Sal jy met God wandel?
‘Wandel beskeie met jou God.’—MIGA 6:8.
1, 2. Hoe kan Jehovah se gevoelens teenoor ons vergelyk word met dié van ’n ouer wat ’n kind leer loop?
’N BABA, wat op wankelrige beentjies staan, steek sy handjies uit na ’n ouer se uitgestrekte arms en gee sy eerste treetjies. Dit lyk miskien na iets kleins, maar vir die ma en pa is dit ’n mylpaal, ’n oomblik wat groot belofte vir die toekoms inhou. Die ouers sien gretig daarna uit om in die komende maande en jare hand aan hand met hulle kind te loop. Hulle hoop om tot ver in die toekoms op baie maniere leiding en ondersteuning aan die kind te gee.
2 Jehovah God het soortgelyke gevoelens teenoor sy aardse kinders. Hy het eenkeer oor sy volk Israel, of Efraim, gesê: “Ek het Efraim leer loop, hulle op my arms geneem . . . Met die toue van die mens het ek hulle bly trek, met die koorde van liefde” (Hosea 11:3, 4). Jehovah beskryf homself hier as ’n liefdevolle ouer wat ’n kind geduldig leer loop en hom miskien in Sy arms neem wanneer hy val. Jehovah, die allerbeste Ouer, is gretig om ons te leer hoe om te wandel. Hy skep ook behae daarin om ons te vergesel terwyl ons vooruitgang bly maak. Soos ons temateks toon, kan ons met God wandel! (Miga 6:8). Maar wat beteken dit om met God te wandel? Waarom moet ons dit doen? Hoe is dit moontlik? En watter seëninge bring dit mee wanneer ons met God wandel? Kom ons bespreek hierdie vier vrae een op ’n slag.
Wat beteken dit om met God te wandel?
3, 4. (a) Wat is treffend omtrent die beskrywing van mense wat met God wandel? (b) Wat beteken dit om met God te wandel?
3 ’n Mens van vlees en bloed kan natuurlik nie letterlik met Jehovah, ’n geespersoon, wandel nie (Eksodus 33:20; Johannes 4:24). Wanneer die Bybel dus praat van mense wat met God wandel, gebruik dit figuurlike taal. Dit gee ’n treffende beskrywing, een wat nasionale en kulturele grense en selfs tyd oorbrug. In watter plek of tydperk sal mense immers nie die begrip kan verstaan van een persoon wat saam met ’n ander loop nie? Dié beskrywing dra ’n gevoel van hartlikheid en intiemheid oor, nie waar nie? Hierdie gevoelens gee ons ’n mate van insig in wat dit beteken om met God te wandel. Maar laat ons meer spesifiek wees.
4 Dink aan die getroue manne Henog en Noag. Waarom word daar gesê dat hulle met God gewandel het? (Genesis 5:24; 6:9). In die Bybel beteken die uitdrukking “om te wandel” dikwels om ’n sekere handelswyse te volg. Henog en Noag het ’n lewenswyse gekies wat in ooreenstemming met die wil van Jehovah God was. In teenstelling met die mense in die wêreld om hulle het hulle op Jehovah staatgemaak vir leiding en sy voorskrifte gehoorsaam. Hulle het op hom vertrou. Beteken dit dat Jehovah hulle besluite vir hulle geneem het? Nee. Jehovah het die mens wilsvryheid gegee, en hy wil hê dat ons hierdie gawe tesame met ons “denkvermoë” moet gebruik (Romeine 12:1). Maar wanneer ons besluite neem, laat ons nederig toe dat ons denkvermoë deur Jehovah se oneindig verhewe denke gerig word (Spreuke 3:5, 6; Jesaja 55:8, 9). Terwyl ons deur die lewe wandel, onderneem ons as ’t ware hierdie reis met Jehovah as intieme metgesel.
5. Waarom het Jesus gepraat van ’n el wat by ’n persoon se lewensduur gevoeg word?
5 Die Bybel vergelyk die lewe dikwels met ’n reis of ’n wandeling. In party gevalle is dit ’n direkte vergelyking, maar in ander gevalle word dit geïmpliseer. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?” (Matteus 6:27). Iets omtrent hierdie woorde klink dalk vir jou vreemd. Waarom het Jesus gepraat van “een el”, ’n afstandsmaat, wat by ’n persoon se “lewensduur”, ’n tydmaat, gevoeg word?a Jesus het die lewe klaarblyklik as ’n reis uitgebeeld. Hy het in werklikheid geleer dat bekommernis jou nie sal help om selfs ’n klein treetjie by jou lewensreis te voeg nie. Maar moet ons tot die slotsom kom dat ons niks omtrent die duur van daardie reis kan doen nie? Glad nie! Dit bring ons by ons tweede vraag: Waarom moet ons met God wandel?
Waarom moet ons met God wandel?
6, 7. Wat het onvolmaakte mense dringend nodig, en waarom is dit verstandig van ons om ons tot Jehovah te wend om in hierdie behoefte te voorsien?
6 Een rede waarom ons met Jehovah God moet wandel, word in Jeremia 10:23 verduidelik: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” Ons as mense het dus nie die vermoë of die reg om ons eie lewensweg te rig nie. Ons het leiding dringend nodig. Diegene wat daarop aandring om hulle eie weg onafhanklik van God te volg, begaan dieselfde fout as Adam en Eva. Die eerste paar het hulle die reg toegeëien om self te besluit wat goed en wat sleg is (Genesis 3:1-6). Daardie reg “behoort” eenvoudig nie aan ons nie.
7 Het jy nie ’n behoefte aan leiding op jou lewensreis nie? Ons kom elke dag voor klein en groot besluite te staan. Party hiervan is moeilik en kan ons toekoms raak—asook die toekoms van ons geliefdes. Maar dink net: Iemand wat oneindig ouer en wyser as ons is, wil graag vir ons liefdevolle leiding gee wanneer ons hierdie besluite moet neem! Ongelukkig verkies die meeste mense vandag om op hulle eie oordeel staat te maak en hulle eie voetstappe te rig. Hulle ignoreer die waarheid wat in Spreuke 28:26 opgeteken is: “Hy wat op sy eie hart vertrou, is dwaas, maar hy wat in wysheid wandel, sal ontkom.” Jehovah wil hê dat ons aan die rampspoede moet “ontkom” wat die gevolg is van vertroue op die verraderlike mensehart (Jeremia 17:9). Hy wil hê dat ons in wysheid moet wandel, op hom moet vertrou as ons wyse Gids en Onderrigter. Wanneer ons dit doen, is ons lewensreis veilig, bevredigend en sinvol.
8. Na watter bestemming neem sonde en die dood mense natuurlikerwys, maar wat wil Jehovah hê moet ons geniet?
8 Nog ’n rede waarom ons met God moet wandel, het te doen met die duur van die reis wat ons wil onderneem. Die Bybel meld ’n sombere waarheid. In sekere sin reis alle onvolmaakte mense na dieselfde bestemming. Prediker 12:5 beskryf die beproewinge wat met die ouderdom gepaardgaan en sê: “Die mens gaan na sy langdurige huis, en die weeklaers het in die straat rondgegaan.” Wat is hierdie “langdurige huis”? Die graf, waar sonde en onvolmaaktheid ons natuurlikerwys neem (Romeine 6:23). Maar Jehovah wil hê dat ons meer moet geniet as net ’n kort, moeitevolle reis van die wieg tot die graf (Job 14:1). Alleenlik deur met God te wandel, kan ons hoop om so lank te wandel as wat ons bedoel was om te wandel—vir ewig. Is dit nie wat jy wil hê nie? Dit is dan duidelik dat jy met jou Vader moet wandel.
Hoe kan ons met God wandel?
9. Waarom was Jehovah soms vir sy volk verberg, maar watter versekering het hy volgens Jesaja 30:20 gegee?
9 Die derde vraag in ons bespreking verdien ons noukeurigste aandag. Dit is: Hoe kan ons met God wandel? Ons vind die antwoord in Jesaja 30:20, 21: “Jou Grootse Onderrigter [sal] hom nie langer verberg nie, en jou oë sal oë word wat jou Grootse Onderrigter sien. En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan.” In hierdie aanmoedigende gedeelte het Jehovah se woorde in Jes 30 vers 20 moontlik sy volk daaraan herinner dat hy as ’t ware vir hulle verberg was toe hulle teen hom in opstand gekom het (Jesaja 1:15; 59:2). Maar hier word Jehovah voorgestel, nie as iemand wat hom verberg nie, maar as iemand wat oop en bloot voor sy getroue volk staan. Ons dink miskien aan ’n onderrigter wat voor sy studente staan en demonstreer wat hy wil hê hulle moet leer.
10. In watter sin hoor jy dalk “’n woord agter jou” wat van jou Grootse Onderrigter kom?
10 In Jes 30 vers 21 word ’n ander beskrywing gegee. Jehovah word uitgebeeld asof hy agter sy volk loop en instruksies gee oor die regte weg om op te wandel. Bybelgeleerdes het gesê dat hierdie uitdrukking dalk gebaseer is op die manier waarop ’n herder soms agter sy skape loop en uitroep om seker te maak dat hulle die regte pad volg en te keer dat hulle in die verkeerde rigting gaan. Hoe is hierdie beskrywing op ons van toepassing? Wel, wanneer ons ons tot God se Woord wend vir leiding, lees ons woorde wat duisende jare gelede neergeskryf is. Hulle kom as ’t ware van agter ons in die tydstroom. Maar hulle is vandag nog net soveel van toepassing as die dag toe hulle geskryf is. Bybelraad kan aan ons leiding verskaf in ons daaglikse besluite, en dit kan ons help om ons lewensweg te beplan vir die jare wat voorlê (Psalm 119:105). Wanneer ons ywerig na sulke raad soek en dit toepas, dan is Jehovah ons Gids. Ons wandel met God.
11. Watter aanloklike beskrywing het Jehovah volgens Jeremia 6:16 vir sy volk gegee, maar hoe het hulle gereageer?
11 Laat ons werklik toe dat God se Woord ons so noukeurig lei? Dit is die moeite werd om soms stil te staan en onsself eerlik te ondersoek. Kyk na ’n vers wat ons sal help om dit te doen: “Só het Jehovah gesê: ‘Staan stil op die weë en kyk, en vra na die paaie van lank gelede, waar die goeie weg tog is; en wandel daarop en vind rus vir julle siel’” (Jeremia 6:16). Hierdie woorde laat ons dalk dink aan ’n reisiger wat by ’n kruispad gaan stilstaan om aanwysings te vra. In geestelike sin moes Jehovah se opstandige volk in Israel iets soortgelyks doen. Hulle moes hulle pad terugvind na “die paaie van lank gelede”. Daardie “goeie weg” was die weg waarop hulle getroue voorvaders gewandel het, die weg waarvan die nasie dwaaslik afgedwaal het. Ongelukkig het Israel hardnekkig gereageer op hierdie liefdevolle herinnering van Jehovah. Dieselfde vers sê verder: “Maar hulle het bly sê: ‘Ons sal nie daarop wandel nie.’” In hedendaagse tye het God se volk egter anders gereageer op sulke raad.
12, 13. (a) Hoe het Christus se gesalfde volgelinge op die raad van Jeremia 6:16 gereageer? (b) Hoe kan ons onsself ondersoek ten opsigte van die manier waarop ons vandag wandel?
12 Sedert laat in die 19de eeu het Christus se gesalfde volgelinge die raad van Jeremia 6:16 op hulleself toegepas. As ’n klas het hulle die leiding daarin geneem om heelhartig tot “die paaie van lank gelede” terug te keer. In teenstelling met die afvallige Christendom het hulle getrou gebly by “die patroon van gesonde woorde” wat deur Jesus Christus vasgestel en deur sy getroue volgelinge in die eerste eeu G.J. gevolg is (2 Timoteus 1:13). Tot vandag toe help die gesalfdes mekaar sowel as hulle metgeselle, die “ander skape”, om die heilsame, gelukkige lewensweg te volg wat die Christendom verlaat het.—Johannes 10:16.
13 Deur geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien, het ‘die getroue slaaf’-klas miljoene gehelp om “die paaie van lank gelede” te vind en met God te wandel (Matteus 24:45-47). Is jy een van hierdie miljoene? Wat kan jy dan doen om te voorkom dat jy wegdryf, dat jy wegdraai om jou eie weg te volg? Dit is verstandig om van tyd tot tyd stil te staan en die manier te ondersoek waarop jy in die lewe wandel. As jy die Bybel en Bybelpublikasies getrou lees en die onderrigtingsprogramme bywoon wat vandag deur die gesalfdes gereël word, dan word jy opgelei om met God te wandel. En wanneer jy die raad wat jy gegee word, nederig toepas, wandel jy inderdaad met God en volg jy “die paaie van lank gelede”.
Wandel ‘asof jy die Onsigbare sien’
14. Hoe sal die feit dat Jehovah vir ons ’n werklike persoon is, weerspieël word in die besluite wat ons neem?
14 As ons met Jehovah wil wandel, moet hy vir ons ’n werklike persoon wees. Onthou, Jehovah het getroues in eertydse Israel verseker dat hy nie vir hulle verberg is nie. Vandag openbaar hy hom eweneens aan sy volk as die Grootse Onderrigter. Is Jehovah so werklik vir jou, asof hy voor jou staan om jou te onderrig? Dit is die soort geloof wat ons moet hê om met God te wandel. Moses het sulke geloof gehad, “want hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). As Jehovah vir ons ’n werklike persoon is, sal ons sy gevoelens in ag neem wanneer ons besluite neem. Ons sal dit byvoorbeeld nie eens oorweeg om ons aan oortreding skuldig te maak en dan ons sondes vir Christen- ouer manne of gesinslede te probeer wegsteek nie. Ons streef eerder daarna om met God te wandel selfs wanneer geen ander mens ons kan sien nie. Soos koning Dawid van die ou tyd, neem ons ons voor: “Ek sal in my huis in die onkreukbaarheid van my hart wandel.”—Psalm 101:2.
15. Hoe sal omgang met ons Christenbroers en -susters ons help om Jehovah as ’n werklike persoon te beskou?
15 Jehovah verstaan dat ons onvolmaakte, vleeslike skepsele is en dat dit soms vir ons moeilik is om te glo in wat ons nie kan sien nie (Psalm 103:14). Hy doen baie om ons te help om hierdie swakheid te bowe te kom. Hy het byvoorbeeld “’n volk vir sy naam” uit al die nasies van die aarde versamel (Handelinge 15:14). Wanneer ons in eenheid saam dien, versterk ons mekaar. Wanneer ons hoor hoe Jehovah ’n geestelike broer of suster gehelp het om ’n swakheid te bowe te kom of om ’n moeilike toets die hoof te bied, maak dit ons God vir ons selfs nog werkliker.—1 Petrus 5:9.
16. Hoe sal dit ons help om met God te wandel as ons kennis van Jesus inneem?
16 Bowenal het Jehovah vir ons die voorbeeld van sy Seun gegee. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Een van die beste maniere om Jehovah vir ons werkliker te maak, is om Jesus se lewe op aarde te bestudeer. Alles wat Jesus gesê of gedoen het, was ’n volmaakte weerspieëling van sy hemelse Vader se persoonlikheid en weë (Johannes 14:9). Wanneer ons besluite neem, moet ons noukeurig nadink oor hoe Jesus sake sou hanteer. Wanneer ons besluite sulke noukeurige en biddende oorweging weerspieël, dan volg ons in Christus se voetstappe (1 Petrus 2:21). Gevolglik wandel ons met God.
Watter seëninge bring dit mee?
17. Watter “rus” sal ons vir ons siel vind as ons op Jehovah se weg wandel?
17 As ons met Jehovah God wandel, geniet ons ’n geseënde lewe. Dink aan wat Jehovah sy volk belowe het as hulle “die goeie weg” sou soek. Hy het gesê: “Wandel daarop en vind rus vir julle siel” (Jeremia 6:16). Wat beteken hierdie “rus”? ’n Gemaklike lewe vol plesier en luukshede? Nee. Jehovah voorsien iets baie beters, iets wat die rykste mense selde vind. Om rus vir jou siel te vind, beteken om innerlike vrede, vreugde, bevrediging en geestelike vervulling te vind. Hierdie rus beteken dat jy die vertroue kan hê dat jy die beste pad in die lewe gekies het. Sulke gemoedsrus is ’n seldsame seën in hierdie veelbewoë wêreld!
18. Watter seën wil Jehovah aan jou gee, en wat is jou voorneme?
18 Die lewe self is natuurlik ’n groot seën. Selfs ’n kort reis is beter as geen reis. Maar dit was nooit Jehovah se voorneme dat jou reis bloot ’n kort rit moet wees nie—van die lewenskrag van die jeug tot die pyn van die ouderdom. Nee, Jehovah wil hê dat jy die allergrootste seën moet geniet. Hy wil hê dat jy vir ewig met hom moet wandel! Dit word goed uitgedruk in Miga 4:5: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.” Sal jy hierdie seën aangryp? Sal jy die lewe lei wat Jehovah op aanloklike wyse as “die werklike lewe” beskryf? (1 Timoteus 6:19). Dan moet jy jou beslis voorneem om vandag, môre en elke dag daarna, tot in ewigheid, met Jehovah te wandel!
[Voetnoot]
a Party Bybelvertalings verander die “el” in hierdie vers na ’n tydmaat en sê “een oomblik” (The Emphatic Diaglott) of “’n enkele minuut” (A Translation in the Language of the People, deur Charles B. Williams). Maar die woord wat in die oorspronklike teks gebruik is, het definitief ’n el beteken, wat omtrent 45 sentimeter was.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat beteken dit om met God te wandel?
• Waarom voel jy dat jy met God moet wandel?
• Wat sal jou help om met God te wandel?
• Watter seëninge ontvang diegene wat met God wandel?
[Prente op bladsy 23]
Deur die bladsye van die Bybel hoor ons Jehovah se stem agter ons sê: “Dit is die weg”
[Prent op bladsy 25]
By vergaderinge ontvang ons geestelike voedsel op die regte tyd