Konsentreer op die goeie van Jehovah se organisasie
“Ons sal beslis versadig word met die goeie van u huis.”—PSALM 65:4.
1, 2. (a) Watter uitwerking sou die reëlings in verband met die tempel op God se volk hê? (b) Watter voorsienings het Dawid gemaak vir die bou van die tempel?
DAWID van eertydse Israel is een van die uitsonderlikste mense wat in die Hebreeuse Geskrifte bespreek word. Hierdie herder, musikant, profeet en koning het volkome vertroue in Jehovah God gestel. Dawid se diep persoonlike gehegtheid aan Jehovah het die begeerte by hom gewek om ’n huis vir God te bou. So ’n huis, of tempel, sou die sentrum van ware aanbidding in Israel word. Dawid het geweet dat die reëlings in verband met die tempel vreugde en seëninge vir God se volk sou meebring. Daarom het Dawid gesing: “Gelukkig is die een wat u [Jehovah] uitkies en laat nader kom, sodat hy in u voorhowe kan woon. Ons sal beslis versadig word met die goeie van u huis, die heilige plek van u tempel.”—Psalm 65:4.
2 Dawid is nie toegelaat om toesig te hou oor die bou van Jehovah se huis nie. Sy seun Salomo sou eerder hierdie voorreg ontvang. Dawid het nie gemurmureer omdat iemand anders die voorreg gekry het wat hy so graag self wou hê nie. Wat vir hom die belangrikste was, was dat die tempel gebou word. Hy het die projek heelhartig ondersteun deur die bouplanne wat hy van Jehovah ontvang het, aan Salomo te gee. Verder het Dawid duisende Leviete in diensafdelings georganiseer en ’n groot hoeveelheid goud en silwer geskenk vir die bou van die tempel.—1 Kronieke 17:1, 4, 11, 12; 23:3-6; 28:11, 12; 29:1-5.
3. Watter gesindheid het God se knegte teenoor reëlings vir ware aanbidding?
3 Getroue Israeliete het die reëlings vir ware aanbidding by die huis van God ondersteun. As hedendaagse knegte van Jehovah ondersteun ons eweneens reëlings vir aanbidding in die aardse deel van Jehovah se organisasie. Sodoende toon ons dat ons dieselfde gesindheid as Dawid het. Ons het nie ’n klaerige gees nie. Ons konsentreer eerder op die goeie van God se organisasie. Het jy al gedink aan die talle goeie dinge waarvoor ons waarlik dankbaar kan wees? Kom ons kyk na ’n paar hiervan.
Dankbaar vir diegene wat die leiding neem
4, 5. (a) Hoe voer “die getroue en verstandige slaaf” sy opdrag uit? (b) Hoe voel party Getuies oor die geestelike voedsel wat hulle ontvang?
4 Ons het geldige redes om dankbaar te wees vir “die getroue en verstandige slaaf” wat deur Jesus Christus oor sy besittings op aarde aangestel is. Die slaafklas, wat uit geesgesalfde Christene bestaan, neem die leiding in die verkondiging van die goeie nuus, reël vergaderinge vir aanbidding en publiseer Bybellektuur in meer as 400 tale. Miljoene mense regoor die aarde neem hierdie geestelike “voedsel op die regte tyd” met waardering in (Matteus 24:45-47). Daar is sekerlik geen rede om daaroor te murmureer nie.
5 ’n Bejaarde Getuie van Jehovah met die naam Elfi verkry nou al jare lank vertroosting en ondersteuning deur die skriftuurlike raad in die publikasies van die slaafklas ter harte te neem. Innige waardering het Elfi beweeg om te skryf: “Wat sal ek sonder Jehovah se organisasie doen?” Peter en Irmgard is ook al dekades lank knegte van God. Irmgard spreek haar waardering uit vir al die voorsienings wat deur “Jehovah se liefdevolle en besorgde organisasie” gemaak word. Hierdie publikasies sluit dié in wat saamgestel is vir mense met spesiale behoeftes, soos persone met gesigs- of gehoorgebreke.
6, 7. (a) Hoe word daar toesig gehou oor die bedrywighede van gemeentes regoor die aarde? (b) Wat is al gesê oor die aardse deel van Jehovah se organisasie?
6 Die ‘getroue slaaf’ word verteenwoordig deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, ’n klein groepie geesgesalfde mans wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, dien. Die Bestuursliggaam stel ervare knegte van Jehovah aan om te dien by takkantore, wat toesig hou oor die bedrywighede van meer as 98 000 gemeentes regoor die aarde. Mans wat aan die skriftuurlike vereistes voldoen, word aangestel as ouer manne en bedieningsknegte in hierdie gemeentes (1 Timoteus 3:1-9, 12, 13). Die ouer manne neem die leiding en hou as herders liefdevol toesig oor die kudde van God wat onder hulle sorg is. Wat ’n seën is dit tog om deel te wees van hierdie kudde en om die liefde en eenheid te ondervind wat onder “die hele gemeenskap van broers” bestaan!—1 Petrus 2:17; 5:2, 3.
7 Pleks van te kla, spreek individue dikwels hulle waardering uit vir die liefdevolle geestelike leiding wat hulle van die ouer manne ontvang. Neem byvoorbeeld Birgit, ’n getroude Christenvrou in haar dertigerjare. As ’n tiener het sy in slegte geselskap beland en haar byna aan oortreding skuldig gemaak. Maar die duidelike Bybelse raad van die ouer manne en die ondersteuning van medegelowiges het haar uit ’n potensieel gevaarlike situasie gered. Hoe voel Birgit nou? Sy sê: “Ek is innig dankbaar dat ek nog in Jehovah se wonderlike organisasie is.” ’n Sewentienjarige met die naam Andreas sê: “Dit is werklik Jehovah se organisasie, die beste organisasie in die wêreld.” Moet ons nie dankbaar wees vir die goeie van die aardse deel van Jehovah se organisasie nie?
Diegene wat die leiding neem, is onvolmaak
8, 9. Hoe het party van Dawid se tydgenote opgetree, en hoe het Dawid op sulke gedrag gereageer?
8 Diegene wat aangestel is om die leiding in ware aanbidding te neem, is natuurlik onvolmaak. Hulle begaan almal foute, en party het hardnekkige swakhede waarteen hulle hard stry. Moet dit ons ontstel? Nee. Selfs persone aan wie groot verantwoordelikhede in eertydse Israel toevertrou is, het ernstige foute begaan. Terwyl Dawid byvoorbeeld nog jonk was, is hy gevra om musiek te speel om die verontruste koning Saul te kalmeer. Later het Saul Dawid probeer doodmaak, sodat hy uiteindelik moes vlug vir sy lewe.—1 Samuel 16:14-23; 18:10-12; 19:18; 20:32, 33; 22:1-5.
9 Ander Israeliete het verraderlik opgetree. Byvoorbeeld, Dawid se leërhoof Joab het Abner, ’n familielid van Saul, vermoor. Absalom het teen sy vader, Dawid, saamgesweer om die koningskap te probeer verkry. En Dawid se vertroude raadgewer Agitofel het hom verraai (2 Samuel 3:22-30; 15:1-17, 31; 16:15, 21). Nogtans het Dawid nie ’n verbitterde klaer geword nie; ook het hy ware aanbidding nie die rug toegekeer nie. Trouens, die teenoorgestelde was waar. Teëspoed het Dawid beweeg om Jehovah aan te kleef en die goeie gesindheid te behou wat hy gehad het toe hy vir Saul gevlug het. Gedurende daardie tyd het Dawid gesing: “Betoon guns aan my, o God, betoon guns aan my, want tot u het my siel sy toevlug geneem; en in die skaduwee van u vleuels soek ek toevlug totdat die teëspoed verbygegaan het.”—Psalm 57:1.
10, 11. Wat het ’n Christen met die naam Gertrud as ’n jongmens ondervind, en wat het sy oor die tekortkominge van medegelowiges gesê?
10 Ons het geen rede om te kla oor verraderlikheid binne God se hedendaagse organisasie nie. Nie Jehovah of sy engele of die geestelike herders duld die teenwoordigheid van verraderlike, goddelose persone in die Christengemeente nie. Maar ons almal het te kampe met menslike onvolmaaktheid—ons eie en dié van ander knegte van God.
11 Toe Gertrud, wat Jehovah jare lank gedien het, ’n jong vrou was, is sy valslik daarvan beskuldig dat sy ’n bedrieër is en nie ’n voltydse Koninkryksverkondiger nie. Hoe het sy gereageer? Het Gertrud gemurmureer omdat sy so behandel is? Nee. Kort voor haar dood in 2003 op 91-jarige ouderdom het sy oor haar lewe teruggekyk en verduidelik: “Hierdie en latere ondervindinge het my geleer dat Jehovah, ondanks die foute wat individue begaan, sy belangrike werk rig, wat hy ons as onvolmaakte mense gebruik om te doen.” Wanneer sy met die onvolmaakthede van ander knegte van God te kampe gehad het, het Gertrud haar in hartgrondige gebed tot Jehovah gewend.
12. (a) Watter slegte voorbeeld het party eerste-eeuse Christene gestel? (b) Waarop moet ons konsentreer?
12 Aangesien selfs die lojaalste en toegewydste Christene onvolmaak is, moet ons, wanneer ’n aangestelde kneg ’n fout begaan, voortgaan om “alles sonder murmurering” te doen (Filippense 2:14). Hoe jammer sal dit tog wees as ons die slegte voorbeeld van ’n paar in die eerste-eeuse Christengemeente volg! Volgens die dissipel Judas het valse onderrigters van daardie tyd ‘heerskappy verontagsaam en smadend van heerlikes gepraat’. Wat meer is, daardie oortreders was “murmureerders, klaers oor hulle lewenslot” (Judas 8, 16). Mag ons die weg van murmurerende klaers verwerp en konsentreer op die goeie dinge wat deur die ‘getroue slaaf’ aan ons voorsien word. Laat ons die goeie van Jehovah se organisasie waardeer en ‘aanhou om alles sonder murmurering te doen’.
“Hierdie woord is skokkend”
13. Hoe het sommige gereageer op party van Jesus Christus se leringe?
13 Terwyl sommige in die eerste eeu teen aangestelde knegte gemurmureer het, het ander teen Jesus se leringe gemurmureer. Soos opgeteken in Johannes 6:48-69 het Jesus gesê: “Hy wat hom met my vlees voed en my bloed drink, het die ewige lewe.” Toe hulle hierdie woorde hoor, “het baie van sy dissipels . . . gesê: ‘Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?’” Jesus het geweet dat “sy dissipels hieroor murmureer”. Wat meer is, “as gevolg hiervan het baie van [hulle] teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie”. Maar nie al die dissipels het gemurmureer nie. Let op wat gebeur het toe Jesus die 12 apostels gevra het: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” Die apostel Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is.”
14, 15. (a) Waarom raak ’n paar ontevrede oor die een of ander aspek van Christelike leringe? (b) Wat kan ons uit die geval van ’n man met die naam Emanuel leer?
14 In hedendaagse tye het net enkeles onder God se volk ontevrede geraak oor die een of ander aspek van die Christelike leer en teen die aardse deel van Jehovah se organisasie gemurmureer. Waarom gebeur dit? Hierdie murmurering word dikwels veroorsaak deur ’n gebrek aan begrip van hoe God dinge doen. Die Skepper openbaar die waarheid progressief aan sy volk. Daarom word ons begrip van die Skrif van tyd tot tyd verfyn. Die oorgrote meerderheid van Jehovah se volk is bly oor hierdie verfynings. ’n Paar raak “alte regverdig” en voel gegrief oor die veranderinge (Prediker 7:16). Trots speel moontlik ’n rol, en party trap in die strik van onafhanklike denke. Wat die rede ook al is, hierdie soort murmurering is gevaarlik, aangesien dit ons kan laat terugval in die wêreld en sy weë.
15 Byvoorbeeld, Emanuel was ’n Getuie wat foutgevind het met party dinge wat hy in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” gelees het (Matteus 24:45). Hy het opgehou om ons Christelike lektuur te lees en uiteindelik vir die ouer manne van die plaaslike gemeente gesê dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie. Emanuel het egter gou besef dat die leringe van Jehovah se organisasie tog reg is. Hy het met die Getuies in aanraking gekom, sy fout erken en is herstel as een van Jehovah se Getuies. Gevolglik is hy weer ’n gelukkige man.
16. Wat kan ons help om twyfelgedagtes oor sekere Christelike leringe te oorkom?
16 Sê nou ons kom in die versoeking om te murmureer omdat ons twyfel aan sekere leringe van Jehovah se volk? Dan moet ons nie ongeduldig raak nie. Die ‘getroue slaaf’ sal moontlik uiteindelik iets publiseer wat ons vrae beantwoord en ons twyfelgedagtes uit die weg ruim. Dit is verstandig om die Christen- ouer manne om hulp te vra (Judas 22, 23). Gebed, persoonlike studie en assosiasie met geestelikgesinde medegelowiges kan ook help om twyfelgedagtes te verwyder en kan ons waardering vergroot vir die geloofversterkende Bybelwaarhede wat ons deur Jehovah se kommunikasiekanaal geleer het.
Behou ’n positiewe gees
17, 18. Watter gesindheid moet ons hê pleks van te murmureer, en waarom?
17 Onvolmaakte mense het weliswaar ’n ingebore neiging tot sonde, en party het dalk ’n sterk neiging om sonder rede te kla (Genesis 8:21; Romeine 5:12). Maar as ons in die gewoonte kom om te kla, stel ons ons verhouding met Jehovah God in gevaar. Ons moet derhalwe enige moontlike neiging om te murmureer, onder beheer hou.
18 Pleks van te murmureer oor dinge in die gemeente, sal dit verstandig van ons wees om eerder ’n positiewe gesindheid te behou en ’n roetine te volg wat ons besig, vreugdevol, godvresend, gebalanseerd en gesond in die geloof laat bly (1 Korintiërs 15:58; Titus 2:1-5). Jehovah is in beheer van alles in sy organisasie, en Jesus is bewus van verwikkelinge in elke gemeente, net soos hy in die eerste eeu was (Openbaring 1:10, 11). Wag geduldig op God en Christus, die Hoof van die gemeente. Verantwoordelike herders sal moontlik gebruik word om sake reg te stel as dit nodig is.—Psalm 43:5; Kolossense 1:18; Titus 1:5.
19. Waarop moet ons konsentreer totdat die Koninkryk ten volle in beheer is van die mensdom se aangeleenthede?
19 Hierdie goddelose stelsel van dinge sal binnekort tot ’n einde kom, en die Messiaanse Koninkryk sal volle beheer oor die mensdom se aangeleenthede oorneem. Hoe belangrik is dit tog dat elkeen van ons tot dan ’n positiewe gees behou! Dit sal ons help om eerder die deugde van ons medegelowiges raak te sien as om op hulle foute te konsentreer. As ons op die goeie aspekte van hulle persoonlikheid konsentreer, sal dit ons gelukkig maak. Sodoende sal ons nie emosioneel uitgeput raak as gevolg van murmurering nie, maar sal ons eerder aangemoedig en geestelik opgebou word.
20. Watter seëninge kan ons geniet as ons ’n positiewe gesindheid het?
20 ’n Positiewe gees sal ons ook help om die talle seëninge in gedagte te hou wat ons geniet omdat ons met die aardse deel van Jehovah se organisasie assosieer. Dit is die enigste organisasie in die wêreld wat lojaal is aan die Soewerein van die heelal. Hoe voel jy oor hierdie feit en die voorreg om die enigste ware God, Jehovah, te aanbid? Mag jy dieselfde gesindheid as Dawid hê, wat gesing het: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom. Gelukkig is die een wat u uitkies en laat nader kom, sodat hy in u voorhowe kan woon. Ons sal beslis versadig word met die goeie van u huis.”—Psalm 65:2, 4.
Onthou jy?
• Waarom moet ons dankbaar wees vir diegene wat die leiding in die gemeente neem?
• Hoe moet ons reageer wanneer verantwoordelike broers foute begaan?
• Hoe moet ons verfynings in ons begrip van die Skrif beskou?
• Wat kan ’n Christen help om twyfelgedagtes te oorkom?
[Prent op bladsy 20]
Dawid het die bouplan van die tempel aan Salomo gegee en ware aanbidding heelhartig ondersteun
[Prent op bladsy 23]
Christen- ouer manne verleen graag geestelike hulp