Wie gehoorsaam jy—God of mense?
“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—HANDELINGE 5:29.
1. (a) Wat is die temateks vir hierdie studie? (b) Waarom is die apostels in hegtenis geneem?
DIE regters van die Joodse Hoë Raad was ongetwyfeld woedend. Die gevangenes het verdwyn. Hulle was apostels van Jesus Christus, ’n man wat die Hoë Raad ’n paar weke tevore ter dood veroordeel het. Nou was die hof gereed om met sy intiemste volgelinge af te reken. Maar toe die wagte hulle gaan haal, was die selle leeg, hoewel die deure gesluit was. Die wagte het gou uitgevind dat die apostels by die tempel in Jerusalem was, waar hulle die mense onbevrees van Jesus Christus geleer het—die einste werk waarvoor hulle in hegtenis geneem is! Die wagte het dadelik na die tempel gegaan, die apostels weer in hegtenis geneem en hulle na die hof toe gebring.—Handelinge 5:17-27.
2. Wat het ’n engel die apostels beveel om te doen?
2 ’n Engel het die apostels uit die gevangenis bevry. Was dit om hulle verdere vervolging te spaar? Nee. Dit was sodat die inwoners van Jerusalem die goeie nuus oor Jesus Christus kon hoor. Die engel se opdrag aan die apostels was dat hulle moet “aanhou om al die woorde omtrent hierdie lewe tot die volk te spreek” (Handelinge 5:19, 20). Toe die tempelwagte dus die apostels vind, was hulle besig om hierdie bevel gehoorsaam uit te voer.
3, 4. (a) Hoe het Petrus en Johannes gereageer toe hulle beveel is om op te hou preek? (b) Hoe het die ander apostels gereageer?
3 Twee van hierdie moedige verkondigers, die apostels Petrus en Johannes, was voorheen al in die hof, soos die hoofregter, Josef Kajafas, hulle herinner het. Hy het gesê: “Ons het julle uitdruklik beveel om nie voort te gaan om in [Jesus se] naam te leer nie, en kyk! julle het Jerusalem nietemin met julle leer vervul” (Handelinge 5:28). Dit moes Kajafas nie verbaas het om Petrus en Johannes weer in die hof te sien nie. Toe hulle die eerste keer beveel is om op te hou preek, het die twee apostels geantwoord: “Of dit regverdig is in God se oë om na julle eerder as na God te luister, moet julle self oordeel. Maar wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Soos die eertydse profeet Jeremia, moes Petrus en Johannes eenvoudig hulle opdrag om te preek, uitvoer.—Handelinge 4:18-20; Jeremia 20:9.
4 Nou het nie net Petrus en Johannes nie, maar al die apostels—insluitende die pas gekose Mattias—die geleentheid gehad om hulle posisie voor die hof bekend te maak (Handelinge 1:21-26). Toe hulle beveel is om op te hou preek, het hulle ook onbeskroomd geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.
God as heerser teenoor mense as heerser
5, 6. Waarom het die apostels nie die opdrag van die hof gehoorsaam nie?
5 Die apostels was wetsgehoorsame manne wat nie gewoonlik ’n hofbevel sou verontagsaam nie. Maar geen mens, ongeag hoe magtig, het die gesag om ’n ander te beveel om ongehoorsaam te wees aan een van God se gebooie nie. Jehovah is “die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18). Hy is nie net “die Regter van die hele aarde” nie, maar ook die Opperste Wetgewer sowel as die Koning van die ewigheid. Enige hofbevel wat een van God se gebooie kragteloos probeer maak, is ongeldig uit God se standpunt.—Genesis 18:25; Jesaja 33:22.
6 Hierdie feit is erken deur party van die mees gerespekteerde regsgeleerdes. Die bekende 18de-eeuse Engelse regsgeleerde William Blackstone het byvoorbeeld geskryf dat daar nie toegelaat moet word dat enige mensewet “die geopenbaarde wet” wat in die Bybel gevind word, weerspreek nie. Die Sanhedrin het dus hulle gesag oorskry toe hulle die apostels beveel het om op te hou preek. Die apostels kon eenvoudig nie daardie opdrag gehoorsaam nie.
7. Waarom het die predikingswerk die hoofpriesters kwaad gemaak?
7 Die apostels se vasbeslotenheid om aan te hou preek, het die hoofpriesters kwaad gemaak. Sekere lede van die priesterdom, met inbegrip van Kajafas self, was Sadduseërs, wat nie in die opstanding geglo het nie (Handelinge 4:1, 2; 5:17). Tog het die apostels volgehou dat Jesus uit die dood opgewek is. Daarbenewens het party van die hoofpriesters groot moeite gedoen om die Romeinse owerheid se guns te probeer wen. Toe die hoofpriesters tydens Jesus se verhoor die geleentheid gebied is om Jesus as hulle koning te aanvaar, het hulle selfs uitgeroep: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie” (Johannes 19:15).* Die apostels het nie net bevestig dat Jesus opgewek is nie, maar hulle het ook verkondig dat daar, benewens Jesus se naam, “nie ’n ander naam onder die hemel [is] wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 2:36; 4:12). Die priesters het gevrees dat, as die volk die verrese Jesus as hulle Leier begin beskou, die Romeine dalk sou kom en dat die Joodse leiers ‘hulle plek sowel as hulle nasie’ sou verloor.—Johannes 11:48.
8. Watter wyse raad het Gamaliël die Sanhedrin gegee?
8 Die toekoms het donker gelyk vir die apostels van Jesus Christus. Die regters van die Sanhedrin was vasbeslote om hulle om die lewe te bring (Handelinge 5:33). Maar gebeure het ’n onverwagse wending geneem. Gamaliël, ’n kenner van die Wet, het opgestaan en sy kollegas gewaarsku om nie oorhaastig op te tree nie. Hy het wyslik gesê: “As hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit omvergewerp word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie kan keer nie.” Toe het Gamaliël hierdie betekenisvolle woorde bygevoeg: “Anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:34, 38, 39.
9. Wat bewys dat die apostels se werk uit God was?
9 Verbasend genoeg het die hof Gamaliël se raad aanvaar. Die Sanhedrin “het die apostels ontbied, hulle geslaan en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te spreek en hulle laat gaan”. Maar die apostels was glad nie geïntimideer nie en was vasbeslote om die engel se bevel om te preek, te gehoorsaam. Gevolglik het die apostels ná hulle vrylating “elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:40, 42). Jehovah het hulle pogings geseën. In watter mate? “Die woord van God [het] aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem.” Trouens, “’n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword” (Handelinge 6:7). Hoe verpletterend moes dit tog vir die hoofpriesters gewees het! Die bewyse het opgehoop: Die werk van die apostels was inderdaad uit God!
Niemand wat teen God stry, kan suksesvol wees nie
10. Waarom het Kajafas moontlik, uit ’n menslike standpunt, veilig gevoel in sy posisie, maar waarom was sy vertroue misplaas?
10 In die eerste eeu is die Joodse hoëpriester deur die Romeinse owerheid aangestel. Die welgestelde Josef Kajafas is deur Valerius Gratus in sy amp aangestel, en hy het daardie posisie langer as baie van sy voorgangers behou. Kajafas het waarskynlik hierdie prestasie eerder aan sy vaardigheid as ’n diplomaat en sy persoonlike vriendskap met Pilatus toegeskryf as aan goddelike voorsienigheid. Hoe dit ook al sy, sy vertroue in mense was misplaas. Net drie jaar nadat die apostels voor die Sanhedrin verskyn het, het Kajafas by die Romeinse owerheid in onguns geraak en is hy as hoëpriester verwyder.
11. Wat was die uiteinde van Pontius Pilatus en die Joodse stelsel van dinge, en watter gevolgtrekking maak jy hieruit?
11 Die bevel dat Kajafas uit sy amp ontslaan moet word, het gekom van Pilatus se onmiddellike hoof, Lucius Vitellius, goewerneur van Sirië, en Kajafas se boesemvriend Pilatus kon niks doen om dit te verhoed nie. Trouens, net ’n jaar ná Kajafas se ondergang is Pilatus self uit sy amp verwyder en teruggeroep na Rome om hom op ernstige aanklagte te verantwoord. Wat die Joodse leiers betref wat hulle vertroue in die keiser gestel het, die Romeine het wel ‘hulle plek sowel as hulle nasie’ weggeneem. Dit het in 70 G.J. gebeur, toe die Romeinse leërs die stad Jerusalem, met inbegrip van die tempel en die Sanhedrinsaal, heeltemal vernietig het. Hoe waar was die woorde van die psalmis tog in hierdie geval: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie”!—Johannes 11:48; Psalm 146:3.
12. Hoe bewys die geval van Jesus dat gehoorsaamheid aan God die verstandige weg is?
12 In teenstelling hiermee het God die verrese Jesus Christus as Hoëpriester van ’n groot geestelike tempel aangestel. Geen mens kan daardie aanstelling kanselleer nie. Ja, Jesus “het sy priesterskap sonder enige opvolgers” (Hebreërs 2:9; 7:17, 24; 9:11). God het Jesus ook as Regter van die lewendes en die dooies aangestel (1 Petrus 4:5). In hierdie hoedanigheid sal Jesus bepaal of daar vir Josef Kajafas en Pontius Pilatus enige moontlikheid van toekomstige lewe is.—Matteus 23:33; Handelinge 24:15.
Onbevreesde Koninkryksverkondigers van vandag
13. Watter werk in hedendaagse tye was uit mense, en watter werk was uit God? Hoe weet jy?
13 In ons dag, soos in die eerste eeu, was daar geen tekort aan mense wat “teen God stry” nie (Handelinge 5:39). Byvoorbeeld, toe Jehovah se Getuies in Duitsland geweier het om Adolf Hitler as hulle Führer te erken, het Hitler gesweer dat hy hulle sou uitwis (Matteus 23:10). Dit het gelyk of sy doeltreffende uitwissingstelsel beslis opgewasse was vir die taak. Die Nazi’s het wel daarin geslaag om duisende Getuies in hegtenis te neem en hulle na konsentrasiekampe te stuur. Hulle het selfs party Getuies om die lewe gebring. Maar die Nazi’s kon nie die Getuies se vasbeslotenheid om God alleen te aanbid, verbreek nie, en hulle kon nie God se knegte as ’n groep uitwis nie. Die werk van hierdie Christene was uit God, nie uit mense nie, en die werk van God kan nie omvergewerp word nie. Sestig jaar later dien getroue oorlewendes van Hitler se konsentrasiekampe Jehovah nog steeds ‘met hulle hele hart en siel en verstand’, terwyl Hitler en sy Nazi-party net ’n slegte herinnering is.—Matteus 22:37.
14. (a) Watter pogings het teenstanders aangewend om God se knegte te belaster, en met watter gevolge? (b) Sal sulke pogings God se volk blywende skade berokken? (Hebreërs 13:5, 6).
14 In die jare sedert die Nazi-pogings het ander ook hierdie verlore stryd teen Jehovah en sy volk probeer voer. In ’n aantal lande in Europa het listige godsdiens- en politieke elemente Jehovah se Getuies as ’n ‘gevaarlike sekte’ probeer brandmerk, dieselfde aanklag wat teen eerste-eeuse Christene ingebring is (Handelinge 28:22). Die feit is dat die Europese Hof van Menseregte Jehovah se Getuies erken het as ’n godsdiens, nie ’n sekte nie. Teenstanders weet dit ongetwyfeld. Hulle gaan nietemin voort om die Getuies te belaster. As ’n regstreekse gevolg van hierdie wanvoorstelling is party van hierdie Christene uit hulle werk ontslaan. Getuiekinders is in skole aan intimidasie onderwerp. Bevreesde verhuurders het kontrakte gekanselleer vir geboue wat die Getuies al lank as vergaderplekke gebruik het. In ’n paar gevalle het regeringsinstansies persone selfs burgerskap geweier bloot omdat hulle Jehovah se Getuies is! Die Getuies is nietemin onbevrees.
15, 16. Hoe het Jehovah se Getuies in Frankryk gereageer op die teenstand teen hulle Christelike werk, en waarom hou hulle aan preek?
15 In Frankryk is die mense byvoorbeeld gewoonlik redelik en onpartydig. Maar ’n paar teenstanders het wette voorgestaan wat bedoel is om die Koninkrykswerk tot stilstand te dwing. Hoe het Jehovah se Getuies daar gereageer? Hulle het meer gedoen in die predikingswerk as ooit tevore, en dit het opwindende resultate opgelewer (Jakobus 4:7). In ’n tydperk van net ses maande het die aantal tuisbybelstudies in daardie land met ’n verbasende 33 persent vermeerder! Dit maak die Duiwel ongetwyfeld woedend om te sien dat opregtes van hart in Frankryk gunstig reageer op die goeie nuus (Openbaring 12:17). Ons mede-Christene in Frankryk het die volle vertroue dat die woorde van die profeet Jesaja in hulle geval bewaarheid sal word: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel.”—Jesaja 54:17.
16 Jehovah se Getuies geniet dit nie om vervolg te word nie. Maar in gehoorsaamheid aan God se gebod aan alle Christene kan en sal hulle nie ophou praat oor die dinge wat hulle gehoor het nie. Hulle probeer om goeie burgers te wees. Maar waar mensewette met God se wet bots, moet hulle God as heerser gehoorsaam.
Moet hulle nie vrees nie
17. (a) Waarom moet ons nie ons vyande vrees nie? (b) Wat moet ons gesindheid teenoor vervolgers wees?
17 Ons vyande is in ’n baie gevaarlike posisie. Hulle stry teen God. In ooreenstemming met Jesus se gebod bid ons dus eerder vir dié wat ons vervolg as om hulle te vrees (Matteus 5:44). As enigiemand God uit onkunde teëstaan, soos Saulus van Tarsus gedoen het, bid ons dat Jehovah hulle oë goedgunstiglik vir die waarheid sal open (2 Korintiërs 4:4). Saulus het die Christenapostel Paulus geword en grootliks gely deur die toedoen van die owerhede van sy dag. Hy het nietemin sy medegelowiges daaraan bly herinner “om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk, om van niemand [nee, nie eens van hulle vurigste vervolgers] kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Titus 3:1, 2). Jehovah se Getuies in Frankryk en elders probeer hierdie raad ter harte neem.
18. (a) Op watter maniere kan Jehovah sy volk verlos? (b) Wat sal die uiteinde wees?
18 God het vir die profeet Jeremia gesê: “Ek is met jou om jou te verlos” (Jeremia 1:8). Hoe kan Jehovah ons vandag van vervolging verlos? Hy kan toesien dat ’n regverdige regter, soos Gamaliël, aangestel word. Of hy sorg miskien dat ’n verdorwe of vyandige amptenaar onverwags deur ’n redeliker amptenaar vervang word. Maar soms laat Jehovah toe dat die vervolging van sy volk voortduur (2 Timoteus 3:12). As God toelaat dat ons vervolg word, sal hy ons altyd die krag gee om die vervolging te verduur (1 Korintiërs 10:13). En ongeag wat God toelaat, daar bestaan by ons geen twyfel oor wat die uiteinde sal wees nie: Dié wat teen God se volk stry, stry teen God, en dié wat teen God stry, sal nie die oorhand kry nie.
19. Wat is die jaarteks vir 2006, en waarom is dit gepas?
19 Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle verdrukking moet verwag (Johannes 16:33). Met die oog hierop was die woorde van Handelinge 5:29 nog nooit tydiger nie: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” Daarom is hierdie opwindende woorde gekies as die jaarteks van Jehovah se Getuies vir 2006. Mag dit gedurende die komende jaar en tot in alle ewigheid ons voorneme wees om ten alle koste aan God as Heerser gehoorsaam te wees!
[Voetnoot]
Die “keiser” wat by daardie geleentheid deur die hoofpriesters in die openbaar ondersteun is, was die veragte Romeine keiser Tiberius, ’n huigelaar en ’n moordenaar. Tiberius was ook bekend vir sy verdorwe seksgebruike.—Daniël 11:15, 21.
Kan jy antwoord?
• Watter bemoedigende voorbeeld het die apostels vir ons gestel deur die manier waarop hulle teenstand die hoof gebied het?
• Waarom moet ons altyd eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense?
• Teen wie stry ons teenstanders in werklikheid?
• Watter uiteinde kan ons verwag vir dié wat vervolging verduur?
[Lokteks op bladsy 23]
Die jaarteks vir 2006 sal wees: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29
[Prent op bladsy 19]
“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”
[Prent op bladsy 21]
Kajafas het sy vertroue in mense eerder as in God gestel