Jehovah gee ‘heilige gees aan dié wat hom vra’
“As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—LUKAS 11:13.
1. Veral wanneer het ons die hulp van die heilige gees nodig?
‘EK KAN nie alleen hierdeur kom nie. Ek sal hierdie beproewing net met die hulp van die heilige gees kan deurstaan!’ Het jy al hierdie intense emosies ervaar? Die meeste Christene het. Miskien was dit nadat jy gehoor het dat jy ’n ernstige siekte het. Of miskien was dit toe jou lewenslange huweliksmaat gesterf het. Of dit was dalk toe jou eens sonnige gemoed deur die donker wolke van depressie oorskadu is. Gedurende pynlike tye in die lewe het jy dalk gevoel dat jy net aan die gang bly omdat Jehovah se heilige gees jou “krag wat bo die normale is”, gegee het.—2 Korintiërs 4:7-9; Psalm 40:1, 2.
2. (a) Voor watter uitdagings kom ware Christene te staan? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?
2 Ware Christene het te kampe met toenemende druk en teenstand van die goddelose wêreld van vandag (1 Johannes 5:19). Daarbenewens word volgelinge van Christus deur Satan die Duiwel self aangeval, wat ’n wrede oorlog voer teen diegene wat “die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:12, 17). Dit is dus geen wonder nie dat ons die ondersteuning van God se gees nou nodiger as ooit tevore het. Wat kan ons doen om te sorg dat ons God se heilige gees in oorvloed bly ontvang? En waarom kan ons seker wees dat Jehovah meer as gewillig is om ons in tye van beproewing die nodige krag te gee? Ons vind die antwoorde op hierdie vrae in twee van Jesus se illustrasies.
Volhard in gebed
3, 4. Watter illustrasie het Jesus vertel, en hoe het hy dit op gebed toegepas?
3 Een van Jesus se dissipels het eenkeer gevra: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). In antwoord hierop het Jesus twee verwante illustrasies vir sy dissipels vertel. Die eerste is oor ’n man wat ’n gas ontvang, en die tweede is oor ’n vader wat na sy seun luister. Kom ons bespreek hierdie twee illustrasies.
4 Jesus het gesê: “Wie van julle sal ’n vriend hê en sal middernag na hom toe gaan en vir hom sê: ‘Vriend, leen my drie brode, want ’n vriend van my wat op reis is, het so pas by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie’? En dié antwoord van binne en sê: ‘Hou op om my lastig te val. Die deur is al toegesluit, en my jong kinders is saam met my in die bed; ek kan nie opstaan en vir jou iets gee nie.’ Ek sê vir julle: Al sal hy nie opstaan en vir hom iets gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy beslis weens sy onbeskroomde volharding opstaan en hom gee wat hy nodig het.” Daarna het Jesus verduidelik hoe hierdie illustrasie op gebed van toepassing is en gesê: “Gevolglik sê ek vir julle: Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, vind; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”—Lukas 11:5-10.
5. Wat leer die illustrasie oor die volhardende man ons oor ons gesindheid wanneer ons bid?
5 Hierdie treffende illustrasie van ’n volhardende man toon met watter gesindheid ons moet bid. Let daarop dat Jesus sê dat die man “weens sy onbeskroomde volharding” kry wat hy nodig het (Lukas 11:8). Die uitdrukking “onbeskroomde volharding” kom net een keer in die Bybel voor. Dit is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat letterlik “skaamteloosheid” beteken. Dikwels dui skaamteloosheid op ’n slegte eienskap. Maar wanneer skaamteloosheid of volharding vir ’n goeie doel aan die dag gelê word, kan dit ’n prysenswaardige eienskap wees. Dit is die geval met die gasheer in die illustrasie. Hy voel glad nie skaam om aanhoudend te vra wat hy nodig het nie. Aangesien Jesus hierdie gasheer as ’n voorbeeld vir ons voorhou, moet ons ook volhard in gebed. Jehovah wil hê dat ons moet ‘aanhou vra, aanhou soek, aanhou klop’. In antwoord hierop sal hy “heilige gees gee aan dié wat hom vra”.
6. Hoe is die betoning van gasvryheid in Jesus se dag beskou?
6 Jesus wys nie net vir ons hoe ons moet bid nie—met onbeskroomde volharding—maar ook waarom ons dit moet doen. Om daardie les duidelik te verstaan, moet ons dink aan hoe diegene wat na Jesus se illustrasie oor die volhardende gasheer geluister het, die betoning van gasvryheid beskou het. Baie Skrifgedeeltes toon dat mense in Bybeltye, en veral God se knegte, dit as baie belangrik beskou het om besoekers gasvry te ontvang (Genesis 18:2-5; Hebreërs 13:2). Dit was ’n skande om nie gasvryheid te betoon nie (Lukas 7:36-38, 44-46). Kom ons hou dit in gedagte en kyk weer na Jesus se illustrasie.
7. Waarom skroom die gasheer in Jesus se illustrasie nie om sy vriend wakker te maak nie?
7 Die gasheer in die illustrasie kry in die middel van die nag ’n besoeker. Die gasheer voel verplig om vir sy gas iets te ete te gee, maar het “niks om vir hom voor te sit nie”. Na sy mening is dit ’n noodgeval! Hy moet brood in die hande kry, kom wat wil. Daarom gaan hy sonder om te skroom na ’n vriend toe en maak hom wakker. “Vriend, leen my drie brode”, roep die gasheer uit. Hy hou aan vra totdat hy kry wat hy nodig het. Eers dan, wanneer hy die brode het, kan hy ’n ordentlike gasheer wees.
Hoe nodiger dit is, hoe dringender moet jy vra
8. Wat sal ons beweeg om te volhard in ons gebede vir heilige gees?
8 Wat toon hierdie illustrasie oor die rede waarom ons in gebed volhard? Die man het brood bly vra omdat hy gevoel het dat dit absoluut noodsaaklik is dat hy daardie brode kry om sy plig as ’n gasheer na te kom (Jesaja 58:5-7). Sonder brood sou hy te kort skiet. Net so hou ons aan om tot God te bid en sy gees te vra omdat ons weet dat dit absoluut noodsaaklik is om God se gees te hê om ons bediening as ware Christene uit te voer (Sagaria 4:6). Daarsonder sal ons nie suksesvol wees nie (Matteus 26:41). Sien jy die belangrike gevolgtrekking wat ons uit hierdie illustrasie kan aflei? As ons God se gees beskou as iets wat ons dringend nodig het, sal ons meer geneig wees om dit met volharding te vra.
9, 10. (a) Lig toe waarom ons daarin moet volhard om God om sy gees te vra. (b) Watter vraag moet ons ons afvra, en waarom?
9 Om hierdie les in ’n hedendaagse konteks te plaas, stel jou voor dat een van jou gesinslede in die middel van die nag siek word. Sal jy ’n dokter wakker maak om sy hulp te vra? Nie as die pasiënt nie ernstig siek is nie. Maar as hy ’n hartaanval kry, sal jy glad nie skroom om ’n dokter te ontbied nie. Waarom nie? Omdat dit ’n noodgeval is. Jy besef dat kundige hulp absoluut noodsaaklik is. As jy nie hulp vra nie, kan dit noodlottig wees. Net so staan ware Christene as ’t ware die hele tyd voor ’n noodgeval. Satan loop immers rond soos “’n brullende leeu” en probeer ons verslind (1 Petrus 5:8). Die hulp van God se gees is absoluut noodsaaklik as ons geestelik aan die lewe wil bly. As ons nie God se hulp vra nie, kan dit noodlottig wees. Ons vra God dus met onbeskroomde volharding om sy heilige gees (Efesiërs 3:14-16). Alleenlik deur dit te doen, sal ons die krag behou om ‘tot die einde toe te volhard’.—Matteus 10:22; 24:13.
10 Dit is dus van kritieke belang om soms stil te staan en ons af te vra: ‘Volhard ek werklik in gebed?’ Onthou, wanneer ons ten volle besef dat ons God se hulp nodig het, sal ons in groter mate volhard in ons gebede vir heilige gees.
Wat laat ons met vertroue bid?
11. Hoe het Jesus die illustrasie van ’n vader en sy seun op gebed toegepas?
11 Jesus se illustrasie van die volhardende gasheer beklemtoon die gesindheid van die een wat bid—die gelowige. Die volgende illustrasie beklemtoon die gesindheid van die een wat gebede verhoor—Jehovah God. Jesus het gevra: “Ja, watter vader onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, hom miskien ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of as hy ook ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee?” Jesus het verder gegaan en dit toegepas deur te sê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:11-13.
12. Hoe beklemtoon die illustrasie van die vader wat aan sy seun se versoek gehoor gee, Jehovah se gewilligheid om ons gebede te verhoor?
12 Met hierdie voorbeeld van ’n vader wat aan sy seun gehoor gee, openbaar Jesus hoe Jehovah voel oor diegene wat hulle in gebed tot hom wend (Lukas 10:22). Let eerstens op die kontras. In teenstelling met die man in die eerste illustrasie wat teësinnig was om gehoor te gee aan ’n versoek om hulp, is Jehovah soos ’n liefdevolle menseouer, wat gretig is om gehoor te gee aan sy kind se versoek (Psalm 50:15). Jesus openbaar verder Jehovah se gewillige gesindheid teenoor ons deur sy redenasie van die mindere na die meerdere te voer. Hy sê dat ’n mensevader, hoewel hy weens oorgeërfde sonde “goddeloos is”, ’n goeie gawe aan sy kind sal gee; hoeveel te meer kan ons dan verwag dat ons hemelse Vader, wat welwillend is, heilige gees aan sy gesin van aanbidders sal gee!—Jakobus 1:17.
13. Waarvan kan ons seker wees wanneer ons tot Jehovah bid?
13 Wat is die les vir ons? Ons kan die vertroue hê dat ons hemelse Vader alte gewillig is om ons versoek toe te staan as ons hom om heilige gees vra (1 Johannes 5:14). Wanneer ons ons keer op keer in gebed tot hom wend, sal Jehovah nooit as ’t ware sê: “Hou op om my lastig te val. Die deur is al toegesluit” nie (Lukas 11:7). Inteendeel, Jesus het gesê: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Lukas 11:9, 10). Ja, Jehovah “sal ons antwoord op die dag dat ons roep”.—Psalm 20:9; 145:18.
14. (a) Met watter verkeerde idee worstel party wat voor beproewinge te staan kom? (b) Waarom kan ons met vertroue tot Jehovah bid wanneer ons voor beproewinge te staan kom?
14 Jesus se illustrasie van die liefdevolle vader beklemtoon ook dat Jehovah se goedheid baie groter is as die goedheid wat deur enige menseouer betoon word. Daarom moet niemand van ons ooit voel dat die beproewinge waarvoor ons te staan kom, ’n blyk van God se misnoeë met ons is nie. Dit is ons aartsvyand, Satan, wat wil hê dat ons so moet dink (Job 4:1, 7, 8; Johannes 8:44). Daar is geen skriftuurlike grondslag vir sulke selfveroordelende gedagtes nie. Jehovah beproef ons nie “met bose dinge” nie (Jakobus 1:13). Hy gee nie vir ons ’n slangagtige beproewing of ’n skerpioenagtige toets nie. Ons hemelse Vader gee “goeie dinge . . . aan dié wat hom vra” (Matteus 7:11; Lukas 11:13). Trouens, hoe meer ons Jehovah se goedheid en gewilligheid om ons te help, waardeer, hoe meer sal ons beweeg word om met vertroue te bid. Wanneer ons dit doen, sal ons ook kan sê soos die psalmis wat geskryf het: “Waarlik, God het gehoor; hy het aandag geskenk aan die stem van my gebed.”—Psalm 10:17; 66:19.
Hoe die heilige gees ons helper is
15. (a) Watter belofte het Jesus aangaande die heilige gees gemaak? (b) Wat is een manier waarop die heilige gees ons help?
15 Kort voor sy dood, het Jesus die versekering herhaal wat hy in sy illustrasies gegee het. Hy het van die heilige gees gepraat en vir sy apostels gesê: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees” (Johannes 14:16). Jesus het dus belowe dat die helper, of heilige gees, in die toekoms, wat ons dag insluit, met sy volgelinge sou wees. Wat is een betekenisvolle manier waarop ons vandag hierdie ondersteuning ondervind? Die heilige gees help ons om verskillende beproewinge te verduur. Hoe so? Die apostel Paulus, wat self voor toetse te staan gekom het, het in ’n brief aan die Christene in Korinte beskryf hoe God se gees hom te hulp gekom het. Kom ons kyk kortliks na wat hy geskryf het.
16. Hoe kan ons situasie soortgelyk wees aan dié van Paulus?
16 Eerstens het Paulus sy medegelowiges openlik vertel dat hy met “’n doring in die vlees”, die een of ander soort beproewing, te kampe gehad het. Daarna het hy gesê: “Ek [het] die Here [Jehovah] drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk” (2 Korintiërs 12:7, 8). Al het Paulus God gesmeek om sy probleem weg te neem, het dit nie van hom gewyk nie. Miskien verkeer jy vandag in ’n soortgelyke situasie. Soos Paulus het jy dalk met volharding en vertroue gebid dat Jehovah ’n beproewing van jou wegneem. Maar ten spyte van jou herhaalde versoeke sukkel jy nog steeds met die probleem. Beteken dit dat Jehovah nie jou gebede verhoor het en dat sy gees jou nie help nie? Glad nie! (Psalm 10:1, 17). Kyk na wat die apostel Paulus volgende gesê het.
17. Hoe het Jehovah Paulus se gebede verhoor?
17 In antwoord op Paulus se gebede het God vir hom gesê: “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende; want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.” Paulus het gesê: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly” (2 Korintiërs 12:9; Psalm 147:5). Paulus het dus ondervind dat God se kragtige beskerming deur middel van Christus soos ’n tent oor hom uitgesprei was. Vandag verhoor Jehovah ons gebede op ’n soortgelyke manier. Hy sprei sy beskerming soos ’n skuiling oor sy knegte uit.
18. Wat stel ons in staat om beproewinge te verduur?
18 ’n Tent keer natuurlik nie dat die reën val of dat die wind waai nie, maar dit voorsien wel ’n mate van beskerming teen hierdie elemente. Net so keer die skuiling wat deur “die krag van die Christus” voorsien word, nie dat beproewinge of moeilikhede oor ons kom nie. Maar dit voorsien wel geestelike beskerming teen die skadelike elemente van hierdie wêreld en die aanvalle van sy heerser, Satan (Openbaring 7:9, 15, 16). Selfs as jy te kampe het met ’n beproewing wat nie ‘van jou wyk’ nie, kan jy dus seker wees dat Jehovah bewus is van jou stryd en dat hy gehoor gegee het aan “die geluid van jou geroep” (Jesaja 30:19; 2 Korintiërs 1:3, 4). Paulus het geskryf: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13; Filippense 4:6, 7.
19. Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarom?
19 Toegegee, die teenswoordige “laaste dae” van hierdie goddelose wêreld word gekenmerk deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Vir knegte van God is hierdie tye nogtans nie onmoontlik om deur te kom nie. Waarom nie? Weens die ondersteuning en beskerming van God se heilige gees, wat Jehovah gewilliglik en in oorvloedige mate gee aan almal wat hom met volharding en vertroue daarvoor vra. Mag ons dan vasbeslote wees om aan te hou om elke dag vir heilige gees te bid.—Psalm 34:6; 1 Johannes 5:14, 15.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat moet ons doen om God se heilige gees te ontvang?
• Waarom kan ons die vertroue hê dat Jehovah ons gebede vir heilige gees sal verhoor?
• Hoe help die heilige gees ons om beproewinge te verduur?
[Prent op bladsy 21]
Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasie oor die volhardende gasheer?
[Prent op bladsy 22]
Volhard jy in jou gebede vir God se heilige gees?
[Prent op bladsy 23]
Wat leer ons van Jehovah uit die illustrasie van ’n liefdevolle vader?