Streef na “heiligheid in die vrees van God”
DIE Bybel skryf heiligheid in die hoogste graad aan Jehovah God toe deur te sê: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah” (Jes. 6:3; Op. 4:8). Die Hebreeuse en Griekse woorde vir “heiligheid” dra die gedagte oor van suiwerheid of godsdienstige reinheid, om afgeskeie te wees van verontreinigende dinge. Die heiligheid van God verwys na sy absolute sedelike volmaaktheid.
Sou die heilige God, Jehovah, dan nie verwag dat dié wat hom aanbid, heilig moet wees nie, dit wil sê fisies sowel as sedelik en geestelik rein? Die Bybel toon duidelik dat Jehovah wil hê dat sy volk heilig moet wees. Ons lees in 1 Petrus 1:16: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig.” Kan onvolmaakte mense werklik Jehovah se heiligheid navolg? Ja, maar nie in volmaakte sin nie. Ons kan deur God beskou word as heilig as ons hom in ’n rein geestelike toestand aanbid en ’n hegte verhouding met hom het.
Hoe kan ons dan rein bly in ’n wêreld wat sedelik onrein is? Watter gebruike moet ons vermy? Watter veranderinge moet ons dalk in ons spraak en gedrag aanbring? Kom ons kyk wat ons in dié verband kan leer uit wat God van die Jode vereis het toe hulle in 537 v.G.J. uit Babilon na hulle vaderland teruggekeer het.
‘Daar sal die Weg van Heiligheid wees’
Jehovah het voorspel dat sy volk wat in Babiloniese ballingskap was, in hulle vaderland herstel sou word. Die herstellingsprofesie het hierdie versekering bevat: “Daar sal beslis ’n grootpad wees, ja, ’n weg; en dit sal die Weg van Heiligheid genoem word” (Jes. 35:8a). Hierdie woorde toon dat Jehovah nie net die weg vir die Jode geopen het om terug te keer huis toe nie, maar dat hy hulle ook verseker het dat hy hulle op die pad sou beskerm.
Vir sy hedendaagse knegte op aarde het Jehovah “die Weg van Heiligheid” geopen deur hulle te lei uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. In 1919 het hy gesalfde Christene uit geestelike slawerny aan valse godsdiens bevry, en hulle het hulle aanbidding stelselmatig van alle valse leringe gereinig. As Jehovah se hedendaagse aanbidders geniet ons ’n rein, kalm geestelike milieu waarin ons Jehovah kan aanbid en ’n vreedsame verhouding met hom en met ons medemens kan geniet.
Die lede van die “klein kuddetjie” van gesalfde Christene en ’n toenemende “groot menigte” “ander skape” het gekies om ’n heilige weg te bewandel en nooi ander om by hulle aan te sluit (Luk. 12:32; Op. 7:9; Joh. 10:16). “Die Weg van Heiligheid” is oop vir almal wat bereid is om hulle “liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is”.—Rom. 12:1.
“Die onreine sal nie daarop trek nie”
In 537 v.G.J. moes die terugkerende Jode aan ’n belangrike vereiste voldoen. Aangaande diegene wat op “die Weg van Heiligheid” mag gewandel het, sê Jesaja 35:8b: “Die onreine sal nie daarop trek nie. En dit sal wees vir die een wat op die weg wandel, en geen dwase sal daarop ronddwaal nie.” Aangesien die doel van die Jode se terugkeer na Jerusalem was om rein aanbidding te herstel, sou daar geen plek wees vir diegene wat selfsugtige beweegredes of ’n gebrek aan respek vir heilige dinge gehad het of wat geestelik onrein was nie. Die terugkerendes moes Jehovah se hoë sedelike standaarde handhaaf. Dié wat God se guns vandag wil geniet, moet aan dieselfde vereiste voldoen. Hulle moet streef na “heiligheid in die vrees van God” (2 Kor. 7:1). Watter onrein gebruike moet ons dan vermy?
“Die werke van die vlees is openbaar”, het die apostel Paulus geskryf, “en dit is hoerery, onreinheid, losbandige gedrag” (Gal. 5:19). Hoerery hou verband met alle seksuele dade wat die gebruik van die geslagsorgane behels en buite die huweliksband plaasvind. Losbandige gedrag behels “wellustigheid; sinnelikheid; skaamtelose gedrag; ontugtige gedrag”. Hoerery sowel as losbandige gedrag is beslis in stryd met Jehovah se heiligheid. Diegene wat aanhou om sulke dinge te beoefen, word dus nie toegelaat om deel van die Christengemeente te word nie of hulle word daaruit gesit. Dieselfde geld vir diegene wat growwe onreinheid beoefen, dit wil sê “om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf”.—Ef. 4:19.
“Onreinheid” is ’n term wat ’n breë spektrum van sondes dek. Die Griekse woord hiervoor verwys na enige soort onreinheid of vuilheid—in gedrag, in spraak en in geestelike verhoudinge. Dit sluit gebruike in wat ’n mate van onreinheid behels wat dalk nie regterlike optrede regverdig nie.a Maar volg diegene wat sulke onreinheid beoefen, ’n weg van heiligheid?
Gestel ’n Christen begin in die geheim na pornografie kyk. Namate onrein begeertes gewek word, word sy besluit om rein te bly in Jehovah se oë, geleidelik ondermyn. Sy gedrag het dalk nog nie in so ’n mate versleg dat dit growwe onreinheid geword het nie, maar hy hou nie aan om slegs dinge ‘wat kuis is, waarvan goed gepraat word, wat deugsaam en lofwaardig is’, te bedink nie (Fil. 4:8). Pornografie is onrein en skaad beslis ’n persoon se verhouding met God. Onreinheid van enige aard moenie eens onder ons genoem word nie.—Ef. 5:3.
Dink aan nog ’n voorbeeld. Sê nou ’n Christen beoefen masturbasie—die doelbewuste stimulering van homself om seksuele opwinding te verkry—hetsy dit met pornografie gepaardgaan of nie. Die term “masturbasie” kom wel nie in die Bybel voor nie, maar kan daar enige twyfel bestaan dat dit ’n verstandelik en emosioneel verontreinigende gebruik is? Sou volgehoue verontreiniging van hierdie aard nie iemand se persoonlike verhouding met Jehovah ernstig skaad en hom onrein in God se oë maak nie? Laat ons die apostel Paulus se vermaning ter harte neem om “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig” en ons “liggaamsdele wat op die aarde is, [dood te maak] ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug”.—2 Kor. 7:1; Kol. 3:5.
Hierdie wêreld waaroor Satan heers, duld onrein gedrag, en bevorder dit selfs. Dit kan ’n groot uitdaging wees om die versoeking te weerstaan om jou aan onrein gedrag skuldig te maak. Maar ware Christene moenie “wandel soos ook die nasies in die nutteloosheid van hulle verstand wandel nie” (Ef. 4:17). Slegs as ons onrein gedrag, hetsy dit in die geheim of in die openbaar beoefen word, vermy, sal Jehovah ons toelaat om voort te gaan om op “die Weg van Heiligheid” te wandel.
“Daar sal geen leeu wees nie”
Om die guns van die heilige God, Jehovah, te geniet, moet party dalk drastiese veranderinge in hulle gedrag en spraak aanbring. Jesaja 35:9 sê: “Daar sal geen leeu wees nie, en die wrede wilde diere sal nie daarop kom nie”, dit wil sê op “die Weg van Heiligheid” nie. Mense wat in woord en daad gewelddadig en aggressief is, word in figuurlike sin met wilde diere vergelyk. Daar sal beslis vir hulle geen plek in God se nuwe wêreld van regverdigheid wees nie (Jes. 11:6; 65:25). Dit is dus noodsaaklik dat diegene wat God se goedkeuring wil verkry, sulke dierlike karaktertrekke aflê en ’n weg van heiligheid nastreef.
“Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid”, vermaan die Skrif ons (Ef. 4:31). In Kolossense 3:8 lees ons: “Verwyder . . . al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond.” Die uitdrukking “smadende taal” wat in hierdie twee verse gebruik word, verwys basies na skadelike, vernederende of lasterlike spraak.
Vandag het kwetsende, vulgêre taal baie algemeen geword, selfs in die gesin. Egpare slinger mekaar en hulle kinders bitsige, wrede of neerhalende woorde toe. Hierdie soort mondelinge aggressie hoort nie in Christengesinne nie.—1 Kor. 5:11.
Streef na “heiligheid in die vrees van God” en word geseën!
Wat ’n voorreg is dit tog om die heilige God, Jehovah, te dien! (Jos. 24:19). Die geestelike paradys waarin Jehovah ons gebring het, is baie kosbaar. Om heilige gedrag in Jehovah se oë te handhaaf, is beslis die beste lewensweg.
God se beloofde aardse Paradys sal binnekort ’n werklikheid word (Jes. 35:1, 2, 5-7). Diegene wat na hierdie Paradys smag en aanhou om ’n godvrugtige weg na te streef, sal geseën word met ’n plek daar (Jes. 65:17, 21). Laat ons dus alles in ons vermoë doen om voort te gaan om God in ’n rein geestelike toestand te aanbid en ’n hegte verhouding met hom te handhaaf.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van die verskil tussen ‘onreinheid met hebsug’ en “onreinheid” sien Die Wagtoring van 15 Julie 2006, bladsye 29-31.
[Prent op bladsy 26]
Wat is van die Jode vereis sodat hulle op “die Weg van Heiligheid” kon wandel?
[Prent op bladsy 27]
Pornografie skaad ’n persoon se verhouding met Jehovah
[Prent op bladsy 28]
“Laat alle . . . geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word”