Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 4/1 bl. 21-23
  • Die eertydse koninkryk Lidië en ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eertydse koninkryk Lidië en ons
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Figuurlike toetsstene in die Bybel
  • ’n Raaisel word opgelos
  • Lidia—’n gasvrye aanbidder van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Rolmodel—Lidia
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 4/1 bl. 21-23

Die eertydse koninkryk Lidië en ons

JY HET dalk nog nooit van die eertydse koninkryk Lidië gehoor nie, en daarom verbaas dit jou dalk om uit te vind dat ’n ontdekking wat daar gemaak is, die manier verander het waarop die wêreld sake doen. Bybellesers sal dit dalk ook verbasend vind dat ’n Lidiese uitvindsel lig werp op ’n Bybelprofesie wat moeilik is om te verstaan. Wat het die Lidiërs ontdek? Voordat ons hierdie vraag beantwoord, sal dit interessant wees om iets oor hierdie byna vergete ryk te leer.

Die konings van Lidië het regeer uit hulle hoofstad, Sardis, in die westelike deel van wat destyds Klein-Asië genoem is, maar wat vandag as Turkye bekend staan. Lidië se laaste koning, Kroisos, het ontsaglike rykdom versamel, maar omstreeks 546 v.G.J. is sy ryk oorgeneem deur Cyrus die Grote van Persië—die persoon wat in die Bybel Kores genoem word en wat ’n paar jaar later die Babiloniese Ryk oorwin het.

Lidië se vindingryke sakemanne was vermoedelik die eerstes wat muntstukke gebruik het. Goud en silwer is al lank as geld gebruik, maar omdat goue stawe en ringe nie almal ewe groot was nie, moes mense met elke transaksie die geld afweeg. In Israel het God se profeet Jeremia byvoorbeeld ’n stuk grond gekoop en daaroor geskryf: “Ek het vir hom die geld begin afweeg: sewe sikkels en tien silwerstukke.”—Jeremia 32:9.

In Lidië het tydgenote van Jeremia iets ontdek wat die handel sou vereenvoudig—die gebruik van muntstukke waarvan die standaardgewig gewaarborg is deur ’n amptelike stempel op elke muntstuk. Lidië se eerste muntstukke is gemaak van ’n natuurlike mengsel van goud en silwer wat elektrum genoem word. Toe Kroisos koning geword het, het hy dit vervang met muntstukke wat van byna suiwer silwer en goud gemaak is. Lidiërs het ’n tweemetaalmuntstelsel gebruik, waarvolgens 12 muntstukke van ’n laer waarde gelyk was aan een muntstuk van ’n waardevoller metaal. Maar die stelsel is bedreig deurdat muntstukke vervals is deur goud te gebruik wat met minderwaardige metale gemeng is. Handelaars het ’n maklike manier nodig gehad om die suiwerheid van goud te toets.

Lidiërs het ontdek dat ’n soort plaaslike swart steen wat lidiet genoem is, hulle probleem sou oplos. Wanneer ’n muntstuk teen hierdie gladde steen met sy effens growwe tekstuur gevryf word, laat dit ’n merk. Wanneer die kleur van die merk vergelyk word met die kleur van merke wat gemaak is deur toetsnaalde waarvan die goudinhoud bekend is, word dit duidelik wat die goudinhoud van die muntstuk is. Dit was hierdie ontdekking, die toets met ’n toetssteen, wat ’n betroubare muntstelsel moontlik gemaak het. Hoe kan kennis van toetsstene ons help om die Bybel te verstaan?

Figuurlike toetsstene in die Bybel

Namate dit onder handelaars algemeen geword het om goud met ’n toetssteen te toets, het die woord vir “toetssteen” ook die betekenis van ’n metode om iets te toets, begin aanneem. In Grieks, die taal waarin ’n deel van die Bybel geskryf is, is die woord ook toegepas op die pyniging van mense wat tydens ondervraging gemartel is.

Omdat dit tronkbewaarders was wat gevangenes gemartel het, is die woord wat afgelei is van die woord vir “toetssteen”, ook vir tronkbewaarders gebruik. Ons lees dus in die Bybel van Jesus se illustrasie waarin ’n ondankbare slaaf oorgelewer is aan “die tronkbewaarders”, of in sommige vertalings, “die pynigers” (Matteus 18:34; Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Aangaande hierdie teks sê The International Standard Bible Encyclopaedia: “Waarskynlik is die gevangenskap self beskou as ’n ‘pyniging’ (wat dit ongetwyfeld was), en die ‘pynigers’ beteken dan niks anders as tronkbewaarders nie.” Dit help om ’n fassinerende Bybelteks te verklaar.

’n Raaisel word opgelos

Opregte Bybellesers wonder al lank oor wat met Satan gaan gebeur. Die Bybel sê: “Die Duiwel . . . is in die poel van vuur en swael geslinger, waar die wilde dier sowel as die valse profeet reeds was; en hulle sal dag en nag gepynig word vir ewig en altyd” (Openbaring 20:10). Dit sou beslis strydig wees met Jehovah se liefde en geregtigheid om iemand te veroordeel tot ’n ewige lewe van pyniging (Jeremia 7:31). Daarbenewens noem die Bybel die ewige lewe ’n gawe, nie ’n straf nie (Romeine 6:23). Openbaring 20:10 is dus klaarblyklik in simboliese taal geskryf. Die wilde dier en die poel van vuur is figuurlik (Openbaring 13:2; 20:14). Is die pyniging ook figuurlik? Wat beteken hierdie uitdrukking?

Soos ons gesien het, word die Griekse woord vir “pyniging” afgelei van die woord vir “toetssteen” en kan dit verwys na die pyn van gevangenskap. Gevolglik verwys Satan se ewige pyniging moontlik na die feit dat hy vir ewig opgesluit sal word in die allerveiligste gevangenis—die dood self.

Die Lidiese toets met ’n toetssteen help ons om iets anders te verstaan in verband met Satan se ewige “pyniging”, iets wat met God se liefde vereenselwig kan word. In party tale verwys ’n “toetssteen” na ’n maatstaf waarvolgens dinge getoets word. Byvoorbeeld, in Afrikaans beteken “toetssteen” ’n “middel om die egtheid, waarde, gehalte van iets vas te stel”. Satan se ewige “pyniging” dui dus daarop dat sy oordeel as ’n ewige toetssteen sal dien wat gebruik kan word indien daar in die toekoms ooit weer enige opstand teen Jehovah sou wees. Dit sal nooit weer nodig wees om enigiemand wat Jehovah se heerskappy betwis, oor ’n lang tydperk te toets om hom verkeerd te bewys nie.

’n Begrip van waarom handelaars regoor die wêreld die Lidiese toets met ’n toetssteen aangeneem het sowel as ’n begrip van die figuurlike uitdrukkings wat daaruit voortgevloei het, werp lig op wat met Satan sal gebeur. Sy einde sal vir altyd dien as die toetssteen vir oordeel, wat dit vir God onnodig sal maak om ooit weer enige opstand te duld.—Romeine 8:20.

[Lokteks op bladsy 23]

Satan se simboliese pyniging dui daarop dat sy oordeel vir ewig as ’n toetssteen sal dien

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Swart See

LIDIË

SARDIS

Middellandse See

[Prent op bladsy 21]

Ruines by eertydse Sardis

[Prent op bladsy 22]

In antieke tye is weegskale gebruik om geld af te weeg

[Erkenning]

E. Strouhal/Werner Forman/Art Resource, NY

[Prente op bladsy 22, 23]

Die toets met ’n toetssteen word vandag nog gebruik

[Erkenning]

Muntstukke: Courtesy Classical Numismatic Group, Inc.; toetssteen: Science Museum/Science & Society Picture Library

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Muntstuk van elektrum: Courtesy Classical Numismatic Group, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel