“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”
‘Ons God is in staat om ons te red’
DIT was veronderstel om ’n ontsagwekkende geleentheid te wees. ’n Reusagtige goue beeld is opgerig in die vlakte Dura, blykbaar naby die stad Babilon. Die beeld sou ingewy word gedurende ’n spesiale seremonie wat bygewoon is deur hoë amptenare, wat voor die beeld moes neerbuig wanneer hulle die geluid van ’n verskeidenheid musiekinstrumente hoor. Koning Nebukadnesar van Babilon het gelas dat enigeen wat die beeld nie aanbid nie, in ’n oorverhitte oond sou sterf. Wie sou dit waag om ongehoorsaam aan dié bevel te wees?
Tot die verbasing van dié wat toegekyk het, het drie godvresende aanbidders van Jehovah—Sadrag, Mesag en Abednego—nie neergebuig nie. Hulle het geweet dat hulle hulle uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah God sou verbreek as hulle dit doen (Deuteronomium 5:8-10). Toe ’n verduideliking vir hulle onwrikbare standpunt geëis is, het hulle onbevrees vir Nebukadnesar gesê: “As dit moet, is ons God wat ons dien, in staat om ons te red. Uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, sal hy ons red. Maar so nie, laat dit dan aan u bekend word, o koning, dat ons u gode nie dien nie, en die goue beeld wat u opgerig het, sal ons nie aanbid nie.”—Daniël 3:17, 18.
Toe die drie Hebreërs in die brandende vuuroond gegooi is, is hulle lewe slegs deur ’n wonderwerk gered. God het ’n engel gestuur om Sy getroue knegte te beskerm. Maar hulle het reeds gekies om eerder te sterf as om ongehoorsaam aan Jehovah te wees.a Hulle het ’n soortgelyke standpunt ingeneem as dié van Jesus Christus se apostels wat meer as ses eeue later voor die Joodse Hoë Raad gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.
Belangrike lesse vir ons
Sadrag, Mesag en Abednego is goeie voorbeelde van geloof, gehoorsaamheid en lojaliteit. Die drie Hebreërs het geloof in Jehovah beoefen. Hulle skriftuurlik opgeleide gewete het hulle nie toegelaat om deel te neem aan enige daad van valse aanbidding of nasionalistiese toegewydheid nie. Hedendaagse Christene stel eweneens onwrikbare vertroue in die ware God. Hulle word deur hulle Bybelopgeleide gewete gelei en weier om deel te neem aan dade van valse aanbidding of seremonies wat God se wette en beginsels skend.
Die drie getroue Hebreërs het op Jehovah vertrou en geweier om hulle gehoorsaamheid te verruil vir enigiets wat die Babiloniese Ryk hulle kon aanbied, soos erkenning, aansien of heerlikheid. Daardie jong manne was bereid om eerder te ly en te sterf as om hulle verhouding met God prys te gee. Soos Moses voor hulle, het hulle “standvastig gebly asof [hulle] die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Of Jehovah hulle uit die dood sou red of nie, die drie was vasbeslote om eerder onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf as om hulle lewe te probeer red deur ontrou te wees. Die apostel Paulus verwys blykbaar na hulle voorbeeld waar hy getroues noem wat “die krag van vuur gestuit het” (Hebreërs 11:34). Jehovah se knegte in ons dag openbaar dieselfde geloof en gehoorsaamheid wanneer hulle voor toetse van onkreukbaarheid te staan kom.
Ons leer ook uit die ondervinding van Sadrag, Mesag en Abednego dat God lojaliteit teenoor hom beloon. Die psalmis het gesing: “Jehovah . . . sal sy lojales nie verlaat nie” (Psalm 37:28). Vandag kan ons nie verwag dat God ons wonderdadig sal red, soos hy in die geval van die drie Hebreërs gedoen het nie. En tog kan ons vol vertroue wees dat ons hemelse Vader ons sal help ongeag watter teëspoed ons ondervind. God kan die probleem wegneem, ons die krag gee om dit te verduur of ons opwek as ons ons onkreukbaarheid tot die dood handhaaf (Psalm 37:10, 11, 29; Johannes 5:28, 29). Geloof, gehoorsaamheid en lojaliteit seëvier elke keer wanneer ons onkreukbaarheid getoets word en ons kies om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense.
[Voetnoot]
a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2006, Julie/Augustus.
[Venster/Prent op bladsy 9]
HET JY GEWEET?
• Die drie Hebreërs was in hulle laat twintigerjare toe hulle voor hierdie toets van onkreukbaarheid te staan gekom het.
• Die vuuroond is klaarblyklik so warm as moontlik gemaak.—Daniël 3:19.