Die wetenskap en die Bybel—Weerspreek hulle mekaar werklik?
DIE saadjies van die botsing tussen Galileo en die Rooms-Katolieke Kerk is eeue voor die geboorte van Copernicus en Galileo gesaai. Die geosentriese beskouing van die heelal is deur die antieke Grieke aangeneem en beroemd gemaak deur die filosoof Aristoteles (384-322 v.G.J.) en die sterrekundige-sterrewiggelaar Ptolemeus (tweede eeu G.J.).a
Aristoteles se idee van die heelal is beïnvloed deur die denke van die Griekse wiskundige en filosoof Pitagoras (sesde eeu v.G.J.). Omdat Aristoteles Pitagoras se beskouing aanvaar het dat die sirkel en die sfeer volmaakte vorme is, het hy geglo dat die hemele ’n klomp sfere binne sfere is, soos die lae van ’n ui. Elke laag het uit kristal bestaan, met die aarde in die middel. Sterre het in sirkels beweeg, en hulle beweging is bepaal deur die buitenste sfeer, die setel van goddelike krag. Aristoteles het ook geglo dat die son en ander hemelliggame volmaak, vry van enige merke of vlekke en nie onderhewig aan veranderings is nie.
Aristoteles se groot beeld van die heelal was ’n produk van die filosofie, nie die wetenskap nie. Hy het gemeen dat ’n bewegende aarde in stryd met gesonde verstand sou wees. Hy het ook die idee van ’n leë ruimte verwerp, aangesien hy geglo het dat ’n bewegende aarde aan wrywing onderhewig sou wees en tot stilstand sou kom sonder die aanwending van voortdurende krag. Omdat Aristoteles se idee logies geklink het in die raamwerk van bestaande kennis, het dit byna 2 000 jaar lank in sy basiese vorm voortbestaan. Selfs nog in die 16de eeu het die Franse filosoof Jean Bodin daardie gewilde beskouing gehuldig en gesê: “Niemand wat by sy volle verstand is of wat enigiets van fisika weet, sal ooit dink dat die aarde, wat swaar en log is . . . , om sy eie middelpunt en dié van die son . . . wentel nie; want by die geringste beweging van die aarde sal ons sien hoe stede en vestings, dorpe en berge inmekaarstort.”
Aristoteles se filosofie word deur die kerk aangeneem
’n Verdere verwikkeling wat tot die botsing tussen Galileo en die kerk bygedra het, het in die 13de eeu plaasgevind en het te doen gehad met die Katolieke gesaghebbende Tomas van Aquino (1225-74). Tomas het groot respek vir Aristoteles gehad, na wie hy verwys het as Die Filosoof. Tomas het vyf jaar lank gesukkel om Aristoteles se filosofie met kerkleringe te verenig. Teen Galileo se tyd, sê Wade Rowland in sy boek Galileo’s Mistake, “het ’n verbasterde vorm van Aristoteles se filosofie in die teologie van Tomas ’n grondleerstelling van die Roomse Kerk geword”. Hou ook in gedagte dat daar in daardie dae geen wetenskaplike gemeenskap as sodanig was nie. Opvoeding was hoofsaaklik in die hande van die kerk. Die gesag op die gebied van godsdiens sowel as die wetenskap was dikwels een en dieselfde.
Die grondslag was nou gelê vir die botsing tussen die kerk en Galileo. Selfs voor sy betrokkenheid by sterrekunde het Galileo ’n verhandeling oor beweging geskryf. Dit het baie van die veronderstellings betwis wat deur die hooggeagte Aristoteles gemaak is. Dit was egter Galileo se volgehoue bevordering van die heliosentriese idee en sy bewering dat dit met die Skrif ooreenstem, wat daartoe gelei het dat hy in 1633 deur die Inkwisisie verhoor is.
In sy verdediging het Galileo sy vaste geloof in die Bybel as die geïnspireerde Woord van God bevestig. Hy het ook aangevoer dat die Skrif vir gewone mense geskryf is en dat Bybelse verwysings na die skynbare beweging van die son nie letterlik vertolk moet word nie. Sy argumente was tevergeefs. Galileo is veroordeel omdat hy ’n vertolking van die Skrif verwerp het wat op Griekse filosofie gebaseer was! Eers in 1992 het die Katolieke Kerk amptelik erken dat dit Galileo verkeerdelik veroordeel het.
Lesse wat hieruit geleer kan word
Wat kan ons uit hierdie gebeure leer? Om maar een ding te noem, Galileo het niks teen die Bybel gesê nie. Hy het eerder die leringe van die kerk bevraagteken. Een godsdiensskrywer het gesê: “Die les wat by Galileo geleer moet word, is blykbaar nie dat die Kerk te streng by Bybelse waarhede gebly het nie; maar eerder dat dit nie streng genoeg daarby gebly het nie.” Die kerk het toegelaat dat Griekse filosofie sy teologie beïnvloed en het sodoende voor tradisie geswig in plaas daarvan om die leringe van die Bybel te volg.
Dit alles laat ’n mens dink aan die Bybelse waarskuwing: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
Selfs vandag nog neem baie in die Christendom teorieë en filosofieë aan wat in stryd is met die Bybel. Een voorbeeld is Darwin se evolusieteorie, wat hulle aangeneem het in die plek van die skeppingsverslag in Genesis. Deur dit te doen, het die kerke Darwin in werklikheid ’n hedendaagse Aristoteles gemaak, en evolusie ’n geloofsartikel.b
Ware wetenskap stem ooreen met die Bybel
Die voorgaande inligting moet glad nie belangstelling in die wetenskap ontmoedig nie. Die Bybel self nooi ons immers om te leer uit God se handewerk en om God se verbasende eienskappe te onderskei in die dinge wat ons sien (Jesaja 40:26; Romeine 1:20). Die Bybel beweer natuurlik nie dat dit ’n wetenskaphandboek is nie. Dit openbaar eerder God se standaarde, aspekte van sy persoonlikheid wat nie uit die skepping alleen geleer kan word nie sowel as sy voorneme vir mense (Psalm 19:7-11; 2 Timoteus 3:16). Maar wanneer die Bybel wel na natuurverskynsels verwys, is dit deurgaans akkuraat. Galileo self het gesê: “Die Heilige Skrif sowel as die natuur spruit voort uit God se Woord . . . Twee waarhede kan nooit teenstrydig wees nie.” Kyk na die volgende voorbeelde.
Iets wat selfs fundamenteler is as die beweging van sterre en planete, is dat alle materie in die heelal deur wette beheer word, soos die wet van swaartekrag. Die vroegste bekende nie-Bybelse verwysing na fisiese wette is deur Pitagoras gemaak, wat geglo het dat die heelal deur middel van wiskundige berekenings verklaar kan word. Tweeduisend jaar later het Galileo, Kepler en Newton uiteindelik bewys dat materie deur logiese wette beheer word.
Die vroegste Bybelse verwysing na ’n natuurwet kom in die boek Job voor. Omstreeks 1600 v.G.J. het God vir Job gevra: “Het jy die insettinge [of, wette] van die hemel te wete gekom?” (Job 38:33). Die boek Jeremia, wat in die sewende eeu v.G.J. opgeteken is, verwys na Jehovah as die Skepper van “die insettinge van die maan en die sterre” en “die insettinge van hemel en aarde” (Jeremia 31:35; 33:25). In die lig van hierdie verklarings het die Bybelkommentator G. Rawlinson gesê: “Die algemene voorkoms van wette in die stoflike wêreld word net so kragtig deur die heilige skrywers bevestig as deur die moderne wetenskap.”
As ons Pitagoras as verwysingspunt gebruik, was die verklaring in Job sy tyd omtrent duisend jaar vooruit. Hou in gedagte dat dit nie die Bybel se oogmerk is om bloot fisiese feite te openbaar nie, maar hoofsaaklik om by ons tuis te bring dat Jehovah die Skepper van alles is—die een wat fisiese wette kan skep.—Job 38:4, 12; 42:1, 2.
Nog ’n voorbeeld waarna ons kan kyk, is dat die aarde se waters ’n kringloop voltooi wat die waterkringloop, of die hidrologiese kringloop, genoem word. Kortom, water verdamp uit die see, vorm wolke, val as reën op die aarde en keer uiteindelik terug na die see. Die oudste bestaande nie-Bybelse verwysings na hierdie kringloop kom uit die vierde eeu v.G.J. Maar Bybelse verklarings is honderde jare ouer as dit. In die 11de eeu v.G.J. het koning Salomo van Israel byvoorbeeld geskryf: “Al die winterstrome gaan uit na die see; tog is die see nie vol nie. Na die plek waar die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan.”—Prediker 1:7.
Omstreeks 800 v.G.J. het die profeet Amos, ’n nederige herder en plaaswerker, eweneens geskryf dat Jehovah “die Een [is] wat die waters van die see roep, sodat hy dit op die oppervlak van die aarde kan uitstort” (Amos 5:8). Sonder om ingewikkelde, tegniese woorde te gebruik, het Salomo sowel as Amos die waterkringloop akkuraat beskryf, elkeen vanuit ’n ietwat ander perspektief.
Die Bybel sê ook: “[God] hang die aarde op aan niks”, of volgens Die Bybel, 1983: “Hy laat die aarde hang waar niks is nie” (Job 26:7). In die lig van die beskikbare kennis in 1600 v.G.J., ongeveer die tyd toe daardie woorde geuiter is, sou net ’n uitsonderlike man beweer het dat ’n soliede voorwerp sonder enige fisiese ondersteuning in die ruimte kan hang. Soos vroeër gemeld is, het Aristoteles die idee van ’n leë ruimte verwerp, en hy het meer as 1 200 jaar later gelewe!
Vind jy dit nie verbasend dat die Bybel sulke akkurate verklarings maak nie—en dit ondanks die verkeerde dog oënskynlik logiese opvattings van destyds? Vir denkende mense is dit nog ’n bewys dat die Bybel deur God geïnspireer is. Ons sal dus verstandig wees as ons ons nie maklik deur enige lering of teorie laat beïnvloed wat in stryd is met God se Woord nie. Soos die geskiedenis keer op keer getoon het, kom en gaan mensefilosofieë, selfs dié van intellektuele reuse, maar “die woord van Jehovah bly vir ewig”.—1 Petrus 1:25.
[Voetnote]
a In die derde eeu v.G.J. het ’n Griek met die naam Aristargus van Samos die hipotese opgestel dat die son die middelpunt van die heelal is, maar sy idees is verwerp ten gunste van dié van Aristoteles.
b Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp, sien hoofstuk 15, “Waarom aanvaar baie evolusie?” in die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 6]
Die Protestante Se Gesindheid
Leiers van die Protestantse Hervorming het ook teen die heliosentriese idee beswaar gemaak. Dit het Martin Luther (1483-1546), Philipp Melanchton (1497-1560) en Johannes Calvyn (1509-64) ingesluit. Luther het van Copernicus gesê: “Hierdie dwaas probeer die hele wetenskap van die sterrekunde omverwerp.”
Die Hervormers het hulle argument gegrond op ’n letterlike vertolking van sekere tekste, soos die verslag in Josua hoofstuk 10 wat sê dat die son en die maan ‘bewegingloos bly staan het’.c Waarom het die Hervormers hierdie standpunt ingeneem? Die boek Galileo’s Mistake verduidelik dat die Protestantse Hervorming nou wel die pouslike juk verbreek het, maar nie daarin geslaag het om die kerk “los te maak van die fundamentele gesag” van Aristoteles en Tomas van Aquino nie, wie se beskouings “deur Katolieke sowel as Protestante aanvaar” is.
[Voetnoot]
c Vanuit ’n wetenskaplike standpunt gebruik ons onjuiste terme wanneer ons na die “sonsopkoms” en “sonsondergang” verwys. Maar in alledaagse spraak is hierdie woorde aanvaarbaar sowel as juis as ons in gedagte hou dat ons dit van die aarde af so sien. Josua het eweneens nie sterrekunde bespreek nie; hy het bloot verslag gelewer oor gebeure soos hy dit gesien het.
[Prente]
Luther
Calvyn
[Erkenning]
From the book Servetus and Calvin, 1877
[Prent op bladsy 4]
Aristoteles
[Erkenning]
From the book A General History for Colleges and High Schools, 1900
[Prent op bladsy 5]
Tomas van Aquino
[Erkenning]
From the book Encyclopedia of Religious Knowledge, 1855
[Prent op bladsy 6]
Isaac Newton
[Prent op bladsy 7]
Meer as 3 000 jaar gelede het die Bybel die aarde se waterkringloop beskryf