Die dood se verwoestende uitwerking
“SESJARIGE PLEEG SELFMOORD.” Hierdie skokkende opskrif het verwys na die tragiese dood van ’n dogtertjie met die naam Jackie. Haar moeder het kort tevore aan ’n ongeneeslike siekte gesterf. Voordat Jackie voor ’n trein ingeloop het, het sy vir party van haar gesinslede gesê dat sy ‘’n engel wil word en by haar ma wil wees’.
Toe Ian 18 was, het hy sy priester gevra om te verduidelik waarom Ian se vader aan kanker gesterf het. Die priester het gesê dat God Ian se vader in die hemel wou hê omdat hy ’n goeie man was. Nadat Ian daardie verduideliking gehoor het, het hy besluit dat hy nie so ’n wrede God wil ken nie. Aangesien dit gelyk het of die lewe heeltemal sinloos is, het Ian besluit om plesier na te jaag. Daarom het hy hom tot alkohol, dwelms en onsedelikheid gewend. Hy het beheer oor sy lewe verloor.
“Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf”
Dié twee tragiese voorvalle lig toe hoe die dood mense se lewens kan verwoes, veral as dit onverwags kom. Almal is weliswaar bewus van die volgende feit wat in die Bybel genoem word: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf” (Prediker 9:5). Maar baie verkies om hierdie harde werklikheid te ignoreer. Wat van jou? Die lewe verg soveel van ons tyd en aandag dat ons dalk die skynbaar vae moontlikheid van die dood uit ons gedagtes sit.
“Die meeste mense is bang vir die dood en probeer om nie daaraan te dink nie”, sê The World Book Encyclopedia. Maar ’n ernstige ongeluk of ’n lewensgevaarlike siekte kan ons skielik dwing om die werklikheid van die dood onder die oë te sien. Of miskien is die begrafnis van ’n vriend of ’n familielid vir ons ’n wrede herinnering aan die uiteinde wat op alle mense wag.
Tog sê roubeklaers dikwels by begrafnisse iets soos: “Die lewe moet voortgaan.” En dit is wat gebeur. Trouens, dit voel dalk of die lewe so vinnig verbygaan dat ons al te gou voor die probleme van die ouderdom te staan kom. Op daardie tydstip is die dood nie meer so ’n vae moontlikheid nie. Daar is te veel begrafnisse om by te woon, die verlies van te veel lewenslange vriende om te verduur. Die verontrustende vraag: “Wanneer is dit my beurt?” oorheers dikwels die gedagtes van baie bejaardes.
Die groot vraagteken
Hoewel niemand die sekerheid van die dood ontken nie, kan daar ’n groot vraagteken hang oor wat ná die dood gebeur. Al die teenstrydige verduidelikings kan die skeptikus die hele saak as ’n nuttelose debat oor die onbekende laat beskou. Die realis kom dalk tot die slotsom dat jy die goeie dinge in die lewe soveel as moontlik moet geniet, want “jy lewe net een keer”.
In teenstelling hiermee weier ander om te glo dat die dood die einde van alles is. Maar hulle het nie ’n duidelike begrip van wat daarna gebeur nie. Party meen dat die lewe in ’n plek van ewige geluk sal voortgaan, terwyl ander dink dat hulle die een of ander tyd in die toekoms weer sal lewe, miskien as iemand anders.
Bedroefde familielede vra hulle dikwels af: “Waar is die dooies?” ’n Hele paar jaar gelede het lede van ’n sokkerklub na ’n sportbyeenkoms gereis toe ’n vragmotor skielik teen hulle minibus gebots het, wat die minibus van die pad af laat rol het. Vyf spanlede het gesterf. Die lewe van een moeder het feitlik tot stilstand gekom sedert die dag toe haar seun in daardie ongeluk gesterf het. Sy worstel met die vraag oor waar haar seun is. Sy gaan gereeld na sy graf toe en praat ure lank hardop met hom. “Ek kan eenvoudig nie glo dat daar niks ná die dood is nie”, sê sy hartseer, “maar ek is nie seker nie.”
Dit is duidelik dat ons gesindheid teenoor die dood nou ons lewe kan beïnvloed. Mense se reaksies op die tragedie van die dood laat ’n hele paar vrae ontstaan. Dink hoe jy dit sou beantwoord. Moet ons eenvoudig van die dood vergeet en ons op die lewe toespits? Moet ons toelaat dat die dreigende teenwoordigheid van die dood ons lewe bederf? Moet ’n bedroefde familielid altyd wonder waar ’n afgestorwe geliefde is? Moet die dood ’n raaisel bly?