doen?
Leer by Jesus
Jesus het natuurlik die vermoë gehad om harte foutloos te lees (Matteus 12:25). Nie een van ons kan dit doen nie. Tog het hy vir ons gewys dat ons ook kan onderskei wat iemand se begeertes, beweegredes en voorkeure is. Net soos ’n bekwame dokter verskeie diagnostiese tegnieke gebruik om te sien wat met ’n pasiënt se fisiese hart fout is, het Jesus God se Woord gebruik om die “gedagtes en bedoelings van die hart” as ’t ware ‘uit te skep’ en aan die lig te bring, selfs toe dit vir mense oor die algemeen nog verborge was.—Spreuke 20:5; Hebreërs 4:12.
By een geleentheid het Jesus Petrus byvoorbeeld gehelp om bewus te word van ’n swakheid wat later wel ’n struikelblok geword het. Jesus het geweet dat Petrus hom liefhet. Trouens, Jesus het kort tevore “die sleutels van die koninkryk” aan Petrus toevertrou (Matteus 16:13-19). Maar Jesus het ook geweet dat Satan sy oog op die apostels het. In die dae wat voorgelê het, sou hulle onder intense druk verkeer om hulle geloof te versaak. Jesus het klaarblyklik onderskei dat party van sy dissipels swakplekke in hulle geloof het. Daarom het hy nie geskroom om vir hulle te wys waaraan hulle moet werk nie. Kyk hoe hy die saak aangeroer het.
Matteus 16:21 sê: “Van daardie tyd af het Jesus Christus vir sy dissipels begin toon dat hy . . . moet ly en doodgemaak . . . moet word.” Let daarop dat Jesus vir hulle getoon het wat met hom sou gebeur en nie net vir hulle gesê het nie. Hy het heel waarskynlik Bybelverse gebruik, soos Psalm 22:14-18 of Jesaja 53:10-12, wat wys dat die Messias sou moes ly en sterf. Hoe dit ook al sy, deur regstreeks uit die Skrif te lees of aan te haal, het Jesus vir Petrus en die ander ’n geleentheid gegee om te toon wat in hulle hart is. Hoe het hulle gereageer op die gedagte aan vervolging?
Verbasend genoeg, al was Petrus gewoonlik moedig en ywerig, het sy impulsiewe reaksie by hierdie geleentheid ’n ernstige fout in sy denke na vore laat kom. “Wees goed vir uself, Here”, het hy gesê, “u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Petrus se denke was ongetwyfeld verkeerd, want soos Jesus gesê het, het Petrus “nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” gedink—’n ernstige tekortkoming wat droewige gevolge kon hê. Wat het Jesus dus gedoen? Nadat hy Petrus bestraf het, het Jesus vir hom en die res van die dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.” Hy het gebruik gemaak van gedagtes in Psalm 49:8 en 62:12 en hulle liefdevol daaraan herinner dat hulle ewige vooruitsigte nie van mense afgehang het nie, wat geen redding kon voorsien nie, maar van God.—Matteus 16:22-28.
Hoewel Petrus later tydelik voor vrees geswig en Jesus drie keer verloën het, het hierdie en ander gesprekke hom ongetwyfeld gehelp om geestelik vinnig te herstel (Johannes 21:15-19). Net 50 dae later het Petrus moedig voor die skares in Jerusalem opgestaan om van Jesus se opstanding te getuig. In die weke, maande en jare wat gevolg het, het hy herhaalde inhegtenisnemings, slae en gevangenskap moedig verduur en ’n uitsonderlike voorbeeld van vreeslose onkreukbaarheid gestel.—Handelinge 2:14-36; 4:18-21; 5:29-32, 40-42; 12:3-5.
Wat leer ons hieruit? Sien jy wat Jesus gedoen het om uit te vind en aan die lig te bring wat in Petrus se hart was? Hy het eerstens gepaste tekste gekies om Petrus se aandag op die spesifieke probleem te vestig. Daarna het hy Petrus ’n geleentheid gegee om te toon wat in sy hart is. Laastens het hy verdere skriftuurlike raad gegee om Petrus te help om sy denke en gevoelens reg te stel. Jy dink moontlik dat jy nooit so sal kan onderrig nie, maar kom ons ondersoek twee ondervindinge wat toelig hoe voorbereiding en vertroue op Jehovah enigeen van ons kan help om Jesus se voorbeeld te volg.
Vind uit wat in die hart is
Toe ’n Christenvader te hore gekom het dat sy twee seuns, wat in graad een en twee was, lekkergoed van die onderwyseres se lessenaar af geneem het, het hy hulle by hom laat sit en met hulle geredeneer. Die vader het dit nie bloot afgemaak as onskuldige kattekwaad nie, maar hy vertel: “Ek het probeer uitvind wat hulle beweeg het om hierdie slegte ding te doen.”
Die vader het die seuns gevra om te dink aan wat met Agan gebeur het, soos opgeteken in Josua hoofstuk 7. Die seuns het die punt onmiddellik gesnap en erken dat hulle verkeerd gedoen het. Hulle gewete het hulle reeds gepla. Die vader het dus vir hulle Efesiërs 4:28 gelees, wat sê: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk . . . sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het.” Om die skriftuurlike raad dieper te laat insink, moes die kinders vergoed vir hulle daad deur lekkergoed te koop en dit vir die onderwyseres te gee.
“Sodra ons van enige slegte beweegredes bewus geword het, het ons dit probeer uitroei”, sê die vader, “en dit met goeie en suiwer beweegredes probeer vervang deur met die kinders te redeneer.” Deur Jesus na te volg wanneer hulle hulle kinders onderrig het, het hierdie ouers mettertyd beslis goeie resultate gehad. Albei seuns is later genooi om deel te word van die hoofkantoorpersoneel by die Brooklynse Bethel, waar een ná 25 jaar nog dien.
Kyk hoe ’n ander Christen haar Bybelstudent kon help. Die student het vergaderinge bygewoon en aan die bediening deelgeneem en het reeds die begeerte uitgespreek om gedoop te word. Maar dit het gelyk of sy te veel op haarself vertrou en nie genoeg op Jehovah nie. “As ’n ongetroude vrou het sy onafhankliker geword as wat sy besef het”, vertel die Getuie. “Ek was bekommerd dat sy op ’n fisiese ineenstorting of op geestelike ondergang afstuur.”
Die Getuie het dus die inisiatief geneem om met die student oor Matteus 6:33 te redeneer en het haar aangemoedig om haar prioriteite reg te kry, die Koninkryk eerste te stel en te vertrou dat Jehovah sake op die beste manier sal laat verloop. Sy het haar reguit gevra: “Maak die feit dat jy alleen woon dit soms vir jou moeilik om op ander te vertrou, onder andere op Jehovah?” Die student het erken dat sy feitlik nie meer gebid het nie. Die verkondiger het haar toe aangemoedig om die raad in Psalm 55:22 te volg en haar las op Jehovah te werp, want, soos 1 Petrus 5:7 ons verseker, ‘hy sorg vir jou’. Daardie woorde het haar hart geraak. Die Getuie sê: “Dit was een van die min kere dat ek haar sien huil het.”
Laat die waarheid in jou aan die werk bly
Dit verskaf ons groot vreugde om te sien hoe dié wat ons onderrig, op Bybelwaarheid reageer. Maar as ons sukses wil behaal in ons pogings om ander te help, moet ons self ’n goeie voorbeeld stel (Judas 22, 23). Ons moet almal “aanhou om [ons] eie redding met vrees en bewing te bewerk” (Filippense 2:12). Dit sluit in dat ons die lig van die Skrif gereeld op ons eie hart laat skyn en kyk of daar gesindhede, begeertes en voorkeure is wat ons moet regstel.—2 Petrus 1:19.
Het jou ywer vir Christelike bedrywighede byvoorbeeld in die laaste tyd verflou? Indien wel, waarom? Een rede is dalk dat jy te veel op jouself vertrou. Hoe kan jy vasstel of dit so is? Lees Haggai 1:2-11 en peins met ’n oop gemoed oor hoe Jehovah geredeneer het met die Jode wat na hulle vaderland teruggekeer het. Vra jou dan af: ‘Is ek behep met finansiële sekuriteit en materiële geriewe? Vertrou ek werklik op Jehovah om na my gesin om te sien as ek geestelike dinge voorkeur gee? Of voel ek dat ek eers vir myself moet sorg?’ As veranderinge in jou denke of gevoelens nodig is, moet jy nie aarsel om dit aan te bring nie. Skriftuurlike raad, soos dié in Matteus 6:25-33, Lukas 12:13-21 en 1 Timoteus 6:6-12, voorsien die grondslag vir ’n gebalanseerde beskouing van materiële behoeftes en besittings, ’n beskouing wat ons van Jehovah se voortgesette seën verseker.—Maleagi 3:10.
So ’n eerlike selfondersoek kan ontnugterend wees. Dit kan emosioneel ’n uitdaging wees om ons spesifieke swakhede te erken wanneer dit aan ons uitgewys word. Wanneer jy egter op liefdevolle wyse die inisiatief neem om jou kind, jou Bybelstudent of selfs jouself te help—ongeag hoe persoonlik of sensitief ’n saak is—neem jy heel moontlik die eerste stap om sy lewe of jou eie te red.—Galasiërs 6:1.
Maar sê nou dit lyk of jou pogings nie goeie resultate oplewer nie? Moenie gou moed opgee nie. Dit kan ’n delikate, tydrowende en soms frustrerende taak wees om veranderings in ’n onvolmaakte hart teweeg te bring. Maar dit kan ook lonend wees.
Jong Eric, wat aan die begin genoem is, het later tot besinning gekom en weer “in die waarheid [begin] wandel” (2 Johannes 4). “Eers toe ek besef het wat ek verloor het, het ek tot Jehovah teruggekeer”, sê hy. Met die hulp van sy ouers dien Eric God nou weer getrou. Hoewel hy vroeër gegrief was deur sy ouers se herhaalde pogings om hom sover te kry om sy hart te ondersoek, het hy nou innige waardering vir wat hulle gedoen het. “My ouers is wonderlik”, sê hy. “Hulle het nooit opgehou om vir my lief te wees nie.”
Dit is ’n blyk van liefderyke goedhartigheid om die lig van God se Woord te laat skyn op die hart van dié wat ons onderrig (Psalm 141:5). Gaan voort om te ondersoek of daar in die hart van jou kinders en jou Bybelstudente bewyse is dat die nuwe Christelike persoonlikheid werklik deel van hulle word. Laat die waarheid in ander en in jou aan die werk bly deur “die woord van die waarheid reg [te] hanteer”.—2 Timoteus 2:15.
[Prent op bladsy 29]
Jesus se woorde het ’n swakheid in Petrus aan die lig gebring
[Prent op bladsy 31]
Gebruik die Bybel om uit te vind wat in die hart is