Simson seëvier in die krag van Jehovah!
WRAAKSUGTIGE mense neem hom gevange, steek sy oë uit en lewer hom oor aan dwangarbeid. Daarna laat hulle hom uit die gevangenis haal en neem hom na ’n heidense tempel om die skare te vermaak. Hulle bring hom voor duisende toeskouers uit en bespot hom. Die gevangene is nie ’n misdadiger of ’n bevelvoerder van ’n vyandelike leër nie. Hy is ’n aanbidder van Jehovah en het 20 jaar lank as rigter in Israel gedien.
Hoe het Simson—fisies die sterkste man wat nog geleef het—in só ’n vernederende situasie beland? Sal sy buitengewone krag hom red? Wat was die geheim van Simson se krag? Kan ons enigiets uit sy lewensverhaal leer?
Hy sal ‘die leiding neem om Israel te red’
Deur die geskiedenis heen het die kinders van Israel dikwels afgedwaal van ware aanbidding. Toe hulle ‘weer gedoen het wat sleg was in Jehovah se oë, het Jehovah hulle veertig jaar lank in die hand van die Filistyne gegee’.—Rigters 13:1.
Simson se verhaal het begin toe Jehovah se engel aan die onvrugbare vrou van ’n Israeliet met die naam Manoag verskyn het en vir haar gesê het dat sy aan ’n seun geboorte sou gee. “Geen skeermes mag op sy kop kom nie”, het die engel vir haar gesê, “want die kind sal ’n Nasireër van God word vandat hy die moederskoot verlaat; en hy sal die leiding neem om Israel uit die hand van die Filistyne te red” (Rigters 13:2-5). Voor Simson verwek is, het Jehovah besluit dat Simson ’n spesifieke taak sou hê. Vanaf sy geboorte sou hy ’n Nasireër wees—iemand wat vir ’n spesiale soort heilige diens afgesonder is.
“Sy is net reg in my oë”
Terwyl Simson grootgeword het, ‘het Jehovah hom bly seën’ (Rigters 13:24). Eendag het Simson na sy vader en moeder toe gekom en gesê: “Ek het in Timna ’n vrou uit die dogters van die Filistyne gesien, en neem haar dan nou vir my as vrou” (Rigters 14:2). Stel jou hulle verbasing voor. In plaas daarvan dat hulle seun Israel uit die hande van die verdrukkers bevry, wil hy ’n huweliksverbintenis met hulle aangaan. Dit was teen God se Wet om ’n aanbidder van heidense gode as vrou te neem (Eksodus 34:11-16). Daarom het die ouers kapsie gemaak en gesê: “Is daar nie onder die dogters van jou broers en onder my hele volk ’n vrou nie, sodat jy uit die onbesnede Filistyne ’n vrou gaan neem?” Simson het nogtans daarop aangedring: “Neem háár vir my, want sy is net reg in my oë.”—Rigters 14:3.
In watter opsig was juis hierdie Filistynse vrou “net reg” vir Simson? Nie in die sin dat sy “pragtig, innemend, aantreklik” was nie, sê McClintock en Strong se Cyclopedia, “maar in die sin dat sy reg was vir ’n doel, ’n voorneme of ’n oogmerk”. Vir watter doel was sy reg? Rigters 14:4 verduidelik dat Simson ‘’n geleentheid teen die Filistyne gesoek het’. Om dié rede het Simson in die vrou belanggestel. Terwyl Simson tot volwassenheid gegroei het, “het Jehovah se gees hom . . . begin aandryf”, of laat optree (Rigters 13:25). Jehovah se gees was dus die dryfkrag agter hierdie ongewone versoek van Simson sowel as agter sy hele loopbaan as rigter oor Israel. Het Simson die geleentheid gekry wat hy gesoek het? Kom ons kyk eers hoe Jehovah hom van goddelike ondersteuning verseker het.
Simson was op pad na Timna, die stad waar sy toekomstige bruid gewoon het. “Toe hy by die wingerde van Timna kom”, vertel die skriftuurlike verslag, “kyk! toe het ’n jong maanhaarleeu brullend op hom afgekom. Toe het Jehovah se gees oor hom werksaam geword, sodat hy dit in twee geskeur het.” Hierdie merkwaardige vertoning van krag het plaasgevind toe Simson alleen was. Daar was geen ooggetuies nie. Was dit Jehovah se manier om Simson te verseker dat hy as ’n Nasireër in staat sou wees om sy godgegewe opdrag uit te voer? Die Bybel sê nie, maar Simson het beslis besef dat hierdie buitengewone krag nie uit homself gekom het nie. Dit het ongetwyfeld van God af gekom. Hy kon op Jehovah vertrou om hom te help in die werk wat voorlê. Versterk deur die voorval met die leeu, het Simson “verder afgegaan en met die vrou begin praat; en sy was steeds reg in [sy] oë”.—Rigters 14:5-7.
Later, toe Simson teruggegaan het om die vrou huis toe te neem, “het hy uitgedraai om na die karkas van die leeu te kyk, en daar was ’n swerm bye in die leeu se dooie liggaam, en heuning”. Hiermee in gedagte het Simson hierdie raaisel vir 30 Filistynse strooijonkers by sy troue gegee: “Uit die eter het iets te ete voortgekom, en uit die sterke het iets soets voortgekom.” As hulle die raaisel kon oplos, sou Simson vir hulle 30 onderkledingstukke en stelle klere gee. Indien nie, moes húlle dit vir hóm gee. Die Filistyne is drie dae lank deur die raaisel dronkgeslaan. Op die vierde dag het hulle die vrou begin dreig. Hulle het vir haar gesê: “Mislei jou man dat hy die raaisel aan ons bekend kan maak. Anders sal ons jou en die huis van jou vader met vuur verbrand.” Hoe wreed tog! As die Filistyne hulle eie mense só behandel het, stel jou voor in watter ellende die onderdrukte Israeliete verkeer het!—Rigters 14:8-15.
Die verskrikte vrou het druk op Simson uitgeoefen totdat hy die antwoord bekend gemaak het. Sy het ’n gebrek aan liefde vir en lojaliteit aan Simson geopenbaar deur die strooijonkers onmiddellik daaromtrent in te lig. Hulle het die raaisel opgelos, en Simson het geweet hoe hulle dit reggekry het. Hy het vir hulle gesê: “As julle nie met my verskalf geploeg het nie, sou julle my raaisel nie opgelos het nie.” Dít was die geleentheid waarvoor Simson gewag het. “Jehovah se gees het oor hom werksaam geword, sodat hy na Askelon afgegaan en dertig van hulle manne doodgemaak het en geneem het wat hy van hulle afgestroop het en die stelle klere gegee het aan dié wat die raaisel bekend gemaak het.”—Rigters 14:18, 19.
Is Simson se optrede by Askelon deur wraaksug aangedryf? Nee. Dit was ’n daad van God deur sy uitverkore verlosser. Deur middel van Simson het Jehovah teen die wrede onderdrukkers van sy volk begin veg. Hierdie veldtog moes voortgesit word. Die volgende geleentheid het hom voorgedoen toe Simson vir sy vrou gaan kuier het.
Simson veg manalleen
Toe Simson na Timna teruggekeer het, het hy ontdek dat sy vrou se vader gereël het dat sy met ’n ander man trou omdat hy geglo het dat Simson haar haat. Simson was op die oog af hieroor gekrenk. Hy het 300 jakkalse gevang en hulle twee-twee met ’n fakkel tussen hulle sterte vasgebind. Toe hulle vrygelaat is, het hulle landerye, wingerde en olyfboorde aan die brand gesteek en Filistea se drie vernaamste oeste van die jaar vernietig. Die ontstoke Filistyne het wreed opgetree. Hulle het Simson se vrou en haar vader daarvoor verantwoordelik gehou en hulle verbrand. Hulle barbaarse wraak het aan Simson se doel beantwoord. Gevolglik het hy hulle in ’n groot slagting doodgemaak.—Rigters 15:1-8.
Het die Israeliete gesien dat Jehovah God Simson geseën het en derhalwe met hom saamgewerk om ’n einde aan die Filistynse oorheersing te bring? Glad nie. Om moeilikheid te voorkom, stuur die manne van Juda 3 000 man uit om God se uitverkore leier gevange te neem en hom aan sy vyande oor te lewer. Hierdie ontrouheid van die Israeliete het Simson egter ’n geleentheid gebied om sy vyande verdere skade te berokken. Net voordat hy aan die Filistyne oorhandig is, het “Jehovah se gees . . . oor hom werksaam geword, en die toue wat aan sy arms was, het soos linnedrade geword wat met vuur verskroei is, sodat sy boeie van sy hande afgesmelt het”. Toe het hy ’n eselskakebeen opgetel en ’n duisend vyande daarmee doodgeslaan.—Rigters 15:10-15.
Simson het Jehovah aangeroep en gesê: “U het hierdie groot redding in die hand van u kneg gegee, en sal ek nou van dors sterf en moet ek in die hand van die onbesnedenes val?” Jehovah het Simson se gebed verhoor. “God [het] ’n vyselvormige holte . . . oopgekloof, en daar het water begin uitkom, en hy het gedrink, waarna sy gees teruggekeer en hy herlewe het.”—Rigters 15:18, 19.
Simson was doelgerig in die najaging van sy doelwit, naamlik om teen die Filistyne te veg. Die rede vir sy verblyf in die huis van ’n prostituut in Gasa was om teen God se vyande te veg. Simson het verblyf vir die nag in ’n vyandige stad nodig gehad, en dit was in die huis van ’n prostituut beskikbaar. Simson het nie onsedelikheid in gedagte gehad nie. Hy het die vrou se huis om middernag verlaat, die stadspoorte en die twee syposte gegryp en dit na die top van ’n berg naby Hebron gedra, wat omtrent 60 kilometer daarvandaan was. Hy het dit met goddelike goedkeuring en godgegewe krag gedoen.—Rigters 16:1-3.
Weens die buitengewone omstandighede het die heilige gees in Simson se geval op ’n unieke manier gewerk. Getroue knegte van God kan vandag op dieselfde gees vertrou om hulle krag te gee. Jesus het sy volgelinge verseker dat Jehovah “heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra”.—Lukas 11:13.
Waarom het Jehovah ‘van Simson gewyk’?
Simson het op ’n vrou met die naam Delila verlief geraak. Die vyf spilvorste van die Filistyne was so gretig om van Simson ontslae te raak dat hulle haar hulp ingeroep het. Hulle het na Delila toe gegaan en vir haar gesê: “Mislei hom en sien waarin sy groot krag lê en waarmee ons die oorhand oor hom kan kry.” Elkeen van die vyf spilvorste het haar “duisend-eenhonderd silwerstukke” as omkoopgeskenk aangebied.—Rigters 16:4, 5.
As hierdie silwerstukke sikkels was, was hierdie aanbod van 5 500 sikkels ’n baie groot omkoopgeskenk. Abraham het 400 sikkels vir ’n graf vir sy vrou betaal, en ’n slaaf het net 30 gekos (Genesis 23:14-20; Eksodus 21:32). Die feit dat die spilvorste—heersers van vyf Filistynse stede—nie ’n beroep op Delila se etniese lojaliteit gedoen het nie, maar op haar hebsug, gee te kenne dat sy dalk ’n Israelitiese vrou was. Hoe dit ook al sy, Delila het die aanbod aanvaar.
Drie keer het Simson vir Delila misleidende antwoorde op haar vrae gegee, en drie keer het sy hom verraai deur hom aan sy vyande te probeer oorlewer. Maar “omdat sy die hele tyd met haar woorde druk op hom uitgeoefen het en by hom bly aandring het, het sy siel tot die dood toe ongeduldig geraak”. Simson het op die ou end die waarheid bekend gemaak—sy hare was nog nooit gesny nie. Sou dit gesny word, dan sou hy swak en soos alle ander mense word.—Rigters 16:6-17.
Dít was Simson se ondergang. Delila het dit so bewerk dat hy in ’n situasie beland het waarin sy hare geskeer kon word. Simson se krag was egter nie letterlik in sy hare nie. As ’n Nasireër het sy hare bloot sy spesiale verhouding met God verteenwoordig. Toe Simson toegelaat het dat hy in ’n situasie beland wat sy Nasireërskap geraak het omdat sy hare geskeer is, ‘het Jehovah van hom gewyk’. Die Filistyne het Simson toe oorweldig, hom verblind en hom in die gevangenis gesit.—Rigters 16:18-21.
Wat ’n kragtige les is dit tog vir ons! Moet ons nie ons verhouding met Jehovah as iets baie kosbaars beskou nie? Hoe kan ons, as ons in enige opsig versuim om ons Christelike toewyding na te leef, verwag dat God moet voortgaan om ons te seën?
“Laat my siel saam met die Filistyne sterf”
Juigende Filistyne het hulle god Dagon bedank vir hulle oorwinning oor Simson. Ter viering daarvan het hulle hulle gevangene na die tempel van Dagon gelei. Maar Simson het geweet wat die ware rede vir sy ondergang was. Hy het geweet waarom Jehovah hom verlaat het, en Simson het berou gehad omdat hy misluk het. Terwyl Simson in die gevangenis was, het sy hare welig begin groei. Wat sou hy doen noudat hy voor duisende Filistyne gestaan het?
“Soewereine Heer Jehovah”, het Simson gebid, “dink asseblief aan my en versterk my asseblief net hierdie een keer, o ware God, en laat ek my op die Filistyne wreek met wraak oor een van my twee oë.” Toe het hy teen die twee middelste pilare van die gebou geleun, en ‘hy het hom met krag gebuig’. Die gevolg? “Die huis het geval op die spilvorste en op al die mense wat daarin was, sodat die dooies wat hy by sy eie dood doodgemaak het, meer was as dié wat hy gedurende sy lewe doodgemaak het.”—Rigters 16:22-30.
Wat fisiese krag betref, was Simson sonder gelyke onder mense. Sy magtige dade was inderdaad merkwaardig. Maar van die allergrootste belang is die feit dat Simson in Jehovah se Woord genoem word onder diegene wat sterk geloof gehad het.—Hebreërs 11:32-34.
[Prent op bladsy 26]
Wat was die geheim van Simson se krag?