“Stel julleself voortdurend op die proef”
“Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef.”—2 KORINTIËRS 13:5.
1, 2. (a) Watter uitwerking kan onsekerheid oor ons opvattings op ons hê? (b) Watter situasie in eerste-eeuse Korinte het party dalk onseker laat voel oor die weg waarop hulle moes wandel?
’N MAN wat in die platteland reis, kom by ’n plek waar die pad ’n vurk maak. Hy is nie seker watter een van die paaie hom na sy bestemming sal neem nie en vra verbygangers dus om aanwysings, maar hy ontvang teenstrydige inligting. Hy is verward en kan nie sy reis voortsit nie. As ons twyfel oor ons opvattings, kan dit ’n soortgelyke uitwerking op ons hê. Sulke onsekerheid kan ons vermoë belemmer om besluite te neem en kan veroorsaak dat ons onseker is oor die weg waarop ons moet wandel.
2 ’n Situasie het ontstaan wat so ’n uitwerking op party mense in die Christengemeente in eerste-eeuse Korinte, Griekeland, kon gehad het. “Uitnemende apostels” het die gesag van die apostel Paulus betwis en gesê: “Sy briewe is gewigtig en kragtig, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak en sy spraak veragtelik” (2 Korintiërs 10:7-12; 11:5, 6). So ’n beskouing het party in die gemeente in Korinte dalk onseker laat voel oor hoe hulle moes wandel.
3, 4. Waarom moet Paulus se raad aan die Korintiërs vir ons van belang wees?
3 Paulus het die gemeente in Korinte gedurende sy besoek daar in 50 G.J. gestig. Hy het “’n jaar en ses maande lank [in Korinte] gebly en die woord van God onder hulle geleer”. Ja, “baie van die Korintiërs wat gehoor het, het begin glo en is gedoop” (Handelinge 18:5-11). Paulus het intens belanggestel in die geestelike welsyn van sy medegelowiges in Korinte. Boonop het die Korintiërs aan Paulus geskryf om raad te vra oor sekere sake (1 Korintiërs 7:1). En hy het hulle baie goeie raad gegee.
4 “Toets voortdurend of julle in die geloof is”, het Paulus geskryf, “stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). As daardie broers in Korinte hierdie raad toegepas het, sou dit hulle beskerm het teen onsekerheid oor die weg waarop hulle moes wandel. Dit kan vandag dieselfde vir ons doen. Hoe kan ons dan Paulus se raad volg? Hoe kan ons toets of ons in die geloof is? En wat behels dit om onsself op die proef te stel?
“Toets voortdurend of julle in die geloof is”
5, 6. Watter standaard het ons om te toets of ons in die geloof is, en waarom is dit die ideale standaard?
5 In ’n toets word iemand of iets gewoonlik getoets, en daar is ’n maatstaf of ’n standaard waarvolgens die toets gedoen word. In hierdie geval is die voorwerp wat getoets word, nie die geloof—die hele versameling oortuigings wat ons aangeneem het—nie. Ons as individue word getoets. Vir die toets het ons ’n volmaakte standaard. ’n Lied wat deur die psalmis Dawid geskryf is, sê: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug. Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys. Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:7, 8). Die Bybel bevat Jehovah se wette wat volmaak en sy bevele wat reg is, sy betroubare herinneringe en rein gebooie. Die boodskap daarin is die ideale standaard om vir ’n toets te gebruik.
6 Die apostel Paulus sê van daardie boodskap wat deur God geïnspireer is: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Ja, God se woord kan ons hart toets—wat ons werklik innerlik is. Hoe kan ons hierdie skerp en kragtige boodskap vir ons lewend maak? Die psalmis laat geen twyfel oor wat dit behels nie. Hy het gesing: “Gelukkig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon” (Psalm 1:1, 2). “Die wet van Jehovah” word in God se geskrewe Woord, die Bybel, gevind. Ons moet daarin behae skep om Jehovah se Woord te lees. Ja, ons moet tyd inruim om op gedempte toon daarin te lees, of om daaroor te peins. Terwyl ons dit doen, moet ons onsself—as dié wat getoets word—blootstel aan wat daar geskrywe staan.
7. Wat is die belangrikste manier om te toets of ons in die geloof is?
7 Die belangrikste manier om te toets of ons in die geloof is, is om God se Woord te lees en daaroor peins en te ondersoek hoe ons gedrag ooreenkom met wat ons leer. Ons kan bly wees dat ons baie hulp het om God se Woord te verstaan.
8. Hoe kan die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” ons help om te toets of ons in die geloof is?
8 Jehovah het leringe en onderrigting voorsien deur die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf”, wat die Skrif verduidelik (Matteus 24:45). Neem byvoorbeeld die venster met die titel “Vrae om oor te peins” aan die einde van die meeste hoofstukke in die boek Kom nader aan Jehovah.a Watter uitstekende geleenthede vir persoonlike bepeinsing bied hierdie kenmerk van die boek tog! Talle onderwerpe wat in ons tydskrifte, Die Wagtoring en Ontwaak!, bespreek word, help ons ook om te toets of ons in die geloof is. Aangaande die artikels oor die boek Spreuke in onlangse nommers van Die Wagtoring het ’n Christenvrou gesê: “Ek vind hierdie artikels baie prakties. Dit help my om te ondersoek of my woorde, gedrag en gesindheid werklik aan Jehovah se regverdige standaarde voldoen.”
9, 10. Watter voorsienings van Jehovah help ons om voortdurend te toets of ons in die geloof is?
9 Ons ontvang ook ’n oorvloed riglyne en aanmoediging by gemeentelike vergaderinge en byeenkomste. Hierdie vergaderinge is van die geestelike voorsienings wat God gemaak het vir diegene van wie Jesaja voorspel het: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom. En baie volke sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah, . . . en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel’” (Jesaja 2:2, 3). Dit is beslis ’n seën om sulke onderrigting omtrent Jehovah se weë te ontvang.
10 Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die raad van diegene wat geestelik bekwaam is, onder andere Christen- ouer manne. Van hulle sê die Bybel: “Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik bekwaam is, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp, terwyl jy op jouself let, sodat jy nie ook versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Hoe dankbaar kan ons tog wees vir hierdie voorsiening om ons reg te help!
11. Wat vereis dit om te toets of ons in die geloof is?
11 Ons publikasies, Christelike vergaderinge, aangestelde manne—dit is wonderlike voorsienings van Jehovah. Om te toets of ons in die geloof is, vereis egter selfondersoek. Wanneer ons dus ons publikasies lees of na skriftuurlike vermaninge luister, moet ons ons afvra: ‘Beskryf dit my? Doen ek dit? Bly ek by die hele versameling van Christelike oortuigings?’ Ons gesindheid teenoor die inligting wat ons deur middel van hierdie voorsienings ontvang, hou ook verband met ons geestelike toestand. “’n Fisiese mens aanvaar nie die dinge van die gees van God nie, want hulle is dwaasheid vir hom”, sê die Bybel. “Maar die geestelike mens ondersoek wel alle dinge” (1 Korintiërs 2:14, 15). Moet ons nie probeer om ’n positiewe, geestelike beskouing te behou van wat ons in ons boeke, tydskrifte en ander publikasies lees en van wat ons by ons vergaderinge en die ouer manne hoor nie?
“Stel julleself voortdurend op die proef”
12. Wat behels dit om onsself op die proef te stel?
12 Om onsself op die proef te stel, behels selfbeoordeling. Ja, ons kan in die waarheid wees, maar wat is die vlak van ons geestelikheid? Om onsself op die proef te stel, behels dat ons bewys lewer van volwassenheid en van opregte waardering vir geestelike voorsienings.
13. Wat dien volgens Hebreërs 5:14 as ’n bewys van ons volwassenheid?
13 Watter bewys van Christelike volwassenheid kan ons in onsself soek? Die apostel Paulus het geskryf: “Vaste voedsel is vir volwasse mense, vir dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Ons lewer bewys van volwassenheid deur ons waarnemingsvermoëns te oefen. Net soos sekere spiere in die liggaam van ’n atleet deur herhaalde gebruik geoefen moet word voordat hy in sy sport kan uitblink, moet ons waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen word in die toepassing van Bybelbeginsels.
14, 15. Waarom moet ons ’n ywerige poging aanwend om die dieper dinge van God se Woord te bestudeer?
14 Maar voordat ons ons waarnemingsvermoëns kan oefen, moet ons kennis verkry. Hiervoor is ywerige persoonlike studie noodsaaklik. Wanneer ons gereeld persoonlike studie doen—veral van die dieper dinge van God se Woord—verbeter ons waarnemingsvermoëns. Deur die jare heen is talle diep onderwerpe in Die Wagtoring bespreek. Hoe reageer ons wanneer ons artikels teëkom wat dieper waarhede bespreek? Is ons geneig om daarvan weg te skram net omdat “sommige dinge [daarin] moeilik is om te verstaan”? (2 Petrus 3:16). Ons wend eerder ’n groter poging aan om te verstaan wat gesê word.—Efesiërs 3:18.
15 Sê nou ons vind dit moeilik om persoonlike studie te doen? Dit is noodsaaklik dat ons ’n liefde daarvoor probeer verkry of aankweek (1 Petrus 2:2).b Om tot volwassenheid te groei, vereis dat ons leer om voeding te verkry uit vaste voedsel, die dieper waarhede van God se Woord. Anders sal ons waarnemingsvermoëns ongetwyfeld beperk bly. Om bewys te lewer van volwassenheid, behels egter meer as om net waarnemingsvermoëns te verkry. Ons moet die kennis wat ons deur ywerige persoonlike studie opdoen, in ons daaglikse lewe gebruik.
16, 17. Watter vermaning gee die dissipel Jakobus daaroor om “daders van die woord” te word?
16 Bewys van wat ons is, word ook gevind in ons blyke van waardering vir die waarheid—ons werke van geloof. Die dissipel Jakobus het ’n kragtige illustrasie gebruik om hierdie aspek van selfbeoordeling te beskryf deur te sê: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is, en nie ’n dader nie, is hy soos ’n mens wat sy natuurlike gesig in ’n spieël bekyk. Want hy bekyk homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is. Maar hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:22-25.
17 Jakobus sê: ‘Kyk diep in die spieël van God se woord, en beoordeel jouself. Hou aan om dit te doen, en ondersoek jouself in die lig van wat jy in God se woord vind. Moet dan nie gou vergeet wat jy gesien het nie. Bring die nodige verbeteringe aan.’ Dit kan soms ’n uitdaging wees om hierdie raad te volg.
18. Waarom is dit ’n uitdaging om Jakobus se raad te volg?
18 Neem byvoorbeeld die vereiste om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem. “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid”, het Paulus geskryf, “maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding” (Romeine 10:10). Om met ons mond openbare bekendmaking tot redding te doen, vereis ’n aantal aanpassings. Deelname aan die predikingswerk is vir die meeste van ons nie maklik nie. Om ywerig daarin te wees en die werk die plek in ons lewe te gee wat dit verdien, vereis selfs meer veranderinge en opofferings (Matteus 6:33). Maar wanneer ons daders van hierdie godgegewe werk word, is ons gelukkig as gevolg van die lof wat dit aan Jehovah bring. Is ons dus ywerige Koninkryksverkondigers?
19. Wat moet ons werke van geloof insluit?
19 Wat moet ons werke van geloof alles insluit? Paulus sê: “Die dinge wat julle geleer sowel as aangeneem en gehoor en gesien het in verband met my, beoefen dit; en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9). Bewys van wat ons is, word gelewer deurdat ons beoefen wat ons geleer, aangeneem, gehoor en gesien het—alles wat by Christelike toewyding en dissipelskap betrokke is. “Dit is die weg. Wandel daarop”, beveel Jehovah deur die profeet Jesaja.—Jesaja 30:21.
20. Watter soort persone is ’n groot seën vir die gemeente?
20 Mans en vroue wat ywerige studente van God se Woord is, wat ywerige verkondigers van die goeie nuus is, wat onberispelik in hulle onkreukbaarheid is en wat lojale ondersteuners van die Koninkryk is, is ’n groot seën vir die gemeente. Hulle teenwoordigheid dra by tot die stabiliteit van die gemeente waarmee hulle omgaan. Hulle is ’n groot hulp, veral omdat daar so baie nuwelinge is om na om te sien. Wanneer ons Paulus se raad ter harte neem om ‘voortdurend te toets of ons in die geloof is, om onsself voortdurend op die proef te stel’, word ons ook ’n goeie invloed op ander.
Skep behae daarin om God se wil te doen
21, 22. Hoe kan ons daarin behae skep om God se wil te doen?
21 “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen”, het koning Dawid van eertydse Israel gesing, “en u wet is in my ingewande” (Psalm 40:8). Dawid het daarin behae geskep om God se wil te doen. Waarom? Omdat Jehovah se wet in Dawid se hart was. Dawid was nie onseker oor die weg waarop hy moes wandel nie.
22 Wanneer God se wet in ons ingewande is, is ons nie onseker oor die weg waarop ons moet wandel nie. Ons skep behae daarin om God se wil te doen. Laat ons ons dan op alle maniere ‘kragtig inspan’ terwyl ons Jehovah uit die hart dien.—Lukas 13:24.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Vir nuttige wenke oor hoe om te studeer, sien bladsye 27-32 van die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Hoe kan ons toets of ons in die geloof is?
• Wat behels dit om onsself op die proef te stel?
• Watter bewys kan ons lewer van Christelike volwassenheid?
• Hoe help ons werke van geloof ons om te beoordeel wat ons is?
[Prent op bladsy 23]
Weet jy wat die belangrikste manier is om te toets of jy in die geloof is?
[Prent op bladsy 24]
Ons lewer bewys van ons Christelike volwassenheid deur ons waarnemingsvermoëns te oefen
[Prente op bladsy 25]
Ons bewys wat ons is deur ‘nie vergeetagtige hoorders nie maar daders van die woord’ te word