Jehovah het “selfs die hare op julle kop” getel
“Nie een [mossie sal] sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel.”—MATTEUS 10:29, 30.
1, 2. (a) Waarom het Job gevoel dat God hom verlaat het? (b) Het Job se woorde beteken dat hy sy rug op Jehovah gedraai het? Verduidelik.
“EK ROEP tot u, o God, maar u antwoord nooit nie; en wanneer ek bid, skenk u geen aandag nie. U behandel my wreed; u vervolg my met al u mag.” Die man wat hierdie woorde geuiter het, het in groot benoudheid verkeer, en dit is geen wonder nie! Hy het sy middele vir lewensonderhoud verloor, ’n natuurfrats het die lewe van sy kinders geëis en nou het ’n uitmergelende siekte hom geteister. Die man se naam was Job, en sy verskriklike beproewing is tot ons voordeel in die Bybel opgeteken.—Job 30:20, 21, Today’s English Version.
2 Job se woorde kan die indruk skep dat hy sy rug op God gedraai het, maar dit was nie die geval nie. Job het eenvoudig uit die diepte van sy benoude hart gepraat (Job 6:2, 3). Hy het nie geweet dat Satan die oorsaak van sy beproewinge was nie, en daarom het hy verkeerdelik gedink dat God hom verlaat het. Op een stadium het Job selfs vir Jehovah gesê: “Waarom verberg u u aangesig en beskou u my as ’n vyand van u?”a—Job 13:24.
3. Watter gedagtes kan by ons opkom wanneer teëspoed ons tref?
3 Vandag verduur baie van Jehovah se knegte eindelose ontberings as gevolg van oorloë, politieke of maatskaplike beroeringe, natuurrampe, bejaardheid, siekte, volslae armoede en regeringsverbooie. Jy ondervind waarskynlik ook beproewinge van die een of ander aard. Soms meen jy dalk dat Jehovah sy aangesig vir jou verberg. Jy ken die woorde van Johannes 3:16 goed: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het.” Maar wanneer jy ly en daar geen verligting in die vooruitsig is nie, wonder jy dalk: ‘Is God werklik vir my lief? Sien hy wat ek verduur? Gee hy vir my as persoon om?’
4. Watter voortslepende situasie moes Paulus verduur, en op watter maniere kan so ’n situasie ons raak?
4 Kyk wat met die apostel Paulus gebeur het. “[Ek is] ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van Satan, om my te bly slaan”, het hy geskryf en bygevoeg: “Ek [het] die Here drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk.” Jehovah het sy dringende versoeke gehoor. Nietemin het hy Paulus laat verstaan dat hy nie sou ingryp deur die probleem wonderdadig op te los nie. Paulus sou eerder op God se krag moes steun om hom te help om sy “doring in die vlees” te verdra (2 Korintiërs 12:7-9).b Soos Paulus, ondervind jy miskien ook ’n voortslepende beproewing. Jy wonder dalk: ‘Beteken die feit dat Jehovah skynbaar niks omtrent my beproewing gedoen het nie dat hy onbewus is van my situasie of dat hy nie oor my besorg is nie?’ Die antwoord is ’n besliste nee! Jehovah se diepe besorgdheid oor elkeen van sy getroue knegte word bevestig deur Jesus se woorde aan sy apostels kort nadat hy hulle gekies het. Kom ons kyk hoe sy woorde ons vandag kan aanmoedig.
‘Moenie vrees nie’—Waarom?
5, 6. (a) Hoe het Jesus die apostels gehelp om nie bevrees te wees vir wat voorgelê het nie? (b) Hoe het Paulus sy vertroue in Jehovah se besorgdheid oor hom getoon?
5 Die apostels het buitengewone kragte van Jesus ontvang, waaronder “gesag oor onrein geeste . . . , om hulle uit te dryf en om elke soort kwaal en elke soort gebrek te genees”. Dit het egter nie beteken dat hulle lewensweg vry van beproewinge en ontberinge sou wees nie. Inteendeel, Jesus het party van die dinge wat met hulle sou gebeur, breedvoerig beskryf. Hy het hulle egter aangespoor: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom eerder wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig.”—Matteus 10:1, 16-22, 28.
6 Om sy apostels te help verstaan waarom hulle nie bevrees hoef te wees nie, het Jesus toe twee illustrasies gegee. Hy het vir hulle gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Let daarop dat Jesus die vermaning om nie bevrees te wees wanneer ons teëspoed ondervind nie, verbind het met vertroue dat Jehovah oor ons as individue besorg is. Die apostel Paulus het klaarblyklik hierdie vertroue gehad. Hy het geskryf: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar hom vir ons almal oorgelewer het, waarom sal hy ons dan nie ook saam met hom alle ander dinge goedgunstig gee nie?” (Romeine 8:31, 32). Ongeag voor watter uitdagings jy te staan kom, jy kan ook seker wees dat Jehovah oor jou as persoon besorg is solank jy aan hom lojaal bly. Dit sal selfs duideliker na vore kom wanneer ons Jesus se vermaning aan sy apostels van naderby ondersoek.
Die waarde van ’n mossie
7, 8. (a) Hoe is mossies in Jesus se dag beskou? (b) Waarom gebruik Matteus 10:29 blykbaar die verkleiningsvorm van die Griekse woord vir “mossies”?
7 Jesus se beeldspraak gee ’n treffende beskrywing van Jehovah se besorgdheid oor elkeen van Sy knegte. Beskou eerstens die mossies wat gemeld is. In Jesus se dag is mossies as voedsel gebruik, maar omdat hulle gewasse skade kon berokken, is hulle meestal as peste beskou. Mossies was so volop en goedkoop dat twee gekoop kon word vir ’n muntstuk wat vandag minder as 30 sent werd sou wees. Met twee keer daardie bedrag kon nie vier mossies nie, maar vyf gekoop word—die ekstra voël is bygevoeg asof dit absoluut geen waarde gehad het nie!—Lukas 12:6.
8 Dink ook aan die grootte van hierdie doodgewone voëltjie. In vergelyking met baie ander voëls is selfs ’n volgroeide mossie redelik klein. Tog verwys die Griekse woord wat in Matteus 10:29 met “mossies” vertaal word, spesifiek na klein mossies. Jesus wou blykbaar hê dat sy apostels hulle die onbeduidendste voëltjie moes voorstel. Soos ’n naslaanwerk sê: “Jesus noem ’n baie klein voëltjie en gebruik boonop die verkleiningsvorm daarvoor!”
9. Watter kragtige punt word tuisgebring deur Jesus se illustrasie van die mossies?
9 Jesus se illustrasie van die mossies bring ’n kragtige punt tuis: Wat vir mense waardeloos lyk, is vir Jehovah God belangrik. Jesus het hierdie waarheid verder beklemtoon deur by te voeg dat ’n klein mossie nie “op die grond [sal] val” sonder dat Jehovah dit sien nie.c Die les is duidelik. As Jehovah God die kleinste en onbeduidendste voëltjie raaksien, hoeveel te meer sal hy besorg wees oor die benarde toestand van ’n mens wat besluit het om hom te dien!
10. Wat is die betekenis van die stelling: “Selfs die hare op julle kop is almal getel”?
10 Toe het Jesus die volgende woorde by sy illustrasie oor die mossies gevoeg: “Selfs die hare op julle kop is almal getel” (Matteus 10:30). Hierdie kort maar betekenisvolle stelling versterk die punt van Jesus se illustrasie oor die mossies. Dink net: Daar is omtrent 100 000 hare op die gemiddelde menslike kop. Oor die algemeen lyk die een haar net soos die ander, en geen enkele haar verdien skynbaar ons noukeurige ondersoek nie. Tog sien Jehovah God elke haar en tel hy dit. Aangesien dit die geval is, is daar dan enige besonderheid van ons lewe waarvan Jehovah nie bewus sal wees nie? Jehovah verstaan beslis die unieke samestelling van elkeen van sy knegte. Ja, hy “sien wat die hart is”.—1 Samuel 16:7.
11. Hoe het Dawid sy vertroue uitgespreek in Jehovah se besorgdheid oor hom as persoon?
11 Dawid, wat goed bekend was met ontberinge, het die vertroue gehad dat Jehovah hom raaksien. “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my”, het hy geskryf. “U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet” (Psalm 139:1, 2). Ook jy kan seker wees dat Jehovah jou persoonlik ken (Jeremia 17:10). Moenie gou wees om aan te neem dat jy te onbelangrik is om deur Jehovah se alsiende oë raakgesien te word nie!
“Sit tog my trane in u leersak”
12. Hoe weet ons dat Jehovah ten volle bewus is van die teëspoed wat sy knegte ondervind?
12 Jehovah ken nie net sy knegte as individue nie, maar hy is ook ten volle bewus van die teëspoed wat elkeen ondervind. Toe die Israeliete byvoorbeeld as slawe onderdruk is, het Jehovah vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Dit is inderdaad vertroostend om te besef dat Jehovah sien wat gebeur wanneer ons ’n beproewing verduur en ons geroep hoor! Hy staan beslis nie onverskillig teenoor ons lyding nie.
13. Wat toon dat Jehovah werklik medelye met sy knegte het?
13 Jehovah se besorgdheid oor diegene wat ’n verhouding met hom aangeknoop het, kan verder gesien word in sy gevoelens teenoor die Israeliete. Al was hulle lyding dikwels die gevolg van hulle eie hardkoppigheid, het Jesaja aangaande Jehovah geskryf: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). As ’n getroue kneg van Jehovah kan jy dus seker wees dat Jehovah pyn ervaar wanneer jy bedroef is. Spoor dit jou nie aan om teëspoed vreesloos die hoof te bied en voort te gaan om jou bes te doen om hom te dien nie?—1 Petrus 5:6, 7.
14. Onder watter omstandighede is Psalm 56 geskryf?
14 Koning Dawid se oortuiging dat Jehovah besorg was oor hom en medelye met hom gehad het, kom duidelik na vore in Psalm 56, wat Dawid geskryf het terwyl hy vir die moorddadige koning Saul gevlug het. Dawid het na Gat ontsnap, maar toe die Filistyne hom herken het, was hy bang dat hy gevange geneem sou word. Hy het geskryf: “My vyande het die hele dag bly hap, want daar is baie wat hooghartig teen my oorlog voer.” Omdat hy hom in ’n gevaarlike situasie bevind het, het Dawid hom tot Jehovah gewend. “Die hele dag bly hulle my persoonlike sake benadeel”, het hy gesê. “Al hulle gedagtes is teen my om kwaad te doen.”—Psalm 56:2, 5.
15. (a) Wat het Dawid bedoel toe hy Jehovah gevra het om sy trane in ’n leersak te sit of in ’n boek op te teken? (b) Waarvan kan ons seker wees wanneer ons ’n geloofbeproewende situasie verduur?
15 Toe het Dawid, soos in Psalm 56:8 opgeteken is, hierdie interessante stellings gemaak: “Dat ek ’n vlugteling is, het u neergeskryf. Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” Wat ’n roerende beskrywing van Jehovah se tere besorgdheid! Wanneer ons onder druk is, kan ons met trane tot Jehovah uitroep. Selfs die volmaakte man Jesus het dit gedoen (Hebreërs 5:7). Dawid was daarvan oortuig dat Jehovah hom raakgesien het en sy lyding sou onthou, asof Hy sy trane in ’n leersak sou bewaar of hulle in ’n boek sou opteken.d Dalk voel dit vir jou of jou trane daardie leersak redelik vol sal maak of baie bladsye van so ’n boek sal vul. As dit die geval is, kan jy moed skep. Die Bybel verseker ons: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.
Word ’n intieme metgesel van God
16, 17. (a) Hoe weet ons dat Jehovah nie onverskillig staan teenoor die probleme wat sy knegte ondervind nie? (b) Wat het Jehovah gedoen om dit vir mense moontlik te maak om intimiteit met hom te geniet?
16 Die feit dat Jehovah ‘selfs die hare op ons kop’ getel het, gee ons ’n idee van hoe opmerksaam en besorg die God is wat ons die voorreg het om te aanbid. Hoewel ons tot die beloofde nuwe wêreld moet wag voordat alle pyn en lyding sal verdwyn, doen Jehovah nou reeds iets wonderliks vir sy knegte. Dawid het geskryf: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees, ook sy verbond, om dit aan hulle bekend te maak.”—Psalm 25:14.
17 “Intimiteit met Jehovah.” Die blote idee gaan dalk onvolmaakte mense se verstand te bowe! Tog nooi Jehovah diegene wat hom vrees, om gaste in sy tent te wees (Psalm 15:1-5). En wat doen Jehovah vir sy gaste? Volgens Dawid maak hy sy verbond aan hulle bekend. Jehovah neem hulle in sy vertroue deur sy “vertroulike saak” aan die profete te openbaar sodat hulle kan weet wat sy voornemens is en wat hulle moet doen om in ooreenstemming daarmee te lewe.—Amos 3:7.
18. Hoe weet ons dat Jehovah wil hê dat ons ’n hegte verhouding met hom moet geniet?
18 Dit is waarlik hartverblydend om te weet dat ons as onvolmaakte mense intieme metgeselle kan word van die Allerhoogste, Jehovah God. Trouens, hy spoor ons aan om juis dit te doen. “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, sê die Bybel (Jakobus 4:8). Jehovah wil hê dat ons ’n hegte verhouding met hom moet geniet. Hy het in werklikheid reeds stappe geneem om so ’n verhouding moontlik te maak. Die losprysoffer van Jesus het dit vir ons moontlik gemaak om ’n vriendskap met God die Almagtige aan te kweek. Die Bybel sê: “Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.”—1 Johannes 4:19.
19. Hoe kan volharding ons verhouding met Jehovah versterk?
19 Daardie hegte verhouding word versterk wanneer ons onder moeilike omstandighede volhard. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:4). Watter “werk” word volbring as ons ondanks ontberinge volhard? Dink aan Paulus se “doring in die vlees”. Wat het volharding in sy geval bereik? Paulus het oor sy beproewinge gesê: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly. Daarom skep ek behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korintiërs 12:9, 10). Paulus se ondervinding was dat Jehovah die nodige krag sou voorsien—“die krag wat bo die normale is” indien nodig—sodat hy kon volhard. Dit het hom dan weer nader aan Christus en Jehovah God laat kom.—2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:11-13.
20. Hoe kan ons seker wees dat Jehovah ons tydens teëspoed sal ondersteun en vertroos?
20 Dalk het Jehovah toegelaat dat jou beproewinge voortduur. Indien wel, kan jy gerus sy belofte aan diegene wat hom vrees, ter harte neem: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Hebreërs 13:5). Jy kan hierdie ondersteuning en vertroosting ondervind. Jehovah het ‘selfs die hare op jou kop’ getel. Hy sien jou volharding. Hy voel jou pyn. Hy is werklik besorg oor jou. En hy sal nooit ‘jou werk vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het’ nie.—Hebreërs 6:10.
[Voetnote]
a Die regverdige Dawid en die getroue kinders van Korag het soortgelyke stellings gemaak.—Psalm 10:1; 44:24.
b Die Bybel sê nie presies wat Paulus se “doring in die vlees” was nie. Dit kon ’n fisiese kwaal gewees het, soos swak gesigsvermoë. Of die uitdrukking “doring in die vlees” kan verwys na valse apostels en ander wat Paulus se apostelskap en bediening betwis het.—2 Korintiërs 11:6, 13-15; Galasiërs 4:15; 6:11.
c Party geleerdes doen aan die hand dat die verwysing na die mossie wat op die grond val, op meer as net die dood van die voël kan dui. Hulle sê dat die uitdrukking in die oorspronklike taal kan verwys na ’n voël wat op die grond gaan sit om te eet. As dit die geval is, impliseer dit dat God die voël raaksien en oor hom besorg is in sy daaglikse bedrywighede, nie net wanneer hy doodgaan nie.—Matteus 6:26.
d In die ou tyd is leersakke van die gelooide velle van skape, bokke en beeste gemaak. Sulke sakke is gebruik vir melk, botter, kaas of water. Sakke wat ’n deegliker looiproses ondergaan het, kon vir olie of wyn gebruik word.
Onthou jy?
• Watter faktore kan ’n mens laat voel dat God jou verlaat het?
• Watter les leer ons uit Jesus se illustrasies van die mossies en van die hare op ons kop wat getel is?
• Wat beteken dit dat ’n mens se trane in Jehovah se “leersak” gesit of in sy “boek” opgeteken word?
• Hoe kan ons “intimiteit met Jehovah” geniet?
[Prent op bladsy 22]
Waarom het Jehovah nie Paulus se “doring in die vlees” weggeneem nie?
[Prent op bladsy 23]
Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasie van die mossies?
[Erkenning]
© J. Heidecker/VIREO
[Prent op bladsy 25]
As ons die Bybel gereeld lees, kan ons die versekering vind dat God oor ons as individue besorg is