’n Wet van liefde in harte
“Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf.”—JEREMIA 31:33.
1, 2. (a) Wat gaan ons nou bespreek? (b) Hoe het Jehovah hom by die berg Sinai geopenbaar?
IN DIE vorige twee artikels het ons gesien dat Moses se gesig geglinster en so Jehovah se heerlikheid weerkaats het toe hy van die berg Sinai afgekom het. Ons het ook die sluier bespreek wat Moses gedra het. Kom ons bespreek nou ’n verwante saak wat vandag vir Christene van belang is.
2 Toe Moses op die berg was, het hy instruksies van Jehovah ontvang. Die Israeliete, wat voor die berg Sinai vergader was, het ’n verstommende openbaring van God gesien. “Donderslae en weerligstrale [het] gekom, en ’n swaar wolk op die berg en ’n baie harde geluid van ’n horing, sodat die hele volk wat in die kamp was, begin bewe het. . . . En die hele berg Sinai het gerook, omdat Jehovah in vuur daarop neergedaal het; en sy rook het bly opstyg soos die rook van ’n droogoond, en die hele berg het geweldig gebewe.”—Eksodus 19:16-18.
3. Hoe het Jehovah die Tien Gebooie aan Israel gegee, en tot watter besef het daardie nasie gekom?
3 Jehovah het deur middel van ’n engel met die volk gepraat en die wette voorsien wat bekend geword het as die Tien Gebooie (Eksodus 20:1-17). Daar het dus geen twyfel bestaan dat hierdie wette van die Almagtige gekom het nie. Jehovah het hierdie gebooie op kliptafels geskryf—tafels wat Moses verbrysel het toe hy die Israeliete ’n goue kalf sien aanbid het. Jehovah het die wette weer op klip geskryf. Hierdie keer het Moses se gesig geglinster toe hy met die tafels afgekom het. Teen dié tyd het almal besef dat hierdie wette van baie groot betekenis was.—Eksodus 32:15-19; 34:1, 4, 29, 30.
4. Waarom was die Tien Gebooie van groot betekenis?
4 Die twee tafels waarop die Tien Gebooie geskryf was, is binne die verbondsark in die Allerheiligste vertrek van die tabernakel en later van die tempel geplaas. Die wette daarop het die grondbeginsels van die Mosaïese Wetsverbond uiteengesit en die grondslag gevorm vir die teokratiese bestuur van ’n nasionale regering. Dit het bewys dat Jehovah met ’n spesifieke volk, ’n uitverkore volk, gehandel het.
5. Hoe het God se wette aan Israel sy liefde weerspieël?
5 Hierdie wette het baie aangaande Jehovah geopenbaar, veral sy liefde vir sy volk. Wat ’n kosbare gawe was die wette tog vir diegene wat dit gehoorsaam het! ’n Geleerde het geskryf: “Geen sedelike stelsel wat al ooit daarvóór of daarná deur die mens geformuleer is, . . . kan naby hierdie tien woorde van God kom nie, wat nog te sê dit ewenaar of oortref.” Aangaande die Mosaïese Wet as ’n geheel het Jehovah gesê: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my. En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word.”—Eksodus 19:5, 6.
’n Wet wat in die hart geskryf is
6. Watter wet was van groter waarde as wette wat op klip geskryf is?
6 Ja, daardie goddelike wette was van groot waarde. Maar het jy geweet dat gesalfde Christene iets baie waardevoller besit as wette wat op klip geskryf is? Jehovah het voorspel dat ’n nuwe verbond gesluit sou word wat anders sou wees as die Wetsverbond wat met die nasie Israel gesluit is. “Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf” (Jeremia 31:31-34). Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, het nie persoonlik ’n geskrewe wet aan sy volgelinge gegee nie. Hy het Jehovah se wet in die verstande en harte van sy dissipels ingeskerp deur die dinge wat hy gesê en gedoen het.
7. Aan wie is “die wet van die Christus” eerste gegee, en wie het dit later aangeneem?
7 Hierdie wet word “die wet van die Christus” genoem. Dit is eerste gegee, nie aan die natuurlike nasie Israel, wat die nakomelinge van Jakob was nie, maar aan ’n geestelike nasie, “die Israel van God” (Galasiërs 6:2, 16; Romeine 2:28, 29). Die Israel van God bestaan uit geesgesalfde Christene. Mettertyd het “’n groot menigte” uit alle nasies wat Jehovah ook wil aanbid, by hulle aangesluit (Openbaring 7:9, 10; Sagaria 8:23). As “een kudde onder een herder” neem albei groepe “die wet van die Christus” aan en laat hulle toe dat al hulle handelinge daardeur gerig word.—Johannes 10:16.
8. Watter verskil was daar tussen die Mosaïese Wet en die wet van die Christus?
8 Anders as die natuurlike Israeliete, wat deur geboorte aan die Mosaïese Wet gebonde was, bly Christene uit vrye keuse onder die wet van die Christus, en faktore soos ras en geboorteplek is onbelangrik. Hulle leer van Jehovah en sy weë en wil graag sy wil doen. Omdat hulle God se wet “in hulle binneste” het, as ’t ware “in hulle hart” geskryf, gehoorsaam gesalfde Christene God nie bloot omdat hy dié kan straf wat ongehoorsaam is nie; ook gehoorsaam hulle hom nie bloot uit pligsgevoel nie. Hulle gehoorsaamheid is gegrond op iets fundamenteler en baie kragtiger, en die ander skape toon dieselfde gehoorsaamheid omdat hulle God se wet in hulle hart het.
Wette wat op liefde gegrond is
9. Hoe het Jesus aangedui dat liefde die kern is van Jehovah se wette?
9 Die kern van al Jehovah se wette en voorskrifte kan opgesom word in ’n enkele woord: liefde. Dit was nog altyd en sal altyd ’n wesenlike deel van suiwer aanbidding wees. Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod in die Wet is, het hy geantwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Die tweede was: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Toe het hy gesê: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete” (Matteus 22:35-40). Jesus het hiermee aangedui dat nie net die Wet met die Tien Gebooie nie, maar al die Hebreeuse Geskrifte op liefde gegrond was.
10. Hoe weet ons dat liefde die kern is van die wet van die Christus?
10 Is liefde vir God en vir ons naaste ook die kern van die wet in die harte van Christene? Beslis! Die wet van die Christus behels hartgrondige liefde vir God en sluit ’n nuwe gebod in—Christene moet selfopofferende liefde vir mekaar hê. Hulle moet dieselfde liefde as Jesus toon, en hy het sy lewe gewillig ten behoewe van sy vriende afgelê. Hy het sy dissipels geleer om God lief te hê en om mekaar lief te hê, net soos hy hulle liefgehad het. Die uitsonderlike liefde wat ware Christene teenoor mekaar betoon, is die vernaamste eienskap waaraan hulle uitgeken kan word (Johannes 13:34, 35; 15:12, 13). Jesus het hulle selfs beveel om hulle vyande lief te hê.—Matteus 5:44.
11. Hoe het Jesus liefde vir God sowel as vir die mensdom getoon?
11 Jesus het die volmaakte voorbeeld gestel in die betoning van liefde. As ’n magtige geesskepsel in die hemel het hy die geleentheid verwelkom om sy Vader se belange op die aarde te bevorder. Hy het nie net sy menselewe afgelê sodat ander vir ewig kan lewe nie, maar hy het ook vir mense gewys hoe hulle moet lewe. Hy was nederig, goedhartig en bedagsaam en het diegene gehelp wat swaar belas was en onderdruk is. Hy het ook “woorde van die ewige lewe” gespreek en ander onvermoeid gehelp om Jehovah te leer ken.—Johannes 6:68.
12. Waarom kan daar gesê word dat liefde vir God en vir ons naaste onlosmaaklik verbind is?
12 Liefde vir God en vir ons naaste is in werklikheid onlosmaaklik verbind. Die apostel Johannes het gesê: “Die liefde kom van God . . . As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:7, 20). Jehovah is die bron sowel as die verpersoonliking van liefde. Alles wat hy doen, word deur liefde beïnvloed. Ons het lief omdat ons na sy beeld geskep is (Genesis 1:27). Deur liefde aan ons naaste te betoon, toon ons ons liefde vir God.
Liefde behels gehoorsaamheid
13. Wat moet ons eerste doen as ons God wil liefhê?
13 Hoe kan ons God liefhê as ons hom nie kan sien nie? Die eerste noodsaaklike stap is om hom te leer ken. Ons kan nie ’n vreemdeling werklik liefhê of vertrou nie. Daarom spoor God se Woord ons aan om God te leer ken deur die Bybel te lees, te bid en te assosieer met diegene wat hom reeds ken en liefhet (Psalm 1:1, 2; Filippense 4:6; Hebreërs 10:25). Die vier Evangelies is veral nuttig, want hulle openbaar die persoonlikheid van Jehovah soos dit in die lewe en bediening van Jesus Christus weerspieël is. Ons begeerte om God te gehoorsaam en sy persoonlikheid na te volg, sal al hoe sterker word namate ons hom leer ken en waardering opbou vir die liefde wat hy vir ons getoon het. Ja, liefde vir God behels gehoorsaamheid.
14. Waarom kan daar gesê word dat God se wette nie swaar is nie?
14 Wanneer ons iemand liefhet, is ons in voeling met waarvan hy hou en nie hou nie, en ons tree dienooreenkomstig op. Ons wil nie mense vir wie ons lief is, mishaag nie. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Hulle is nie swaar nie en ook nie talryk nie. Liefde rig ons handelinge. Ons hoef nie ’n uitvoerige stel reëls te memoriseer om ons te rig in alles wat ons doen nie; ons word deur ons liefde vir God gelei. God se wette is nie swaar nie, want dit verskaf ons vreugde om diegene te dien vir wie ons werklik lief is. As ons God liefhet, skep ons behae daarin om sy wil te doen. So verkry ons God se goedkeuring en bevoordeel ons onsself, want sy riglyne is altyd tot ons beswil.—Jesaja 48:17.
15. Wat sal ons beweeg om Jehovah na te volg? Verduidelik.
15 Liefde vir God beweeg ons om sy eienskappe na te volg. Wanneer ons iemand liefhet, bewonder ons sy eienskappe en probeer ons soos hy wees. Kyk byvoorbeeld na die verhouding tussen Jehovah en Jesus. Hulle was moontlik miljarde jare saam in die hemel. Diep, suiwer liefde het tussen hulle bestaan. Jesus het sy hemelse Vader so volmaak weerspieël dat hy vir sy dissipels kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Namate ons kennis van Jehovah en sy Seun inneem en waardering vir hulle opbou, word ons beweeg om soos hulle te wees. Ons liefde vir Jehovah, tesame met die hulp van sy heilige gees, sal ons in staat stel om ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike af te lê en ons met die nuwe persoonlikheid te beklee’.—Kolossense 3:9, 10; Galasiërs 5:22, 23.
Liefde in aksie
16. Hoe word liefde vir God en vir ons naaste getoon deur ons predikings- en onderrigtingswerk?
16 As Christene word ons deur ons liefde vir God en ons naaste beweeg om deel te neem aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. Hierdeur behaag ons Jehovah God, “wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Ons kan vreugde daaruit put om ander te help om die wet van die Christus in hulle hart geskryf te kry. En dit verbly ons om te sien hoe hulle persoonlikheid verander om die goddelike eienskappe van Jehovah te weerspieël (2 Korintiërs 3:18). Om ander te help om God te leer ken, is inderdaad die kosbaarste geskenk wat ons hulle kan gee. Diegene wat Jehovah se vriendskap aanvaar, kan dit tot in alle ewigheid geniet.
17. Waarom is dit verstandig om eerder liefde vir God en vir ons naaste aan te kweek as vir materiële dinge?
17 Ons lewe in ’n wêreld waar mense groot waarde aan materiële dinge heg en dit selfs liefhet. En tog hou materiële dinge nie vir ewig nie. Dit kan gesteel word of tot niet gaan (Matteus 6:19). Die Bybel waarsku ons: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:16, 17). Ja, Jehovah sal vir ewig bly, en so ook diegene wat hom liefhet en dien. Maak dit dan nie meer sin om liefde vir God en vir mense aan te kweek as om die dinge van die wêreld na te jaag, wat hoogstens net tydelik is nie?
18. Hoe het een sendeling selfopofferende liefde getoon?
18 Diegene wat liefde nastreef, bring lof aan Jehovah. Neem byvoorbeeld Sonia, ’n sendeling in Senegal. Sy het die Bybel gestudeer met ’n vrou wie se naam Heidi was, wat MIV by haar ongelowige man gekry het. Nadat haar man oorlede is, is Heidi gedoop, maar kort daarna het haar gesondheid ingegee, en sy is met vigs in die hospitaal opgeneem. Sonia vertel: “Die hospitaalpersoneel het hulle bes gedoen, maar daar was min van hulle. Vrywilligers van die gemeente is gevra om in die hospitaal na haar behoeftes om te sien. Die tweede aand het ek op ’n matjie langs haar bed deurgebring en gehelp om haar te versorg tot sy dood is. Die toesighoudende dokter het gesê: ‘Ons grootste probleem is dat selfs familielede dikwels niks meer met sulke persone te doen wil hê wanneer hulle weet dat hulle vigs het nie. Waarom is jy, wat nie familie, van dieselfde land of eers dieselfde kleur is nie, bereid om jou aan gevaar bloot te stel?’ Ek het verduidelik dat ek Heidi werklik as my suster beskou het. Ons was so na aan mekaar dat dit was asof ons dieselfde moeder en vader gehad het. Nadat ek hierdie nuwe suster van my leer ken het, was dit vir my ’n plesier om na haar om te sien.” Terloops, Sonia het niks oorgekom weens haar liefdevolle pogings om na Heidi om te sien nie.
19. Waarvan moet ons gebruik maak, aangesien ons God se wet in ons hart het?
19 Daar kan baie voorbeelde van selfopofferende liefde onder Jehovah se knegte gevind word. Geen geskrewe wet identifiseer vandag God se volk nie. Ons sien eerder die vervulling van wat in Hebreërs 8:10 geskrywe staan: “‘Dit is die verbond wat ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit’, sê Jehovah. ‘Ek sal my wette in hulle verstand sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word.’” Mag ons die wet van liefde wat Jehovah in ons hart geskryf het, altyd bewaar en van elke geleentheid gebruik maak om liefde te toon.
20. Waarom is die wet van die Christus ’n kosbare besitting?
20 Watter vreugde verskaf dit tog om God saam met ’n wêreldwye broederskap te dien wat hierdie liefde toon! Diegene wat die wet van die Christus in hulle hart het, besit iets kosbaars in hierdie liefdelose wêreld. Hulle geniet nie net Jehovah se liefde nie, maar hulle verlustig hulle ook in die sterk band van liefde in die broederskap. “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” Hoewel Jehovah se Getuies in baie nasies gevind word, baie tale praat en baie kulture verteenwoordig, geniet hulle godsdienseenheid wat sonder gelyke is. Hierdie eenheid bring Jehovah se guns mee. Die psalmis het geskryf: “Daar [onder ’n volk wat in liefde verenig is] het Jehovah die seën gebied, ja, lewe tot onbepaalde tyd.”—Psalm 133:1-3.
Kan jy antwoord?
• Hoe belangrik was die Tien Gebooie?
• Wat is die wet wat in harte geskryf is?
• Watter rol speel liefde in “die wet van die Christus”?
• Op watter maniere kan ons ons liefde vir God en ons naaste toon?
[Prent op bladsy 25]
Die Israeliete het wette gehad wat op kliptafels geskryf was
[Prente op bladsy 26]
Christene het God se wet in hulle hart
[Prent op bladsy 28]
Sonia saam met ’n Senegalese meisie by die streekbyeenkoms in 2004